Saturday, May 28, 2011

Die huwelik van woord & beeld. 18. James Dean (Joan Hambidge)

James Byron Dean (1931 - 1955)

James Dean: Foto in blou
Joan Hambidge

   Vir T.T. Cloete

Gefnuik, gefok, gefusilleer kyk
James Dean
vermoeid na regs na links
onverwags gevang op regs

die hare ruig
die oë stroef (kyk mooi: die oë dof
van oorbelade ongevraagde redelose pyn
want ek is omdat ek is omdat ek rebelleer)
die sinnelike mond verstyf stroef
(soos Hollywood dit wou hê) die lyne
druipend om die mond

dan natuurlik die regterarm spier
bonkig vas in die linkerhand ’n sigaret
(brandend – tog verwag in die hoek van die moeë mond)
ook naby die regterhand en –been
wat die Lee-Jeans verrek
bedek die wrewelige knop

en dan terstond gestol in blou
die weerloosheid van jou
skraal skelet
staan jy soos almal verveeld
want Hollywood se skietbevel
verbied vereers uitspattige, uitlokkende
uitdagende gedrag...

maar later in die silwerblou Porsche
– die drang te groot, die tyd te min –
weet jy (’n vlugsekonde te laat)
die rus is helaas
nie elders

Uit: Joan Hambidge. 1985. Hartskrif. Human & Rousseau: Kaapstad.