Showing posts with label Rapport. Show all posts
Showing posts with label Rapport. Show all posts

Sunday, September 18, 2016

Resensie. Johann de Lange – ’n Hunkering se grein (Daniel Hugo)

18 September 2016 00:00

De Lange is een van die fynste formuleerders in die Afrikaanse digkuns, skryf Daniel Hugo.

’n Hunkering se grein deur Johann de Lange. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R175.

Die Hertzogpryswenner Johann de Lange se jongste digbundel het eintlik twee titels: ’n Hunkering se grein (’n versreël van Sheila Cussons) en Pulvis et umbra sumus (ons is stof en skaduwees).

Die laasgenoemde is ’n uitspraak van die Latynse digter Horatius (65-8 v.C.) en vorm ’n deel van Judith Mason se skildery Roman Africa, wat op die omslag van die bundel verskyn.

Hierdie twee titels, die amptelike en nieamptelike, vat die temas en toonaard van die gedigte goed saam. Die hoogtepunt van die bundel is inderdaad ’n lang nostalgiese en ontnugterde gedig, “Twee vryverse vir Joan op 60”, oor die digter se viriele verlede en valer hede in die styl van Allen Ginsberg. Die afname van seksualiteit in sy lewe noem hy “die eerste dood”. De Lange se slotsom is: “vir wié of wát, in gódsnaam skryf ek nog?”

Hierdie gedig is terselfdertyd ’n ongeëwenaarde uitbasuin van De Lange se ongeremde gaywees. Later in die bundel staan daar ’n gedig met die titel “Allen Ginsberg se boeke”, waar dié Amerikaanse gay beat poet in ’n droom aan hom verskyn. En dié ontmoeting loop ook op ’n ontnugtering uit.

In die Horatiaanse gees van die mens wat net stof en skaduwees is, skryf De Lange in memoriam-gedigte aan T.T. Cloete, prinses Diana, Marilyn Monroe, Michael Jackson, Nelson Mandela en Hennie Aucamp. Aan laasgenoemde wy hy ’n hele afdeling: “Rust-mijn-ziel: ’n hartseerwals”.

Rust-mijn-ziel is die plaas in die Oos-Kaap waar Aucamp grootgeword het, en “Die hartseerwals” een van sy bekendste kortverhale. Die beste van die Aucamp-verse is “Dagreis” wat so eindig:

Met Rust-mijn-ziel ’n soet spesmaas,
het jy ingekruip onder ’n grou karos
& met jouself gaan lepellê op langelaas.

In “Binêr” vrees die digter vir sy eie “weg-raak in die niet, / die niks-wees / ná die dood”.

Maar dit is nie ’n morbiede versameling gedigte nie. Niks wat goed verwoord is, kan ’n mens werklik bedruk maak nie, selfs al gaan dit oor die verganklikheid en dood. En Johann de Lange is een van die fynste formuleerders in die Afrikaanse digkuns. In “Standaardtoer” (na Robbeneiland) staan byvoorbeeld die volgende treffende beskrywing: “In die hawe lê die ­seiljagte vasgemeer in visgraatsteek”.

As antidoot teen enige moontlike swartgalligheid is daar ook uitbundige boutades in die bundel, soos die besonder plesierige “Die mafia-wywe”: “Hulle suip soos Kosakke / & spandeer geld soos Dominikaanse koppelaars.” Vir sy vriendin, die digter Joan Hambidge wat vanjaar 60 word, skryf hy die kwatryn “Joan on the town”:

Die dinge wat jy aanvang!
Die plekke waar jy uithang!
Vir jou jare nog steeds
die ene Sturm und Drang!

Die groot getal kwatryne in die bundel is nogal opvallend, nadat De Lange vyf jaar gelede reeds Weerlig van die ongeloof, ’n bundel wat uitsluitlik uit vierreëllige verse bestaan, die lig laat sien het. Vir my gevoel is die kwatryne in die jongste bundel oor die algemeen ’n bietjie flou – blote nawater van daardie vorige versameling.

Veel boeiender is die twee sonnette met ongewoon lang versreëls waarin hy Nelson Mandela huldig.

De Lange is ’n uitmuntende natuurdigter, en die gedigte in die eerste afdeling getuig weer van sy uitsonderlike beskrywingsvermoë. Veral “ ’n Murmurasie van spreeus”, ’n vrye sonnet, is ’n meesterstuk. In die selfportret “Die digter as ronkedoor” (’n alleenloperolifant of ongesellige man) sê De Lange: “Gestaak / kontak met medemens, selfs die natuur / vervang met hoëdefinisie-TV uur na uur”.

Maar dit maak uiteraard nie saak waardeur die digter geïnspireer word nie – die vrye natuur of digitale natuurbeelde – ­solank die vers die leser oortuig. Hierdie leser is beslis oortuig.

Die gedig oor die hoenderhaan “Blink Stefaans” is een van die min werklik geslaagde villanelles in Afrikaans.

Die villanelle is ’n vaste versvorm van 19 versreëls met ’n ingewikkelde refreinpatroon en slegs twee rymklanke. Om dit in die rymarm Afrikaans te laat slaag, verg bomenslike vernuf. “ ’n Haan soos Blink Stefaans / laat die ander hoenderhane ­eierdans”. Inderdaad.

In byna al sy bundels klink daar bewuste eggo’s van N.P. van Wyk Louw op. Ook hier in “Blink Stefaans” vertoon die parmantige haan ’n ooreenkoms met Louw se “Beeld van ’n jeug: duif en perd” waarin “die goue haan wat al sy henne trap” sy verskyning maak. By De Lange trap die blink haan met “sy geel geskubte pote elke lê-hen op die werf”.

In ’n Hunkering se grein word die Louw-interteks aangevul met verwysings na Boerneef. Soms word dié spel darem net te oordadig en selfs gedwonge, soos in die herskrywings van onderskeidelik ’n Boerneef- en Louw-gedig in “Twee blaaie geskeur uit Groot verseboek”. Dié intertekste help wel om die bundel tot ’n eenheid saam te bind. Die digter is self, soos die swermende spreeus in die openingsgedig, “ ’n energie wat dink en weef”.

Ondanks my bedenkinge oor heelwat van die kwatryne sal ek nie die volgende een, met die veelseggende titel “Weef”, wou mis nie. Gedigte in ’n bundel vorm ’n weefwerk wat aan die digter skuiling bied tussen hemel en aarde, tussen tyd en ewigheid:

Die vinkneste wieg bo die watervlak
soos druppels immer gereed om te val.
Ons drome reik deur tydlose ruimtes
terwyl ons geanker bly aan ’n wal.

(Hierdie onderhoud word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Tuesday, February 12, 2013

Kuber-digters

(c)  

Die debat rondom die gedying van Internet-digters wat gemoedere hoog laat loop, & in verlede Sondag se Rapport opgeneem is (So jy dink jy is 'n digter?), het in 'n sin meer verwarring geskep & vrae onbeantwoord gelaat as wat dit geantwoord het. Dit is onvermydelik wanneer 'n joernalis binne beperkte bestek komplekse probleme so genuanseerd as moontlik probeer aanbied.

Ek gaan nie poog om al die vrae & misnoë & instemmmings aan te spreek wat intussen onderaan die berig aangeteel het nie. In stede daarvan het ek besluit om my antwoorde op die vrae wat aan my gerig is volledig hier te herhaal in die hoop dat lesers my uitlatings binne konteks kan lees & verstaan. Ek gaan ook nie die blog ooplaat vir besprekings nie, angesien dit 'n gesprek is wat al eeue aan die gang is, & nóg eeue vorentoe sal voortduur.

Hiermee dan die vrae wat ek via e-pos ontvang het, met onderaan my antwoorde. Ek vra verskoning vir enige lomp stellings of herhalings - ek het die vrae onder groot druk & tussen ander verpligtings deur geskryf. Ek het geen ingrypende wysigings aangebring nie, want dan sou dit 'n wanvoorstelling word van die materiaal waarmee die joernalis moes werk.

*


Wat is ‘n “gedig” – kan die Facebook-skrywers hul skryfwerk ook gedigte noem (ek gaan ‘n paar insluit)?
 Oor wát presies 'n gedig is, word al eeue lank gekibbel. Die gedig is 'n verskuiwende teiken. Deur die eeue is gepoog om 'n definisie van wat 'n gedig is te formuleer. En daar is 'n paar baie goeie definisies. 

Vir my is daar rofweg drie kenmerke wat in verskillende verhoudings in elke gedig voorkom, nie noodwendig al drie tegelyk nie, maar ten minste twee: die vooropstelling van taal, die gebruik van metafore & ander stylfigure, & 'n uitbuiting van die ritmiese aspekte van taal. 

Enige kritiese leser sal onmiddellik sê dat dieselfde geld vir sommige prosatekste. En dis waar. Dis die probleem met definisies van poësie. Elke gedig bevat in homself die maatstawwe waarvolgens hy gelees wil word, party van hierdie maatstawwe is baie konvensioneel & word dikwels by ons ouer poësie aangetref. Wanneer mens 'n gedig beoordeel, moet jy kyk wát dit is wat die digter wil bereik, wat die formele riglyne is wat die digter gekies het, & in welke mate die gedig die absoluut beste gemaak het van daardie riglyne, of die digter dit ten vólle & ten beste ontgin het. 


Wat maak ‘n gedig “goed”… en wat maak hom “swak”?
In 'n sin is dit makliker om te sê wat poësie nié is nie, of wat swak poësie is, deur te kyk na die verskillende maniere waarop gedigte ontspoor, of nie daarin slaag om by hulle riglyne te hou nie: gemengde metafore, logiese denkfoute, cliché's of 'dooie' beelde, beeld-inkongruensie, stoplappe as dit kom by metrum & rym, die geykte of verbeeldinglose gebruik van rym, oordrewe sentimentaliteit. Die meeste swak gedigte wat op die internet verskyn kan uitgelig word op grond van een of meer van hierdie swakhede.

Die vraag ontstaan onmiddelik wie of wat my of enige ander digter/kritikus die reg gee om sulke uitsprake te maak. Al antwoord wat ek kan gee, is dat hoe langer mens die poësie bestudeer of bedryf, hoe meer mens lees & skryf, hoe beter raak jy om swakhede te identifiseer (hoewel daar ook onder voortreflike digters swak lesers/kritici is omdat digters dikwels apologete word vir hulle eie metodes & ander aan hulle eie maatstawwe meet). 'n Vrou wat baie bak, & gereeld bak, sal 'n swak bakster se koekies by 'n tuisnywerheid kan identifiseer, & ook weet wanneer sy een raakgeloop het wat béter as sy bak. Hoe weet sy, kan ons vra? En daarmee is ons terug by die vraag hoe weet mens wanneer 'n gedig slaag of nie? 

Of digters daarvan hou of nie, daar is tóg sekere universele maatstawwe wat deur die eeue uitkristalliseer het & wat in die spel kom by die beoordeling van kuns. Maar ook hóé ons lees, verander oor die tyd, net soos hoe ons skryf. Daarom wil ek nogmaals beklemtoon dat die gedig 'n verskuiwende teiken is. 

Daar is digters wie se werk ek ook nie verstaan nie, sekere tendense waarmee ek nie bygehou nie, daarom maak ek nie uitsprake oor daardie digters nie. Ek het nie die reg nie, ek het nie die moeite gedoen om te verstaan wat hulle doen nie, ek het nie die harde werk ingesit wat daardie digters ingesit het in die bemeestering van daardie tegnieke nie. Oscar Wilde het gesê net 'n afslaer bewonder álle kunsbewegings. Mens hóéf nie van als te hou nie. Volg jou instink, & doen jou huiswerk.


Hoekom, dink jy, is daar soveel venyn van die Facebook-groep teenoor die gevestigdes?
Ek dink dit kom dalk op iets so eenvoudigs neer as die toeëiening van "etikette", die reg om jouself 'n digter te noem. Nie almal wat die pen opneem is digters nie. Die etiket van digters veronderstel meestal dat jy gepubliseer is in die een of ander vorm, verkieslik 'n bundel van jou eie, & dit veronderstel 'n sekere bedrewenheid in die kunsvorm wat jy gekies het. 

Die eerste probleem wat mens teenkom, is die vereiste van publikasie. In die internet-era word die verskyning van gedigte op webblaaie of forums beskou as gelykstaande aan publikasie. Dit hoef nie meer op papier of in boekvorm te wees nie. Die vereiste van "bedrewenheid" bring ons terug by die idee van maatstawwe, maar ek dink hiér moet mens in ag neem wáárom iemand skryf. As dit net is vir eie plesier, of die plesier van vriende of mede-internetdigters, dink ek moet gevestigde digters aanvaar dat daardie gedigte nie meer in laaie gaan bly lê soos in die verlede nie, maar nou "gepubliseer" word op die internet. 

Die behoefte om gedigte te skryf is 'n byna universele behoefte, daar was net nog nooit 'n uitlaatklep daarvoor soos die internet nie. Wanneer hierdie skrywers hulleself digters noem, grief dit gevestigde digters waarskynlik omdat die skryf van goeie gedigte, of om 'n suksesvolle loopbaan as digter te hê báie harde werk & toewyding vereis. Dis in 'n sin soos Masterchef op TV: nie almal wat kook, of lief is vir kook, of 'n goeie dis kan raakproe nie, kan hulleself chefs noem nie. Sou hulle dit doen, sal sommige van die régte chefs eweneens daardeur irriteer word, of met hulle die spot dryf, terwyl ander dit net sal ignoreer. As dit niemand skade berokken nie, & iemand plesier gee, let it fly.


Daar is soms kritiek van die publiek dat die gevestigdes se werk ontoeganklik, onverstaanbaar is…  wat is jou kommentaar hierop?
Die onlangse opname van die 100 gewildste gedigte onder gewone lesers het dit baie duidelik gemaak min of meer wanneer daardie lesers ophou nuwe poësie lees het. Om by te hou in enige veld behels dat jy jou vergewis van nuwe ontwikkelinge. Dit sal jou baie onrustig maak as jou dokter hom glad nie steur aan vakliteratuur nie, nie lees oor die jongste ontwikkelings in sy veld nie, & nie kongresse bywoon nie. Hoe kan hy jou die beste behandeling gee as hy wat sy kennis van sy vak aanbetref, bly vassteek het in die jaar toe hy graad gevang het? 

En tóg is lesers heeltemal tevrede daarmee as dit kom by letterkunde. Die 100 gewildste gedigte-opname het getoon dat ons lesers vasgesteek het by die gedigte wat hulle op skool of varsity teengekom het. Hulle het geen moeite gedoen om nuwe werk te lees, & óór nuwe werk te lees (in die vorm van resensies of artikels) nie. Dit wil my voorkom asof hulle verwag om nuwe kennis, ontwikkelings, tegnieke etc. doodgewoon deur osmose op te neem. Dit werk met niks so nie. 

Poësielesers is 'n baie kleiner groep as poësieskrywers (dié wat hulle as digters beskou maar dan duidelik in hulle eie skryfwerk vasgesteek het in die soort gedig wat hulle laas op skool bestudeer het). As ek weer kan teruggaan na die metafore van kos of medisyne - dis baie mededingende velde, met nuwe tegnieke, bestanddele, kombinasies etc. wat teen 'n geweldige tempo ontwikkel. As chef of sjirurg kan jy mos nie jou hande in die lug gooi & kla dat vandag se kookkuns of sjirurgiese tegnieke onverstaanbaar geword het nie. Om by te bly, & ook om te kan aanhou geniét van enigiets moet jy jou op datum hou met wat gebeur. Dit verg inspanning. Jy gaan nie gewig verloor deur te dink oor gym toe gaan nie.


Dink jy daar is ‘n plek vir Facebook-digkuns… of moet dit liewer iets anders genoem word... dalk Facebook-versies?
 Absoluut. Die huis van die poësie het báie kamers. Nie almal se motivering is dieselfde nie, & ek dink mens moet dit in ag neem voordat jy 'n oordeel uitspreek. As iemand net vir eie plesier skryf, is dit heeltemal in orde, maar as daardie persoon besluit wat hy/sy skryf is poësie, dan moet hy/sy verlief neem dat dit aan sekere standaarde gemeet gaan word. 

Heel dikwels vorm die internetdigters informele soort gemeenskappe of groepe wat vir mekaar skryf & mekaar se werk ondersteun & vir mekaar raad gee, dieselfde soort situasie wat mens in werkswinkels aantref. As dit die skrywers & lesers van daardie gedigte plesier gee, & nie aan die groot klok gehang gaan word nie, is dit in orde wat my betref.

Maar wanneer dit kom by lesers geld dieselfde vereistes: as jy as leser tevrede is om net die golden oldies te lees & te geniet, is daar niks mee verkeerd nie, maar dan verbeur jy die reg om te kla oor die onverstaanbaarheid van moderne poësie. Jy kan nie jou brood aan beide kante gebotter hê nie. As jy die moderne poësie wil geniet, moet jy dit in die eerste plek lees. En die verkope van poësie bewys helaas dat ons baie slegte lesers van poësie is. 

Ek wil my kop uitsteek & sê ek dink dis 'n universele verskynsel in alle tale & kulture. Poësielesers is 'n klein groep. Ironies genoeg is poësieliefhebbers 'n veel groter groep, want dit behels blykbaar dat jy inderdaad nie gedigte hoef te lees nie. Jy hoef dit net in 'n stadium te gelees hét, & 'n paar gunstelinge te hê. 

Skrywers van sg. "swak poësie" kán kommersieel meer suksesvolle loopbane hê as ernstige digters wat harder werk. Dis 'n bitter pil, maar ons moet hom maar sluk. There is no accounting for taste. Ons sien dit gebeur by populêre Afrikaanse musiek. Bittermin van die suksesvolle sangers kan twee ordentlike reëls aanmekaar lap, maar hulle verkoop duisende. 

My oplossing: neem kennis van alles wat op jou terrein gebeur, & lees of luister na dié sangers of digters wat werklik goed is & jou plesier gee. Vir elkeen van ons gaan dit ander kombinasies wees.

(c) Johann de Lange