Wednesday, May 25, 2011

Die huwelik van woord & beeld. 12. Vincent van Gogh

Vincent van Gogh - Die saaiman, 1888


Saaiman met son wat sak
Johann de Lange

na ’n skildery deur Vincent van Gogh

die sonneblom-son blom groot
& geil op die horison
hy klim nog val maar hang
talmend ’n wyle langer
terwyl die saaiman sade
knetterend in die grond
laat val hy loop & strooi
die ganse middag lank
die land ’n kole-bed wat sinder
die vaal dorsland kokend mooi
voor die nog-staande koring
’n stralende geelkoor
rei op rei selfs die kraaie
(hardekoejawels) waag skaars
om die sade op te pik
met hulle pikswart snawels
hulle geelring-oë spring
van kluit na kluit

& alles word deur die son verwring
verskroei & tot geelryp gebring


Uit: Johann de Lange. 1993. Vleiswond. Human & Rousseau: Kaapstad.