Showing posts with label John Berryman. Show all posts
Showing posts with label John Berryman. Show all posts

Friday, November 11, 2011

John Berryman - Gebed aan God

John Berryman

Gebed aan God
John Berryman

Meester van skoonheid, vakman van die sneeuvlok,
onnabootsbare beramer,
skenker van Aarde so oorlaai & anders as die saai Maan,
dankie vir dié my gawe.

Ek het ’n oggendgebed aan U geskryf
wat met sorg en presisie alles omvat wat tel.
“Volgens U wil” begin die ding.
Dit het my aan & af twee dae gevat. Dit streef nie na welsprekendheid nie.

U het tot my redding gekom keer op keer
in my onbegaanbare, soms wanhopende jare.
U het my begaafde vriende hulleself laat vernietig
en ek is steeds hier, erg beskadig, maar in werkende toestand.

Onkenbaar, soos ek onkenbaar is vir my proefkonyne:
Hoe kan ek U “liefhê”?
Slegs so ver as dankbaarheid & ontsag
gaan ek vol vertroue & absoluut.

Ek het geen idee of ons weer lewe nie.
Dit lyk nie waarskynlik nie
nóg vanuit die wetenskaplike nóg vanuit die filosofiese oogpunt
maar alles is sekerlik moontlik vir U,

en ek glo so vas in die Opstanding-verskynings aan Petrus en aan Paulus
soos ek glo dat ek in hierdie blou stoel sit.
Maar dit kon ’n spesiale geval gewees het
om hulle aanvanklike geloof te vestig.

Wat ook al U einde mag wees, aanvaar my ontsag.
Mag ek staan tot die dood toe vir ewig op aandag
vir elke greintjie van selfs U geringste onderrig of insig.
Ek voel selfs seker dat U my weer sal bystaan, Meester van insig & skoonheid.


[Vertaal deur Johann de Lange]

Friday, June 17, 2011

John Berryman - Droomgesang 1. Knorrig kruip Henry weg heeldag

John Berryman (1914 - 1972) © Life

Droomgesang 1. Knorrig kruip Henry weg    heeldag
John Berryman

Knorrig kruip Henry weg    heeldag,
onversoenlik pruil Henry.
Ek sien sy punt, – ’n trag om dinge af te skud.
Dis die gedagte dat hulle dag
hulle kan dit doen wat Henry kwaad maak & veraf.
Maar hulle moes na vore gekom & gepraat het.

Die ganse wêreld soos ’n wol-liefhebber
was oënskynlik eens aan Henry se kant.
Toe kom ’n skeiding.
Daarná het niks uitgedraai soos dit kon of moes.
Ek weet nie hoe Henry, oop-
geforseer vir almal om te sien, oorleef het nie.

Wat hy nou te sê het, is ’n lang
wonderwerk wat die wêreld kan verduur & wees.
Eens in ’n wildevyboom was ek bly
op die kruin, & ek’t gesing.
Hard op die land verweer die magtige see
& leeg raak elke bed.


[Vertaal deur Johann de Lange]