Showing posts with label Vleiswond. Show all posts
Showing posts with label Vleiswond. Show all posts

Tuesday, March 19, 2013

Wystan & Chester: Epifanie

W.H. Auden & Chester Kallman


Epifanie*
Nor sorrow take
his endless look.

W.H. Auden, “This lunar beauty”

In Athene sterf Chester
intestaat.
Warm, gevatte, opregte,
slordige, kamp Chester
(Wystan se vriend).
Ek onthou ’n toneel (1950?)
in Venesië: drankies by Florian
– Chester, Wystan & Cecil (dink ek).
Toe, in die middel
van die gesprek, Chester
wat opstaan & ’n matroos
volg oor die plein.
Wystan het voortgegaan
asof niks gebeur
terwyl trane oor sy wange stroom.

Op die vergane plein
waar die middag
soos ’n hart leegklop
lag Liefde gul & lig
sy pragtige kop.


* Gebaseer uit 'n episode in Dorothy J. Farnan se boek Auden in love, 'n móét vir Auden liefhebbers.

[Uit: Vleiswond, 1993]

(c) Johann de Lange

Wednesday, May 25, 2011

Die huwelik van woord & beeld. 12. Vincent van Gogh

Vincent van Gogh - Die saaiman, 1888


Saaiman met son wat sak
Johann de Lange

na ’n skildery deur Vincent van Gogh

die sonneblom-son blom groot
& geil op die horison
hy klim nog val maar hang
talmend ’n wyle langer
terwyl die saaiman sade
knetterend in die grond
laat val hy loop & strooi
die ganse middag lank
die land ’n kole-bed wat sinder
die vaal dorsland kokend mooi
voor die nog-staande koring
’n stralende geelkoor
rei op rei selfs die kraaie
(hardekoejawels) waag skaars
om die sade op te pik
met hulle pikswart snawels
hulle geelring-oë spring
van kluit na kluit

& alles word deur die son verwring
verskroei & tot geelryp gebring


Uit: Johann de Lange. 1993. Vleiswond. Human & Rousseau: Kaapstad.

Monday, May 23, 2011

Die huwelik van woord & beeld. 11. Robert Mapplethorpe

Robert Mapplethorpe, Self-portrait

Robert Mapplethorpe
Johann de Lange

   vir Hennie Aucamp

Jou laaste selfportret
is een wat striem:
’n last sitting as’t ware,
boeiend soos die wit
kalla-lelie, honger na kennis,
wat besorgd buig oor sy skaduwee,
bewus van sy dood,
sy einde intiem.

                       Jou gesig
’n opaal skyf sweef
weg in die volstrekte swart
agtergrond, alreeds
besig om los te raak
terwyl jy dit beleef.

Gevang in raam na raam
die anonieme lywe, private orgies
openbaar gemaak;
Dionusos-&-sy-wywe;
fallusse geamputeerd
soos besnyde blomme,
of aangebied as offervrugte;

jou koplose portrette, self-
portret as duiwel met die sweep
in jou harige agterent
soos ’n stert, in leerkamaste,
die dekor van ’n skaduwêreld laastelik
as dekadente glans opgedis: jou oë gluur
terwyl jou mond glimlag.

Ten slotte verstil jou foto’s,
verstrak tot marmertorso’s & -portrette:
Apollo wat ingekeerd droom,
of Mercurius, jou laaste reisgenoot,
die androgiene trekke
stralend wit soos vergeestelikte
vlees: die perfekte dooies
só gelaai met lewe.

                        Die skedel
op die kierie (eens ornament,
nou om jou te steun)
gaan jou reeds vooruit.
Net jou hand klou nog groot
& verbete aan jou dood.

Uit: Johann de Lange. 1993. Vleiswond. Human & Rousseau: Kaapstad.