Wednesday, October 24, 2012

Verse vir Ingrid

Ingrid Jonker (1933 - 1965)




Verdrinken is vergeten worden en vergeven,
het is oud, zeer heimwee overwinnen
en het zolang gezochte einddoel vinden
waar ook de afvaart was, op de oude warme kust.
Verdrinken is een aangenaam ontbinden;
dag lief dood meisje, glimlach maar gerust.

[J.B. Charles - Voor het verdronken meisje]


Inhoud


Adam Small – Strandgebied
Breyten Breytenbach – Ballade van ontroue bemindes
Daniel Hugo – Ontvlugting
fanie olivier – die kind is nie dood nie
Freda Linde – Stroomgebied
George Louw – In memoriam Ingrid
Hennie Aucamp – Drieankerbaai
Hennie Aucamp – Ingrid Jonker
Jan Swanepoel – Die kind
Joan Hambidge – Ballade van die ontroue vers
Joan Hambidge – Met hulle is ek
Johann de Lange – Ingrid Jonker (1933 - 1965)
Johann de Lange – Ontvlugting
Johann de Lange – Met hulle is ek
Lina Spies – Anne Sexton en Kie
Salomi Louw – Skulp
Wilma Stockenström – By die selfmoord van jong skrywers

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~


Adam Small (1936 - )

Strandgebied
Adam Small

in memoriam Ingrid Jonker

op haar kruisweg by die laaste stasie
het sy die konstellasie
cliftonse liggies vir laas hoor tik
(ons lot word deur die sterre beskik)

toe die perde in die seebamboese draf
weer sy haarself met altwee hande af

maar die water het teen haar heupe soos 'n man gestoot
en sy bors was harig soos die dood

[Standpunte, 1967]


~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Breyten Breytenbach (1939 - ) (Foto: Toast Coetzer)

Ballade van ontroue bemindes
Breyten Breytenbach

(’n Wintervers vir een stem)

Die water val, die jare gly;
ek sit by Dirk en word beskonker.
Hy bied ou vodde nuus vir my.
”Wat het geword van I. Jonker?" .
"Hy’t knaend mos na haar gevry . . .
Nog ’n skop?" "Ta, gooi maar wit."
”Dit was die sêdste begrawery .. ."
Wat het geword van jong Ingrid?

Die wêreld is verslete en koud daarbo.
"Broer Dood ploeg oop soos ’n dum-dum .. ."
Sy tande klets - dis sjus of sjo.
"Wat het geword van Pieter Blum?"
"Na ’n bôrdienghuis oorsee gedros . . ."
(Vanwaar ’ie dag en taal verdoem.)
”Brandryk . . ." "Toe nou, ek sê jou mos."
Wat het geword van P. Verbloem?

Die skedelvlag sal hier ook waai.
Ja-nee, wat help dit om te lag?
"Hy’t jare lank afkop gekraai . . ."
"Wat het geword van Breytenbach?"
"Sy mangsuitjie was nou rêrig fraai . . .
Moet jy nóg ’n` dop hê?" ”Seblief, as’k mag."
"Hoenderspore en baie lawaai .. ."
Wat het geword van Bullebach?

L’Envoi
Op hul borduursels sal ek verder roem.
Wat het geword van Braakinpag?
Ek sjit by Dirk soos 'n wafferse pronker;
sal die selfverwyl mý ook verkrag?
Kyk wat het geword van Pieter Blum.
Kyk waar lê I. witgraat in die donker.


~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Daniel Hugo (1955 - )

Ontvlugting
Daniel Hugo

ek stap graag  dronk van osoon 
tot by Drieankerbaai
die strandjie is steeds besaai
met uitklotsels van die see:
rioolreste lê hier
mosselskulpe, robwerwels, wier
'n gestolde stink inkvis
en van tyd tot tyd  doodnugter 
die lyk van 'n digter


~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~


Fanie Olivier (1949 - )

die kind is nie dood nie 
fanie olivier

maar hector petersen was
the first to die

hoe sal die boeke van hierna uiteindelik tog
na hom verwys: hector met die oë wat gloei
hector alleen buite die mure van sy huis
moet eensaam op die stofpad sterf: sy rug
vir oulaas op die vreemdeling gekeer.

soms, snags, kom pla die skim nog
in my slaap, hoor ek hoe huil
die amper-kinders. hoe hardloop hulle trug
met hom en met die wreedste seer.
dan bo die skote hoor ek hoe sirenes loei.
o hector hector hoe slaap die hand
van daardie dag vannag: sien hy jou jonglyf
ruk hoor hy hoe skree die een wat langs jou loop?
weet hy nou al hoe sag is bloed hoe rooi hoe teer?
God, glo hy dan nog hy is onsterflik, die taai wit
waarin sy moeder hom destyds vir selfbehoud kon doop?
snags word ek wakker in die sweet: loop deur
die huis, voel elke slot op knip en sit
die ligte buite aan: my hond slaapswaai sy stert.
maar in die lug sien ek hoe skerp die sterre brand
en in die oggend, hoekom weet ek nie, hoor
ek dat alles wel is in die land
en een ons goud is soveel rande werd.
dis hollands hollands in die kaap:
die haksteen is onaangeraak.

soms, snags, kom pla die skim
nou nog alleen nog in my slaap.

junie 1979



~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~


Freda Linde (1915 - ) (Foto: Philip de Vos)

Stroomgebied
Freda Linde

Hoe saggies gésel my die Juliereën
hoe gésel my die reën
deur oop neonstrate sonder ‘n boodskap
van die dag wat nooit gewees het nie:

‘n Halwe nag kon dag gebring het.
So naby kon die dag begin het
net tien treë oor die donker perk.

 – Selfs tien treë nie.
Nie vir al die die roem en luister nie.
Nie ‘n woord, ‘n roep, ‘n fluisterinkie.

Jy het nog sluwer weggeglip
as hul beloftes soos rookringe.
Maar hoe kon jy die klein dingetjies agterlaat
jou kind se skoentjies onder my bed
en êrens – waar? – jou oker trui
verweerd en sag soos die daeraad?

En die slytige kindjie van die skoentjies –
het jy geweet sy sou gaan
onverleë soos ‘n kind
op blinker voetjies . . .
Maar dié stukkende skoentjies?

Daar was ‘n dag toe iemand kortaf was
en (en jy so windverwaaid in die straat)
en ‘n nag het gekom toe al die stemme stil was
in hul onwetende stil verraad

maar die klein dingetjies het jou niks gemaak nie
en roep nog onophoudelik na jou
skuldloos en klein, verlore, verniet:
die nederige glas met die blom van jou lippe
en die leë parfuumbotteltjies
en die getroue sleutel van jou deur.
Sleutels slyt af en vergeet maar hierdie een
het kort gelede nog in jou koorsige palm gelê.

Stroomgebied, droomgebied, ebvloed
skuif sag oor die rimpelende grense.
Oorsuis die gespitste stiltes.

As die verkeer ophou en die mense
spoel jou maatslag oor die stil balkonne
Stroomgebied, droomgebied,
sus jy die weerlose wens.
“Verdrinken is vergeten worden en vergeven.
“Is dit nie vir jou mooi nie –
“vergeten worden en vergeven?
“Het is een oud, zeer heimwee overwinnen.”
…         …
In die nanag hoor ek nog die Juliereën
wis ek hoe die vog vergader om die koue steen.


~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

George Louw (1939 - )

In memoriam Ingrid
George Louw

Vlugtig soos ’n jong voël se vlerke,
die oorgang tussen jou,
die ysland en God:
’n paar huise wat skilfer en roes verby,
en dan is jy vry
om jou simbole te kies soos jy wil.

Ons torring die moderne wind
uit tot warreling, ’n hoë D-kruis
wat later verstaan sal word,
en is self die wapperende vesels ontuis
in dié sneeu, dié kort
uitkyk wat weemoedig in die wit Lig sluit.

Een kreet was nie genoeg
om die pyn van die gewonde
te laat stil word nie.
’n Koor moes hierdie sonde
van die eensame insig
weergalm. Toe kon dié wonde

hul eerbare rus  kry

[Uit: Opstand verby, 1969]


~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Hennie Aucamp (1934 - ) (Foto: Naomi Bruwer)

Drieankerbaai
Hennie Aucamp

’n Koue wind het opgesteek
en vul die baai met mis
tot dit jou lyk of meeue
bloot dobbervlokke is.

Was hul die aand teenwoordig,
kop onder vlerk gesteek,
toe Ingrid deur die wiere beur
en haar as offer breek?

Hoe kon hul weet, met oë toe,
skuimvlokke wat ook meeue is?
Die see stoot slissend oor die sand:
’n Selfmoord is skoon uitgewis.

***

Ingrid Jonker
Hennie Aucamp

Haar afgebroke lewe
val kunstenaars ten prooi
wat mediumgewyse
haar lewe wil voltooi

[Uit: Pluk die dag. Tafelberg, 1994; 14]


~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Jan Swanepoel

Die kind
Jan Swanepoel

die woorde mag verander
maar oral bly die haat

ingrid, ek moet iets vir jou sê.
dis oor die kind van jou. nee, nie simone
maar jou papierkind, die een
wat met die geur van vryheid en van heide
deur die wêreld heen marsjeer,
die swart-op-wit inskrywing
van daardie een wat platgeskiet is
in wat was dit? Nyanga? Guguletu?

ja, die klein lewe
deur ’n koeël kortgeklits
al oor die twee dekades terug
het so op sy papiermanier bly leef
getaal in die gedig vertaal
in wie weet hoeveel tale

dis oor die slotreël dat ek skryf,
die aanklag wat my kleintyd geruk het
in die merg: Sonder ’n pas.

ek wil laat weet: die dompas
het so pas die pas gekry
(want sien, dit kos te duur)
voortaan staan die naam van Swartes
ook in die lewensboek geskrywe
nes hul Blanke, Kleurling- en Indiërlandgenote

verskoon my. wat sou jy tog weet
van die driekamerbedeling en die heel nuutste
retoriek? jy weet, dis lank nie meer
kafferboeties en kommuniste
verdringing en verswarting
identiteit etnisiteit apartheid
afsonderlike ontwikkeling
selfbeskikking plurale demokrasie
konstellasie van state aparte vryhede
en wie weet wat nog nie.

of dit nou klaarpraat is met jou gedig?
ek glo van nee: as ’n tydsdokument
bly dit steeds tref, al sou ’n mens moes toegee
die skaal was te beskeie. jou mense
die dink deesdae groot, nes die Amerikaners.
die laaste jaar het hoeveel kinders so
net so gesterf, maar God weet
dis al doodgewoon dit maak geen nuus
glad nie gedigte nie.

en wat gaan word? dit weet ek nie
in hierdie land van mensefakkels
is die digter
lank nie meer profeet.

Vrydag 13 September 1985


~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Joan Hambidge (1956 - )

Ballade van die ontroue vers
Joan Hambidge

Die blare val, die water gly;
ek sit by De Lange en drink tee:
Hy het altoos raad vir my.
“Wat het geword van illusies?”
“Jy het destyds tog beter gevry…”
“Nog ‘n bietjie inligting, Joan?” “Dankie, nee.”
Dit was die mooiste rymelary.
Wat het geword van illusies?

Die lug is koud en grys daarbo.
“Jy het onlangs eers tegniek begin uitbuit …”
my raadgewer praat – dis sus of so.
‘Wat het geword van oorspronklikheid?
“Iets soos eerste, model, eerlikheid…?”
Ek wonder of jy nog die bronne kan onthou.
“Skatpligtigheid …” “Ja-nee, ek wil dit behou.”
Wat het geword van oorspronklikheid?

Dis die winterwind wat waai.
Ja-nee wat help dit om te verkas.
“Jy’t net te lank om dié vrou gedraai…”
“Wat het geword van ander temas?”
“Jou vorige verse was nou rêrig braaf…”
“Nog ‘n bietjie tee, Joan?” “Dankie, as…”
“Beskrywings oor die vrou se naaf…”
“Wat het geword van ander temas?

L’envoi
Haar kiekies het ek beslis behou.
Wat het geword van ander temas?
Ek sit by De Lange en drink tee;
die selfspot en opstuur begin te pla.
Wat het geword van oorspronklikheid?
Wat het geword van illusies?

[Uit: Die somber muse. JutaLit, 1990]

***

Met hulle is ek
Joan Hambidge

vir Ingrid Jonker & Johann de Lange

Met hulle is ek
wat dwelms misbruik
omdat ‘n ongelukkige jeug
of dwase oordeelsfout vir altyd bly wroet
met hulle is ek wat die hek van ‘n Weskoppies
of ‘n Valkenburg vir eens en altyd moes hoor sluit
teen die idees van wat normaal of aanvaarbaar is
teen die jeugfout wat bly terugkeer soos bose swere op die lyf
met hulle wat roekeloos en volledig liefgehad het
met daardie liefde ‘n skande ‘n fout ‘n verdriet
‘n kind moes afteken in ‘n huis vir ongehude moeders
omdat dit beter so sou wees en die kind voel roep
deur elke maandstonde en deur elke ongevierde verjaarsdag
deur ‘n mondigwording sonder moeder, vader of familie ja
met hulle wat op Vlaktes grootword sonder genoeg warm klere of kos
verskoppelinge van ‘n sisteem soekend na aanvaarding in ‘n wit sisteem
waar kleur en armoede en aksent hul immer buitehou, stuit
Met hulle is ek, die Hereweet
omdat niks meer eenvoudig is nie
en die leuen juis in ongeregtigheid bly gedy

[Versindaba, Oktober 2010]


~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Johann de Lange (1959 - )

Ontvlugting
Johann de Lange

Fyn kantwerk van bokbaaivygies langs die see.
Die vygieranke van Somersetstrand
kon jou dun enkels nie terughou nie
daardie nag toe jy uitgestap het
na jou dood soos ‘n kind na ‘n donker kamer,
toe jy die water naweldiep ingewaad het
soos ‘n slaapwandelaar in ‘n droom.
Daardie nag: het jy toe geweet
dat daar ‘n einde kom aan die groot geel by
die dag, het jy onthou dat jy eenmaal,
een hoogsomertyd, vlasblond & gelukkig was?
Daardie nag het jy na binne geskree
& die meeue het gesterf van jou kreet.
Daardie nag het jy jou jonglyf
vir die laaste keer weggegee,
argeloos, aan die grootste minnaar
van almal: aan die krulkopsee.
En die windwit branderskuim
het jou dye skoongewas
van die bloed van die vermoorde kind,
die bloed van die verontregtes,
die nageboorte van jou volk.
In die Bergrivier & die dam by Firwoods
het jy twee keer byna verdrink, meisie-vrou;
die derde keer is skeepsreg.
Voordat jy finaal ondergegaan het,
slaapswaar & vir ewig jonk,
het die water & die wind saamgesweer
& jou skraal skouers
twee meeuwit vlerke vir die vlug
uit hierdie Valkenberg gegee.

(Uit: Waterwoestyn, 1984)

***

Ingrid Jonker (1933 - 1965)
Johann de Lange

Wie het Ingrid Jonker vermoor?
Ek, sê die somber see,
ek wat neem & gee.
Ek het Ingrid Jonker vermoor.

Wie het haar sien sterf?
Ek, sê die suiwer maan,
daar’s niks wat my ontgaan.
Ek het haar sien sterf.

Wie sal die sluier maak?
Ek, sê die minnaar,
om die skyn te bewaar.
Ek sal haar sluier maak.

Wie sal die graf betaal?
Ons, sê die familie trots
– met haar naam in rots –
ons sal die graf betaal.

Wie sal die kis dra?
Ek, berig die koerant,
op voorblaaie dwarsoor die land
sal ek die kis dra.

Wie sal die klok lui?
Ek, sê die suster; weet
ek is afgunstig op haar leed.
Ek sal die klok lui.

Wie sal vir haar sing?
Ek, sê die ongebore kind,
sodat sy my kan vind
sal ek vir haar sing.

Wie sal haar dood betreur?
Ons wat haar gepubliseer het
& verdere winste verbeur het,
ons sal haar dood betreur.

Wie sal haar bloed trek?
Ek, sê die skrywer,
uit hebsug & naywer
sal ek haar bloed trek.

Wie sal eerste vergeet?
Ek, sê die bleek papier,
my tyd is korter hier.
Ek sal eerste vergeet.

[Uit: Wordende naak, 1990]

***

Met hulle is ek
Johann de Lange

met hulle is ek
wat die individu misbruik
omdat seks nie tel nie
met hulle wat dronk word
van sweet en poppers
die engelagtige mechanic
die matroos van Simonstad
kaal met net sy pet op
die onbeholpe doofstom ou
wat dankie sê in vingertaal
met hulle die studente
wat soms skuldig voel
en die seuns van loonwerkers
wat nooit enigiets berou nie
met hulle wie se lywe
in die somer na seesout smaak
en in die winter
vreemde motorruite toestoom
met hulle die seuns terug van ‘n aand
saam met godvresende meisies
hulle lippe nog brandend van klandestiene soene
met hulle desperaat in enkelkamers
waar die Bybel geen uitkoms bied nie
met hulle wat geld vra
en hulle wat betaal
met dié wat wil vergeet
en dié wat van herinnerings leef
met hulle die geliefdes
op dubbelbeddens van ontnugtering
minnaars wat die leuen volg
in gelid van die liefde
met die onderwyser wat wil slae hê
omdat niemand verstaan nie
met hulle die getroude ontroues
wat ru in die hol genaai wil word
asof dit ‘n straf is
met hulle wat pyn uitdeel
en hulle wat dit smagtend ontvang
omdat dit van hulle mans sal maak
met hulle in donkerkamers van illusie
in die hart getref deur ‘n terloopse aanraking
met hulle in dokters se spreekkamers
wat huilend agter ‘n afskorting kniel
voor die Orakel van Bloed
met hulle wat hulle name skryf
op toiletmure die snelskrif van hoop
in bloed en ink en pis en saad
met hulle die skoongesig soldate
meer bedrewe in doodmaak as liefhê
omdat geweld en pyn en dood
opnuut bevestig hoe hard
die liefde tussen mans moet wees

[Uit: Wat sag is vergaan, 1995]


~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Lina Spies (1939 - )

Anne Sexton en Kie
Lina Spies

Wat het gebeur, Anne,
toe jy aanklop
by no. 45, Genadestraat?
Het niemand
oopgemaak nie?

Jy was Anne met ’n e
soos Anne van Green Gables
maar vir jou was God nie in sy hemel
en met die aarde alles wel nie.
Jy het wondere beleef
soos gevalle engele wat rondrol in die slaai,
visse wat loop;
poësie was meer as ’n appelgroen somerlug,
’n wit amandelboord en rooi esdorings in die herfs;
geloof meer as ’n aandgebed en katkisasie:
moeiliker, gevaarliker – verskriklik,

maar liefde, het jy gesê, is eenvoudig soos skeerseep
en tog het ’n man jou nie regtig ná gekom nie,
net jou pa
en pa’s van mooi, slim dogters
maak hul vir sterwe groot:
na hom verwek elke man haar tot die dood:

Ingrid, Sylvia, jy:

As die sout van trane te min geword het,
kan jy nog altyd die see inloop en uitgespoel word in poele
wat genadig stil en diep vir kluisenaarskrappe is.

En as koue wintermôres
jou klokslag wakker maak
wanneer jy nog toegemaak wil lê
in die slaap se warm, donker skoot,
kan jy jou hoof neerlê in ’n oond,
die wiegliedjie van die gasbuis suisend oopdraai:
jy is meteens ’n woordelose fetus,
nie meer ’n kind wat oulik praat,
’n meisie wat verse maak,
’n vrou wat dig nie,

jy sluk nie meer pilletjies
teen terminale insomnia en endogene depressie nie;
die camouflage van slim voorskrifte is nou onnodig:

uiteindelik kan jy terugkruip in die beendere van die vader
en die genade Gods
kluit vir kluit
op jou voel val.



~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Salomi Louw

Skulp
Salomi Louw

Deel van strand en skulp en see
die meisie van my man
Hare verstrik in wier, klere êrens
agtergelaat, vis
op haar maag, op haar bors ’n ster
Roekelose grimlag verstrak om haar mond
Nat oë skreeu nog bruin
Hande half-winkend van krampe
Lyf natglad, koud en sag.
Die see spoeg nog sag in haar sy
toe hulle haar kry

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Wilma Stockenström (1933 - ) (Foto: Liesl Jobson)

By die selfmoord van jong skrywers
Wilma Stockenström

Ter nagedagtenis van Ingrid Jonker en Nat Nakasa

Want wanneer hulle sterf
is daar nie formasievlugte nodig nie
gillende spreeus begelei hulle en die makaber meeue
hoef daar nie 'n kanonwa gesleep te word nie
gedigte dra hulle
sketse vertel klein intieme besonderhede
lank na die laaste berig oor die ontslape politikus

Maar wanneer hulle te jonk sterf
– afgeskeurde tak van 'n stralende perskeboom –
is dit 'n arm wat afgeruk word
drup die bloed op ons ontbyttafel
koes die huise, krimp die godspaleise ineen
waai 'n bitter rook oor die land uit eindelose spelonke.