Saturday, May 28, 2011

Die huwelik van woord & beeld. 17. Nastassja Kinski (Joan Hambidge)

Richard Avedon - Nastassja Kinski & die Serpent, 14 Junie 1981, gelatien-silwer afdruk, 1982.

Nastassja Kinski en die serpent
Joan Hambidge

   Na die beroemde foto van Richard Avedon, 1981

Gerek
agter glinsterglas (ook net buite
bereik soos MM in breyten se gedig)
lê Nastassja Kinski: asembenemend wispelturig Eva
omslang

die hande nie afwerend of afke(u)rend
dog eerder: rustig plat gestut vir kop en skouer
die hare agteroor gekam
nat

groen afwagtend die oë
die mond half-verstarrend oop

dan effens onvanpas
die strak ivoorarmband
by die andersins soel naakte lyf
verkring

die skouers vooroor gebuig
(om borste te bedek?)
die dye hoog en bruin
die magie    boesman-lieflik rond

verdomp! die slang neem oor
geskub gekartel wreed pythonies
seil tussen bene deur
op op op tot verder langs

sissend sis Nastassja Nastassja
Nasti nat
en steek – meteen – sy sluwe tong
in die skulpie oor


Uit: Joan Hambidge. 1985. Hartskrif. Human & Rousseau: Kaapstad.