Sunday, November 13, 2011

Bloudraad. Kaapse paragrawe






Bloudraad. Die Kaapse paragrawe


5 Maart

Gaan saam met Raymond na Chart Farm om druiwe & rose te gaan pluk. Die plaaswinkeltjie sit teen 'n helling met die roostuin op regterhand & die druiweboorde al teen die hang af. Pragtige uitsig. Gewapen met ‘n snoeiskêr & plastieksak vaar ons eerste onder die hanepoot in.
Die druiwe het 'n wilde smaak, asof mens die son daarin kan proe. Wanneer laas het ek my hand tussen blare ingesteek & die koel swaar gewig van 'n tros druiwe aan die tak kon voel?
Ons pluk & eet al geselsende. Ons klouter deur pap draadheinings & gooi 'n draai deur die ander wingerde maar die druiwe daar is nie soet genoeg na ons smaak nie.
Dik gevreet steier ons met die sakkie geplukte druiwe teen die helling uit waar ons dit solank by die plaaswinkeltjie los & 'n plat kartondeksel kry vir die rose.
         Die rose is nog nie in volle bloei nie. Daar is baie knoppe & 'n paar vroeë blomme. Maar ons werk die beddings geduldig deur, van die Double Delicious tot by die Vera Johns. Ek ruik aan elke soort, party het 'n swaarder reuk as ander, party soeter.
Ons pluk meer as twintig bloeisels wat net begin oopgaan & Raymond snoei sommer op die plek oortollige takkies & blare van die stingels af. Party rose het groter dorings as ander, asof hulle hulleself meer aggressief verweer teen die hand met die lem. Die dorings gee iets manliks aan die rose.


2 April

Tel ‘n man by Saunders Rock op. Aantreklike bruingebrande swartkop met ‘n stewige knop in sy kortbroek. Hy het ‘n rooi rugsak & sê hy het die oggend berg geklim. Sy sweetreuk bevestig dat hy lank in die son was. By die woonstel trek hy sy skoene uit, gaan was sy voete & maak hom tuis in die sitkamer. Ek gooi vir ons vrugtesap in & ons gesels voel-voel. Die tyd stap aan & ek noem dat ek die woonstel met iemand deel. ‘n Fout. Sy houding verander handomkeer.
Hy krabbel in sy rugsak, haal ‘n stuk papier & pen uit. Ek dag hy wil vir my sy adres &/of foonnommer gee, maar nee, hy begin ‘n kriptiese lysie op die papier neerskryf. Hy sit ook ‘n maatband op die tafeltjie neer.
“Waarvoor is dit?” wil ek weet.
“Wag, jy sal sien.”
Toe hy klaar geskryf het, staan hy op & vat die maatband. Hy beduie ek moet ook opstaan. Ek meen eers hy wil dalk die lengte van my piel meet as die een of ander voorwendsel tot seks, as ‘n soort seduksie. Maar dit blyk toe, nee: hy wil my ánder mates vat.
Die ou is kennelik nie lekker nie & ek bied aan om hom te gaan aflaai waar hy wil wees. In die hysbak & motor probeer ek agterkom wat in daai kortbroekie skuil, maar hy wil niks weet nie. Mompel nurks dat hy nie van die “soort” is nie.


16 April

Ek gaan fliek by die Waterfront – Fearless met Jeff Bridges. Voordat die fliek begin, gaan ek vinnig toilet toe. Iemand kom sit in die hokkie langsaan & loer deur die loergat. Ek loer terug & sien hom draadtrek.
Die volgende oomblik kyk hy bo-oor die afskorting. Hy is ‘n aantreklike blondekop met jeans & ‘n sportsbaadjie aan. Sy piel is stewig & besny. Ons tos mekaar onderdeur die afskorting.
Na ‘n ruk kyk hy weer bo-oor & vra of ek getroud is. Ek neem aan dis deel van sy fantasie & sê ja. Hy vra my om hom te soen. Ek huiwer.
"Kiss me," sê hy dringend. "Kiss me."
Ek gaan staan op die toiletbak se rand & ons soen mekaar bo-oor die afskorting. Hy soen baie lekker. Dan klouter hy af, trek sy broek op & verkas.


14 Mei

Gym toe. Met die instapslag sien ek 'n ou, omtrent my lengte & ouderdom, fris gebou, met 'n laaannngg piel. Dit klap behoorlik teen sy bobene terwyl hy loop. Swengelend. Hy stort in die hokkie langs myne. Seep daai ding in tot 'n semistyf. Lieflike gesig. Ek aai dit vir laas voordat ek wegstap stoomkamer toe. Vang sy oog. Kry die gevoel ek moet hom nie traai nie.
In die stoomkamer is daar 'n swartkop wat waarskynlik mof is. (Ek kry net die vibe.) Die deur gaan oop & Langpiel kom in. Hy gaan staan teen die muur waar ek sit, sy hande voor hom gehou, 'n trouring aan sy vinger. Maar sy piel hang ver onder sy hande uit, steeds semistyf. Dik uitgeswel. Ek kan my oë nie daarvan af vat nie, maar probeer om nie te opvallend te staar nie.
Ek begin 'n horing kry. Probeer dit wegsteek, maar hy sien. Sy piel begin ook swel. Wel! Hy vat sy hande weg sodat dit effens wegstaan van sy lyf, steeds te swaar om eens 90 grade te lig! Hy gaan sit op die bankie oorkant my & begin homself tos. Die swartkop sit steeds met sy bene opgetrek & maak of ons nie bestaan nie. Ek begin ook tos. Die ander man se piel is nou in volle sterkte styf & manjifiek. Hy staan op & kom staan voor my. Tos my. Net toe ek my hand uitsteek na syne gaan die deur oop. 'n Swartkop outjie kom in, gemiddelde piel. Hy kom sit langs my.
Langpiel gaan sit & trek sy bene op sodat sy piel nie wys nie. Die eerste swartkop stap uit. Langpiel hervat weer sy vertoning. Die outjie langs my doen niks, kyk net. Ek begin ook tos. Toe ek weer kyk, is die swartkop se piel volle sterkte uitgeswel & byna net so groot soos Langpiel s’n. Nie so lank nie, maar dikker, amper bierblik-dik.
Hy speel tentatief met homself. Toe ek aan hom wil vat, keer hy my hand weg. Hy laat egter langpiel toe om hom te tos, maar wil nie aan hom vat toe dié beduie hy moet nie. Ons word weer onderbreek & kry die res van die aand nie weer kans om alleen te wees nie.


23 Julie

Peter kom oor die oggend. Ons het beplan om die dag iewers heen te gaan, of net rond te ry. Net voordat ons waai, bel Lucas. Terwyl hy met my oor die foon gesels, blaai Peter deur porno. Raak jags, & dis nie lank nie of hy het my broek oop & wikkel my piel uit & gee my een van sy onverbeterlike blow jobs. Later werk ek syne ook uit. Sy kakie langbroek het 'n nat kol voor. Ek gesels nog eenstrykdeur met Lucas. Toe ek later die foon neersit, gryp ons mekaar met mening.
Ons ry agterna uit Melkbosstrand toe, dan Tweede Steen waar ons uitklim, die bosse in stap & mekaar nogmaals gryp. Peter kom terwyl hy vooroor gehurk my staan & afsuig. Sy kom vlieg die wêreld vol. Net toe ek begin kom, sien ek iemand 'n ent van ons af staan & pis. Ek is nie seker of hy ons gesien het nie; glo nie so nie. Peter trek sy broek op, ek staan met my rug na die ander man toe & maak klaar. Ons stap laggend terug kar toe.
Dis laatmiddag wanneer ons by die Blue Peter hotel bier bestel & iets om te eet. Stap daarna 'n moerse ent op die strand & gesels. Of ons ooit iets meer as fuck buddies sal word, betwyfel ek. Maar ek verkies dit eintlik so. Dis eenvoudiger. Dis omtrent vyfuur wanneer ons weer terug is in Seepunt.

27 Augustus

Gisteraand weer Bronx toe. Ontmoet David, pas afgetrek van Johannesburg. ‘n Sexy swartkop. Ek was heel verbaas toe hy my cruise. Ek het hom vroeër die aand saam met ‘n ou by die Bronx sien instap & hy is deur ‘n hele paar van die mooies gegroet. Op die dansvloer het ek langs hom & sy vriend gedans, maar hy het nie in my rigting gekyk nie. Later, toe ek naby die ingang staan om af te koel, kom staan hy alleen langs my. Vra hoe dit gaan. Ek sê goed & bly dan stil.
Ons staan woordeloos langs mekaar. Later stut hy sy hande agter op die houtreling waarteen hy leun & ek vat ‘n kans & sit my hand naby syne, raak ‘toevallig’ aan hom. Na ‘n ruk raak hy liggies aan my hand & ons vingers verstrengel. Nog steeds praat ons nie.
Elke keer as iemand wat hom ken met hom kom gesels, vat hy sy hand weg. Hy’s waarskynlik involved & wil nie hê sy lover moet uitvind nie.
Ons bly staan met lang stiltes tussen ons. Ek druk ‘n keer of wat my hand agter by sy jeans in & voel die welwing van sy boude, of streel die diep kurwe van sy rugstring.
         Later moet hy sy vriend gaan aflaai & vra of ek nog gaan bly. Ek trek my skouers op, nie seker wat om te sê nie. Sê dan nee, ek gaan ook waai. Hy sê dat hy my graag weer sal wil sien, wil ek hom nie so oor ‘n halfuur by sy woonstel kry nie. Of dalk later in die naweek? Ek sê ons kan mekaar later in die naweek sien, miskien ‘n brekfis doen.
         “I would like it if you came to my place. Tonight.”
         “OK. I’ll see you later.”
         “Give me 15 minutes to drop him off, then I’ll be home.”
         Hy bly in ‘n woonstel wat hy huur in Bantry Bay, op met Ravine Steps. Lieflike uitsig. Toe ek die bopunt van die trappe bereik, sien ek die hek is halfoop gelos. Ek stap ‘n paar trappe af na ‘n houtdek waarop ‘n tuintafel & –stoele staan. Net ‘n plat ruwe houtdek sonder reling.
Die skuifdeure is ook halfoop & ek kyk in op die sitkamer. Smaakvolle (hoewel effens verbeeldinglose) meubels & ornamente, niks moffierig nie. Die objekte & skilderye teen die mure is ‘manlik’ – ‘n ou seekaart, kompas, sulke dinge.
Ek stap binne. David is nêrens te sien nie. Die deur na die slaapkamer is links & ek sien twee bene wat afhang oor die bedrand. Swart skoene & jeans. Ek beweeg nader.
Hy lê op sy maag, half aan die slaap. Vir ‘n oomblik dink ek dis ‘n speletjie, dat hy maak of hy slaap & ek raak styf by die gedagte. Maar toe ek die vertrek inkom, word hy wakker & rol om. Glimlag.
Hy trek die skuifdeure toe & ons gaan deur kamer toe, begin soen, mekaar uittrek. Hy wil hê ek moet my jeans & skoene aanhou; net my hemp uittrek. Sy piel is aan die klein kant; besny. Hy buk vooroor, rug na my. Ek gaan sit op my hurke & begin hom lek. Ruik na gegeurde seep. Ek werk my tong in hom op. Hy kreun.
Dis die eerste keer sedert Willie dat ek dit met iemand doen & geniet. Ek druk sy boude met my twee hande oop sodat ek sy hol beter kan sien & dieper kan tongnaai. Die vlees daarvan is sag & glad, met ‘n smaak van sy eie. ‘n Byna metaalagtige smaak, soos van bloed. Ek voel hom oopgaan soos hy ontspan & my tong vat.
Ek steek my een hand tussen sy bene deur & vat sy piel vas. Dié is nat van die pre-cum wat daaruit op die mat drup. Hy is baie responsive, maak geluide, beweeg sy onderlyf, probeer nog verder vooroor buk sodat ek dieper kan inkom.
Sy matras lê op ‘n platform twee trappe hoër as die vloer. Hy gooi sy hemp oor die boonste trap (die mat is van ‘n baie growwe, geweefde soort) & gaan lê op sy maag met sy knieë op die onderste trap. Ek kniel agter hom & begin hom weer tongnaai. Ek voel ek kan ‘n ganse nag aanhou daarmee.
         Die geluide wat hy maak & woorde wat hy sê, is half skugter, onseker oor hoe ver hy kan gaan. Hoe meer ek te kenne gee dat ek daarvan hou, hoe pronter raak hy. Na ‘n ruk staan hy op & ons vry weer, dan gaan hy agter my staan terwyl hy sy hand om my sit & my piel beetvat. Hy begin my op die boude looi met die plathand. Later die aand doen ek dit met hom. In ‘n stadium trek ek hom oor my skoot & looi hom goed.
         “Do you like it?” vra hy.
         Ek knik.
         “I want you to do what you want with me.”
         Hy vertel my dat hy daarvan hou om te tongsoen, & veral as die ander ou sy tong so diep as moontlik in sy keel afdwing. Vir die volgende 5-10 minute doen ons net dit, soos twee kannibale wat mekaar probeer verorber. Baie intens. Dan kniel ek agter hom & begin met my pielkop aan sy hol por. Hy weet wat ek wil & haal ‘n kondoom uit wat hy vir my aansit & ook jellie.
         Ek lê op my rug & hy sit bo-op my, probeer my so ry. Maar dit werk nie mooi nie. Ek kniel agter hom, hy op sy hande & knieë & naai hom. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd voel dit goed.
         “I want you to enjoy it,” sê hy. “Fuck me hard. Do what you want.”
         Ek begin hom rof naai, trek my piel elke keer so te sê heeltemal uit & stamp dit dan terug. Ek voel my orgasme opbou. Die volgende oomblik kom hy in sy hand. Ek trek uit, pluk die kondoom af & begin tos. Hy rol om op sy rug sodat ek bo-op hom kan gooi. Ons lê ‘n ruk uitasem. Hy beduie ek moet met my kop op sy boarm lê. Ons bly ‘n ruk lank so lê. Dan staan hy op om badkamer toe te gaan.
         “You can sleep over if you like,” sê hy. “Only problem is I have an early meeting so you’ll have to get up early with me.”
         “I’ll go home,” sê ek.
         Terwyl hy in die badkamer is, trek ek aan. Wanneer hy uitkom, keer ek hom voor & ons soen weer.
         “Are you sure you don’t want to sleep over?”
         “Yes,” sê ek. “Next time.”
         Hy vra my telefoonnommer & sê hy sal my bel. Ons staan op die houtdek, ek geklee & hy kaal met die maanlig op sy skouers & die see agter hom & die donker vensters van die woonstelblokke & huise. Ons soen, groet dan.
         Ek ry woonstel toe, opgelug. Dis vyfuur in die oggend maar ek voel nie moeg nie.

17 September

Vlieg Durban toe. Nadat ek my bagasie ingeboek het, gaan eet ek iets bo in die restaurant. Daar sit drie mans by 'n tafel & gesels. Tipiese sakemanne. Een is aan die ou kant, maar die ander twee is jonk. Ek maak oogkontak met die swartkop. Toe hy my egter 'n paar keer betrap dat ek vir hom kyk, gee hy my 'n aggressiewe kyk. Ek besluit dis tyd om te waai.
Gaan gooi gou ‘n draai by die toilet. Skaars 'n minuut later staan die swartkop langs my by die krip. Sexy piel, onbesny met ‘n lekker los voorvel. Ek staan heel luiters, hou my hande tuis. Dit kan 'n setup wees. Sy twee vriende wag dalk buite. Na 'n ruk is beide van ons styf & hy begin speel. Ek laat hom my pielstyf sien, maar doen niks verder nie. Dan beduie hy ons moet in een van die hokkies ingaan. Ek reken dis veilig & knik.
Binne in die hokkie rem ons vinnig ons jeans af & begin mekaar tos. Hy wil nie hê ek moet hom suig nie. Ons hoor sy twee vriende by die toilet inkom. Ek gaan sit op die bak terwyl hy voor my staan. Hy vat my jeans wat tussen my enkels gebondel is in sy vry hand vas & lig my voete van die grond af op sodat daar net een paar voete sigbaar is, sou iemand onderdeur loer. Die ouer man stap uit, maar die jong een bly agter. Hy roep my seksmaat by die naam.
“Ek kom” sê dié & voeg dan ook sekondes later daad by die woord & pomp sy wit in 'n bondel toiletpapier. Heel kinky om seks te hê met 'n ou terwyl sy vriend niksvermoedend buitekant wag. Ons wag 'n ruk totdat die vriend ook uitstap. Die swartkop trek sy jeans op, sê dankie & glip by die deur uit. Toe ek buite kom, is die drie nêrens te sien nie.


24 September

Peter daag op. Ons kyk Longtime companion. Terwyl ons fliek kyk, begin ons vry. Trek uit. Hy’t ‘n lekker lyf. Harige borsies, mooi definisie met die harde borsbeen tussenin; gladde byna haarlose boude. Gemiddelde piel. Ons lê later op die mat & 69. Kort-kort as hy naby is, stop ek want ek wil hê dit moet duur. Staan daarna kaalgat op die balkon & gesels terwyl hy ‘n sigaret rook. Die suidoos waai lat dit bars.
Gaan na ‘n ruk weer binnetoe. Begin aantrek. Porno kom ter sprake & ek sê ek het porno, & ons kyk na een. Hy raak weer lus. Ons trek uit & begin van vooraf. Rek dit uit so lank as moontlik. Die tweede keer kom hy baie meer as die eerste keer. Dit val in sulke wit hale oor my bors.
Dan hou hy skielik op om my te suig.
“You’re bleeding,” sê hy. “I must have hurt you somehow.”
Hy probeer dit casual hou, maar in ons albei se koppe alarm dit. Wie se bloed is dit? Myne of syne? Elkeen dink waarskynlik die ander een is die groter risiko. Peter is  heel bedrywig & ek lei af hy hou daarvan om genaai te word. Ons sê niks nie. Ek tos myself tot ek kom. Teen daardie tyd is daar redelik baie bloed.
Ek gaan badkamer toe om 'n waslap te gaan kry. Spoel myself af, maar kan nie die stukkende plek kry nie. Dalk was dit sy tandvleise wat gebloei het. Ons trek aan, probeer gesels asof alles OK is, maar die aand is basies oor. Later gaan hy badkamer toe waar hy sy mond aanhoudend uitspoel.
Dis onmoontlik om deesdae seks te hê sonder dat die skadu van die virus oor jou val. Die alomteenwoordige derde bedmaat.

1 Oktober

‘n Groep van ons (onder andere Stoffel, ‘n akteur & larger than life aktrise) is Donderdagaand na ‘n clairvoyant-meeting by Ashbey house in Highlevel road. Ashbey House is ‘n ou dubbelverdieping wat lyk soos die Bates-huis uit Psycho.
Aan die agterkant van die gebou is daar ‘n ingang na ‘n saal wat alreeds byna vol sit. Dis nie ‘n baie groot vertrek nie & ruik ietwat bedompig. Die stoele is van die goedkoop wit plastiek soort & daar is bittermin beenruimte. “Barcarolle” speel sag in die agtergrond.
Uiteindelik kom die medium by die deur regs van die verhogie uit. Hy is ‘n kort man, aan die mollige kant & met ‘n ronde baba-gesig, in sy sestigs sou ek sê. Hy praat sag & glimlag dikwels. Bedank almal wat aan hom gedink het & vir hom gebid het tydens sy tyd in die hospitaal onlangs.
Terwyl die musiek speel, sit hy op ‘n stoel met sy oë toe. Wanneer die musiek ophou, staan hy op & begin praat. Ek dag nog hy praat met ons, want hy het nie sigbaar in ‘n trance ingegaan nie, maar ek kom agter dat hy reeds met een van die dooies kommunikeer. Hy beskryf die persoon se voorkoms & geaardheid. Sê hoe oud hy was toe hy dood is & waar & wanneer & hoe hy dood is. Die dooie man se suster sit agter ons. Lawson sê dat haar broer in ‘n motorongeluk dood is op ‘n Sondagoggend & dat dit onverwags was.
“He says he was so surprised. He didn’t expect it that Sunday. He saw a tree and the next minute he was up between the branches. He’s a very impatient man. He’s telling me to listen and to get it right.”
Die geeste van twee jongmans wat in die lewe vriende was, is gelyktydig teenwoordig, albei in hulle twintigs toe hulle dood is. Hulle troos hulle ouers & gee boodskappe deur vir lewende familielede.
“These young men are quite special,” sê Lawson in ‘n stadium. “They are doing good work. They have a whole gang on the other side to meet young men who arrive without knowing where to go and to help them.”

Na ‘n uur kondig hy aan dat die sessie verby is, teken apologie aan dat hy nie by almal kon uitkom nie. Tee sal op die boonste verdieping bedien word.
Toe ek verby hom stap, vat hy my hand vas & druk dit & sê “Thank you for coming.”
         In die motor toe ek & Stoffel wegry, sê hy dat die aktrise die medium soos ‘n mede-arties gelukgewens het met sy vertoning.
“Hy het my self al hoe meer aan ‘n afgetrede vaudeville-akteur laat dink.”


22 Oktober

Gaan haal pos uit & laat val my bril. Een lens flenters.
Raak aan die gesels met ‘n ou in Exclusive books. Baie straight looking. Butch. Lank & met donker hare. Sy lyf sou mens ‘wiry’ kon noem. Taai, definitief sterk. & hy straal gevaar uit.
Hy is op soek na boeke van die Marquis de Sade. Dié is egter nog steeds verbode. Ek laat val dat ek dit by die woonstel het – ‘n vlugkelnervriend het dit vir my die land ingebring. Hy is baie gretig om dit te siene te kry, vra of hy nie vanaand kan oorkom nie. Kan op ‘n lekker sessie uitloop. Ek is seker hy is bewus van my belangstelling.
Hy daag agtuur se kant op. Nog in dieselfde jeans & hemp, maar met ‘n leerbaadjie aan & ‘n motorfietshelmet in sy hand. Ons gesels ‘n bietjie. Hy kyk na die Tom of Finland boeke wat ek ‘toevallig’ op die koffietafel laat lê het. Kyk half snaaks na my. Ek gee vir hom die De Sade-boeke om na te kyk terwyl ek gaan koffie maak.
Wanneer ek terugkom in die sitkamer sit hy teruggeleun op die rusbank, bene wydoop, met die boek op sy borskas. Die leerbaadjie lê langs hom. Dis duidelik dat hy ‘n horing het & wil hê ek moet dit sien.
Ek sit in ‘n stoel teenoor hom, my hand liggies op my mik. Hy blaai verder, stop & lees, blaai, stop & lees. Ek knie diskreet (of so het ek gedink) aan my groeiende ereksie. Hy sit die boek neer & vat die beker koffie, kyk om hom rond, asof hy bestek opneem van my plek.
“So, do you live alone?” vra hy dan.
Ek knik. Besef dan ek moes eerder nee gesê het.
Hy sit weer terug & my oë gaan onwillekeurig na sy mik. Hy sit sy hand daarop & glimlag.
“I need to use the toilet,” sê hy.
Ek beduie dis in die gang af. Hy bly ‘n lang ruk weg. Ek kry hom in die studeerkamer waar hy na die boekrakke kyk.
“Have you read all these books?”
“Most of them,” sê ek. Ek staan teen hom sodat ek sy lyfhitte kan voel opslaan in my gesig & hom kan ruik. Hy draai om & stap by my verby sitkamer toe.
Ek bly ‘n oomblik staan, gaan dan badkamer toe. Dalk het hy getos na aanleiding van die De Sade. Dalk sit die kom nog teen die binnekant van die toilet, of dalk lê daar ‘n druppel pis, of ‘n balhaar, enigiets wat ek kan gebruik vir ‘n solo-sessie later. Maar daar’s niks.
Toe ek in die sitkamer kom, sit hy weer op die bank. Hy het ‘n appel van die vrugtebank in die kombuis gevat & draai dit om & om in sy hand. Dan haal hy ‘n springmes uit die leerbaadjie se binnesak. Hy kyk na my & laat die lem oopspring.
“I know what’s going on,” sê hy afgemete, terwyl hy stadig die appel begin skil.
“What do you mean?” My stem klink stram, vreemd.
“The question is,” die skil wat onder sy mes uitkrul, is soos ‘n slang wat al hoe langer word, “what are you going to do about it.”
Hy sit die mes op sy bobeen neer & vat ‘n diep byt in die appel, kou dit langsaam. Sluk.
“I mean, you can try me. I might go for it. But then again, I might not.” Hy kyk my reg in my oë. “I might snap & kill you. Maybe I’ve done it before.”
My fokken luck om altyd die psycho’s aan te trek.
“It’s getting late,” sê ek dan. “I’ve got an early day tomorrow.”
Hy bly sit. “You want me to leave?”
“Yes.”
“Sure?”
Ek knik.
“Did I scare you?”
“No,” sê ek onoortuigend. “It’s late.”
Hy glimlag. (Smalend?). Staan op & maak ‘n hele produksie van die knipmes. Knip dit stadig toe & laat dit dan tot diep onder in sy jeans se sak glip, so neffens sy knop.
Ek gaan maak die deur vir hom oop. Hy staan ‘n oombllik in die deuropening. Hy glimlag weer vir my, druk met sy wysvinger teen my bors.
Dan draai hy om & stap weg in die donker gang. Ek druk die deur agter my toe.
Later, alleen in die donker in my bed, is ek spyt ek het hom nie getraai nie. Ek is seker dis wat hy wou gehad het. Of nie?
Dis eers die volgende oggend dat ek ontdek dat my kopie van 120 days of Sodom weg is.


5 November

Gym toe. The usual suspects. Net toe ek op die punt is om huis toe te gaan, kom sit daar ‘n ou langs my in die sauna. Fris gebou, met ‘n stewige piel (halfstyf), kort geskeerde hare. Ek dag eers hy is straight & dat sy piel maar net so semi-styf is na hy gestort het (wat dikwels gebeur want dan seep hulle mos hulle piele in). Maar kort voor lank kom ek agter hy cruise my. Ek is aangenaam verras. Dis die soort ou wat my gewoonlik nie eens ‘n kyk gee nie.
Hy beduie ek moet hom volg & hy stap uit storte toe. Ek volg hom. Daar gekom wys hy ek moet in ‘n stort teenoor syne staan sodat ons kan tos terwyl ons vir mekaar kyk. Dit werk egter nie want daar is te veel ander mense wat skielik ook kom stort. Ek gaan in die stort langs syne in.
Hy leuen oor & vra: “Do you have time?” Met ‘n sexy Duitse aksent.
Ek dag hy wil weet hoe laat dit is, maar hy lag & beduie nee.
“Do you want to come to my place?”
“Sure.”
Dit blyk toe hy is inderdaad ‘n Duitser wat hier is met vakansie. Sy naam is Ralph (of so sê hy) & hy bly in Fresnaye. Buitekant die gym staan hy eers met ‘n meisie & gesels. Hulle het saam kom oefen & hy wag eers vir haar om te ry voordat ons in sy kar klim. Hy sê sy weet nie van hom nie & dat hy dit so wil hou.
Ons pak mekaar in die sitkamer, maar beweeg dan met die sirkeltrap na een van die bonste slaapkamers waar ons albei uittrek. Hy gaan sit-lê agteroor op ‘n soort sofa, bene wyd uitmekaar geplant met daartussen ‘n lieflike dik piel na my toe uitgestrek. Dit blyk gou dat dit ‘n one-sided deal gaan wees, maar ek gee nie om nie. Die kans is goed dat hy dalk biseksueel is.
Anyway, ek suig hom af. Hy hou daarvan dat sy piel spoeg gesmeer & dan afgestos word deur jou gladgesmeerde hand oor die kaal pielkop te beweeg. Vir my is dit te pynlik, maar sommige ouens hou daarvan, veral besnydes. Hy maak baie geluide, praat terwyl ek hom afsuig.
“Yeah, that’s good. You do it good. Do you like my cock? Yeah, do it like that.” Die normale porno-dialoog. Maar in my ore was dit musiek.
In ‘n stadium vra hy my: Do you want me to come on top of you? Ek knik.
“It’s quite a lot,” sê hy. “Quite a huge load.” & toe hy ‘n ruk later kom, is dit ook so. Dit spuit behoorlik by sy piel uit. Oor my hande, my bors, my nek, ‘n paar skote in my gesig & dit loop af oor my maag & drup op my bobene. Ek moes agterna gaan stort.
Onder in die sitkamer, op pad uit, merk ek heelparty kunswerke deur plaaslike kunstenaars. Veral een vang my oog: ‘n mooi yster-figuur van Christo Liebenberg. Die torso is opgebou uit dik bloudraad met in die middel ‘n ysterhart vasgeheg aan die torso met drie leerbandjies. Die hart het ‘n sleutelgat; is dus gesluit. Ook tussen die bene is ‘n soort codpiece wat eweneens gesluit is. Die sleutels na hierdie twee begeerde domeine is nêrens te sien nie.


Johann de Lange

*

Hierdie teks is vir die eerste keer gepubliseer in Party van ons, Homeros uitgewers, 2001, Danie Botha (Red.) Dit bestaan uit uittreksels uit my dagboeke wat in Augustus 2012 onder die titel Gulp by Human & Rousseau verskyn.