Sunday, October 31, 2010
Sylvia Plath. Om die briewe te verbrand
Ek het ’n vuur gemaak; ek was moeg
Van die wit vuiste van ou
Briewe en hulle doodsroggel
Toe ek dit te na aan die vullismandjie waag.
Wat het hulle geweet wat ek nie geweet het nie?
Greintjie vir greintjie het hulle oopgerol
Sande waar ’n droom van helder water
Gegryns het soos ’n ontsnappingsmotor.
Ek is nie subtiel nie
Liefde, liefde, en wel, ek was moeg
Van kartondose die kleur van sement of ’n hondetrop
Wat sy haat inhou
Bot, onder ’n bende mans in rooi baadjies,
& die oë & datums van posstempels.
Hierdie vuur mag lek en vlei, maar dit is genadeloos:
’n Glaskas
Waarbinne ek my fingers steek hoewel
Hulle smelt en druip, aangesê word
Om niks aan te raak nie.
En hier is ’n einde aan skryf,
Die rats hakies wat buig en krimp en die glimlagge, die glimlagge
En ten minste sal dit nou ’n goeie plek wees, die solder,
Ten minste sal ek nie gespan word net onder die oppervlak nie,
Stom vis
Met een tin-oog,
Wat kyk vir glinsters,
En my Noordpool ry
Tussen hierdie wens en daardie wens.
Dus steek ek na die koolstofvoëls op my huisrok.
Hulle is mooier as my lyflose uil,
Hulle vertroos my –
Styg op en vlieg, maar verblind.
Hulle sal wegfladder, swart en glinsterend, hulle sal steenkoolengele wees
Maar hulle het niks om te sê nie behalwe enigiemand.
Ek het daarvoor gesorg.
Met die ent van ’n hark
Vlok ek papiere wat asemhaal soos mense,
Ek sprei hulle uit
Tussen die geel blaarslaaie en die Duitse kopkool
Gemoeid met sy vreemde blou drome
Gemoeid met ’n fetus.
En ’n naam met swart rande
Verlep teen my voet,
Kronkelende orchis
In ’n nes van haarwortels en verveling –
Bleek oë, kunsleer-keelgeluide!
Warm reën olie my hare, blus niks.
My are gloei soos bome.
Die honde verskeur ’n vos. Dis hoe dit is
’n Rooi skeur en ’n uitroep
Wat split van sy geskeurde sak en nie stop nie
Met daardie dooie oog
En die opgestopte uitdrukkinng, maar gaan voort
Om die lug te kleur,
En die deeltjies van die wolke, die blare, die water
Vertel wat onsterflikheid is. Dit is onsterflik.
[Vertaal deur Johann de Lange]