Showing posts with label Michelangelo. Show all posts
Showing posts with label Michelangelo. Show all posts

Thursday, October 11, 2012

James Wright: Twee kunsgedigte

Michelangelo - Pietá (Opera del Duomo)


Die laaste Pieta, in Florensië
James Wright

Die hele stad
is steen, selfs
waar steen
nie hoort nie.
Waarom is daardie ou
man se openbare gesig
bedroef,
heimlik effens
effens bo en
effens terug van 
wat daardie steen is

***

Rafael - Die ekstase van Sint Cecilia



Bologna: ’n Gedig oor goud
James Wright

Gee my hierdie keer, my eerste en ernstige
Italiaans, ’n gedig oor goud,
in die linkerkantste hoeke van oë, en die swaar
nag van die treine wat my hierheen gebring het,
en die swaar wyn in die ou groen lyf,
die glas waaruit sovele gedrink het.
Ek het my bottel saamgevat huis toe elke dag
na die koel grot, en na vore gekom
verguld op die linkerkantste hoek
van ’n katedraal se vleuel:

wit wyn van Bologna,
en die wyse goue skadu’s
in die linkerkantste hoeke van Maria Magdalena se oë,
terwyl Sint Cecilia staan
en grimlag in die middel van ’n kaal muur,
die heilige wat haar simpel pype laat verlep,
en haarself
adoreer, terwyl die nederigste en rykste van alle vroue se oë
my aanskou, met ’n wyse simpatie, haar liefde
vir die goue lyf van die aarde, sy ken my,
haar ligkrans effens skeef,
en geen wanhoop in haar goud
wat trone af trek ondertoe 
en hulle dan laat betaal daarvoor nie.

O,
sy mag jammer lyk vir Cecilia
en
vir die regterkantste heilige op die boom,
maar
sy lyk nie jammer vir Rafael nie,
en
ek wed jou sy het nie jammer gelyk vir Jesus nie,
en
sy lyk nie jammer vir my nie.
(Wie sou?)
Sy lyk nie jammer vir my nie.

Sy lyk alleen maar soos die swaar diep goud
wat trone af trek ondertoe
heeldag lank aan die wynstok.
Maria in Bologna, sonlig wat ek versamel het die hele oggend lank
en saamgebal het in my hande die hele middag lank
en gedrink het heeldag lank met my goud-borstige

beminde in my arms.


[Vertaal deur Johann de Lange]

Wednesday, May 25, 2011

Die huwelik van woord & beeld. 13. Michelangelo

Michelangelo - Die skepping van Adam (detail)

Dakskildery
Johann de Lange

Was hy, Michelangelo,
agnostikus? Straks nar?
lewers glo ek vas
dat God verminktes
goed begryp: aan eie
bas vir hulle boet.
Of Michelangelo
het vyfduims verbrou:
’n ekstra toon prul
uit die goddelike linkervoet.*

God
aanstormend
’n engelekoor in sy uit-
bollende mantel
steek ’n vinger
oor die leegte

uit, blaas
in die nog on-
volmaakte
gees. lets
geweldigs stroom
uit dié vinger,
die gewronge gewrig.
En Adam, reik-
halsend om te word,
vind sy onnosel geluk
deur dié benul ontwrig.


* Toe die restourasie van die Sixtynse kapel afgehandel is, het dit onder meer geblyk dat Michelangelo ’n ekstra toon aan God se linkervoet geskilder het. Ek het om & by dieselfde tyd ’n berig hieroor in ’n uitgawe van Time magazine gelees met foto’s waarop dié ‘glips’ duidelik sigbaar was. Michelangelo het meer dikwels dan nie gewone mense van die straat gewerf as modelle, & met die begeestering saam straks vergeet hy is besig om Gód te skilder & het in plaas daarvan die een of ander arme sterfling met ’n ekstra toon nét so lewensgetrou oorgedra! En God is nie die enigste wat deurgeloop het nie: daar is oraloor profete met ’n ekstra vinger of toon, magtige Russsiese masseuses wat as dit lyk na hóé moes instaan as sibilles, want M. had min erg aan vroulike modelle. Dit het my laat wonder oor volmaaktheid / geskondenheid, & kennis / onkunde. Of dit áls in die gedig gestalte gevind het, is vir die leser om te besluit.


Uit: Johann de Lange. 1995. Wat sag is vergaan. Human & Rousseau: Kaapstad.