Monday, August 20, 2012

Robert Frost - Die bokkeveld

Robert Frost

Die bokkeveld
Robert Frost

Ek gaan die kuip in die weiveld skoonmaak;
ek gaan net langs om die blare weg te hark
(en te wag tot die water weer helder is):
Ek sal nie lank wees nie. – Kom saam.

Ek gaan die klein kalf haal
wat langs sy ma staan. Hy’s so jonk,
hy steier as sy hom lek met haar tong.
Ek sal nie lank wees nie. – Kom saam.


[Vertaal deur Johann de Lange]

Sunday, August 12, 2012

C P. Kavafis - In die vervelige dorpie


Constantine P. Kavafis


In die vervelige dorpie
C P. Kavafis

In die vervelige dorpie waar hy werk –
klerk in ’n tekstielwinkel, baie jonk –
en waar hy die twee of drie maande wat voorlê omwag,
nog twee of drie maande voordat besigheid opdroog
en hy kan vertrek stad toe en hom voluit kan onderdompel
in die aksie, die vermaak;
in die vervelige dorpie waar hy die tyd omwag –
gaan hy vanaand bed toe vol seksuele verlange,
sy jeugdigheid oplaaiend met die lyf se passie,
sy lieflike jeug oorgegee aan ’n delikate intensiteit.
En in sy slaap word hy deur genot besoek;
in sy slaap sien hy en besit hy die gestalte, die vlees wat hy begeer…


[Vertaal deur Johann de Lange]

Friday, August 3, 2012

Paul Muldoon - Ma

Paul Muldoon

Ma
Paul Muldoon

Op ou foto’s lyk sy boekerig waar sy sit
onder ’n wilger. Ek neem aan dis ’n kroket-
veld. Sy lees hardop, ongetwyfeld uit Rupert Brooke.
Die maand is altyd Mei of Junie.

Of met die vreemdeling op die motorfiets.
Nie my pa nie, nee. Dié een is die ene borselkop
en gepoleerde geelkoper knope.
Dalk ’n Amerikaanse soldaat.
En die volmaan

wat wieg oor Keenaghan, die boorde en die inmaakfabriek,
dun uit tot ’n laaste geel vlasvink, en verdwyn.
Die bure kom bymekaar, die hele Keenaghan en Collegelands,
vir ’n storievertellery. Ou myners van Coalisland
wat in die grond in gaan, swaai, uit vrees vir die gas,
die sagte vlam van ’n kanarie.


[Uit: Poems 1968-1998, Farrar, Straus & Giroux. P. 48-49]
[Vertaal deur Johann de Lange]