Showing posts with label In memoriam. Show all posts
Showing posts with label In memoriam. Show all posts

Saturday, June 25, 2016

In Memoriam: Adam Small (1936 – 2016)


Vir die meeste van my generasie was die gedigte van Adam Small op skool die eerste kennismaak met bruin Afrikaans. As ek aan hom dink dan hoor ek immer daardie effens navrante klank in die stemme van sy sprekers. Wat kon verval het in bitterheid en woede het hy getemper met humor en wysheid, en teregwysing. 

Die toekenning van die Hertzog prys aan hom het ’n laakbare oorsig reggestel, maar sy hertoetrede tot die literêre toneel het vir my iets van ’n Rip van Winkel-kwaliteit gehad: dinge het geweldig baie verander in die lang seisoen van sy swye. Sy opkoms vir Afrikaans, sy liefde vir Van Wyk Louw en Opperman, was deel van ’n intellektuele soort bestaan wat verby is, & hy is deur van die jonger bruin skrywers aangeval. Steeds het hy nie bitter geraak nie, maar met optredes, voorlesings, en e-pos korrespondensie bly uitreik na mede-skrywers.

In ‘n vroeë &-pos vra hy, “noem my asseblief Adam”, ‘n versoek waaraan ek nie gehoor kon gee nie, maar vergun my om nóú, uiteindelik, te sê, “Wel te ruste, Adam.”

Adam Small in Distrik Ses

Johann de Lange
25 Junie 2016


Thursday, October 29, 2015

In memoriam, Tienie du Plessis




Ek het met Tienie kennisgemaak in 1991 toe ek my bundel Nagsweet van Tafelberg onttrek het ná 'n argument met Danie van Niekerk, destydse hoof van Tafelberg, oor die omslag van die bundel. Ek het my hart gesit op 'n potloodskets van Michael Leonard vir die omslag van my bundel, & Van Niekerk het gesê nee ek kan nie dáárdie een gebruik nie, maar wel die een op die teenoorgestelde bladsy. Daar was nie 'n groot verskil tussen die twee sketse nie, & ek het besef dit was sy manier om my wys ek sál die een gebruik wat hy kies. Dit was 'n magspeletjie. Iets waarmee ek geen geduld het nie.

Ek het my manuskrip onttrek & aan Taurus voorgelê. Aangesien Tafelberg in daardie stadium die boek reeds geset het, het Tienie voorgestel ons koop die proewe by Tafelberg oor. Dit sou ons tyd bespaar het, & straks 'n pennie of twee. Maar sy onderhandelinge met Danie van Niekerk het dieselfde kurwe gevolg: Van Niekerk was bereid om die proewe aan ons te verkoop, maar teen 'n belaglike bedrag. Wat Tienie uit die aard van die saak van die hand gewys het. Van Niekerk sou eerder die verlies ly, as om enige toegif aan ons te maak. Mág! Dis 'n bliksem, & daardie geledere was destyds hóóg daarvan.

Ek het 'n naweek by Tienie gaan sit & die manuskrip op sy rekenaar oorgetik. Dit was 'n moeisame proses want ek was glad nie handig met die rekenaar nie, & hulle het 'n argaïese DOS program gebruik wat ek glad nie geken het nie. Maar Tienie was nooit meer as 'n paar treë weg nie, besig met iets anders, & ek kon roep as ek vasbrand.

In 'n sin was dit goed dat dinge so afgeloop het want ek het intussen by 'n goeie vriend & destydse redakteur van die tydskrif De Kat, Johan van Rooyen, 'n pragtige waterverf van Walter Battiss gesien wat ek, met die toestemming van sy seun, Giles Battiss, kon gebruik het. Die uiteinde was vir my 'n boek wat esteties bevredig het & waarvan omslag & inhoud saamgewerk het.


Tienie & Taurus was van onskatbare waarde vir Afrikaans & die Afrikaanse letterkunde in 'n tyd toe die landskap veel anders daar uitgesien het, & hy het gesorg dat daardie stemme nie stilgemaak is nie, & daardie boeke nie verdwyn het nie. En al het sy stem nou stil geraak, op die 12de dag van die mooiste maand, staan daardie boeke verspreid op my rakke & kan ek hulle enige tyd uithaal & steeds die plesier ervaar van die sorg & kundigheid wat uit elkeen spreek, maar ook versterk voel deur die moed van daardie skrywerstemme wat gedra is deur die moed & beginselvastheid van Tienie du Plessis.

Die minotaur én matador is nou stil.

© Johann de Lange


Sunday, August 2, 2015

Johann de Lange - Verse vir T. T. Cloete

© Brenda Veldtman

KWATRYNE VIR T. T. CLOETE
In memoriam (1924 - 2015)


Egidius, waer bestu bleven?
Mi lanct na di, ghezelle mijn.
Du coors die doot, du liet mi tleven.

I
Die landskappe van sand & sneeu
kan soos mense omdraai & gaan lê,
rug aan rug, of na mekaar gekeer,
soms vir 'n oogwink, of byna 'n eeu.

II
Aardig, mens, om aan jou te moet dink roer-
loos op jou rug, oë nie langer gerig
op die uitdyende heelal nie: lens

& hersens nie langer liries aan’t dig.

III

Spoed jy verby kwasars, die Sewe Susters,
verby Orion se juwelekissie?
Op 'n tyd was jy God se troetelvissie,
nou nael jy lustig tussen sy ligusters.

IV

Die Vredesfortkoepel is ’n stil reuse plons:
‘n rooi lawaskild vir eons sissend in ‘n loog,
bergriwwe & rante, soos krale vir mastodons –
als lánk voor die dink van die digterlike oog.

*


PLAASMIDDAG, VREDESFORT DISTRIK


vir T. T. Cloete

Die namiddag loop voller, &,

afgemeet in jambes 
van die staanhorlosie, vol.
Die ver vaal heuwelriwwe drywe
bo die uitgewaste bekken.

Rooitong in die skadu

van ‘n lukwart lê die hond stertstil.
‘n Pietswind swiep verby & strooi
die sterredons van sade
& laat die plaasdam ligweg frons.



Friday, November 14, 2014

R.I.P. Charles Fryer (1946 - 2014)



Rooiwielwa

‘n liedjie op pad Hantam toe

Ek gaan saam met die rooiwielwa
wat my terug na my hartland dra;
deur die nag vol maan alleen,
oor die swartbosvlakte heen.

Ek sal terug met die grootpad gaan,
óór die berg wat donker staan;
van julle sal ek niks meer vra,
ek gaan saam met die rooiwielwa.

© Charles Fryer

*

Oulaas

Dis oulaas stap, Pa:
jy in die middel en ons,
stram in kispakke,
maar regop, jóú seuns,
elk aan ’n handvatsel.

Dis half swaar, Pa.

Ons is gewoond saamstap
en die suidewind
is bitterbos en reën.

Voor die kampie op die bult
wag die volk
om vir Pa te sing,
hul gesigte dobberend in die middagson.

Pa het dié tyd
altyd
’n bietjie gaan skuinslê.

Calvinia, 1970

© Charles Fryer

*

Eiening

(Polisie-lykhuis, Soutrivier)

Nadoods nóg ’n maal geskend
lê jy op ’n lang, smal bed
agter ’n vierkant ruit –
die groen laken ’n mus
om jou gesiggie getuit:
’n first love-pop kon jy wees,
in ’n kinderspel vergeet,
maar jou neusie is myne
en die spoor uit jou mondjie bloed.

O, bietjie-kind van my lende,
op die harde, groen bed:
dit drup, drup van die vlym wat sny;
hoe suis jou stilte nou vir altyd in my.

© Charles Fryer