Thursday, May 10, 2012

Thom Gunn - 'n Tuiste

Wrestlers (c) Hinton Adam



’n Tuiste
Thom Gunn

Grootgeword, sê hy, nie tuis nie maar in ’n Tuiste.

Gestroop van assosiasies, woorde soos “bed”,
“Ontbyt” en “verjaarsdag” harde ewige vorme
Gestandardiseer soos werksbanke in die werkswinkel
Of regulasie ysterslaapbank, met rante
Waarteen jy jou skene nerfaf gestamp het want dit was daar.

Gestroop van assosiasies.
                                            Tussen die seuns,
Het kontak, nie los, nie vry, in hoofsaak bestaan uit
Die vloer toe stoei van slaaf deur slaaf. Noem dit
Die ekonomie van kneusings: dreigemente of erger
Hou jou op jou plek, vir geriefliker hantering.
En niks gebeur terloops behalwe vullis.

So, as ’n ouer seun jou ’n strokiesboek aangee
Omdat hy groot van hart is, geen ander rede,
Het sy onvanpaste gedrag tyd omgekry.

Dit het tyd organiseer deur onthulling
Van ’n ou profesie bewaar in fragmente
Tussen die seuns, ’n korrupte mondelinge tradisie
Rondom die wederkoms van die geneenthede: want
Hulle sal gebore word, sal leef en welvarend wees ook,
Voor hulle onvermydelike martelaarskap.
Jou verstand begin ’n plek vir hulle voorberei:

En dit vind genot in die koel nuutgevonde gemak
Waarmee dit die gebruiklike tam gespannenheid ontglip
Om sekere ongekaarte grensgebiede binne te dring.
Vroeg wakker
                        in die ademende ruimte van beddens
En die yl toesiglose lig, ’n toeverlaat,
Kon jy uiteindelik ’n glimps van die toekoms uitmaak

Waarin jy soortgelyke tye sal opsoek
Tussen plekke, plekke tussen plekke, drumpels
En brandtrappe, busse en launderette,
Om in ’n stem behoedsaam en egalig te vertel, “Ek
het in ’n Tehuis grootgeword,” asof dit als verby is
en die alledaagse verskrikking daarvan bemeester is.

[Vertaal deur Johann de Lange]

Sunday, April 29, 2012

Die evolusie van ’n kwatryn


Oregon State University professor George Poinar has found 
a 100 million-year-old bee trapped in amber [The Journal of Science via AFP]


Die evolusie van ’n kwatryn


Een van die dinge wat digters dikwels gevra word, is hoe ‘n vers ontstaan het, of hoe hy sy uiteindelike vorm bereik het. Die prikkels wat ‘n gedig kan ingee, is legio: iets wat die digter gelees, gehoor, of gesien het, iets wat by hom opgekom het terwyl hy motor bestuur het, ‘n stuk musiek geluister het, of daardie laatnaggedagtes wanneer die slaap wegbly.


Omdat ek redelik deeglik is om die skryfproses vir myself te dokumenteer, van die ingewing (waar moontlik), deur al die verskillende variante, teken ek die datum by elke verandering aan sodat ek kan tred hou met hoe lank ek aan ‘n gedig werk. Die variante in die regte volgorde stel my in staat om my gedagteprosesse te volg, & terug te gaan in die tyd na ’n vroeër weergawe wat dalk ‘n beeld of frase bevat wat ek laat vaar het maar weer wil stet. 


Somtyds is dit die kortste gedigte, soos die kwatryn, wat die langste neem om te voltooi. So het ek byvoorbeeld op 12 Mei 2000 die eerste aantekening gemaak vir ’n kwatryn waarin ek ‘n verband wou lê tussen hedendaagse graffiti & graffiti wat ontdek is op die mure van Pompeji. In ’n dokumentêr oor Pompeji, of dit kon ’n boek oor die stad ook gewees het, was daar ’n kennisgewing bo die deurgewel van ’n bordeel wat my oog gevang het:


Grabatum generis neutri, ut Bibaculus: nam meo grabato. 
Bed is of neuter gender, as Bibaculus says:  On my bed.


Hoewel die impuls vir die gedig die eerste keer in 2000 neergeskryf is, kan die genesis nóg verder teruggevoer word. Die gedig "Kroegvaart" uit Nagsweet (1991) bevat eweneens as motto 'n stukkie graffiti uit Pompeji. Dit was aangebring op 'n buitemuur bokant 'n muurskildery van twee slange, een manlik & een vroulik, wat 'n altaar van beide kante benader: Otiosis locus hic non est: discede morator (wat rofweg beteken, "This is not the place to idle, Shove off, loiterer!"). Dit maak sin, want tematies sluit dit aan by die res van die gedigte in Nagsweet, & die soort gedig waarmee ek toe besig was.


So, die naam bo die deurgewel, & daarmee saam die gedagte dat sommige dinge tydloos is, was die ingewing vir my gedig. Die eerste twee reëls het maklik gekom, hoewel dit dalk reeds sedert circa 1991 in my onbewuste kon gegis het:


Alles oor liefde staan geskryf
op mure van Pompeji tot Graaff se Poel:


Maar daar het die gedig gaan staan. Ek het geweet wát ek wou sê, min of meer, maar ek het nie 'n slot gehad nie, & aangevoel dat die antwoord lê in die naam vir ’n spesifieke skakering van rooi wat baie in Pompeji gebruik was. Teen 19 Julie 2004 was ek nog steeds op soek na daardie kleurwoord, soos die volgende lysie woorde getuig: “granaatrooi / karmyn / karmosyn / koperrooi / inkarnaat / die kleur van wyn”. 


Ek het selfs my vriendin, die skilder Judith Mason, gevra om te help soek, sonder sukses. Sy het geweet van die spesifieke skakering van rooi wat sterk met Pompeji geassosieer word, maar geeneen van die name waarmee sy vorendag gekom het, was nie die regte een nie.


Uiteindelik het ek die soektog na die kleurwoord laat vaar, want iets anders het in my gedagtes begin deurwerk: 'n muurfresko van Priapus, die god van vrugbaarheid, wat sy uiters goedbedeelde fallus in 'n weegskaal weeg teenoor ’n sak munte. Dié fresko is ontdek in die voorportaal van die Huis van Vetti, in Herkulaneum.



Sewe variante later, op 3 Julie 2008 het ek die vers voltooi & dit het deel geword van die manuskrip van Algebra van nood wat in 2009 verskyn het. Dit het my 8 jaar geneem om die laaste twee reëls te skryf. Dit is geensins ‘n groot kwatryn nie, maar dit was ’n idee wat hardnekkig bly vasklou het, wat ek nie soos baie ander net kon laat vaar het nie, maar vasberade móés voltooi.


Als oor liefde
Grabatum generis neutri, ut Bibaculus: nam meo grabato. 


Als oor liefde staan geskilder of geskryf
op mure, van Pompeji tot Graaff se poel.
Priapus hef sy weegskaal: die wynrooi lyf 
het na eeue se koudlei soos lawa verstyf.



***

Ek wil vervolgens die genesis & ontwikkeling van nóg ‘n kwatryn wat uiteindelik in Weerlig van die ongeloof opgeneem is, in meer detail probeer weergee.


Die prikkel vir die gedig was ’n artikel op die internet, 'n skakel wat iemand waarskynlik vir my aangestuur het, of waarop ek toevallig afgekom het, "Scientist finds 100 million-year-old bee". Ek onthou nou meteens dat ek in 'n stadium iets oor die insekte in stukkies amber wou skryf, nadat ek 'n paar sulke stukkies amber vir myself gekoop het, niks so fabelagtig soos dié een in die artikel nie, so my soektog na inligting kon my by bg. artikel uitgebring het. Hoe ook al.



George Poinar, professor in soölogie aan Oregon State universiteit, het dié antieke by ontdek in 'n stukkie amber waar dit saam met vier verskillende bloeisels vasgevang was. Poinar se mannetjiesby is om & by 40 miljoen jaar ouer as enige bye wat tot dusver ontdek is, & suggereer dat die by in ons voorgeskiedenis 'n veel belangriker rol gespeel het in die vinnige toename & verskeidenheid van blomplante as wat tot dusver begryp is.


Melittosphex burmensis was klein, maar ‘n vyfde die grootte van die moderne werkersby, had ’n hartvormige kop, & was boonop nie ‘n heuningby nie. Ewolusionêr beskou was hy ’n doodloopstraat. 


Meeste van die inligting in die artikel het ek nie direk kon gebruik nie. Daar is gewoon nie ruimte in die kwatryn om die vorm van die by se kop  in verband te bring met hangertjies, die hart & liefde nie. Heelwat daarvan word wel deur suggestie oorgedra in die beeld van die amber as juweel vir die geliefde se hals.


In die vroeë weergawes van die kwatryn het ek die feit dat daar vier verskillende soorte bloeisels in die stukkie amber was, oorweeg & daarom die verwysing na  "bloeisels", maar later besluit om dit te wysig na "suikerden" (wat die plaaslike suikerkanne oproep). Op elke vlak van die gedig vind daar seleksie & ordening plaas, van die makro- tot die mikro-vlakke. 


Amber, 'n halfedelgesteente, begin as 'n taai hars wat sommige bome, onder anderer dennebome, afskei, & waarin insekte, stuifmeel & klein bloeisels verstrik raak. Dit verhard mettertyd & kom in ‘n verskeidenheid kleure voor. Die oudste amber wat tot dusver gevind is, is meer as 320 miljoen jaar oud. 



Mier in Baltiese amber


Eerste Weergawe


My eerste weergawes is gewoonlik weinig meer as ‘n notasie in prosa van die idee, opgekap in versreëls. As ek ‘n langer gedig beoog, sê maar ‘n gedig met vyfreëlige strofes, dan sal ek my idees & aantekeninge opkap in vyfreëlige strofevorm sodat ek die gedig, terwyl ek aan hom werk, in daardie gedagte-eenhede kan laat ontwikkel. Niks is in klip gebeitel in hierdie vroeë stadium nie. Die aantal reëls per strofe, die koers, énigiets  kan verander. Omdat ek hier pertinent ’n kwatryn beplan het, het ek my eerste ingewing in kwatrynvorm neergeskryf.


By in amber


Ek het ’n by gevind in amber
miljoene jare oud
gevange met die bloeisels
waarvan hy die nektar gedrink het.


08.05.2011


***


Tweede Weergawe


Met die volgende weergawe sal ek ’n rymskema tentatief inbring (dit mag ook verander later), & ek sal die aantal sillabes per reël tel om te sien waarna die gedig/gedagte natuurlikerwys neig. 


Hier het ek besluit om reëls 2 & 4 te laat rym, want “amber” is ’n moeilike een om ’n rymmaat voor te kry. Die sillabetelling het nie enige patroon opgelewer nie. Ek gebruik selde die aantal heffings per reël as maatstaf, maar het gevind dat as ek die sillabetelling regkry & die ritme  vloei natuurlik, die aantal heffings per reël gewoonlik dieselfde is, & waar daar ’n afwyking is, een minder of een meer, dan is dit gewoonlik betekenisvol. Patroon, & die verbreking van patroon is een van die sterkste tegnieke wat die digter tot sy beskikking het.


By in amber


Ek het ’n by gevind in amber,   9
hy was miljoene jare oud,         8
gevange met wit bloeisels         7
maar die nektar was koud.        6


09.05.2011


***


Derde Weergawe


Hier het ek aandag gegee aan die aantal sillabes per reël & daarin geslaag om reëls 1 & 3 dieselfde te kry, & reëls 2 & 4 byna dieselfde. Die inhoud het ook subtiele veranderings ondergaan. Ek het “gevind” vervang met “ontdek” omdat lg. vir my die toevallige aard van die oorspronklike ontdekking ondervang het. 


In reël 3 het twee belangrike wysigings gekom: die inbring van “stil”, die idee van roer- & klankloosheid, in teenstelling met ‘n lewende by wat eweneens roerloos dog gonsend bo ’n bloeisel kan hang. 


Die ander wysiging is “dieselfde bloeisel” waar dit in die vorige weergawe die vaer “bloeisels” was. Hierdie by & bloeisel is vasgevang in die amber & buite tyd. 


Die slotreël oor die nektar wat koud is, is ‘n stoplap wat ek onveranderd oordra van variant na variant, ’n soort plekhouer vir die regte slotreël, die een wat ek sal herken as hy by my opkom.


By in amber


Ek het ’n by ontdek in amber,            9
wat ’n paar miljoen jaar al                  7
stil bo dieselfde wit bloeisel hang,    9
maar die nektar was koud.                 6


09.05.2011


***


Vierde Weergawe


In die vierde weegawe het ek reël 2 verander hoofsaaklik om die aantal sillabes op te skuif na 9. Die wysiging na “die laaste paar miljoen” bring nie veel van ’n wins aan betekenis nie, & is in elk geval nie wat ek vir  reël 2 in gedagte het nie. Daaroor later.


Die wysiging in reël 3 van die vae “dieselfde bloeisel” na “dieselfde suikerden” het wel winste gebring. Altyd beter om spesifiek te wees waar moontlik, & die naam van ’n plant, boom of dier te gebruik. Daar is poësie in plekname, plantname, volksname. 


Die slotreël is nog steeds niks meer as ’n plekhouer nie. Die idee van die koue nektar het verdwyn, & in die plek daarvan het ek idees aangeteken wat opgeroep is deur “suikerden”, terwyl ek steeds by die 9 sillabes gehou het.


By in amber


Ek het ’n by ontdek in amber,            9
wat die laaste paar miljoen jaar al     9
bo dieselfde suikerden bly hang:       9
suikerden, nektar, by: geel kristal.    9


09.05.2011


***


Vyfde Weergawe


Hier verander ek basies net reël 3: “dieselfde suikerden” lees nou “een soet suikerdenblom”, ‘n verdere presisering van die bloeisel. In die slotreël het ek begin moontlikhede sien in die idee van kristal & “geel kristal” verander na “áls kristal”. Die geel kleur word alreeds opgevang in “amber”, so ek kon dit laat vaar, & die al-klank wat herhaal word in “áls kristal bring boonop ’n klankwins.


By in amber


Ek het ’n by ontdek in amber,                 9
wat die laaste paar miljoen jaar al          9
bo een soet suikerdenblom bly hang:    9
suikerden, nektar, by, áls kristal.            9


05.05.2011


***


Alternatiewe slotreël


Met die eerste drie reëls min of meer afgehandel, kon ek aandag aan daardie allerbelangrike slotreël gee, die reël wat alles bymekaar moet bring, die vers moet afsluit, hopelik met ’n karwatsslag, soos Opperman in sy essay oor die kwatryn geskryf het.


Die eerste poging was 'n geringe wysiging: die dubbelpunt ná “by”  suggereer dat die suikerden met sy nektar & die by álles saam ’n “sonkristal” vorm, waarmee ek aansluit by die gedagte van iets báie oud (sien reël 2). Die wysiging van "kristal" na "sonkristal" kan iets te doen hê met die feit dat die Griekse naam vir amber  ηλεκτρον (elektron) was, wat beteken "gevorm deur die son", & verbind word met die songod Helios. Nie álle insette is altyd maklik herleibaar nie, maar ek het in die verlede báie oor amber nagelees.


suikerden, nektar, by: sónkristal.     9


10.05.2011


***


Maar dit was nog steeds nie die slot wat waarvoor ek gemik het nie. Dit  het nog nie daardie oemf gehad nie. Uit die variasies hieronder blyk dit  dat die idee van die geliefde se hals moontlikhede gebied het, die idee van iets tydloos om die sterflike hals van die geliefde, iets wat dood is om die lewende hals. Die sillabetelling het steeds dieselfde gebly. 


Die “nota” heelonder is nie deel van die vers nie, maar bloot ’n aantekening vir myself oor die rigting waarnatoe ek met die vers wil gaan, ingeval daar baie tyd verloop voordat ek weer by die vers uitkom.


Nóg alternatiewe slotreëls


suikerden, nektar, by, áls kristal                         9
blom, nektar, by – vir jou hals ’n sónkristal.   11
om jou hals word dit geel sónkristal.                 9
om jou tenger hals ’n sónkristal.                        9
om jou eendagshals ’n sonkristal.                      9


fyn broos tenger kwesbaar aards 


10.05.2011


***


Sesde Weergawe


Om een of ander rede (nie álle besluite in ’n gedig gebeur op die bewuste vlak nie) was ek nie langer tevrede met “ontdek” in die eerste reël nie, & het dit vervang met “gekry”, ‘n alternatief wat nie veel beter is nie, maar wel 'n klankskakel met "bly" in reël 3 geskep het. 


Belangriker was egter dat ek nou nader beweeg het aan wat ek in gedagte het vir die slotreël. Die kontras tussen die tydlose amber (“paar miljoen jaar”) & die sterflikheid van die geliefde word versterk met die beeld van die “eendagshals”, wat nie alleen die eendagsblom oproep wat binne dieselfde beeldveld van die gedig val nie, maar ook klankmatig skakel met “kristal”. Die nektar wat tot dusver in die slotreël figureer het, val weg maar word nou gesuggereer deur die soet attribuut van die suikerdenblom.


Die rymskema het nie verander het nie, nie eens die rymwoorde nie. Dit gebeur nie altyd so nie. Álles kan verander, niks is séker terwyl die proses aan die gang is nie.


By in amber


Ek het ’n by gekry in amber,                    9
wat die laaste paar miljoen jaar al          9
bo een soet suikerdenblom bly hang:    9
om jou eendagshals ’n sonkristal.          9


10.05.2011


***


Sewende Weergawe


Klein wysiging: “om jou eendagshals” word “vir jou eendagshals”, & daarmee saam die gedagte dat dit ’n geskenk is vir die geliefde, asof die hele proses wat miljoene jare geneem het nét was om hierdie rare geskenk vir die geliefde te skep. 


By in amber


Ek het ’n by gekry in amber                      9
wat die laaste paar miljoen jaar al           9
bo een soet suikerdenblom bly hang:     9
vir jou eendagshals ’n sonkristal.            9


11.05.2011


***


Agste Weergawe


In hierdie weergawe het ek besluit om die fokus van die ek-spreker af te vat & te verskuif na die tydselement, wat sentraal staan. ’n Verdere wins was die woord “betrap” wat die onverwagse, byna toevallige ontstaan van die amberkristal met blom & by binne vasgevang beklemtoon het. Maar  nou staan dit in ironiese spanning met die slotreël wat suggereer dat die hele proses gebeur het net sodat dit ’n juweel om ’n geliefde se hals kan word, ’n nogal vermetele gedagte!


By in amber


Tyd het ’n by betrap in amber                   9
wat die laaste paar miljoen jaar al            9
bo een soet suikerdenblom bly hang:      9
vir jou eendagshals ’n sonkristal.             9


12.05.2011


***


Alternatiewe vir reël 2


In die opmerkings rondom die vierde weergawe het ek genoem dat ek ander planne gehad het vir reël 2. Ek het nie geweet presies wát dit is nie, maar dat ek, wanneer die regte ingewing by my opkom, dit sal herken. 


‘n Gedig is soos ’n spinnerak: as jy ’n wysiging op een plek maak, resoneer dit regdeur die gedig sodat dit verdere wysigings kan meebring, soms ook onverwagse ingewings. Dis wat hier gebeur het. Met die wysiging van reël 1 & die suggestie dat die blom & by onverhoeds betrap is, het ek skielik geweet wat ek met reël 2 wou doen. Die alternatiewe hieronder speel met moontlikhede.


waar hy geel/taai/stil ’n paar miljoen jaar al     9
waar hy 100 miljoen jaar al                                   9
wat honderd miljoen jaar of so al                         9


10.05.2011


Negende Weergawe


***
Omdat ek aan reël 2 ’n soort onverskilligheid wou gee, het ek besluit op: “wat honderd miljoen jaar of so al”. Die vorige weergawe het alreeds ’n soort onverskilligheid gehad jeens die omvang & durasie van die proses, asof die menslike brein werklik die idee van “’n paar miljoen jaar” kan omvat. Met die wysiging na “wat honderd miljoen jaar of so al” wysig ek nie net “paar miljoen” na “honderd miljoen”nie, maar in die effens hooghartige “of so” skuil daar ’n tikkie menslike vermetelheid wanneer dit gaan oor konsepte wat te groot is om te begryp. Hierdie wysigings aktiveer ironieë, & gee ook meer definisie aan die soort spreker wat aan die woord is, een wat straks grootpraat om die geliefde te beïndruk.


Dan het ek ook “betrap” verander na “gevang” wat aansluit by die gedagte van die  by & blom wat steeds vasgevang is in die amber. Met die wysiging van "soet" na "taai" in reël 3 het die gedagte aan nektar finaal verdwyn, & die fokus verskuif na die taai tekstuur van die hars wat die by & suikerdenblom vasgevang het. 


By in amber


Tyd het ’n by gevang in amber                  9
wat honderd miljoen jaar of so al             9
bo een taai suikerdenblom bly hang:       9
vir jou eendagshals ’n sonkristal.             9


12.05.2011




En daarmee was my kwatryn klaar. Vir nou. Want ek bly torring aan verse, selfs nadat hulle gepubliseer is. 


Lesers mag wonder waarom ek die ooglopende rympaar gevang/hang onbenut gelaat het. Die rede daarvoor is sintakties: as ek "gevang" na die einde van die versreël skuif, verwys "wat" terug na amber in stede van na die by. Dis die by wat bo die suikerdenblom hang, & nie die amber nie. Dis 'n dubbelsinnigheid wat nie vir die vers 'n wins is nie, & verwarrend werk. Die oor vang in elk geval die klank-eggo op al is die woorde nie albei in eindposisies nie.


Klankbindings [b / a / m / l]


Wanneer ek klaar is met ’n gedig doen ek ’n vinnige analise van klankbindings in die betrokke vers. Dit help om die verskillende begrippe wat saamhang ook klankmatig na te gaan. In hierdie stadium kan ‘n woord verander word om dit in die klankveld te plaas van die ander woorde wat saam ’n sekere gedagtelyn uitmaak. 


Daar is in die skryf van ’n gedig vir my baie “algebra”: van die tel van sillabes, na die identifikasie van klank- of rympatrone, netwerk van beelde, etc. 'n Gedig, soos D. J. Opperman opgemerk het, is ’n soort optelsom, & dat al die elemente in die gedig moet optel na die regte "antwoord". Dis nie hoe álle gedigte werk nie, maar beslis ’n nuttige konsep wanneer dit kom by kwatryne. Ek wil egter beklemtoon dat elke gedig sy eie eise stel. Elke vrye vers het ’n unieke matesis, wát ook al jy kies as saambindende faktor(e). Dit moet klop.


b/bl: by, amber, bo, -blom, bly
a/aa: gevang, amber, wat, jaar, al, hang, -dagshals, -kristal
m: amber, miljoen, -blom
l/al: laaste, miljoen, -blom, bly, al, -hals, -kristal


12.05.2011


***


Notas


Hier volg 'n verdere klompie “checks & balances” waarmee ek vir myself uitklaar of alles in die vers klop, of elke element ’n funksie het, waar ek opposisies identifiseer, etc. Ek doen dit nie vir élke gedig nie, maar dikwels genoeg dat dit ’n werkswyse vir my geword het, iets wat ek doen sonder om te dink. 


Hoewel die uitlê van die skryfproses hierbo straks vir die leser baie berekend voorkom, & iets van die magiese van die proses wegneem, soos die verduideliking van 'n towertoertjie, is dit egter maar net die oortjies van die seekoei. Die régte werk, die magiese, is steeds daar. Dit lê in die ingewings wat by die digter opkom “uit die bloute”, of terwyl hy na ’n rymwoord soek, of ’n oplossing wanneer die sillabetelling nie klop nie. Dis die opwindende oomblikke van die skryfproses wat dit die moeite werd maak, wat jou laat blý terugkeer na daardie folio & die woorde daarop.


tyd – vir jou
natuur – kultuur
gevang – hang
aktief – passief
amber – kristal
aard(s)e – son
tyd – miljoen – son/kristal
tydelik – eendags- – hals
gevang/hang – durend
eendagshals/jou – tydelik


***


Verdere info, indien nodig


1.  Amber - Wikipedia, the free encyclopedia
2.  Scientist finds 100 million-year-old bee
3.  President's Message/ Evolution and Change | Long Island Beekeepers Club
4.  100 million year old bee


Johann de Lange

Rainer Maria Rilke - Jy kom en gaan. Die deure swaai dig

Rilke by a Window, by Gerolf Van de Perre



Jy kom en gaan. Die deure swaai dig
Rainer Maria Rilke


Jy kom en gaan. Die deure swaai dig 
al hoe sagter, amper sonder om te sidder.
Van almal wat deur die stil huise beweeg,
is jy die stilste.


Ons raak so gewoond aan jou,
ons kyk nie langer op
as jou skadu val oor die boek wat ons lees 
en alles laat gloei nie.
Want alle dinge sing jou:
met tye hoor ons hulle net helderder.


Dikwels as ek my jou verbeel
tuimel jou heelheid in ’n veelvoud vorme.
Jy hardloop soos ’n trop stralende herte
en ek is donker, ek is woud.


Jy is ’n wiel waarlangs ek staan,
waarvan die speke my soms opvang,
nader aan die middel laat wentel.
Dan sal al die werk waaraan ek my hand sit
wyer uitkring van omwenteling na omwenteling.




[Vertaal deur Johann de Lange]

Monday, April 23, 2012

Amy Lowell - 'n Dekade

Amy Lowell



’n Dekade
Amy Lowell


Met ons ontmoeting was jy soos rooi wyn en heuning,
en jou smaak het my mond gebrand met sy soetigheid.
Nou is jy soos oggendbrood,
sag en aangenaam.
Ek proe jou skaars want ek ken jou smaak,
maar ek word volledig gevoed.


[Vertaal deur Johann de Lange]


W. H. Auden - Daardie oog-op-die-teiken blik

W. H. Auden


Daardie oog-op-die-teiken blik
W. H. Auden


Jy hoef nie te sien wat iemand doen
om te weet of dit sy roeping is nie,


jy hoef maar net sy oë dop te hou:
’n sjef wat ’n sous voorberei, ’n sjirurg


wat ’n eerste insnyding maak,
’n klerk wat ’n laaibrief voltooi,


almal het daardie verrukte uitdrukking
van een wat homself in ’n funksie verloor.


Hoe lieflik is dit,
daardie oog-op-die-teiken blik.


[Vertaal deur Johann de Lange]

Wednesday, February 22, 2012

Carol L. Gloo - Oomblik

Foto deur Leland Francisco

Oomblik
Carol L. Gloo


Die oomblik van my ma se dood
is ek besig om bevrore hoender af te spoel.
Geen visioen, geen skeur
van die tempelvoorhang, net
die sagte meegee van vleis.
Ek het haar vier dae gelede gesien.
Ek het gemeen sy is beter,
en die hospitaal het nie gebel nie,
so ek is pas terug
van ’n kerspartytjie op kantoor,
whisky op my asem
toe ek die foon antwoord.
En in ’n oomblik word ál my handelings
in die verlede onherroepelik.


[Vertaal deur Johann de Lange]

Monday, February 6, 2012

Reza de Wet (1952 - 2012)



Reza de Wet



Na 'n idee van Charlotte Mew
(vir Reza de Wet)


Ek onthou vele vertrekke,
& elkeen speel sy part
in die stadige verstilling
van die sigsag van die hart.


Johann de Lange

Saturday, February 4, 2012

Wilma Stockenström - On the suicide of young writers

 Ingrid Jonker (1933 - 1965)

Nat Nakasa (1937 - 1965)



On the suicide of young writers 
Wilma Stockenström


In memory of Ingrid Jonker and Nat Nakasa


For when they die
no flights in formation are necessary
crying starlings accompany them and the macabre gulls
no gun-carriage needs to be drawn past
poems carry them
sketches reveal tiny intimate details
long after the last news report on the dead politician


But when they die too young
– branch torn from the radiant peach-tree –
it  is an arm ripped off
blood drips on the breakfast table
the houses cower, the opulent churches cringe
and an acrid smoke blows across the land from endless caves.


(Tr. Johann de Lange)



Wilma Stockenström - Father on son



Father on son
Wilma Stockenström



Ought to love the teenage torso
with shoulders brown and solid as beams,
his young flyhalf in striped sweater
and rugby shorts, the bulge in front,
flesh of fleshliness, seeding
fruit of the tree of his body.


He ought to love them, those
blue candid eyes, replicas,
white apples swelling into iris, pupil
already like a sign of conception,
sign of contamination already,
my son, my son, in your eyes.


(Translated by Johann de Lange)



Loftus Marais - Self-portrait on stainless contemporary surfaces


M. C. Escher, The Gallery


Self-portrait on stainless contemporary surfaces
Loftus Marais


the city renders me into my own objective correlative
the surfaces compel me to reflection
renders me deaf, I only stare, I stare at myself:
I’m functional on toasters, microwave ovens
kettles of stainless steel
I’m framed by the portholes of washing machines
at times even in the mysterious glint of door knobs
and the darkness mirrored off switched-off tv screens
I’m epic in panoramic sliding doors
my face wobbles across sedan windows
I’m selling myself to myself in shop windows
always amongst narcissi in front of the flower shop
I multiply by myself through the geometry of the city
I flash schizophrenic in swing doors, I look at
low-angle shots of myself on marble floors of lobbies
the city will echo faintly, but show me my facets
in every shade of unlyrical grey


[Translated by Johann de Lange]