Saturday, December 17, 2011

Nazim Hikmet - Ek raak gewoond aan oudword


Nazim Hikmet


Ek raak gewoond aan oudword
Nazim Hikmet

Ek raak gewoond aan oudword,
die strafste kuns in die wêreld –
om aan deure te klop vir oulaas,
afskeid sonder einde.
Die ure draf en draf en draf …
Ek wil verstaan ten koste van geloof.
Ek het jou iets probeer vertel, en ek kon nie.
Die wêreld smaak soos 'n vroegoggendsigaret:
dood het my heel eerste sy verlatenheid gestuur.
Ek beny dié wat nie eens agterkom hulle raak oud nie,
so verdiep is hulle in hulle werk.

(Vertaal deur Johann de Lange)

(Uit: Poems of Nazim Hikmet, vertaal deur Randy Blasing & Mutlu Konuk. Persea, 2002).

Saturday, December 3, 2011

Anna Akhmatova - Laaste heildronk

Anna Akhmatova


Laaste heildronk
Anna Akhmatova

Op my bestaan vol nyd en spyt,
ons huis in stof en as,
ons saamwees in eensaamheid –
op jou lig ek die glas;
en op die oë genadeloos en dof,
op die mond, en sy verraad,
op die wêreld brutaal en grof,
en op God, wat ons verlaat.

27 Julie 1934, die Sjeremetjevhuis

[Vertaal deur Johann de Lange na die Ndl. van Hans Boland]