Friday, November 19, 2010

Abraham Sutzkever - Drie verse

Abraham Sutzkever


Ure
Abraham Sutzkever

Jy onthou toe jou ure
een vir een gebore is:
elke uur – ’n ander tint en lot.

Nou staan jy voor die ure, krom:
all die giwwe saamgemeng
deur ’n gek apteker.

In ’n vysel, in die donker,
meng hy blindelings en in haas:
yster, pêrels, kruie, narkotika,

al die Daar’s en al die Hier’s,
in een konkoksie wat oorweldig –
Hy laat jou drink vir ure.

***

Van myself na myself
Abraham Sutzkever

Hoe lank is die pad van myself na myself?
Soms ’n halwe oomblik,
dis al. Hier is heelheid. Maar ’n slang
op die pad tussen twee hekke.
En soms is sewe wêrelde, sewe winters lank
die korste pad van jouself na jouself.

***

uit Ekstases
Abraham Sutzkever

Toe ek met oë toe
’n gedig skryf, is my hand
meteens verbrand,
& toe ek weer begin
vanuit die swart vuur,
het die papier ’n naam
geadem soos ’n lelie: God.
Maar my pen, in ontsag & verwondering,
het die woord uitgekrap
& in die plek daarvan
’n bekender woord geskryf: Mens.

Sedertdien spook ’n ongehoorde stem
by my soos ’n onsigbare voël
wat pik, pik aan die deur van my siel:
– Het jy my vir dit verruil?


Vertaal deur Johann de Lange

Monday, November 8, 2010

Mutsuo Takahashi - Drie portrette

Mutsuo Takahashi



Portret van myself aan die begin
Mutsuo Takahashi

’n Jongman hurk om sy veters vas te maak
Hoe delikaat lyk sy agternek nie
Die vlees van sy skouers beweeg lui & sloom
& die twee dye wat opstaan uit sy lendene is jonk & rond
(Die man-tepel styf vasgedruk tussen lieste is blaspienk)
Die helder openhartige kykers van ’n stil jong dier
stip op die vingers wat die veters knoop
Maar die knopende vingers droom verdiep
van die gebied ’n entjie hoër op
van die fles van sy buik lenig soos dié van ’n honger wolf
waar hulle sal speel met sagsinnige Eros wat skuil in sy dun huid
wat nou sluimer in sy luisterryke sagte grasse
Die jongman staan op & begin loop heeltemal kaal
behalwe vir sy opgerygde stewels
Hy hou aan met loop & word oud
’n ou man wat sy gesig verhard & nooit terugkyk nie
Maar agter die ou man buk ’n jonge dikwels om sy veters vas te knoop
& staan op & begin loop
vir die soveelste keer.


[Vertaal deur Johann de Lange]



Portret van myself by ‘n loergat
Mutsuo Takahashi

Here, wanneer sal dit gebeur?
Hoe lank nog voor u besoek?
Ek kniel hier op die smadelike vloer, wagtend;
voor my prente van gevlerkte engele & heiliges.

In die middel van die muur & versier
met heilige inskripsies in silwer & goud
’n gloriegat: u stralende besoek –
het die tyd daarvoor nog nie gekom nie?

O dán sal ek voor U kniel,
koorsig my lippe oopmaak, droog & gebars van dors,
soos daardie skrikwekkende profeet gesê het,
& my mond vul met U.

U gewyde gulp sal gul oorvloei,
reën in my oopgesperde oë, my mond,
oor my kortgeskeerde kop met jong gryshare.

In u weergalose medelye sal ek, soos een verkrag,
my oë toemaak asof ek ly, & snak. . .
Wanneer sal dit gebeur? Hoe lank nog voor U kom?

Met dié woorde het die gesig soos ’n wynsak
waaruit die wyn gelek het in plooie teruggesak.
Met dié openbaring skaars verby,
nog knielend voor die toilet,

die muur bedek met banale graffiti,
het van die ander kant deur die gloriegat
in die middel van die muur
’n droë oog vurig teruggegluur.


[Vertaal deur Johann de Lange]



Myself met ’n motorfiets
Mutsuo Takahashi

Motorfiets, die rytuig van langhaar gode.
My god spog met ’n eikelvormige versierde kroon wat ons ’n valhelm noem,
steek sy bene met lang skene in asuurblou jeans
trek swaar stewels aan beslaan met baie goue klinknaels,
& snel deur die skemer van purper gode.
Juis nou, halfpad op die kliptrappe agter ’n teater, byvoorbeeld,
is my god in die middel van ’n bloedgeurende sameswerende gesprek met ander langhaar gode.
Hulle jeugdige sameswering is te stralend, te welriekend
vir my, wat aan die onderpunt van die strappe verbystap, om helder te onderskei.
Onder die trappe, is dit net die god se saal van staal wat straal soos ’n lewende ding.
Ek raak aan die motorfiets, veral die deel van die saal wat sopas vasgegom was aan die sitvlak van my god,
steeds die hitte van sy boude behou.
My god eet Kentucky fried chicken, drink Coca-Cola,
& uit die gleuf van sy lieflike boude die kleur van dagbreek werp hy stront.


[Vertaal deur Johann de Lange]

Sunday, November 7, 2010

James L. White - Liefde met myself



Wanneer ek dit doen, onthou ek hoe dit was met ons.
Dan onthou my hande ook,
en jy’s weer by my, net soos dit was.

Na werk sou jy inkom en
die TV afsit en op die rand van die bed gaan sit,
die vertrek vul met petrolreuk van jou werkklere,
probeer om my nie wakker te maak nie hoewel jy altyd het.
Ek sou stadig uitadem en sê,
‘Hi Jess, jy moeg beertjie?’
Jy sou sê nie te veel nie en my maag vryf,
nie jags vir my nie, net baie dierbaar,
en ek sou altyd ’n klein bietjie doodgaan
want jy het geruik na verbrande blare of bosrook.

Ons was so arm soos Job se kalkoen maar het ’n goeie lewe gehad —
kos, ’n paar goeie flieks, goeie dagga, baie gesels,
baie van jou en my wat in mekaar se velle probeer glip.

Wat ’n bedagsame geskenk is dié nie,
gemaak met my geheue, my voël en hande.

Soms word ek wakker en wonder of ek vir ons
moet koffie maak voor werk,
glo amper jy is weer hier, sien amper
jou werksbaadjie op die stoel.

Ek wonder of jy onthou wat
ons mekaar belowe het toe jy die werk gevat het in Laramie?
Ons manier van bymekaar bly.
Ons het belowe daar sou altyd tye wees
wanneer die lug absoluut helder is,
dat ons mekaar daardeur kon onthou.
Jy kon my onthou by my lessenaar
of en die deurnag restourante,
hoewel ons nooit sou bel of skryf nie.

Ek moet hier ophou Jess
Ek moet nou ophou.


[Vertaal deur Johann de Lange]

Sunday, October 31, 2010

Sheila Cussons. Eerste brief uit Barcelona

In om & by Maart/April van 1981 het ek genoeg moed bymekaar geskraap om vir die eerste keer 'n brief te skryf aan Sheila Cussons, iemand vir wie se werk ek sedert my skooljare groot bewondering gekoester het. Synde 'n ongekunstelde plaasseun uit die Waterberge & nie besonder lief vir Aardrykskunde nié, het ek die brief geadresseer na Barcelona, Italië. Tot haar groot vermaak. Die gevolg van my glips was egter dat sy in haar eerste brief pragtig skryf oor Barcelona.

In die jare daarna toe ons korrespondensie al goed gevestig was, het ek opgelet dat sy haar briewe geskryf het met dieselfde sorg & aandag as haar gedigte, & hoe die interpunksie gedryf word deur haar gedagteprosesse & -spronge, & andersom.









Sylvia Plath. Om die briewe te verbrand



Ek het ’n vuur gemaak; ek was moeg
Van die wit vuiste van ou
Briewe en hulle doodsroggel
Toe ek dit te na aan die vullismandjie waag.
Wat het hulle geweet wat ek nie geweet het nie?
Greintjie vir greintjie het hulle oopgerol
Sande waar ’n droom van helder water
Gegryns het soos ’n ontsnappingsmotor.
Ek is nie subtiel nie
Liefde, liefde, en wel, ek was moeg
Van kartondose die kleur van sement of ’n hondetrop
Wat sy haat inhou
Bot, onder ’n bende mans in rooi baadjies,
& die oë & datums van posstempels.

Hierdie vuur mag lek en vlei, maar dit is genadeloos:
’n Glaskas
Waarbinne ek my fingers steek hoewel
Hulle smelt en druip, aangesê word
Om niks aan te raak nie.
En hier is ’n einde aan skryf,
Die rats hakies wat buig en krimp en die glimlagge, die glimlagge
En ten minste sal dit nou ’n goeie plek wees, die solder,
Ten minste sal ek nie gespan word net onder die oppervlak nie,
Stom vis
Met een tin-oog,
Wat kyk vir glinsters,
En my Noordpool ry
Tussen hierdie wens en daardie wens.

Dus steek ek na die koolstofvoëls op my huisrok.
Hulle is mooier as my lyflose uil,
Hulle vertroos my –
Styg op en vlieg, maar verblind.
Hulle sal wegfladder, swart en glinsterend, hulle sal steenkoolengele wees
Maar hulle het niks om te sê nie behalwe enigiemand.
Ek het daarvoor gesorg.
Met die ent van ’n hark
Vlok ek papiere wat asemhaal soos mense,
Ek sprei hulle uit
Tussen die geel blaarslaaie en die Duitse kopkool
Gemoeid met sy vreemde blou drome
Gemoeid met ’n fetus.
En ’n naam met swart rande

Verlep teen my voet,
Kronkelende orchis
In ’n nes van haarwortels en verveling –
Bleek oë, kunsleer-keelgeluide!
Warm reën olie my hare, blus niks.
My are gloei soos bome.
Die honde verskeur ’n vos. Dis hoe dit is
’n Rooi skeur en ’n uitroep
Wat split van sy geskeurde sak en nie stop nie
Met daardie dooie oog
En die opgestopte uitdrukkinng, maar gaan voort
Om die lug te kleur,
En die deeltjies van die wolke, die blare, die water
Vertel wat onsterflikheid is. Dit is onsterflik.


[Vertaal deur Johann de Lange]

Tuesday, October 26, 2010

Ted Hughes - Laaste brief

Ted Hughes

Wat het daardie nag gebeur? Jou laaste nag.
Dubbel, trippel blootstelling
Oor alles. Laatmiddag, Vrydag,
Die laaste keer wat ek jou lewend gesien het.
Jy’t my brief aan jou verbrand, in die asbak,
Met daardie vreemde glimlag. Het ek jou plan in die wiele gery?
Het dit my vroeër verras as wat jy beplan het?
Het ek dit dit te stiptelik, te haastig beantwoord?
’n Uur later – jy sou weg gewees het
Waar ek jou nie sou kon opspoor nie.
Ek sou weggedraai het van jou geslote rooi deur
Wat niemand sou oopmaak nie
Steeds met jou brief in my hand,
’n weerlig wat sigself nie kon aard nie.
Dit sou elektroskokterapie gewees het
Vir my.
Herhaal oor en oor, die hele naweek,
Elke keer as ek dit gelees het, of daaraan gedink het.
Dit sou my brein omvorm het, en my lewe.
Die behandeling wat jy beplan het had meer tyd nodig.
Ek kan my nie indink
Hoe ek deur daardie naweek sou gekom het nie.
Ek kan my nie indink nie. Het jy dit als beplan?

Jou nota het my te vroeg bereik – dieselfde dag,
Vrydagmiddag, gepos in die oggend.
Die heersende duiwels het dit bespoedig.
Dit was nóg ’n strooitjie van teenspoed
Getrek teen jou deur die Poskantoor
En by jou las gevoeg. Ek het vinnig gestap,
Deur die sneeublou, Februarie, Londonse skemer.
Trane van verligting toe jy die deur oopgemaak het.
’n Bondel raaisels half opgelos. Vroegryp trane
Wat gefaal het om vir my te ontsluit, gefaal het om oor te dra
Wat hulle ware betekenis was. Maar wat het jy gesê
Oor die smeulende brokke van daardie brief
So sorgvuldig vernietig, so kalm,
Wat my jou laat gaan het, en jou gelos het
Om sy asse van jou planne af te blaas – van die asbak af
Waarteen jy sou leun sodat ek kon lees
Wat die dokter se foonnommer is.
My ontsnapping
Het so ’n vervolgde ding geword
Slaaploos, hopeloos, al sy drome uitgeput,
Wat net herower wil wees, net
Wil wegval uit sy eie lugleegte.
Twee dae van niks naloop. Twee gratis dae.
Twee dae in geen kalender, maar gesteel
Van geen wêreld.
Verby realiteit, gevoel, of naam.

My liefdeslewe het dit aangegryp. My verdoofde liefdeslewe
Met sy twee waansinnige naalde,
Wat elk sy eie roos borduur, deurboor en pluk
Aan hulle tapisserie, hulle bloederige tattoeërwerk
Iewers agter my naeltjie,
Trap in daardie moeras van verheerliking,
Twee dol naalde, wat hulle steke kriskras,
En uit my senuweedrade
Hulle kleure kies, my omwerk
Binne my eie vel, en elkeen die ánder omvorm
Met hulle self-karikature,

Hulle obsessiewe in en uit. Twee vrouens
Elk met haar naald.

Daardie nag
My dellarobbia Susan. Ek het beweeg
Met die omsigtigheid
Van ’n vlam in ’n smeltdraad. My hele furie
Was ’n versaakte poging om die ou aarde
Op te blaas waar skadu’s buig oor
My verraderlike spoor van as. Ek het genael
Van en van, gesig na agter, ’n film in trurat,
Na wat? Ons het Rugbystraat toe gegaan
Waar ek en jy begin het.
Waarom is ons soontoe? Van alle plekke
Waarom is ons soontoe. Verdorwenheid
In die kuns van ons lot
Het sy verfynings vir jou verstel, vir my
En vir Susan. Solitaire
Gespeel deur die Minotaurus van daardie doolhof
Het selfs Helena ingesluit, in die grondvloerwoonstel.
Jy het haar opgemerk – ’n meisie vir ’n storie.
Jy het haar nooit ontmoet. Min het haar ooit ontmoet,
Behalwe bo-oor die ore en rasende masker
Van haar wolfhond. Jy’t nie eens ’n glimps van haar gehad nie.
Jy het net terugedeins
Toe haar kranksinnige hond sy gewig
Teen haar deur gegooi het, toe ons deur die portaal glip;
En gehoor hoe dit stik aan grenslose Duitse haat.

Daardie Sondagaand het sy haar deur effens oopgemaak
Sy paar toegelate sentimeters.
Susan het die swart oë gegroet, die ongelukkige
Oorgewig, aantreklike gesig, wat uitgeloer het
Oor die kettinkie. Die deur het toegegaan.
Ons kon hoor hoe sy haar tronkbewaarder troos
Binne haar sel, sy hok, waar, dae later,
Sy haar verwoede kapo vergas het, en haarself.

Ek en Susan het daardie nag deurgebring
In ons huweliksbed. Ek het dit nie gesien
Sedert ons daarin gelê het op ons troudag nie.
Ek het haar nie na my eie bed gevat nie.
Ek het gemeen, met jou naweek verby,
Kon jy dalk verskyn het – ’n verrassingsbesoek.
Het jy verskyn, om aan my donker venster te klop?
Dus het ek by Susan gebly, weggekruip van jou,
In ons huweliksbed – dieselfde bed waaruit sy
Binne drie jaar verwyder sou word om te sterf
In dieselfde hospitaal waar, binne twaalf ure,
Ek jou dood sou vind.
Maandagoggend
Het ek haar by die werk afgelaai, in die middestad,
En toe my kar Noord van Eustonstraat parkeer
En teruggekeer na waar my telefoon gewag het.

Wat gebeur het daardie nag, binne jou ure,
Is so onkenbaar asof dit nooit gebeur het nie.
Watter opeenstapeling van jou ganse lewe,
Soos onbewuste inspanning, soos geboorte
Wat beur deur die membraan van elke stadige sekonde
In die volgende in, het gebeur
Net asof dit nie kon gebeur nie.
Asof dit nie besig was om te gebeur nie. Hoe dikwels
Het die telefoon gelui daar in my leë kamer,
Jy wat die gelui hoor in jou gehoorstuk –
Aan beide kante die vervagende herinnering
Van ’n telefoon wat lui, in die brein
Asof alreeds dood. Ek tel
Hoeveel keer jy telefoonhokkie toe gestap het
Aan die onderkant van St George-tuin.
Jy is daar telkens as ek kyk, pas gekoers
Uit Fitzroystraat, oorgesteek
Tussen die opgehoopte walle van vuil suiker.
In jou lang swart jas,
Met jou vlegsel opgedraai agter in jou nek
Loop jy onmagtig om te beweeg, of wakker te skrik, alreeds
Niemand wat stap
Stap met die relings langs onder Primroseheuwel
Na die telefoonhokkie wat nooit bereik kan word nie.
Voor middernag. Na middernag. Weer.
Weer. Weer. En, teen dagbreek, weer.

By watter posisie van die die wysters op my polshorlosie
Het jou laaste poging,
Alreeds onherroepelik verby
Waar ek dit sou kon hoor, die kussing
Op daardie leë bed geskud? ’n Laaste keer
Ligweg aan my boeke geraak, en my dokumente?
Toe ek daar aangekom het, was my telefoon aan die slaap.
Die kussing onskuldig. My kamer het geslaap,
Alreeds gevul met die sneeubeligte oggendlig.
Ek het my kaggel aangesteek. Ek het my manuskripte uitgehaal.
En ek het begin skryf toe die telefoon
Wakkergeskrik het, in ’n babbelende paniek,
En alles onthou. Dit het in my hand tot verhaal gekom.
Toe het ’n stem soos ’n gekose wapen
Of ’n uitgemete inspuiting,
Koel sy vier woorde afgevuur
Diep in my oor: ‘Jou vrou is dood.’


Eerste bladsy van die vroegste weergawe

[Vertaal deur Johann de Lange]

Friday, October 22, 2010

Anne Stewart oor Antjie Krog

t


There is no bread in the house
Anne Stewart

Head full of Antjie Krog after reading
and reading without breakfast, suddenly
I’m hungrier than I’ve ever been, suddenly my head
is a hive of returning bees, an aria, a bulging larder filled
with everything that I might reach for;
                                                      bread,
the bees are shouting for, for tiger loaf cut thickly
and spread thickly with butter and honey or dripping egg yolk,
a mound of ripened brie, but I know
here in this house today there is no bread,
there is only compromise and cereal which,
if I must eat, is what I must eat – but still
the frantic opera of the bees crowding loaded
into the hive, I reach for the big dinner plate,
perfect for cutting on, and the broad flat knife
that feels good in the hand, and I reach into
the small bread bin for the big box of cereal.
                                                                 My hands
are empty, confused, breadless.
They stand back from each other
and stare and when they identify the problem, recognise
the expanse of wanting, they whisper
to each other, unpleasant things about me, about
why I do not fill the house with it, hustle the thrill
of fresh-baked bread into every room, reach and take it
whenever I want to. They don’t talk about you.

Thursday, September 30, 2010

Die Bibliofiele Stockenström

Wilma Stockenström (Foto deur Liesl Jobson)


I

Onlangs was Wilma Stockenström in die nuus met die ontdekking van Skoelapperheuwel, skoelappervrou, ’n verlore gewaande gedig waarin sy met haar gebruiklike ironiese stans na die kreatiewe proses kyk.

Wilma Stockenström, Skoelapperheuwel, skoelappervrou

In die laat 80-erjare het Wilma Stockenström in opdrag van Casper Schmidt ’n gedig geskryf wat deur Judith Mason geïllustreer sou word & in ’n beperkte oplaag sou verskyn. Die boek is gedruk deur die eertydse Broederstroom Press, maar voordat dit gebind kon word, het die hele oplaag in 1988 soek geraak.

Nou, 22 jaar later, is die binnewerk van Skoelapperheuwel, skoelappervrou teruggevind in die kelder van ’n boekbinder in Johannesburg. ’n Weldoener het geld bewillig vir die bind van 30 genommerde eksemplare van dié kunsboek & kunstenaar Judith Mason het onderneem om enige ekstra eksemplare wat dalk mag opduik te vernietig & sodoende die boek se versamelaarswaarde te beskerm. Sy het ook elk van die 30 eksemplare aangevul met ’n unieke stel tekeninge, iets wat die boek nóg aantrekliker sal maak vir aanhangers van haar werk.

Elke boek het ’n verwysing na ’n spesifieke Suid-Afrikaanse skoenlapper, & is in sigself ’n kunsobjek. Dit is met ’n litografiese etsdrukker op 250g Rives BFK papier gedruk, met die hand ingenaai, in natuurlike linne gebind, & van in ’n slippekas voorsien. Die teks self is geset in Visigoth, ’n font wat spesiaal vir die boek ontwerp is in New York deur Arthur Baker in 1988.

Die boek is op Saterdag 4 September 2010 bekend gestel in die AOP Gallery in Johannesburg, waar Dawid Minnaar die gedig ook ’n eerste openbare voorlesing gegee het.

[Casper Schmidt het ’n Engelse vertaling van die gedig gemaak in samewerking met Malcolm Hacksley wat nie deel uitmaak van die huidige uitgawe nie.]


II

Casper was in daardie alreeds besig met 'n Dante Bestiarium, eweneens saam met die kunstenaar Judith Mason. Vir dié boek, wat op handgeskepte papier gedruk & in kalfsleer gebind sou word (as ek nou reg onthou), het Casper ook 'n spesiale font in New York laat ontwerp, iets wat klop met die Visigoth font wat hy gebruik het in Skoelapperheuwel, skoelappervrou. Dit is nie ’n besonder leesbare font nie, maar gee die werk ’n sekere gravitas.

Visigoth

Casper was perfeksionisties & daarom nie maklik om mee saam te werk nie. Hy het ’n visie gehad van hoe beide hierdie boeke moes lyk, & niks sou hom daarvan wegstuur nie. Ek is nie seker wat verkeerd geloop het nie, maar die Dante Bestiarium het nooit verskyn nie & in vergetelheid geraak. Ná sy dood het die boek weer by my opgekom. Ek het destyds ’n eksemplaar daarvan by Judith Mason aan huis in Broederstroom gesien, & geweet dat dit wel in die een of ander vorm moet bestaan.

Dit was sy broer, Wilhelm, wat uiteindelik die binnewerk opgespoor het & 'n klompie kopieë is indertyd gebind & verkoop teen 'n uiters billike prys. Ek glo kopers van daardie boek besit nou iets wat maklik tienvoud in waarde toegeneem het.Daar was ook los velle uit die boek te koop & ek besit ’n paar daarvan. Mason se diere was nog altyd vir my besonders.


III

In Oktober 2002 verskyn ’n bibliofiele uitgawe van drie gedigte deur Wilma Stockenström by In de Bonnefant • Banholt. Uitgewer Hans van Eijk publiseer dié gedigte onder die titel Beenwit in ’n oplaag van 99 genommerde eksemplare op handgeskepte papier.

Aangesien dié gedigte andersins moeilik agterhaalbaar is, druk ek hulle hier onder af vir liefhebbers van Wilma Stockenström se werk:

Somer

Tot rypheit gestowe in vyegeur die somer,
nou streel reën onverwags die ruite
en ’n erdwurm spoel met die slootjie af.

’n Bergie, vlammend van die soetes, hurk
oor sy gedagtes. Se poes, sê hy, vir die vaal
mis van ’n middag, opsommenderwys.

Wat van môre as die berg groen bloos?
Die bergie vee sy mond aan sy mou af.
Bruinwarm die voggies. Beenwit die einde.


Wit towery


Rus op my, skemering. Geur my drome
wit met lente. O, jy kan my met ’n wip
vang so laat jy hierdie aand glimlag.
Stippel nou met bleshoenders vergulde panne.

Gans te ver om iets te beteken hang
soos wit spinnekoppe die sterrestelsels,
maar ek wag nog dat ’n blom van ’n rank
wegfladder en mot, swaar en wit, word.


Sê ek


Waarin hang die heelal?
A, in soetdoringgeur.
En waarin hang die geur?

In homself. Die heelal, h’m?
Die heelal, sê ek, is ’n spikkel
donkerte met korreltjies lig

en alles ruik na soetdoring
nareëns langs Karooriviere.
Daar kom jy dit agter, sê ek.

Thursday, September 23, 2010

Abraham Sutzkever, 'Ariel van die ghetto'

Abraham Sutzkever

Die Jiddisje digter Abraham Sutzkever is gebore in Smorgon, Litaue, ’n klein industriële stad suidoos van Vilna op 15 Julie 1913 & word allerweë beskou as een van die grootste Holocaust digters. Abraham was twee jaar oud toe hy saam met sy gesin & die res van die Jode in Smorgon 24 uur kennis gegee word om die stad te verlaat voordat dit tot op die grond afgebrand is.

Die gesin vlug na Omsk, Siberië, waar hulle vertoef tot sy pa se dood aan hartversaking. Die jong Abraham was sewe jaar oud. Die koue ongenaakbare landskap is een waarna hy dikwels sal terugkeer in sy poësie.

Aan die einde van die Russiese burgeroorlog keer Sutzkever se ma, Reine, met die drie kinders terug na Litaue waar hulle hulle in Vilna vestig, ’n stad wat sedert die Veertiende Eeu ’n toevlug vir migrerende Jode & ’n sentrum vir Joodse & Jiddisje taal- & kultuurstudie is. Die Joodse populasie was 60 000, met ’n verdere 20 000 vlugtelinge uit Pole. In Vilna woon Abraham Herzliah by, ’n tradisionele laerskool waar hy in die Judaïsme onderrig word, & ook die Poolse digkuns bestudeer.

Sutzkever dig reeds van so vroeg as ouderdom dertien in Hebreeus. Later, onder die invloed van die linguis Max Weinreich, begin hy in Jiddisj skryf. Hy publiseer sy eerste gedig in Bin, lyfblad van die jong Joodse Verkenners. Die jong verkenners lê hulle toe op die beskerming van die sekulêre Jiddisje kultuur. ’n Noue vriendskap met Miki Chernikhov stel die jong Abraham bekend aan die werk van die Russiese simboliste & aan skrywers soos Edgar Allen Poe & die Poolse Romantiese digter Cyprian Norwid. Sy ontdekking van poësie & ’n eie stem lei tot intense ervarings soos dié waaroor hy onder meer in sy Ecstasies siklus skryf:

When with eyes shut
I wrote a poem, suddenly
My hand got burned,
And when I started
From that black fire,
The paper breathed
A name like a lily: God.
But my pen, in awe and wonder,
Crossed out the word
And wrote instead
A more familiar word: Man.

Since then, a voice unheard
Haunts me like an unseen bird
That pecks, pecks at my soul's door:
 – Is that what you traded me for?

In 1933 sluit hy aan by die modernistiese Yung Vilne groep (Jong Vilna) met lede soos Joseph Opatoshu, Shmerke Katcherginsky, die skilder Ben-Zion Michtom, Y. Opatoshu, Chiam Grade, Elchonon Vogler, Moshe Levin, Peretz Mirasky, Shimshon Kaban, & Leyzer Volf. Later daardie jaar trek hy na Warskou. Sy eerste bundel Jiddisje gedigte, Lider (Liedere), word in 1937 deur die Jiddisje PEN Vereniging gepubliseer. Dit word in 1940 opgevolg met Valdiks (Van die woud) wat in Litaue verskyn.

Hy trou met Freydke in 1939, ’n dag voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. In September word Pole tussen Duitsland & die Sowjet Unie verdeel. Die Russiese soldate arresteer Joodse leiers & oorhandig Vilna aan die onafhanklike Litaue wat dit herdoop na Vilnius.

Met die Duitse okkupasie op 22 Junie 1941 word 100 000 Jode terstond onteien & die oorblywende 20 000 in die beknopte Vilna ghetto gestop, onder hulle Sutzkever & sy vrou Freydke. Die ghetto strek oor net sewe strate & die lewensomstandighede is haglik. Vir ’n tyd lank skuil Sutzkever in die plafon van sy ma Snipishok se huis. Toe sy vrou hoor dat daar na hom gesoek word & hom gaan haal, vind sy dat hy beswaarlik kan loop. Maar Sutzkever se veggees was onblusbaar & hy sluit kort daarna by die Joodse werkersbrigade aan.

Op 5 September 1941 word hy & twee ander deur die Litauers in hegtenis geneem & gedwing om hulle eie grafte te grawe. Maar in plaas van hulle doodskiet, het hulle landgenote net bokant hulle koppe gemik & agterna gehelp om hulle te versteek. Kort hierna los hy sy ma in ’n wegkruipplek toe hy na ’n ander ghetto moes vlug. Met sy terugkeer was sy weg. Freydke het ook intussen geboorte geskenk in die ghetto hospitaal, ’n daad wat verbode was. Die Duitsers, vind Sutzkever uit, het die baba vergiftig.

Hy sluit aan by ’n groep intellektuele wat elke dag buite die ghetto by die YIVO gebou werk. Sutzkever word deur die Duitsers aangestel om die boeke oor Joodse letterkunde & geskiedenis waarop die Duitsers beslag gelê het, te katalogiseer & die kosbaarstes te verskeep na Frankfurt vir tentoonstelling in ’n beplande Instituut vir die Studie van die Joodse Vraagstuk. Onder die dekmantel van hulle dwangarbeid smokkel Sutzkever & sy vriende wapens & honderde van hierdie boeke die ghetto in waar hulle dit op verskeie plekke begrawe. Onder hierdie skatte was items soos ’n dagboek deur Theodor Herzl & tekeninge van Marc Chagall.

In die ghetto, te midde van gevaar, ontbering & tragedie skryf hy perfekte verse oor noue ontkomings, die moord van sy ma & pasgebore seun, die weerstandsbeweging, gebeure & onvergeetlike karakters wat hy in die ghetto meemaak. Kenneth Libo & Michael Skakun skryf in hulle huldeblyk: “In the midst of tragedy, he continued to write poems of classical meter and perfect rhyme, hurling their beauty against the unspeakable barbarity of the Nazis.”

Tydens hierdie smokkeltogte bekom Sutzkever ’n masjiengeweer. Toe die ghetto opstand ’n aanvang neem, verlaat hy & Freydke & sy vriend Shmerke Katcherginsky die ghetto & sluit aan by die guerrillavegters wat aanvalle loods vanuit die omringende woude. Sutzkever & Katcherginsky word aangestel om die brigade se geskiedenis neer te skryf.


Robyn Stoller Awend (Bullets-Installation)

Vilna se ROM drukpers is beroemd vanweë sy klassieke uitgawes van onder meer die Babiloniese Talmud wat wêreldwyd onder die Joodse diaspora versprei is. In wat ’n perfekte metafoor is vir die relasie tussen poësie & die stryd word die lood van die ROM drukpers deur die rebelle gesmelt om koeëls te maak. Alhoewel dit nie werklik gebeur het nie, skryf Sutzkever ’n onvergeetlike gedig daaroor.

The Lead Plates of the Rom Printers

Like fingers stretched out through the bars in the night
To catch the free light of the air that is shed –
We sneak in the dark to grab up, as in spite,
The Rom printing plates, with old wisdom inbred.
We dreamers now have to be soldiers and fight
And melt into bullets the soul of the lead.

And now, once again we broke open the seal
Of a strangely familiar, a timeless dark cave.
And armored in shadows, with candles concealed,
We poured out the letters – in lead lines engraved.
Thus did, in the Temple, our forefathers wield
The golden menorahs, poured in oil that was saved.

Liquid lead brightly shining in bullets so fine,
Ancient thoughts – in the letters that melted hot.
A line from Babylonia, from Poland a line,
Boiled, flooded together, in the foundry pot.
Jewish valor, hidden in word and in sign,
Must now explode the whole world with a shot!

And he who saw Jewish youth in their prime
Clutching the weapons in ghetto halls –
He saw the last struggle of Yerushalayim,
he heroic fall of those granite walls;
Took in the words, poured in lead, out of time,
And heard in his heart: their ancient voice calls.

Vilna Ghetto, September 12, 1943
Translated from the Yiddish by Barbara & Benjamin Harshav

Dit roep onmiddellik ’n ánder vers by my op, een van ’n digter wat eweneens uit ’n stormagtige geskiedenis sy inspirasie put. Ek verwys natuurlik na die Ierse digter Ciarán Carson se vers “Belfast confetti”.

 Ciarán Carson tuis in Belfast

Belfast Confetti

Suddenly as the riot squad moved in, it was raining exclamation marks,
Nuts, bolts, nails, car keys. A fount of broken type.
And the explosion
Itself – an asterisk on the map. This hyphenated line, a burst of rapid fire ...
I was trying to complete a sentence in my head, but it kept stuttering,
All the alleyways and side-streets blocked with stops and colons.

I know this labyrinth so well – Balaclava, Raglan, Inkerman, Odessa Street –
Why can't I escape? Every move is punctuated.
Crimea Street. Dead end again.
A Saracen, Kremlin-2 mesh. Makrolon face-shields.
Walkie-talkies. What is
My name? Where am I coming from? Where am I
going? A fusillade of question-marks.

Sutzkever se lang gedig oor sy vermoorde eersteling, “Dos keyver-kind” (Die bestorwe kind) word bekroon met ’n literêre prys van die Ghetto Skrywersunie in 1942, & sy gedig “Unter dayne vayse shtern” (Onder die blankheid van jou sterre) word getoonset deur Avreml Brudno, ’n bekende musikant & komponis in die Vilna ghetto.

In Moskou skryf hy ’n prosaverslag van sy ervarings in die Vilna ghetto (Fun vilner geto) & die grootste gedeelte van Geheymshtot (Geheime stad), ’n epiese gedig oor die stryd van 10 Jode om in die rioolpype van Vilna te oorleef. Sy vroeë konfrontasie met ontworteling & onteiening lei tot ’n intense verbintenis met die natuur. Een van die boeke wat regstreeks uit hierdie verbintenis ontstaan het, is Siberia met tekeninge van Marc Chagall.


Abraham Sutzkever & Shmerke Kaczerginski

Hy & sy vrou ontsnap na die Naroch woud op 12 September 1943 saam met 'n eenheid van die Verenigde Patriotvereniging. Daar veg hy saam met mede-digter Shmerke Kaczerginsky teen die besettingstroepe. Wanneer ’n guerrilla-koerier ’n notaboek met gedigte van Sutzkever uitsmokkel, is die waardering vir sy poësie so groot onder die geledere van die Joodse Anti-Fascistiese Beweging dat die Russiese skrywer Ilya Ehrenburg in die winter van 1943 ’n ligte vliegtuig stuur na ’n klein vliegveld naby die Naroch woud om Sutzkever & sy vrou te bevry:

When they finally reached the other partisan brigade, a small plane landed on the ice-covered lake. Sutzkever sat in its opening, with Freydke tied to his knees, and two more partisans were stuck in the rear. The plane veered though the heavy fire of the German front, diving suddenly, and eventually emerging on the Soviet side.

In Moskou word hy as lewende getuie van die verwoesting van die Poolse Jode ook simbool van die Joodse opstand teen Fascisme. Onder sy ghetto-verse is onvergeetlike gedigte soos “Teacher Mira” & “On the Death of Yankev Gershteyn”, of “Under Your White Stars” wat getoonset is & ’n soort ghetto-himne geword het.

Under Your White Stars

Under Your white stars
Stretch to me Your white hand.
My words are tears,
Wanting to rest in Your hand.

See, they twinkle very darkly
In my cellar-beaten view;
And I have no place
How to send them back to You.

And I will, dear God,
Confide in you these of mine
While in me a fire grows
And on fire are my days.

But in cellars and holes
Cries the murderous quiet
I fly higher, over rooftops
And I search: Where are You? Where?

Something strange hunts me
Stairs and courtyards are on chase
I hang as a broken bow-string
And I sing to You this way:

Under Your white stars
Stretch to me Your white hand.
My words are tears,
Wanting to rest in Your hand.

(Uit: Avraham Sutskever & Avrom Brudno, Songs Never Silenced, deur Velvel Pasternak. Vertaling op DigiTrad).

Hy bevriend lede van die Sowjet Jiddisje intelligentia & lewer in Februarie 1946 tydens die Nuremburgverhoor getuienis vir baie van die Russiese Jode, onder meer ook teen Franz Murer, die moordenaar van sy ma & babaseun.

Na die geboorte van ’n dogter, Rina, verhuis die Sutzkevers na Pole. Na ’n kort verblyf in Pole & Parys emigreer hy na Palestina waar hy hom in 1947 in Tel Aviv vestig. Daar stig hy die literêre kwartaalblad Di goldene keyt (Die Goue Ketting). Hy is redakteur van die blad tot & met die sluiting daarvan in 1995.

In die 1970s skryf Sutzkever die reeks Lider fun togbukh (Verse uit ’n dagboek, 1974-1981), wat allerweë as sy grootste werk beskou word. Met sy ineenweef van filosofiese besinning, outobiografie & skerp waarneming word dit ’n moderne psalmboek. Ruth R. Wisse skryf daaroor:

Through formal elegance and masterful rhyming, it conveys his image of an organic universe that reintegrates what history has torn apart, including those murdered in Europe from those who carry their memory.

Sutzkever se naoorlogse poësie is verantwoordelik vir ’n oplewing van Jiddisje skryfwerk in Israel & elders. Benjamin Harshav begin sy Introduction to Sutzkever: Life and Poetry met ’n uitstekende kensketing van Sutzkever se posisie as een van die belangrikste digters van die Twintigste Eeu:

I do not say this lightly. He is not a philosophical poet; there was no sophisticated philosophy in Jewish culture. Nor is he a descriptive poet; the language of Modernism was opposed to description, and the fictional worlds of Sutzkever's poetry are presented through evocation and allusion rather than direct statement. But the language of his poetry—the profound sound orchestration and the metaphorical and mythopoeic imagery—is as dense, unmediated, and suggestive as that in the poetry of Mandelstam or Rilke. And his responses to historical reality are as sharp as any in the verse of Brecht. The paradoxical amalgam of these two extremes of twentieth-century poetry—self-focused poetic language and ideological engagement—is successful in Sutzkever's work because both are presented through the events of the poet's own biography.

’n Besoek aan Suid-Afrika dien as inspirasie vir die poëtiese siklus Helfandn bay nakht (Olifante in die nag; 1955), ’n werk waarin hy beelde uit Afrika kombineer met Europese temas.

In sy vroegste werke reeds transformeer Sutzkever sy jeug as boustof & mite, & ontdek hy sy affiniteit vir die kreatiwiteit van die natuur. Die sentrale tema wat deur die meeste van sy werk loop, is die potensiaal vir hergeboorte wat skuilgaan in verwoeste landskappe & gemeenskappe, & sy geloof dat die slagoffers van die ghetto voortleef in die herinnerings van die oorlewendes. Vanweë sy fokus op die estetiese het Sutzkever dikwels kritiek van sy tydgenote ontlok. Ruth R. Wisse skryf:

Though he was mistrusted by local critics before the war because he seemed not to write with a sense of social urgency, Sutzkever’s insistence on the immutable power of poetry proved invaluable in the ghetto as a means of expressing the transcendent essence of temporal events.

’n Siening waarby Sutzkever aansluit in ’n onderhoud met die New York Times in 1985:

If I didn't write, I wouldn't live. When I was in the Vilna ghetto, I believed, as an observant Jew believes in the Messiah, that as long as I was writing, was able to be a poet, I would have a weapon against death.

In ’n resensie van David G. Roskies se studie Responses to Catastrophe in Modern Jewish Culture skryf Arthur A. Cohen:

As Mr. Roskies's account reaches the Second World War, the literature becomes more painful, the poetry more desperate, the imagery almost scatologically brutal. Jewish poets have spoken about the Holocaust much more effectively than the novelists. In the case of Abraham Sutzkever (born 1913), the greatest poet of the Holocaust, who was also a leader of the Vilna ghetto and a partisan fighter, the achievement proves to be stunning, almost unbearable. ... It would have been enough, he tells us, had Sutzkever been only ‘a symbol of hope and creative power for the powerless Jews of the ghetto,’ but he was much more. As ‘the foremost among Jewish poets’ Sutzkever ‘made the memory of the dead the nexus of his artistic expression.’ In his major prose poem, ‘Green Aquarium,’ Sutzkever accomplishes the transcendence of the dead by proposing the victory of poetry over death, art over destruction, neo-classical form over chaos, and the beauty of what remains in the universe after barbarism has done its terrible work.

Sy verse registreer die trajek van verwoesting na vernuwing gevoelig & woordvas. Mededigter Jacob Glatstein som die mag van Sutzkever se oorlogspoësie as volg op: “A sadistic impulse of fate had ordered the slave of perfection to give form to the bloodiest chaos of all times” (In tokh genumen; 1947).

In 1985 ontvang Sutzkever die Israel Prys vir Jiddisje letterkunde. Sy gedigte is in meer as 30 tale wêreldwyd vertaal, onder meer in Hebreeus deur Nathan Alterman, Avraham Shlonsky & Leah Goldberg, & in Russies deur Boris Pasternak in die 1930s.

Ruth R. Wisse skryf aan die einde van haar resensie van Sutzkever se The Fiddle Rose:

Perhaps more than any other modern Jewish writer, Sutzkever has lived the life of the romantic poet-hero. He was at the center of the Jewish national tragedy in Europe, and in Israel on the eve of Jewish national rebirth. He took great risks in rescuing Jewish cultural treasures from Vilna and was the witness for Jewry at the Nuremberg trials of Nazi war criminals. But he accords the highest value to poetry in the way that the psalmist serves God through song. Without direct use of religious language, his poetry translates the inherited faith of his ancestors into the personal perception of the extraordinary in the ordinary.

Sutzkever het twee dogters, Mira & Rina. Hy sterf op 20 January 2010 in Tel Aviv op die ouderdom van 96.

Digbundels
Lider (Varshe: Bibliotek fun Yidishn pen-klub, 1937)
Valdiks (Vilne: Aroysgegebn fun Yidishen literatn-fareyn un pen-klub, 1940)
Di festung: Lider un poemes (New York: Ikuf, 1945)
Lider fun geto (New York: Ikuf farlag, 1946)
Fun Vilner gheto (Moscow: Melukhefaralg "Der emes", 1946)
Geheymshtot (1948)
Sibir: Po'emah (Jerushalayim: Bosd Byalik, 1952)
Oazis (Tel-Aiviv: Farlag Y. L. Perets, 1960)
'Ir ha-setarim: po'emah (Tel Aviv: 'Am 'oved, 1963)
Poetishe verk (Tel-Aviv: Yoyvl komitet, 1963)
Lider fun yam ha-moves: Fun Vilner Geto, vald,un vander (Tel-Aviv: Farlag Bergen-Belzen, 1968
Firkantike oysyes un moyfsim: Lider un poems, 1964-1967 (Tel-Aviv: Di Goldene Keyt, 1968)
Lider fun togbukh (Tel-Aviv: Farlag di Goldene keyt, 1986)
Tsaytike penemer (Tel-Aviv: Y. L. Perets, 1970)

Vertalings in Engels
Siberia: A Poem (London: Abelard-Schuman, 1961)
Burnt Pears: Ghetto Poems of Abraham Stuzkever, trans. by Seymour Mayne (Ontario: Mosaic Press, 1981)
The Fiddle Rose: Poems 1970-1972, trans. by Ruth Whitman (Detroit: Wayne State University Press, 1990)
A. Sutzkever: Selected Poetry and Prose, trans. by Barbara and Benjamin Harshav (Berkeley: University of California Press, 1991)
Laughter Beneath the Forest: Poems from Old and Recent Manuscripts by Abraham Sutzkever, trans.by Barnett Zumoff (Hoboken, New Jersey: KTAV Publishing, 1996)
Beneath the Trees: Poems (Millwood, New York, 2003)
From Elephants by Night: Poems of Africa (Millwood, New York: Haybarn Press, 2005)

Bronnelys
Arthur A. Cohen. ‘God the implausible kinsman’. New York Times. 17Junie 1984
Beskikbaar by: http://www.nytimes.com/1984/06/17/books/god-the-implausible-kinsman.html?pagewanted=all

Kenneth Libo & Michael Skakun. 2010. “Abraham Sutzkever at 90: Yiddish Poet Extraordinaire”. Center for Jewish History. 21 September 2010
Beskikbaar by: http://www.cjh.org/about/Forward/view_Forward.cfm?Forwardid=15

Douglas Messerli. Abraham Sutzkever. 2010. The PIP (Project for Innovative Poetry) Blog. 10 Mei 2010-09-23B
Beskikbaar by: http://pippoetry.blogspot.com/2010/05/abraham-sutzkever-lithuaniaisrael-1913.html

Abraham Sutzkever (Wikipedia, the free encyclopedia). 1 June 2010 at 11:03
Beskikbaar by: http://en.wikipedia.org/wiki/Abraham_Sutzkever

Ruth R. Wisse. 2010. Sutzkever, Avrom. The YIVO Encyclopedia of Jews in Eastern Europe. 21 September 2010
Beskikbaar by: http://www.yivoencyclopedia.org/article.aspx/Sutzkever_Avrom

Ruth R. Wisse. “The Fiddle Rose by Abraham Sutzkever”. Yiddish Book Center. 8 Desember 2009
Beskikbaar by: http://www.yiddishbookcenter.org/node/262

The Mudcat Café. “Unter dayn vayse shter'n”.
Beskikbaar by: http://mudcat.org/@displaysong.cfm?SongID=7507