Friday, March 21, 2014

In memoriam: Hennie Aucamp (1934 - 2014)

Hennie Aucamp, deur Alex Emsley


Hennie Aucamp (1934 - 2014)

I. Ewige flaneur

Vir jou is elke dag steeds vol
soos die wyd-oop kelke van lelies,
& uit die vensters van kerke
sing die lig sy evangelies.

By Blouberg kom die wit reëls een-een aan,
die soutige jambes vanmelee
wat die jongmans wit vlerke
om hulle enkels gee.

Die meeue duikel bo die water,
opgehef soos die palms
van priesters
met oggendpsalms.

Seepunt se palmbome span boog
teen die wind, & op ’n seemuur
verstrak ’n akkedis in sy skadu
tot hiëroglief van die middaguur.

Op die blou uur hunker jy van lig- na skemerkol,
op jou lippe die gesoute asem van ’n kus
& in jou binneoor eggo
die domkerk van die nautilus.


II. Dagreis

In jou woonstel kom & gaan die lig,
kantel van ruit na ruit,
maar jy’s nie langer op die son gerig.

Die wind se ape-spel
van blaar na blaar bedaar,
& skadu’s ink die park tot luiperdvel.

Met Rust-mijn-ziel ’n soet spesmaas,
het jy ingekruip onder ’n grou kombers
& met jouself gaan lepellê op langelaas.


© Johann de Lange

Wednesday, March 12, 2014

Vers en Klank - Stil punt van die aarde



Daniel Hugo lees gedigte voor uit Johann de Lange se jongste bundel Stil punt van die aarde in Vers en Klank.

Daniel Hugo