Thursday, January 31, 2013

Johann de Lange - Dink & dank



Dink & dank

Iewers ontspring dink & dank
aan dieselfde bron & klank.

Sy dit die pasgeslagte offerrook
wat óp-adem na die Son,

of bo die kim die yl rokie
van die San wat na die sterre klim,

of die sakramente wat ons drink:
seën gaan uit na alle syn, hoe nietig ookal,

& heilig álles wat klip is of vlesig of groen,
naby of ver, bont, of sondronk & bruin,

elke vorm denkbaar waar ook Al dink
is dankbaar deel van dieselfde Brein.


(c) Johann de Lange

Saturday, January 19, 2013

Denise Levertov - Die smagting van getroud wees


© Christopher Cart - Embrace 1


Die smagting van getroud wees
Denise Levertov

Die smagting van getroud wees:

dy en tong, beminde,
is swaar daarvan,
dit klop in die tande

Ons soek na kommunie
en word weggewys, beminde,
elkeen van ons

Dit is leviatan met ons
in sy pens
op soek na vreugde, ’n bietjie vreugde
wat onbekend is daarbuite

twee-twee in die ark van
die smagting daarvan.

[Vertaal deur Johann de Lange]

Friday, January 18, 2013

Carol Ann Duffy - Valentyn




Valentyn
Carol Ann Duffy

Nie 'n rooi roos of 'n hart van satyn.

Ek gee jou 'n ui.
Dit is 'n maan toegedraai in bruin papier.
Dit belowe lig
soos die versigtige onthulling van liefde.

Hier.
Dit sal jou verblind met trane
soos 'n minnaar.
Dit sal jou weerkaatsing
'n foto maak wiegelend van smart.

Ek probeer die waarheid te vertel.

Nie 'n oulike kaartjie of soen-o-gram.

Ek gee jou 'n ui.
Sy vurige soen sal aan jou lippe bly kleef,
besitlik en getrou
soos ons is,
vir so lank as wat ons  is.

Vat dit.
Sy platinumringe krimp tot 'n trouring,
as jy so daarna kyk.
Noodlottig.
Sy geur sal aan jou vingers kleef,
kleef aan jou lem.

[Vertaal deur Johann de Lange]

Tuesday, January 15, 2013

Ruth L. Schwartz - O God, fok my

Ruth L. Schwartz


O God, fok my
Ruth L. Schwartz

Fok my, o God, met gewone dinge,
die dinge in hierdie wêreld wat U die liefste het –

soos bome in die lente, wat hulleself ontbloot,
glimpse van blaarknoppe wys so ferm en geswolle

dat ek wil hulle in my mond wil neem.
Van bome gepraat, fok my met voëls,

sê maar, ’n enorme skor kraai,
trots soos ’n man met sy hand in sy onderbroek,

en dan ’n spreeu, intiem, bruin,
diskreet en omsigtig soos ’n bywyf.

Fok my met my kombuiskraan, druppend
soos ’n nimfomaniak,

die heelnag deur, voller en voller,
tot dit by die borde in die wasbak oorloop –

en met die buurman onder my se stofsuier,
daardie groot suigende lawaaierige draak

wat alles wat vuil is laat skoonkom.
Fok my met ontbyt, met Engelse roosterkoekies,

die gees van die deeg opgewerk
met 'n bruin kors, deurgloei van gebotter wees.

Fok my met lemoensap,
die gekonsentreerde soetheid daarvan,

wat die mond verruk soos somer,
en soet skuimvlokkies agterlaat soos spoeg

aan die binnekant van die glas.
Fok my met koffie, sterk en warm,

en dan met room by die koffie gevoeg,
wat blom soos sampioenwolke,

en oopgaan soos valskerms.
Fok my met die tikkende

horlosie, wat die tikkende
bom is, wat die tikkende hart is –

die hart wat ons hoor in die eerste maande,
in die oorspronklike naaktheid,

voordat ons jillende gebore word.
Fok my met die ongewaste lepel

trots met sy koffievlek –
die vae draaikolk van ’n bruikbare lewe

saamgespoel in die middel, rond soos ’n wêreld.

[Vertaal deur Johann de Lange]

Saturday, January 12, 2013

Ekfrasis



Hieronymus Bosch

Hieronder is 'n lys van ekfrastiese verse wat deur die webblad Skoppensboer begin is, & wat ek verder bygewerk het. Sommige inskrywings het weggeval omdat hulle nie strenggesproke aan die vereistes van die ekfrastiese gedig (gedig gebaseer op 'n ander visuele kunswerk) voldoen het nie, maar heelwat het bygekom.

Ek wil digters & lesers wat van verse weet wat nie op hierdie lys is nie vra om sulke verse asseblief onder my aandag te bring. Veral bundels wat die afgelope jare verskyn het, moet ek nog deurwerk. Die inligting wat verstrek moet word is:

1. Bundel waaruit die gedig kom
2. Uitgewer & jaar van publikasie
3. Gedigtitel & bladsynommer
4. Kunswerk waarop die gedig gebaseer is

Stuur asseblief julle inligting aan johnnypanic666@openweb.co.za.

Dankbaar by voorbaat,

Johann de Lange

Kyk hier na die huidige lys, & hou julle oë oop vir 'n blog oor ekfrastiese gedigte met teorie & geskiedenis van die vorm, sowel as treffende voorbeelde.

Kaapse Paragrawe. Ekfrasis, oftewel 'Die Beeldgedig in Afrikaans'

Tadeusz Rózewicz - Twee verse

Tadeusz Rózewicz


Proewe
Tadeusz Rózewicz

Die dood sal nie ’n enkele
versreël korrigeer nie
sy is nie ’n proefleser nie
sy is nie ’n simpatieke
redakteur nie

’n swak metafoor is tydloos

’n slordige digter wat dood is
is ’n slordige dooie digter

’n vervelige ou verveel ook nadoods
’n sot hou aan met sy sotlike geklets
van anderkant die graf

[Vertaal deur Johann de Lange na die vertaling van Adam Czerniawski]

***


By al my ander verpligtinge
Tadeusz Rózewicz

By al my ander verpligtinge
almal dringend
het ek vergeet hoe
noodsaaklik dit is
om ook te sterwe

heel ligsinnig
het ek hierdie verpligting verwaarloos
of ek het dit vervul
maar net oppervlakkig

beginnende more
gaan dinge verander
ek sal toegewyd begin sterf
wys optimisties
sonder om ’n oomblik te verkwis

[Vertaal deur Johann de Lange na die vertaling van Magnus J. Krynski & Robert A. Maguire]