Tuesday, May 31, 2011

Edward Field – Tot lof van my prostaat

Edward Field (1924 - )

Tot lof van my prostaat
Edward Field

Terwyl die meeste mans wat ek ken hulle s’n laat bestraal,
uithol, of sjirurgies laat verwyder,
geniet óns twee ’n salige Indiaanse Somer.

Hoe meer gru-verhale ek hoor
hoe meer vasbeslote is ek om aan jou vas te klou –
jy’s mýne en ek hou van jou nes jy is.

Ja, ek pie snags soos enige ou van my ouderdom,
en hoewel ek nog net selde kliphard is,
kla ek nie –

kliphard is dikwels gevoelloos soos klip
terwyl jy ’n lewende blombol is,
hoewel straks soos ’n bol aangekors deur ons lang reis.

En jy dy steeds uit, met jou wonderbaarlike bloeisels
wat uitbreek regoor my lyf,
stampers en meeldrade aan die dans.

[Vertaal deur Johann de Lange]

Monday, May 30, 2011

Driek van Wissen – Joris

Henricus Cornelis (Driek) van Wissen (Groningen, 12 Julie 1943 - 
Istanboel, 21 Mei 2010)

Joris
Driek van Wissen

Ek het vanaand, met die kat op my skoot
die onrus uit die diertjie weggestryk
toe die lieferd my opeens aankyk
met oë so onpeilbaar diep en groot
dat dit my ’n oomblik met die indruk laat
hy is al eeue lank deelgenoot
van die geheim van lewe en van dood
en nou gereed om daaroor te praat.

’n Versoeking, waarvoor hy nie swig;
langsaamaan sluit hy sy oë dig
gee vir laas ’n lui haal met sy poot
as halwe aai en ontoegeeflike gebaar
dat hy sedert toet nadruklik gebied
is om sy swye om dié sake te bewaar.


[Vertaal deur Johann de Lange]

Denise Levertov – O proe en sien

Denise Levertov (1923 - 1997)

O proe en sien
Denise Levertov

Die wêreld is
nie genoeg mét ons nie
O proe en sien

het die Bybelplakkaat in die moltrein verkondig,
en bedoel God, en bedoel
indien enigiets áls wat lewend is
vir die tong van die verbeelding,

hartseer, genade, taal,
nartjie, die weer, om
hulle in te adem, te byt,
proe, kou, sluk, transformeer

in ons eie vlees ons
sterftes, die straat oor te steek, pruim, kweper,
te lewe in die boord en honger

te wees, en die vrug
te pluk.


[Vertaal deur Johann de Lange]

Charles Simic – Twee honde

Charles Simic (1938 - )

Twee honde
Charles Simic

’n Ou hond bang vir sy eie skaduwee
in een of ander Suidelike dorp.
Die storie is my vertel deur ’n vrou besig om blind te word
een mooi someraand
met die skadu’s wat kruip
uit die woude van New Hampshire,
’n lang straat met net ’n bekommerde hond
en ’n paar stowwerige hoenders,
en al daardie son wat neer bak
in daai naamlose Suidelike dorp.

Dit het my laat dink aan die Duitsers wat marsjeer
verby ons huis in 1944.
Die manier wat almal op die sypaadjie gestaan het
en hulle dopgehou het uit die hoek van die oog,
die aarde wat sidder, dood wat verby beweeg...
’n Klein wit hondjie het in die straat gehardloop
en verstrik geraak tussen die soldate se stewels.
’n Skop het hom laat vlieg asof hy vlerke het.
Dis wat ek aanhoudend bly sien:
Skemer wat daal. ’n Hond met vlerke.


[Vertaal deur Johann de Lange]

Bernard O’Donoghue – ‘Honde, sou julle verewig wou lewe?’

Bernard O’Donoghue (1945 - )


“Honde, sou julle verewig wou lewe?”
Bernard O’Donoghue

   (Frederik die Grote)

Sy hurk om te ontlas, soos die gesegde gaan,
neffens haar sterfbed. Haar gekromde rug
is wit soos vis
wat te lank in die yskas was,
grys teen die rugstring.

Huilend, sê sy, “dit is die heel ergste.”
Ek sê, “Natuurlik nie.
Jy het dieselfde vir jou kinders gedoen,
dikwels genoeg.”

Maar natuurlik was dit: die toneel
keer terug, ongevraagd, meer
dikwels as nié,
vreemd genoeg.

Ek sou verkies dat julle buite wag.


[Vertaal deur Johann de Lange]

Die huwelik van woord & beeld. 21. Andy Warhol (Joan Hambidge)

Andy Warhol Muurpapier, Pop Art

Andy Warhol
Joan Hambidge

Vir jou ’n vers
omdat jy “bewys” het dat die gevormde
wel ont-vorm ver-vorm verfomfaai
kan word tot iets nuuts & anders
(wat my betref: soms beters)

die tydelikw word tydloos
hier: MM se gesig vyf maal vyf keer
op die doek (’n voorspel tot die ewige duplisering?)
in 1962 (pas dood)
en Jackie Kennedy huilend laggend huilend
en dan erg bedroef (finaal) met JFK
twee keer op die agtergrond (nes ’n dubbeldoor-eier)
van lig na donker

tog: die mooiste van jou werk
die 100 ingekleurde Campbell’s tamatie-sopblikke
- wie sou nou ooit kon raai dis kúns? –
in ry op ry op ry
(verklap jy herhaling maak dit beter/relevant)

vir jou dan ’n vers: Rembrandt-in-blik.


Uit: Joan Hambidge. 1985. Hartskrif. Human & Rousseau: Kaapstad.

Die huwelik van woord & beeld. 20. Jackson Pollock (Joan Hambidge)

Jackson Pollock, oftewel Jack the Dripper, in sySprings, NY ateljee.

Jack the Dripper
Joan Hambidge

   vir Sheila Cussons

Jy had die vermoë
om die lewe te ignoreer ontken
verken eerder die kontoere hoeke
van jou onderbewussyn    skiet dit oop en uit
in ’n dolle jazz op ’n groter-as-lewensgroot doek
bloedvate en senuwees van jou brein

Jy leef in hierdie doek
stap en werk (selfs jou skoene word vol verf)
drup-drup skiet dit uit    onverwags    die rustelose moedelose
Jack the Dripper
in verf wat boonop alles verder vergrys
die senustelsel snaarstyf moeg ontbloot.

In ’n Oldsmobile convertible (glo verruil vir 2 swart-en-wit Pollocks)
skiet teen muur
en dood
spat rooi teen die motorruit


Uit: Joan Hambidge. 1985. Hartskrif. Human & Rousseau: Kaapstad.

Die huwelik van woord & beeld. 19. YSL (Joan Hambidge)

Jeanloup Sieff - Yves Saint Laurent, Parys, 1971



The most beautiful paradises are the ones we have lost. Yves Saint Laurent



YSL
Joan Hambidge

Yves St Laurent
sit kaal
bostukloos en bodemloos
met ’n ring aan sy vinger ’n ketting om sy arm

grootogig verskans agter
’n skilpadraambril

Ek, Yves St Laurent
eens van Dior
nou van Laurent

bespot in Algerië
deur maters en nefies
oor ek popspeel
teken en klere maak

water moes gaan haal
daar onder by die dam
kort na sonsondergang die lowergroen
ligroos rooi ingeprent

waag dit net vir ’n oomblik
om onbedek toe te kyk
hoe ander mý klere oor-
trek

skryf my naam oor en oor
Yves St Laurent
YSL





Uit: Joan Hambidge. 1985. Hartskrif. Human & Rousseau: Kaapstad.


Saturday, May 28, 2011

Die huwelik van woord & beeld. 18. James Dean (Joan Hambidge)

James Byron Dean (1931 - 1955)

James Dean: Foto in blou
Joan Hambidge

   Vir T.T. Cloete

Gefnuik, gefok, gefusilleer kyk
James Dean
vermoeid na regs na links
onverwags gevang op regs

die hare ruig
die oë stroef (kyk mooi: die oë dof
van oorbelade ongevraagde redelose pyn
want ek is omdat ek is omdat ek rebelleer)
die sinnelike mond verstyf stroef
(soos Hollywood dit wou hê) die lyne
druipend om die mond

dan natuurlik die regterarm spier
bonkig vas in die linkerhand ’n sigaret
(brandend – tog verwag in die hoek van die moeë mond)
ook naby die regterhand en –been
wat die Lee-Jeans verrek
bedek die wrewelige knop

en dan terstond gestol in blou
die weerloosheid van jou
skraal skelet
staan jy soos almal verveeld
want Hollywood se skietbevel
verbied vereers uitspattige, uitlokkende
uitdagende gedrag...

maar later in die silwerblou Porsche
– die drang te groot, die tyd te min –
weet jy (’n vlugsekonde te laat)
die rus is helaas
nie elders

Uit: Joan Hambidge. 1985. Hartskrif. Human & Rousseau: Kaapstad.

Die huwelik van woord & beeld. 17. Nastassja Kinski (Joan Hambidge)

Richard Avedon - Nastassja Kinski & die Serpent, 14 Junie 1981, gelatien-silwer afdruk, 1982.

Nastassja Kinski en die serpent
Joan Hambidge

   Na die beroemde foto van Richard Avedon, 1981

Gerek
agter glinsterglas (ook net buite
bereik soos MM in breyten se gedig)
lê Nastassja Kinski: asembenemend wispelturig Eva
omslang

die hande nie afwerend of afke(u)rend
dog eerder: rustig plat gestut vir kop en skouer
die hare agteroor gekam
nat

groen afwagtend die oë
die mond half-verstarrend oop

dan effens onvanpas
die strak ivoorarmband
by die andersins soel naakte lyf
verkring

die skouers vooroor gebuig
(om borste te bedek?)
die dye hoog en bruin
die magie    boesman-lieflik rond

verdomp! die slang neem oor
geskub gekartel wreed pythonies
seil tussen bene deur
op op op tot verder langs

sissend sis Nastassja Nastassja
Nasti nat
en steek – meteen – sy sluwe tong
in die skulpie oor


Uit: Joan Hambidge. 1985. Hartskrif. Human & Rousseau: Kaapstad.

Die huwelik van woord & beeld. 16. Marilyn Monroe (Joan Hambidge)

Marilyn Monroe (Foto: Bert Stern)

Monroe: foto in rou
Joan Hambidge

Beskeie waag ek
vanaand 'n gedig
oor jou Nee eintlik vir jou

ek wou begin:
die argetipiese seksgodin
wat ander voor en na
leepoog weg laat kyk

besluit: té dramaties
gewigtig lomp
ensovoort

my onvermoë word nou
net 'n oomblik lank
opgehef

wanneer ek met 'n skok
Bert Stern se L.A.-foto
sien

dat toeval hier net toevallig
was, glo ek nie
Marilyn Monroe in rou!

net die skouers wys effe
lyf (verder niks)
soos ons gewoond was

jou kop skalks weg áfgedraai
jou hand voor jou mond
asof jy stil waarsku: ek word nie meer gebruik

jou linkeroog bot toe
selfs die wimpers glimmend swart
dan: die immer wit gebleikte hare

O altyd witter ja witter as sneeu
begin swart uitskif
in jou sagte swanenek
hiervolgens moes jy wel weet
(kyk selfs die moesie wit)
of was jy reeds tot-die-einde-toe

moeg?
die dood is net 'n droom

Uit: Joan Hambidge. 1985. Hartskrif. Human & Rousseau: Kaapstad.

Friday, May 27, 2011

Constantine P. Kavafis - Ithaka

Ithaka

Ithaka
Constantine P. Kavafis

   vir Eben Venter

As jy vertrek op jou reis na Ithaka
mag jou tog ’n lang een wees,
vol avontuur, vol ontdekkings.
Laistrygoniërs en Siklope,
kwaai Poseidon – vrees hulle nie:
jy sal hulle nooit op jou pad teenkom nie
solank jy jou gedagtes op hoër dinge hou,
solank ’n raar opwinding
jou gees en lyf roer.
Laistrygoniërs en Siklope,
wilde Poseidon – jy sal hulle nie teenkom nie
tensy jy hulle saamdra binne jou gees,
tensy jou gees hulle voor jou oprig.

Hoop dat jou reis ’n lang een mag wees.
Mag daar vele someroggende wees wanneer,
met hoeveel plesier, hoeveel vreugde,
jy hawens binnevaar en vir die eerste keer sien;
mag jy stop by Fenisiese handelstasies
om mooi dinge te koop,
perlemoer en koraal, amber en ebbehout,
sensuele parfuum van elke soort –
soveel sensuele parfuums as wat jy kan kry;
en mag jy vele Egiptiese stede besoek
om volumes kennis op te gaar van hulle geleerdes.

Hou Ithaka altyd in jou gedagtes.
Om te arriveer is waarvoor jy bestem is.
Maar moenie jou haas op jou reis nie.
Nóg beter as dit jare duur,
sodat jy oud is teen die tyd dat jy op die eiland aankom,
ryk met alles wat jy vergaar het op jou weg,
en nie verwag dat Ithaka jou ryk sal maak nie.

Ithaka het jou die wonderlike reis gegee.
Sonder haar sou jy nooit op reis gegaan het nie.
Sy het niks oor om vir jou te gee nie.

En as jy haar arm vind, sal Ithaka jou nie bedrieg het nie.
Wys soos jy geword het, so vol ervaring,
sal jy dan verstaan wat hierdie Ithakas vir jou beteken.

[Translated by Johann de Lange]

Thursday, May 26, 2011

Elizabeth Bishop - Die kuns van afstand doen

Brasiliaanse Landskap (deur Elizabeth Bishop) (c). Alice Helen Methfessel

Die kuns van afstand doen
Elizabeth Bishop

Die kuns van afstand doen bemeester mens gou;
soveel dinge blyk in elk geval bestem om te verdwyn
dat hul verlies geen rede is vir berou.

Verloor iets elke dag. Aanvaar as jy nie kan onthou
waar die huissleutels is, die uur verkwis in die tuin.
Die kuns van afstand doen bemeester mens gou.

Oefen om gróter te verloor, & gouer;
plekke, & name, & die plek waarheen jy haarfyn
beplan het om te reis. Niks is rede vir berou.

My ma se horlosie’t ek verloor. En kyk! my laaste, nou,
of tweede laaste, van drie geliefde huise het verdwyn.
Die kuns van afstand doen bemeester mens gou;

Ek het twee stede verloor, lieflikes. En, gróter nog, in oënskou,
wêrelde wat myne was, twee riviere, ’n domein.
Ek mis dit als, maar dis nog geen rede vir berou.

– Selfs om jou te verloor (die speelse stem, ’n gebaar wat nou
nog by my bly) sou nie ’n leun wees. Dit skyn
die kuns van afstand doen bemeester mens gou,
al lyk dit (Skryf dit!) al lyk dit na geen rede vir berou.

[Vertaal deur Johann de Lange]

Wednesday, May 25, 2011

Die huwelik van woord & beeld. 15. Rembrandt Harmenszoon van Rijn

Rembrandt Harmenszoon van Rijn, selfportret


Rembrandt
Johann de Lange

Rembrandt het sy doeke met donker
verlig, sy soeke na klaarheid
met skadu’s verdig.


Uit: Johann de Lange. 2009. Die algebra van nood. Human & Rousseau: Kaapstad.

Die huwelik van woord & beeld. 14. Jackson Pollock

 Die verfbespatte vloer van Jackson Pollock se ateljee by die Pollock-Krasner Huis & Studiesentrum in East Hampton, NY, 7/21/2010. ( Michael P. Farrell / Times Union )


Jackson Pollock se skoene
Johann de Lange

jack the dripper se skoene
is vol spatsels verf
– hy trek anner aan
vir wanner hy verf –
van drup-
drup werfskaf óm
die doek verklap
sy skoene veel
(soos die voete
van ’n porno-ster)
hy skiller stryk-
deur groen of witter
seisoene, deur bitter
windsnerp deur elke
skreef & kier
van die skuur,
hande vuil, swart
onder sy vingernaels
wanner hy drink
skiller hy nie,
dan skel hy, smyt
sy pyn die stilte in
pigmente verhard
deur terpentyn
soos kaal voetsole
in winterskryn

Uit: Johann de Lange. 2009. Die algebra van nood. Human & Rousseau: Kaapstad.

Die huwelik van woord & beeld. 13. Michelangelo

Michelangelo - Die skepping van Adam (detail)

Dakskildery
Johann de Lange

Was hy, Michelangelo,
agnostikus? Straks nar?
lewers glo ek vas
dat God verminktes
goed begryp: aan eie
bas vir hulle boet.
Of Michelangelo
het vyfduims verbrou:
’n ekstra toon prul
uit die goddelike linkervoet.*

God
aanstormend
’n engelekoor in sy uit-
bollende mantel
steek ’n vinger
oor die leegte

uit, blaas
in die nog on-
volmaakte
gees. lets
geweldigs stroom
uit dié vinger,
die gewronge gewrig.
En Adam, reik-
halsend om te word,
vind sy onnosel geluk
deur dié benul ontwrig.


* Toe die restourasie van die Sixtynse kapel afgehandel is, het dit onder meer geblyk dat Michelangelo ’n ekstra toon aan God se linkervoet geskilder het. Ek het om & by dieselfde tyd ’n berig hieroor in ’n uitgawe van Time magazine gelees met foto’s waarop dié ‘glips’ duidelik sigbaar was. Michelangelo het meer dikwels dan nie gewone mense van die straat gewerf as modelle, & met die begeestering saam straks vergeet hy is besig om Gód te skilder & het in plaas daarvan die een of ander arme sterfling met ’n ekstra toon nét so lewensgetrou oorgedra! En God is nie die enigste wat deurgeloop het nie: daar is oraloor profete met ’n ekstra vinger of toon, magtige Russsiese masseuses wat as dit lyk na hóé moes instaan as sibilles, want M. had min erg aan vroulike modelle. Dit het my laat wonder oor volmaaktheid / geskondenheid, & kennis / onkunde. Of dit áls in die gedig gestalte gevind het, is vir die leser om te besluit.


Uit: Johann de Lange. 1995. Wat sag is vergaan. Human & Rousseau: Kaapstad.

Die huwelik van woord & beeld. 12. Vincent van Gogh

Vincent van Gogh - Die saaiman, 1888


Saaiman met son wat sak
Johann de Lange

na ’n skildery deur Vincent van Gogh

die sonneblom-son blom groot
& geil op die horison
hy klim nog val maar hang
talmend ’n wyle langer
terwyl die saaiman sade
knetterend in die grond
laat val hy loop & strooi
die ganse middag lank
die land ’n kole-bed wat sinder
die vaal dorsland kokend mooi
voor die nog-staande koring
’n stralende geelkoor
rei op rei selfs die kraaie
(hardekoejawels) waag skaars
om die sade op te pik
met hulle pikswart snawels
hulle geelring-oë spring
van kluit na kluit

& alles word deur die son verwring
verskroei & tot geelryp gebring


Uit: Johann de Lange. 1993. Vleiswond. Human & Rousseau: Kaapstad.

Monday, May 23, 2011

Die huwelik van woord & beeld. 11. Robert Mapplethorpe

Robert Mapplethorpe, Self-portrait

Robert Mapplethorpe
Johann de Lange

   vir Hennie Aucamp

Jou laaste selfportret
is een wat striem:
’n last sitting as’t ware,
boeiend soos die wit
kalla-lelie, honger na kennis,
wat besorgd buig oor sy skaduwee,
bewus van sy dood,
sy einde intiem.

                       Jou gesig
’n opaal skyf sweef
weg in die volstrekte swart
agtergrond, alreeds
besig om los te raak
terwyl jy dit beleef.

Gevang in raam na raam
die anonieme lywe, private orgies
openbaar gemaak;
Dionusos-&-sy-wywe;
fallusse geamputeerd
soos besnyde blomme,
of aangebied as offervrugte;

jou koplose portrette, self-
portret as duiwel met die sweep
in jou harige agterent
soos ’n stert, in leerkamaste,
die dekor van ’n skaduwêreld laastelik
as dekadente glans opgedis: jou oë gluur
terwyl jou mond glimlag.

Ten slotte verstil jou foto’s,
verstrak tot marmertorso’s & -portrette:
Apollo wat ingekeerd droom,
of Mercurius, jou laaste reisgenoot,
die androgiene trekke
stralend wit soos vergeestelikte
vlees: die perfekte dooies
só gelaai met lewe.

                        Die skedel
op die kierie (eens ornament,
nou om jou te steun)
gaan jou reeds vooruit.
Net jou hand klou nog groot
& verbete aan jou dood.

Uit: Johann de Lange. 1993. Vleiswond. Human & Rousseau: Kaapstad.

Die huwelik van woord & beeld. 10. Charles Demuth

Charles Demuth - Two Sailors Urinating, 1930

Twee matrose wat pis
Johann de Lange

   na ’n akwarel van Charles Demuth

swaar penis-houdende matrose
selfs swaarder as dié teen die mure
van Pompeji pissende
met soet engelagtige gesigte
mikkend met sterk gewrigte
twee helder vloeiende figure
lopende water of bogende vuur
donkerblou uniforms
teen die bruin-van-die-muur
deursigtige spieëlings
van die middaguur
waarvan hulle deel is
bruisend-pissende matrose
dat soveel water dat twee
watermans soveel vuur kan hou
– die koue as van Pompeji
getuig van wat was –
dat hulle as’t ware pis
op smeulende ruïnes
’n nat vlam is op dié papier

Uit: Johann de Lange. 1991. Nagsweet. Human & Rousseau: Kaapstad.