Resensies: Prosa

'Tweede natuur' 'n eerste in Afrikaans. Dwelmwêreld verken. Nie teks vir die lui leser
Resensent: Johan Coetser

Beeld, 6 November 2001


Johann de Lange. 2000. Tweede Natuur. Kaapstad: Tafelberg.

Benewens sy skeppende werk het Johann de Lange in 1997 die versameling Soort soek soort saamgestel, wat bestaan uit 48 verhale deur verskillende skrywers waarin karakters van dieselfde geslag optree. Verder bundel hy in 1998 saam met Antjie Krog Die dye trek die dye aan wat verse oor lyflike liefde deur skrywers so uiteenlopend soos Boerneef, Van Wyk Louw en Johan van Wyk bevat.

Beide bundels illustreer die waarheid dat erotiek in vele vorme, van die vroeë dikwels volkse, tot onlangse moderne verskynings part en deel van die Afrikaanse letterkunde is.

Pas het by die uitgewery Homeros sewe verhale onder die titel Tweede natuur deur De Lange self verskyn. Enkele redigeerfoute uitgesluit, is dit 'n keurig versorgde publikasie, intertekstueel besonder dig en van belang omdat dit, soos op die agterbuiteblad staan, die eerste werk in Afrikaans is "wat met dringende energie die wêreld van dwelms, veral binne 'n gay-milieu, roekeloos verken & ontbloot".

'n Groot aantal motto's kom daarin voor wat as sleutels vir die begryp van die verhale, gesamentlik en afsonderlik, dien.

Een van die sleutels lui: ``Alle karakters & gebeure in hierdie verhale is sinnebeeldig,'' waar in die woord ``sinnebeeldig'' die begrippe allegories, sinlik en sinnelik binne konteks saamgevoeg is.

Vergelyk verder die aanhaling van Humphrey Osmond: "To fathom hell or soar angelic,/ Just take a pinch of psychedelic."

Die belangrikste intertekstuele verwysings hou met die middel Ecstasy en onder andere die skrywer Irvine Welsh, eksponent van dwelmprosa, verband. Ecstasy staan ook as E bekend.

Van Welsh het die werke Ecstasy, Trainspotting, Marabou Stork Nightmares en The Acid House verskyn. Sy bundel Ecstasy bestaan uit drie kort novelles en dra die subtitel "Three Chemical Romances".

Welsh se invloed op Tweede natuur blyk eerstens uit die ooreenkoms tussen De Lange en Ecstasy se buiteblaaie. Beide bevat 'n voorstelling van 'n persoon wat besig is om E te sluk, in Welsh se geval die letter ``e'' en by De Lange 'n wit pil met 'n letter "e" daarop.

'n Verdere ooreenkoms raak De Lange se gebruik van 'n tipe bewussynstroomtegniek veral in "The doors of perception" en "Die blou deur", waarin sy sentrale karakter Johann (soos Welsh se Lloyd) op 'n trip gaan. Die volgende voorbeeld kom uit "The doors of perception":

Sy bewussyn bars oop van die inhoude & wêrelde wat Suzuki op sy donker draaitafels uitspeel, & uit al die nate & skeure peul nog meer wêrelde, klanke, beelde, cartoon characters & storielyne. Hy het geen konsep meer van sy lyf nie.

In Welsh se verhaal "The Undefeated" vind man en vrou Lloyd en Heather mekaar weer nadat Lloyd opgehou het om dwelms te gebruik. Dieselfde gebeur met die gesiglose vertellende "ek" en "jy" in De Lange se verhaal "3,4-methylenedioxymethamphetamine". "Vir die eerste keer in maande," verduidelik die eerstepersoonsverteller, "was ek high sonder dat ek E gevat het."

Hierdie verhaal het die subtitel, "'n chemiese romanse". Die ooreenkoms tussen dié ironiserende subtitel en Ecstasy s'n (naamlik Three Chemical Romances) en met die gevolgtrekking dat romanse nie van 'n sintetiese, chemiese middel afhanklik is nie, dui op verdere raakpunte met Welsh se "The Undefeated".

Die verhale in Tweede natuur steek gevolglik nie vas in die blote gebruik van intertekstuele verwysings na 'n E-kultuur nie. Hulle verruim om verwysings na 'n sinnebeeldige (allegoriese) reis wat op 'n insig by die sentrale karakter uitloop, in te sluit.

'n Sleutelteks in hierdie verband is die briljante openingsverhaal, "Strip poker".

Daarin ontmoet die sentrale karakter die duiwel op die trappe van 'n kerk in Seepunt. Hulle gaan na Johann se woonstel waar hulle strip poker speel maar hy teen die einde sy bewussyn verloor nadat sy opponent sy drankie gedokter het.

Die verhaal herinner aan ander narratiewe waarin 'n vorm van versoeking of 'n soektog 'n rol speel. Vergelyk die verwysing na Jesus of Montreal op bladsy 4 met die versoeking van die Bybelse Christus, of die indirekte teenwoordigheid van Faust of selfs Dante se komedie in die teks.

Johann se prys is sy hellevaart deur die wêreld van E, ander middels en gay seks soos beskryf in die daaropvolgende vyf verhale. Hy word, telkens in die slot van 'n verhaal, bewus van alternatiewe totdat hy in die laaste verhaal aan die greep van E ontkom.

Die bose, of tweede natuur, is gevolglik in byna elke verhaal herkenbaar teenwoordig. As dit nie die duiwel in "Strip poker" is nie, is dit die ou man in "E is vir Ekstase" of E self as deurgang na 'n ander bestaan.

Tweede natuur is in sy geheel 'n besonder vernuftige teks, en beslis nie bedoel vir lui of sensitiewe lesers nie. Jy moet werk om dit sinvol te ontsluit. Die gay kodes daarin kan sensitiewe lesers aanstoot gee en daardeur interpretasie bemoeilik.

Dr. Johan Coetser is 'n dosent in die departement Afrikaans, Unisa.

*** 

Ander soeke na Self bring nuwe baken in Afrikaans
Resensent: Joan Hambidge

Rapport, 28 Januarie 2001


Johann de Lange. 2000. Tweede Natuur. Kaapstad: Tafelberg.

Johann de Lange se digkuns het die kontoere van die Afrikaanse kanon verander en veral in sy bundel Nagsweet (1991), het hy die terrein van die grensoorskrydende diskoers betree. Telkemale vernuwe hierdie skrywer homself.

De Lange is nie net digter nie. In Vreemder as fiksie (1996) het hy ook die postmoderne terrein betree in verhale wat die grense tussen fiksie en werklikheid problematiseer. Dikwels tot die ergernis van die behoudendes wat net op die teksoppervlak die verhale as ``skokkend'' of ``gewaagd'' lees.

In hierdie jongste bundel verhale van hom word die sogenaamde beginsel van afstand ondersoek. In dieselfde mate as wat die skryf van 'n gedig vervreemding impliseer, is die seksuele opwinding gekoppel aan die gebruik van Ecstasy, 'n dimensie wat hier bevreemdend en "nuut" ondersoek word.

Die skrywer het sy voorgangers in William Blake, Coleridge, De Quincey, in Last Exit to Brooklyn, in die werk van die sogenaamde Beat-generasie (Kerouac veral), in die digkuns van Allan Ginsberg en Thom Gunn. Daar is ook Hunter S. Thompson se Fear and Loathing in Las Vegas. Ook die rolprente van Rainer Maria Fassbinder en natuurlik Polanski. Ook The Exorcist behandel hierdie dimensie van die `"ander blik".

Soos die titel egter aandui, is hy op soek na diskoers, naamlik die beskrywing van die Ander. Die Ander is 'n vervreemdende ervaring van die Self soos gesien in spieëls van toilette. Jacques Lacan wat waarskynlik van die belangrikste studies oor die vorming van die self geskryf het, se eerste studie het terloops oor paranoia gehandel. En hierdie emosie is dikwels aanwesig in die vertellinge van hallusinasie en van geld skuld aan dwelmhandelaars en polisie wat kan toeslaan.

En dit is juis hierdie méconnaissance of mislesing van die self wat De Lange so goed vasvang. Die idee van die self is vir Lacan een van versplintering, van nabootsing, van 'n soeke na die Ander wat die weergawe of projeksie van jouself is. Nou is dit so dat skrywers op 'n primitiewe en primordiale vlak hierdie soort problematiek uitwerk wat waarskynlik net bewys hoe "waar" hierdie soort ervaring is.

Toe die rolprent Trainspotting so opslae gemaak het en by die jeug gewild was, het ek gedink: 'n mens moet hierdie fenomeen probeer verduidelik. Hoe gebeur dit?

Dieselfde geld die beskrywing van die sogenaamde rave-kultuur. Waarom word mense deur Ecstacy aangegryp? De Lange ondersoek al hierdie kwessies in 'n boek wat 'n mens eintlik van agter na voor moet lees (al is die hoofstuk-indelings rondom die dwelmnaam gebou).

Daar is iets sjamanisties in hierdie verhale wat tyd/ruimte, begin/einde ophef en gelykstel. Die openingsverhaal, "strip poker", speel in op die mens se ontmoeting met die duiwel en De Lange aktiveer, terloops, in al hierdie verhale die Groot Boek en Dante se Heilige Komedie oor die hel en hemel.

De Lange verwys ook na sy persona as "Johann", as 'n naked I wat paradoksaal bevreemdend inwerk op die leser se ervaring van die gegewe. In die tweede verhaal is daar dan ook kodes waarin 'n soort Danteske hel beskryf word met die plesier (en angs) wat die ervarings meebring.

Daar is talle passasies wat 'n mens wil aanhaal. Oor presies wat in die bewussyn gebeur, word baie goed (en digterlik) beskryf (soos veral op bladsy 52, 65, 73: "My kop is 'n groot biblioteek van beelde & kennis & tyd. My tong is 'n dealer wat visoene verkwansel. Dr. Hoffman wat op sy fiets ry, die bekende straat omgeskep in 'n Dali-landskap.")

Johann de Lange skryf net oënskynlik oor die rave-kultuur. Onder draai die duiwels van 'n allemintige aantal Middeleeuse en moderne tekste rond. En dit wil gedoen wees om jou verwysings so netjies te verdoesel. Dis veral vir die chemiese generasie maar ook vir diegene wat 'n behendige stuk skryfwerk wil lees waar selfs Van Wyk Louw se Gestaltes en diere aanwesig is.

De Lange lewer weer 'n baken in Afrikaans.

Joan Hambidge is digter en romanskrywer en verbonde aan die UK.

***

Politiek van seks speel hier rol
Resensent: Marius Crous

Die Burger, 13 Desember 2000


Johann de Lange. 2000. Tweede Natuur. Kaapstad: Tafelberg.

In die klassieke Wisselstroom (1990) merk die samesteller, Hennie Aucamp, op dat veral in die Amerikaanse opset die oorbeklemtoning van die "andersheid van die gay" belaglike proporsies aanneem.

Voorts het hierdie preokkupasie met "andersheid" daartoe gelei dat gays hulself toenemend begin vervreem het van hul medemens. Vir die literatuur was dit 'n ramp, want gevolglik het gay skrywers begin om hulle op 'n ideale leser te rig, naamlik 'n medegay wat bekend is met die kodes van die subkultuur. Myns insiens probeer Homeros 'n balans tref tussen hierdie twee pole, want Blomme vir Leon dien byvoorbeeld as 'n teenpool vir die eksplisieter 'n Man se man en Tweede natuur.

Gedagtig aan die baie gay lesers/gays in Afrikaans, word daar in Tweede natuur hoofsaaklik gekonsentreer op 'n ideale leser, op iemand wat bekend is met "leather bars", seks in stoombaddens, "cruising" asook met die gebruik van ecstacy en die raves waar mans mekaar kan optel.

Die politiek van seks waarvan Aucamp (1990) praat, speel beslis 'n belangrike rol in die geval van Tweede natuur, want hier word gefokus op seksuele praktyke wat buite die norme van die burgerlike, heteroseksuele samelewing val. Omdat die Afrikaanse letterkundige diskoers pretendeer om verlig te wees word 'n teks soos hierdie deel van die sisteem.

Omdat dit veilig is om op papier te lees van mans wat met mekaar op 'n leeroorgetrekte snoekertafel seks het, word dit geduld. Kies 'n kerkraad egter 'n gay man as ouderling, dan word die veilige grense van die homofobiese wêreld aangetas en word 'n oordeel uitgespreek.

'n Interessante opmerking in die teks is dat mans van nature ontrou is en dat die grense van 'n gay verhouding dit toelaat vir mans om met ander mans seks te hê, aangesien albei partye weet van mekaar se biologiese drang na veelheid en binding. Voorts word dit as 'n besonderse vorm van vriendskap en kameraderie beskou, wanneer mans, vreemdelinge vir mekaar, intiem met mekaar verkeer.

'n Uiting wat beslis die heteroseksuele wêreld se nekhare sal laat rys, en Camille Paglia sal laat juig, is die volgende: "Gay mans is die laaste bewaarders van manlikheid: selfs straight mans boots deesdae die beeld van manlikheid na wat gay mans projekteer: die kleredrag, die kortgeskeerde hare, die butch silwer-oorringetjies, die tepelringe" (bl. 20).

Waar, vanuit 'n heteroseksuele oogpunt, die gay obsessie met spiere en begeerde wreedhede bestempel word as "posturings of masculinity" en spiere beskou word as "butch drag", is die karakter Johann se uiting besonder veelduidend, aangesien dit daardie aanname ondermyn. Vanuit sy gay perspektief word straight mans die sogenaamde Ander en neem hulle die "andersheid van die gay" aan.

Tweede natuur is 'n boek gemik op 'n ideale leser, naamlik 'n gay man wat dit met een hand sal lees of wat die kodes in die teks sal kan vertolk. Wat die nie-ideale leser of straight leser betref, vir hom/haar sal dit 'n voyeuristiese blik bied op die gay dwelmkultuur in veral Kaapstad.

Dit is 'n teks wat interessante vrae stel oor die liggaam-as-teks, hoe die liggaam deel word van 'n sisteem wat ingestel is op die verheerliking van ekstase. Dit analiseer ook ons huidige bestel: hoe seks, dwelms en rave-musiek 'n ontvlugting uit die werklikheid bied. Dit word 'n teks wat fokus op hedonisme en die hedonistiese najaag van plesier; 'n teks wat 'n ander sy van ons bevryde samelewing weergee.

Marius Crous is 'n taalpraktisyn.

***

’n Perd van ’n ander kleur. ’n Belangrike boek wat skok, maar ook ontroer
Resensent: Cas van Rensburg

Volksblad, 11 Desember 2000


Johann de Lange. 2000. Tweede natuur. Tafelberg: Homeros.

Daar is boeke wat ’n mens skok en woorde wat jou kan brand! Só ’n boek is hierdie bundel kortverhale van Johann de Lange. En wees tog regtig gewaarsku: Hierdie boek skok erg en daar is uiteindelik woorde wat ’n mens nooit sal vergeet nie - indien hulle dan nou nie ingebrand is nie, is hulle in die brein ingegrif.

Tweede natuur is die derde boek wat verskyn onder die nuwe imprimatur Homeros van Tafelberg-uitgewers wat op gay literatuur toegespits gaan wees. Die eerste boek, ’n Man se man, was nog baie ingenome met gay seks en is deur ’n bekende skrywer van jeugboeke onder ’n skuilnaam geskryf - iets wat in hierdie dae kwalik aanvaarbaar is!

Die tweede boek, Blomme vir Leon, deur ene Victor Malherbe, was ’n ligte liefdesverhaal in die styl van ’n Ena Murray.

Johann de Lange se boek is ’n perd van ’n ander kleur. Dit handel oor gays, seks en dwelms. Dit is uit die staanspoor duidelik dat die skrywer uit ondervinding skryf en dit val op dat die karakter in elke verhaal inderdaad Johann heet.

Dit is sekerlik onnodig om, met gedagte aan die polemiek om die werke van Koos Prinsloo, weer daarop te wys dat al sou die skrywer sy eie ervaringswêreld betrek, dit nie beteken dat hy oor homself skryf nie. ’n Mens sou ook hier kon aantoon dat Johann de Lange in hierdie bundel sterk op die spoor van ’n William Burrouhgs en Jean Genét loop.

Ook dit sê egter niks. De Lange is ’n gevestigde digter en hy het onteenseglik ’n eie stem - en ’n pragtige stem boonop. Daar is paragrawe op paragrawe in hierdie bundel wat jou eenvoudig verruk. Sy beskrywing van die uitwerking van al die verskillende dwelms, die rave-tonele en sogenaamde chill-outs is op party plekke meesterlik.

Maar dit verg moed om die boek deur te lees. ’n Mens word aanvanklik werklik ’n bietjie ontstig deur die donker ervarings van kru seks onder die beswyming van allerlei delmmiddels - met die nou baie bekende ecstacy voorop. Algaande besef ’n mens al die verhale speel af in ’n sekere tydperk, naamlik in die somer.

So met die lees saam is daar ook eggo's van die Franse digters Rimbaud en Elouard. ’n Mens onthou veral Uys Krige se vertalings van laasgenoemde se gedigte - onder meer: “Ek het jou so lief, ek weet nie meer wie van ons afwesig is nie...”

Hierdie bundel is inderdaad ’n verslag van ’n somer lange soektog. En is die gebruik van dwelms nie maar in sy wese ’n soektog nie? Na die self. Na geluk. Na pynverdowing.

In die voorlaaste hoofstuk, sê die skrywer: “Dit was ’n somer volledig toegewy aan die vyfde letter van die alfabet.” Ecstacy! – en hoe mooi beskryf: “Die nagte was ongelooflik. Wyd & oop met die windklokkies van die sterre.”

Weer die woorde en beelde wat verruk, nê? Oor al hierdie verhale is daar ’n religieuse skynsel so eie aan byvoorbeeld Genét se Our Lady of the Flowers. Seks en dwelms, die donker doolhowe van die psige word getransendeer sonder dat ’n mens dit aanvanklik besef.

Dit is eers in die laaste hoofstuk dat die woord en begrip ecstasy sy naam kry. Met die onwerklike opskrif “3,4-methylenedioxymethamphetamine - ’n chemiese romanse” word ’n mens se reis deur hierdie dwelmbenewelde omswerwinge in soel somernagte skielik tot stiltand geruk: “Ek het die ganse somer lank op jou gewag, na jou gesoek in elke gesig. In chill-out rooms & agter toe deure met ’n chemiese alfabet jou naam probeer spel.”

Die soektog, ja altyd, die soektog na die ander, dié mens wat jy so lief kan hê dat jy nie meer weet “wie afwesig is nie”.

Die verhaal eindig met ’n beskrywing waar Johann kaal lepel-lê met dié gesig wat hy die hele somer lank gesoek het en “vir die eerste keer in maande was ek high sonder dat ek E gevat het”.

***

'n Stewige prosa-debuut. Ook aan te beveel vir postmodernisme-studie
Resensent: P. C. van der Westhuizen

Beeld, 2 Desember 1996


Johann de Lange. 1996. Vreemder as fiksie deur. Kaapstad: Human & Rousseau.

Johann de Lange, ’n bekroonde digter, se Vreemder as fiksie is om verskeie redes 'n belangrike en interessante toevoeging tot die Afrikaanse prosaskatkis.

’n Hele klompie Afrikaanse tekste van die afgelope aantal jare het daarin geslaag om die konvensionele grens tussen fiksie en werklikheid te belemmer en selfs oor te steek. De Lange se bydrae doen dit ook, maar dan met die bykomende gesigspunt dat die werklikheid ook fiksie nadoen.

Vreemder as fiksie is, afhangende van ’n mens se bepaalde leesperspektief, ’n redelik komplekse bundel kortverhale. Die skrywer, oftewel “J”, verduidelik sy strategie soos volg op die flapteks:

“...hierdie dertiental tekste waarin ek (in die rol van ’n soort latter-day Sjeherazade?) besin oor die teenwoordigheid van die outeur in sy werk terwyl ek my agter ’n hele reeks verskuiwende identiteite verskuil, waarin karakters van ander skrywers kamee-verskynings maak, en ek die grens tussen (outo)biografie en fiksie lustig oorskry en my o so betroubare verteller(s) voetnotas, skinderstories en les bes leuens influister, is terselfdertyd ’n verslag van my leerjongenskap onder verskeie mentors, lewend én dood.”

Die onderliggende vergelyking in die bundeltitel is weliswaar dat die geïmpliseerde werklikheid vreemder is as fiksie, maar dié onthulling signaliseer boonop die eienaardige verhouding waarmee die leser in die teks gekonfronteer word: is daar hoegenaamd sprake, kan ’n mens met sekerheid vra, dat fiksie en werklikheid as aparte sisteme kan optree? Synde Vreemder as fiksie telkemale as postmodernistiese teks voorgehou en aangebied word, kan ’n mens stellig aanvaar dat die vergelyking nie ou klowe wil oopgrawe nie.

Die teoretiese, selfs bosinnelike, gom waarmee De Lange die lank gekoesterde kloof tussen kuns en werklikheid verdig, is die vindingryke aanbod van “konterfeitsels”. Konterfeitsels, komende van die Latyn contrafacere, om na te boots, berus egter nie bloot op ’n mimetiese verhouding met die werklikheid nie. Alreeds ingebed in hierdie kunsgreep is die vermoë om fiksie na te boots, om, anders gestel, fiksie se ontglippende verwantskap met die werklikheid te bekragtig, te belemmer en selfs te verydel.

Vir die skrywer, Johann de Lange, is dit ’n selfrefleksiewe handeling, enersyds op die vlak van sy eie bemoeienis met die moontlike fiksionele wêrelde (“Gesien dat in postmodernistiese fiksie die skrywer/outeur juis ’n god is.”) en, andersins, op die vlak van sy bosinnelike en biografiese verbintenis met Koos Prinsloo: “Skrywer en biograaf is/word een.” Dit is ’n “problematiese soort simbiose”, meren deels vanweë die biograaf se “persoonlike en subjektiewe interpretasie”.

Hierdie sintese, soos dit aan bod kom in Vreemder as fiksie, roer die leser intellektueel, en laat hom spartel om al die drade bymekaar te hou. Só ’n opdrag is uiteraard onmoontlik, maar dit is nogtans ’n instink waarmee alle lesers toegerus is. Die postmodernistiese skrywer maak natuurlik daarop staat in sy vernuftige spel wat nou binne en dan buite die tradisionele grense van die kortverhaal gevoer word. (’n Mens kan jou goed voorstel dat Vreemder as fiksie ’n nuttige illustrasie van postmodernistiese beskouings van sake soos tyd en ruimte, werklikheid en kuns vir Afrikaans letterkundestudente kan wees.)

Tog, en dit is jammer, is daar bepaalde redes waarom Vreemder as fiksie nie ook daarin slaag om die leser altyd emosioneel te verbind nie. Hoeseer ’n mens ook al wil, is die binnewêreld van skrywers se onderlinge onmin, nyd en wedywering, byvoorbeeld, nie noodwendig die soort onderwerp wat jou etlike dae nadat jy die boek klaargelees het sal kwel, vermaak of laat peins nie. Die biografiese verrekening van Koos Prinsloo se werk en lewe, asook die fiksionele en werklike intriges tussen hom en Hennie Aucamp, is straks vreemder as fiksie soos die skrywer te kenne gee. Maar dan moet ’n mens jouself afvra watter waardes jy aan die nosie van vreemdheid, esteties en andersins, kan of wil toedig.

Wanneer De Lange op sy beste oor universele kwessies soos die werklikheid van vigs en die afsterf van vriende skryf, is dit egter ’n ander saak. Dan raak die leser, hier dikwels teen sy sin, op só ’n wyse deur die leed van karakters geraak dat dit duidelik raak waarom die dood juis sy sterkste beslag op papier kry.

Die belangrikste temas waarop De Lange homself in sy digbundels toegespits het, naamlik dood en homo- erotiek, vind ook in Vreemder as fiksie neerslag. Die meerderheid bydraes in hierdie bundel,
waaronder die knap openingsverhaal “Die storie van ’n skrywer”, die betekenisvolle “A portrait of the artist as a young dog”, die titelverhaal “Vreemder as fiksie” en, veral, die verhale “A rough guide to Cape Town”, “’n Bed by die venster”, en “Prof. Libby neem ’n notaboek saam”, is deurspek met onversadigbare begeerte en seksuele eskapades.

Eskapades is moontlik die regte woord, synde seks duidelik ook ’n vehicle is waardeur die ambivalensie van die mens se toenemende eensaamheid en verveling in ’n tyd van tegnologiese kataklismes besweer word. Ten minste, dit is ’n skynbare simboliese waarde wat ’n mens daaraan sou kon toeken. Tog (én uiteraard) is daar van subtiliteit weinig sprake: die seksuele aptyt is uiteindelik niks meer en niks minder nie as ’n hamburger wat, ongeveer soos ’n Romein se slagoffer onder lem en agter skild, doelgerig uit sy verpakking gepluk en aggressief afgesluk word.

Die roerende gegewens van die skynbaar outobiografiese slotver haal in die bundel, “Afskeid van my ouers”, boet ongelukkig daardie belangrike dimensie van afstand en gevoel in as die moeder se taalgebruik, in haar briewe aan die skrywer, tegelyk op die grense van erudisie en onverfyndheid beweeg. Aan die een kant is sy bloot in staat om haarself uiters simplisties uit te druk:

“Ek weet nie eintlik hoe om te begin nie, toe ek moes ingaan hospitaal toe met jou was jou pa by sy vriendin Jeanette Liebenberg toe moes ’n lelike ou by name Tak-Tak my invat.” [...] “Ek kon nie kar bestuur maar hy het my maak die wiel vat en ek het gery tot in Pienaarsrivier. En raai wat jy makeer toe niks.”

Aan die ander kant is daar momente wat net sowel, en uit die aard van die saak is dit weliswaar die geval, deur die skrywer beskryf kon gewees het:

“Ek dink teen die tyd van die karavaanpark, jou pa se selfmoordpoging en Johannesburg was my sinne so afgestomp dat...” [...] “Ek dink jou afsydigheid het gespruit uit die manier wat hy my behandel het.”

Vreemder as fiksie, ’n debuutbundel wat ten spyte van minder ernstige gebreke steeds ’n stewige bydrae tot die Afrikaanse letterkunde lewer, is stellig leesstof vir ’n ingelese (en ingelyfte) gehoor, spesifiek diegene wat die politiek en binnekringe van die Afrikaanse letterkunde interessant vind. Die boek sou ook aanbeveel kon word vir alle studente van die postmodernisme.

P.C. van der Westhuizen is verbonde aan die departement algemene linguistiek en literêre studies, Universiteit van die Noorde.

***

Gee openhartige oorsig oor die gay-tema
Resensent: H.P. van Coller

Volksblad, 28 Maart 1998

Johann de Lange (Samest.). 1997. Soort soek soort. Kaapstad: Human & Rousseau/Tafelberg.

Johann de Lange is veral bekend as bekroonde digter. Vir sy digbundel Akwarelle van die dors ontvang hy die Ingrid Jonker-prys en vir Wordende naak die Rapportprys vir poësie.

Die gay-tematiek was vroeër marginaal in die Afrikaanse letterkunde. De Lange het hom die afgelope jare verdiep in die gay- tema. Saam met onder andere Joan Hambidge is De Lange verantwoordelik daarvoor dat hierdie tema sterk gevestig is in eietydse Afrikaanse poësie. ’n Kortverhaalbundel Vreemder as fiksie, óók met ’n gay-inslag, het in 1996 uit sy pen verskyn.

De Lange is daarom goed toegerus om as samesteller op te tree van ’n versameling van 47 verhale - deur meer as 30 skrywers van verskillende geslagte en tye - oor verhoudings tussen geslagsgenote. ’n Netjiese inleiding bied iets van ’n verwysingsraamwerk vir die leser.

Onder die skrywers is daar, naas minder bekendes, ook van die belangrikste prosaskrywers in Afrikaans en naas selferkende gays ook talle heteroseksuele skrywers. Juis in sy diversiteit bied Soort soek soort ’n boeiende eeulange oorsig van hierdie tema in die Afrikaanse prosa én van die groeiende openhartigheid waarmee dit hanteer word.

***

Gay-bundel trek voordeel uit klimaatsverandering. 48 verhale van 36 skrywers chronologies gerangskik
Resensent: Gretel Wybenga

Beeld, 19 Januarie 1998

Johann de Lange (Samest.). 1998. Soort soek soort. Kaapstad: Human & Rousseau/Tafelberg.

Soort soek soort bevat 48 gayverhale van 36 skrywers chronologies oor ’n eeu (1897 tot 1997) gerangskik. Die vroegste verhaal, “Di twe frinde” van ’n sekere Amant, kom uit Ons Klyntji, terwyl die laaste nege verhale van 1997 dateer. Daar is ’n gaping van 52 jaar tussen dié verhaal en die volgende besonder sensitiewe verhaal, “Bleek hande”, van Willem van den Berg.

Trouens, slegs agttien van die verhale (wat een vertaalde verhaal van Anna Blaman insluit) verskyn voor 1990. In albei gevalle is dit ook ’n aanduiding van die insidensie van die tema in Afrikaans.

Die grootste hoeveelheid verhale kom dus uit die fase ná 1990, wat oorvleueling uitskakel met daardie baanbrekende versamelbundel van Hennie Aucamp, Wisselstroom (1990) waarvan De Lange die voortreflike voor- en nawoord as ’n manifes vir die saak van die gaytema in Afrikaans beskou. Soort soek soort, sê De Lange, wil onbeskaamd voordeel trek uit die klimaatsverandering van die laaste dekade, wat teweeggebring is deur die gehalte van die gepubliseerde verhale.

Die klimaatsverandering is ook in ’n ander opsig merkbaar, in die talle bloemlesings wat ná Wisselstroom verskyn waarin die nadruk op geslag en die seksuele lê: Vrou-mens (1992), Vrouevertellers (1994), Lyfspel (1994), Bloudruk (1996) en Scheepers se Dogters van Afrika (1997).

Beide De Lange en Aucamp se bloemlesings gaan, weens die weiering van opname van die gekose verhale deur sy literêre eksekuteur, mank aan voldoende verteenwoordiging van Koos Prinsloo, wat ’n jammerte is.

Hoewel die verhale oor lesbiese verhoudings ver in die minderheid in die bundel is, kom die meeste ook uit die fase ná 1990. ’n Verhaal elk van Aucamp en Berta Smit uit die sestigerjare en verhale van Riana Scheepers, Marianne de Jong, Jeanne Goosen, Emma Huismans en Joan Hambidge, almal uit die negentigerjare, bring die totale oes te staan op tien verhale. Dit verraai nie noodwendig die voorkeur van die versamelaar nie, maar maak eer der ’n uitspraak oor die verhoogde insidensie (en kwaliteit) van die lesbiese verhaal in Afrikaans.

Onder die voorheen ongepubliseerde verhale wat vermelding verdien, tel m.i. die skrynende “Die student” van Joan Hambidge, die verhaal van Thys Nel “Steendruk” en ’n verhaal van Francois Bloemhof, almal uit 1997. Die verhaal van Almeru Gunter, “Koester” wat voorheen in Stet verskyn het (1991), is hier ook met reg gebundel.

Die bundel bevat ook uittreksels uit Kartondose van Lanoye, Ek stamel ek sterwe van Eben Venter en ’n verkwiklike gedeelte uit Trazom, die jeugroman van Philip de Vos. Die uittreksels is egter so goed gekies dat dit nie onaf lees nie.

Die funksie van enkele vertalings uit Engels en Nederlands is egter nie goed duidelik nie. Goeie verhale is dit wel, maar waarom presies dié verhale uit ’n onuitputlike skat van verhale met ’n gaytema. Dit is ook te min om enige sinvolle vergelyking met mekaar of met die Afrikaanse verhaal te regverdig.

De Lange maak in sy inleiding melding van die “maskering en verhulling” van dié tema wat sosiaal nie aanvaarbaar was nie. Dit is meer opvallend en vindingryk in die vroeëre verhale. So veilig is “Die jas” van Berta Smit byvoorbeeld geskryf dat ’n mens wonder of dit werklik as ’n verhulde lesbiese verhaal gelees moet word.

Een van die tegnieke in dié “bedekte” soort verhaal is om die geslag van die betrokkenes te verswyg, soos grootliks in “Belydenis van ’n bedrieër” (1997) van M.C. Botha gebeur. Soos in die roman van Jeanette Winters, Written on the body, word dié tegniek in die meer resente literatuur eerder gebruik juis om die irrelevansie van geslag in enige verhouding te onderstreep as om dit te verhul. ’n Denkfout wat hier gemaklik kan ontstaan, is om te dink dat die verhaal waarin eksplesiet met die gaytema omgegaan word, noodwendig beter is. Dis net een tree weg daarvan om te sê dat die verhaal wat hom van suggestie of die metafoor bedien, kan ly aan ’n vorm van verhulling.

Die fokus op die blatant seksuele verklaar De Lange in sy inleiding met die feit dat die taboe groter is op die gay man as die lesbiese vrou en dat die “struggle” daarom sterk op seksuele vlak gevoer word (p.9). Die probleem is dat “struggles” wat op die rug van die literêre werk ry, nogal ’n manier het om die meriete daarvan aan te tas en dat ’n uitstalling van die toertjies van die vlees nie noodwendig goeie verhale maak nie. Hierdie beswaar geld vir dié leser t.o.v. enkele verhale.

In Hambidge se verhaal “Die koorsblaar” verwys sy die verteller afwysend na Barthes wat sou gesê het “dat mense wat gay-wees ekshibisionisties uitleef, nooit geleer het om dit te verwerk nie” (p. 263). Sommige van hierdie verhale wil nogal hierdie stelling onderskryf.

Daar is ook verhale, soos De Jong se “Die opsigter” en die Lanoye-uittreksel, waar die oënskynlike ekshibisionisme getemper word deur ’n sin vir die snaakse.

Gretel Wybenga is verbonde aan die departement Afrikaans en Nederlands op die Vaaldriehoek-kampus van die Potchefstroomse Universiteit.