Saturday, April 13, 2013

Jandy Nelson - Die lug is oraloor


Christina’s World deur Andrew Wyeth

smart is ’n huis
waar die stoele
vergeet het hoe om ons te dra
die spieëls hoe om ons te weerspieël
die mure hoe om ons te omvat

smart is ’n huis wat verdwyn
elke keer as iemand aan die deur klop
of die klokkie lui
’n huis wat wegdwarrel in die lug
met die geringste vlaag
wat sigself begrawe diep ondergronds
terwyl almal slaap

smart is ’n huis waar niemand jou kan beskerm nie
waar die jonger suster
ouer sal word as die oudste een
waar die deure
jou nie langer in-
of uitlaat nie

[Vertaal deur Johann de Lange]