Friday, May 6, 2011

Die huwelik van woord & beeld. 7. Francis Bacon

Francis Bacon - Studie van drie koppe, 1962 [Linkerhandse paneel]

Studie: portret van ’n man
Johann de Lange

   na ’n skildery van Francis Bacon

Die streepsuikerkleure van die man
slaan teen die oog:
’n pimpel & pers & groen
& blou kadawer!
Kyk hy deur ’n ruit: dié raam
waardeur óns kyk?
Sy gesig, sy hempskraag: wit
wat breuk in baie kleure,
wit wenkbroue & donker hare.
Die vuis teen sy kop ontketen
’n donkerte. Die oog glip
uit soos ’n lens.
’n Swart das is om sy nek geknoop.
Die verf is weefseldik.
Sy nerf word afgestroop:
plek-plek dun,
& plek-plek dik opgestoot.
Die inkarnaatkleur van bederfde vlees,
die sfumato-afdruk van ’n vuis
op die vol lippe: sagte lyne
voor ’n harde geweld.


Uit: Johann de Lange. 1986. Snel grys fantoom. Human & Rousseau: Kaapstad.