Monday, May 23, 2011

Norman Morrison. Hemp van vuur

Norman Morrison in vlamme voor die Pentagon


Norman Morrison
Adrian Mitchell

Op 2 November 1965
in die veelkleurige, vrydenkende
Verenigde beeldskone State van skrikwekkende Amerika
het Norman Morrison homself aan die brand gesteek
buite die Pentagon.
Hy was een-en-dertig, hy was ’n Kwaker,
en sy vrou (die een in trane op die nuusfilms)
en sy drie kinders
oorleef sonder hom so goed as wat hulle kan.
Hy het dit in Washington gedoen waar almal kon sien
want
mense is aan die brand gesteek
in die donker hoekies van Viëtnam waar niemand kon sien nie.
Hulle name, ouderdomme, gelowe en geliefdes
nêrens opgeteken nie.
Dit is wat Norman Morrison gedoen het.
Hy het petrol oor homself gegooi.
Hy het gebrand. Hy het gely.
Hy het gesterf.
Dis wat hy gedoen het
in die wit hart van Washington
waar almal kon sien.
Hy het eenvoudig sy klere afgebrand,
sy paspoort, sy pienkerige vel,
en ’n nuwe vel van vuur aangetrek
en Viëtnamees
geword.

[Vertaal deur Johann de Lange]