Wednesday, July 24, 2013

Johann de Lange - Fetish



Die voet in jou mond
kon geskilder gewees het
deur Caravaggio
of El Greco –
die voet van ’n heilige
of gekruisigde,
elke skrander toon
& sening lenig-
end, die vel
’n perkamentgeel.
Die voetbrug rus
in ’n harige oksel,
’n wynrooi tepel op-
geprik. Jou kop
is agteroor ge-
gooi in adorasie,
jou oë versluier
met ’n apokriewe begeerte,
litanie van ’n honger
wat soos skadu arm-
holte, voet & mond verteer.


(c) Johann de Lange, 2012/2013

Saturday, July 20, 2013

Joan Hambidge - Artikels rondom die werk van Johann de Lange

Joan Hambidge, 2013 (Foto: Jan Marais)

Op haar blog, Woorde wat weeg, skryf die digter, dosent & kritikus Joan Hambidge 'n reeks artikels rondom my werk, 'n soort work-in-progress. Die uiteindelike oogmerk is die publikasie van 'n studie oor my werk. Digters raak so gou & so maklik vergete, tensy hulle in die gedagte van lesers & studente gehou word, & deur die jare het Joan die gesprek rondom my werk lewendig gehou, & my werk aan nuwe generasies lesers & studente bekend gestel. Dit is 'n eer & 'n luukse wat bittermin digters te beurt val & ek is haar baie dank verskuldig vir haar onverdrote ywer, vir lewendige gesprekke, & 'n vriendskap wat oor dekades strek & een van die min bestendige dinge in my lewe is.

Hieronder is 'n lys van die artikels tot dusver, in geen spesifieke orde nie. Volg die skakels om die volledige artikels op haar blog te lees.

Johann de Lange


Die foto of skildery as interteks

Die Marilyn Monroe-figuur in die digkuns van Johann de Lange

Die gesprek met die vader(s): Die Orpheus-mite in die digkuns van Johann de Lange

Die prosa van Johann de Lange: Die versplintering van die “ek”

Vervreemding én nostalgie

Die resepsie van die digkuns en prosa van Johann de Lange: Polemieke en enkele onderhoude

Die digter as Lorelei: Die fenomeen Ingrid Jonker en haar tweede lewe in enkele verse van Johann de Lange

N.P. van Wyk Louw en die kanon (N.P. van Wyk Louw-gedenklesing, 2012)

Die makabere of grensoorskrydende – die verheerliking van die aaklige of sinistêre in die digkuns van Johann de Lange

Die man agter die foto

Nagsweet en die aanwesige / afwesige vader 

Seks as eucharistie

Wednesday, July 17, 2013

Jane Kenyon - Laat kom die nag

Jane Kenyon (1947 - 1995)


Laat die lig van laatmiddag
skyn deur skrefies van die skuur, op
beweeg teen die bale soos die son sak.

Laat die kriek met sy skraapwerk begin
soos ’n vrou wat haar naalde en wol
opneem. Laat kom die nag.

Laat dou versamel op die skoffel laat lê
in langs gras. Laat die sterre verskyn
en die maan haar silwer horing openbaar.

Laat die vos teruggaan na sy sandgat.
Laat die wind gaan lê. Laat die skuur
swart word binne. Laat kom die nag.

Na die bottel in die sloot, na die skepbak
in die hawer, na die lug in die long
laat kom die nag.

Laat dit kom, soos dit sal, en wees
nie bevrees. God laat ons nie
sonder troos, so laat kom nag.