Monday, May 2, 2011

Tom Clark - Keats aan boord, September 1820

Melkweg

Keats aan boord, September 1820
Tom Clark

Skemer, ’n paar wit wolke uitgesprei en ’n paar flikkerende sterre
die lieflike tekens wat my lei na hierdie onkenbaarheid,
die waters wat eb en die Horison ’n Misterie,
seespieël kalm en vreemde vis wat rondswem onder in groen

en pers skadu’s soos die gety draai,
’n bewuswees van ’n soort stille ondersese aanwas
van donkerte in die dieper seestrate verder uit,
met my laaste Engelse nag wat op my aankom.

[Vertaal deur Johann de Lange]