Tuesday, May 31, 2011

Edward Field – Tot lof van my prostaat

Edward Field (1924 - )

Tot lof van my prostaat
Edward Field

Terwyl die meeste mans wat ek ken hulle s’n laat bestraal,
uithol, of sjirurgies laat verwyder,
geniet óns twee ’n salige Indiaanse Somer.

Hoe meer gru-verhale ek hoor
hoe meer vasbeslote is ek om aan jou vas te klou –
jy’s mýne en ek hou van jou nes jy is.

Ja, ek pie snags soos enige ou van my ouderdom,
en hoewel ek nog net selde kliphard is,
kla ek nie –

kliphard is dikwels gevoelloos soos klip
terwyl jy ’n lewende blombol is,
hoewel straks soos ’n bol aangekors deur ons lang reis.

En jy dy steeds uit, met jou wonderbaarlike bloeisels
wat uitbreek regoor my lyf,
stampers en meeldrade aan die dans.

[Vertaal deur Johann de Lange]