Wednesday, May 25, 2011

Die huwelik van woord & beeld. 13. Michelangelo

Michelangelo - Die skepping van Adam (detail)

Dakskildery
Johann de Lange

Was hy, Michelangelo,
agnostikus? Straks nar?
lewers glo ek vas
dat God verminktes
goed begryp: aan eie
bas vir hulle boet.
Of Michelangelo
het vyfduims verbrou:
’n ekstra toon prul
uit die goddelike linkervoet.*

God
aanstormend
’n engelekoor in sy uit-
bollende mantel
steek ’n vinger
oor die leegte

uit, blaas
in die nog on-
volmaakte
gees. lets
geweldigs stroom
uit dié vinger,
die gewronge gewrig.
En Adam, reik-
halsend om te word,
vind sy onnosel geluk
deur dié benul ontwrig.


* Toe die restourasie van die Sixtynse kapel afgehandel is, het dit onder meer geblyk dat Michelangelo ’n ekstra toon aan God se linkervoet geskilder het. Ek het om & by dieselfde tyd ’n berig hieroor in ’n uitgawe van Time magazine gelees met foto’s waarop dié ‘glips’ duidelik sigbaar was. Michelangelo het meer dikwels dan nie gewone mense van die straat gewerf as modelle, & met die begeestering saam straks vergeet hy is besig om Gód te skilder & het in plaas daarvan die een of ander arme sterfling met ’n ekstra toon nét so lewensgetrou oorgedra! En God is nie die enigste wat deurgeloop het nie: daar is oraloor profete met ’n ekstra vinger of toon, magtige Russsiese masseuses wat as dit lyk na hóé moes instaan as sibilles, want M. had min erg aan vroulike modelle. Dit het my laat wonder oor volmaaktheid / geskondenheid, & kennis / onkunde. Of dit áls in die gedig gestalte gevind het, is vir die leser om te besluit.


Uit: Johann de Lange. 1995. Wat sag is vergaan. Human & Rousseau: Kaapstad.