Showing posts with label Resensie. Show all posts
Showing posts with label Resensie. Show all posts

Sunday, September 18, 2016

Resensie. Johann de Lange – ’n Hunkering se grein (Daniel Hugo)

18 September 2016 00:00

De Lange is een van die fynste formuleerders in die Afrikaanse digkuns, skryf Daniel Hugo.

’n Hunkering se grein deur Johann de Lange. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R175.

Die Hertzogpryswenner Johann de Lange se jongste digbundel het eintlik twee titels: ’n Hunkering se grein (’n versreël van Sheila Cussons) en Pulvis et umbra sumus (ons is stof en skaduwees).

Die laasgenoemde is ’n uitspraak van die Latynse digter Horatius (65-8 v.C.) en vorm ’n deel van Judith Mason se skildery Roman Africa, wat op die omslag van die bundel verskyn.

Hierdie twee titels, die amptelike en nieamptelike, vat die temas en toonaard van die gedigte goed saam. Die hoogtepunt van die bundel is inderdaad ’n lang nostalgiese en ontnugterde gedig, “Twee vryverse vir Joan op 60”, oor die digter se viriele verlede en valer hede in die styl van Allen Ginsberg. Die afname van seksualiteit in sy lewe noem hy “die eerste dood”. De Lange se slotsom is: “vir wié of wát, in gódsnaam skryf ek nog?”

Hierdie gedig is terselfdertyd ’n ongeëwenaarde uitbasuin van De Lange se ongeremde gaywees. Later in die bundel staan daar ’n gedig met die titel “Allen Ginsberg se boeke”, waar dié Amerikaanse gay beat poet in ’n droom aan hom verskyn. En dié ontmoeting loop ook op ’n ontnugtering uit.

In die Horatiaanse gees van die mens wat net stof en skaduwees is, skryf De Lange in memoriam-gedigte aan T.T. Cloete, prinses Diana, Marilyn Monroe, Michael Jackson, Nelson Mandela en Hennie Aucamp. Aan laasgenoemde wy hy ’n hele afdeling: “Rust-mijn-ziel: ’n hartseerwals”.

Rust-mijn-ziel is die plaas in die Oos-Kaap waar Aucamp grootgeword het, en “Die hartseerwals” een van sy bekendste kortverhale. Die beste van die Aucamp-verse is “Dagreis” wat so eindig:

Met Rust-mijn-ziel ’n soet spesmaas,
het jy ingekruip onder ’n grou karos
& met jouself gaan lepellê op langelaas.

In “Binêr” vrees die digter vir sy eie “weg-raak in die niet, / die niks-wees / ná die dood”.

Maar dit is nie ’n morbiede versameling gedigte nie. Niks wat goed verwoord is, kan ’n mens werklik bedruk maak nie, selfs al gaan dit oor die verganklikheid en dood. En Johann de Lange is een van die fynste formuleerders in die Afrikaanse digkuns. In “Standaardtoer” (na Robbeneiland) staan byvoorbeeld die volgende treffende beskrywing: “In die hawe lê die ­seiljagte vasgemeer in visgraatsteek”.

As antidoot teen enige moontlike swartgalligheid is daar ook uitbundige boutades in die bundel, soos die besonder plesierige “Die mafia-wywe”: “Hulle suip soos Kosakke / & spandeer geld soos Dominikaanse koppelaars.” Vir sy vriendin, die digter Joan Hambidge wat vanjaar 60 word, skryf hy die kwatryn “Joan on the town”:

Die dinge wat jy aanvang!
Die plekke waar jy uithang!
Vir jou jare nog steeds
die ene Sturm und Drang!

Die groot getal kwatryne in die bundel is nogal opvallend, nadat De Lange vyf jaar gelede reeds Weerlig van die ongeloof, ’n bundel wat uitsluitlik uit vierreëllige verse bestaan, die lig laat sien het. Vir my gevoel is die kwatryne in die jongste bundel oor die algemeen ’n bietjie flou – blote nawater van daardie vorige versameling.

Veel boeiender is die twee sonnette met ongewoon lang versreëls waarin hy Nelson Mandela huldig.

De Lange is ’n uitmuntende natuurdigter, en die gedigte in die eerste afdeling getuig weer van sy uitsonderlike beskrywingsvermoë. Veral “ ’n Murmurasie van spreeus”, ’n vrye sonnet, is ’n meesterstuk. In die selfportret “Die digter as ronkedoor” (’n alleenloperolifant of ongesellige man) sê De Lange: “Gestaak / kontak met medemens, selfs die natuur / vervang met hoëdefinisie-TV uur na uur”.

Maar dit maak uiteraard nie saak waardeur die digter geïnspireer word nie – die vrye natuur of digitale natuurbeelde – ­solank die vers die leser oortuig. Hierdie leser is beslis oortuig.

Die gedig oor die hoenderhaan “Blink Stefaans” is een van die min werklik geslaagde villanelles in Afrikaans.

Die villanelle is ’n vaste versvorm van 19 versreëls met ’n ingewikkelde refreinpatroon en slegs twee rymklanke. Om dit in die rymarm Afrikaans te laat slaag, verg bomenslike vernuf. “ ’n Haan soos Blink Stefaans / laat die ander hoenderhane ­eierdans”. Inderdaad.

In byna al sy bundels klink daar bewuste eggo’s van N.P. van Wyk Louw op. Ook hier in “Blink Stefaans” vertoon die parmantige haan ’n ooreenkoms met Louw se “Beeld van ’n jeug: duif en perd” waarin “die goue haan wat al sy henne trap” sy verskyning maak. By De Lange trap die blink haan met “sy geel geskubte pote elke lê-hen op die werf”.

In ’n Hunkering se grein word die Louw-interteks aangevul met verwysings na Boerneef. Soms word dié spel darem net te oordadig en selfs gedwonge, soos in die herskrywings van onderskeidelik ’n Boerneef- en Louw-gedig in “Twee blaaie geskeur uit Groot verseboek”. Dié intertekste help wel om die bundel tot ’n eenheid saam te bind. Die digter is self, soos die swermende spreeus in die openingsgedig, “ ’n energie wat dink en weef”.

Ondanks my bedenkinge oor heelwat van die kwatryne sal ek nie die volgende een, met die veelseggende titel “Weef”, wou mis nie. Gedigte in ’n bundel vorm ’n weefwerk wat aan die digter skuiling bied tussen hemel en aarde, tussen tyd en ewigheid:

Die vinkneste wieg bo die watervlak
soos druppels immer gereed om te val.
Ons drome reik deur tydlose ruimtes
terwyl ons geanker bly aan ’n wal.

(Hierdie onderhoud word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Monday, April 11, 2016

William Dicey – Mongrel (2016)



William Dicey – Mongrel. Umuzi, 2016. ISBN: 9781415206881

Resensent: Johann de Lange

Die 6 tekste in William Dicey se Mongrel is nie sonder meer essays te noem nie. Hulle is eerder ‘n verbastering van verskillende genres, elk ‘‘n variasie op die tema.

“Miss Meat Festival” wat afspeel tydens die jaarlikse Hantam Vleisfees in Calvinië is pure boere-burlesk, waar ’n versameling rare karakters saamgesnoer word deur hulle passie vir vleis. Dit is ‘n teks wat die gruwelikheid van die vleisetersbedryf, verbind met al die pomp and circumstance van ’n skoonheidskompetisie.

Die tweede essay, “A story in which everone looks bad” vertel die verhaal van die moord op  eenspaaier Geoffrey van Seepunt (Teffy vir familie en vriende), deur sy gay lover Ismail S. van Hannover Park, óf dié se neef Egshaan, ‘n gebeurtenis wat daartoe lei dat Teffy se familie vir die eerste keer van hulle oom se homoseksualiteit te hore kom.

‘n Regsisteem verswelg deur werklas en 'n kultuur van middelmatigheid en luiheid, maak dit moeilik om geregtigheid te kry vir slagoffers. Só word beide Ismail en Egshaan eers 5 jaar na die hofsaak begin het tot tronkstraf gevonnis.

Dicey se rapportering van die hofsaak belig nie net die spanning tussen waarheid en leuen in die regsisteem en die lewens van die karakters sélf nie, die essay is tegelyk ’n handleiding by die skryf van dié tipe verhaal, en Dicey se vernuf as skrywer is hier niks minder as virtuoos nie.

Die plaasgenre is volgende aan die beurt in die ironiese “South African pastoral”. Buchuland, ‘n peerplaas wat Dicey saam met sy broer bedryf, word gaandeweg ’n mikrokosmos van die breër problemetiek van die land.

Die verhaal is gestruktureer rondom enkele boekhou-inskrywings wat elk ’n nuwe faset belig van die komplekse verweefdheid van boer en werkers, hulle betrokkenheid by mekaar se lotgevalle, vasgevang in ‘n soort patriargale dans.

As byvoorbeeld neem Dicey die besluit om die dopstelsel op wynplase af te skaf, waar werkers op ‘n Vrydag ‘n gedeelte van hulle loon in wyn ontvang het. Reaksie teen dié besluit was snel, maar uit ’n onverwagse oord: die vrouens van die werkers het gevra dat die dopstelsel teruggebring word, want nou drink hulle mans ál die loongeld uit oor die naweek, sodat die kinders nie kos het vir die res van die week nie.

Omdat werkers dikwels oor generasies op ‘n plaas woon, dink hulle aan die plaas as ook húlle s’n, en so kom die emosionele kwessie van grond ook ter sprake. Daar ís oplossings, soms heel  vindingryke oplossings, maar dit vra vir ‘n nuwe perspektief.

“No ship exists” is ‘n distopiese visie op ons moderne beskawing. ‘n Boek deur Derrick Jensen getiteld Endgame, dompel Dicey in 'n soort geloofskrisis. Jensen se boek is gebou rondom twintig leerstellings waarvan die eerste bv. lui: “Civilization is not and can never be sustainable. This is especially true for industrial civilization”. Hy begryp sy aandadigheid as gebruiker, en hoe onversoenbaar die begrippe ekologie en ontwikkeling is.

Op soek na antwoorde pak hy ‘n reis aan na Indië, ‘n reis wat hom nie alleen voer deur ’n vreemde landskap nie, maar ook terug in die tyd deur die landskap van boeke en studies wat sy beeld van die werklikheid help vorm het.

“What goes on inside is just too fast” is ’n teks wat teen ’n dolle vaart ontplooi, ’n teks binne ’n teks, straks ’n binnestebuite glimps in die werking van die skrywer se vry assosiatiewe verbeelding waar hy op verskillende vlakke, tektueel sowel as tipografies, speel met sy eie besinnings in gesprek met tekste van drie baie bedrewe reisskrywers.

Die laaste essay, “D’Arcy and I” is nóg ’n variasie op die tema van identiteit, werklikheid, fiksie. Dit is ‘n vernuftige spel met die leser, ‘n vertelling wat as’t ware uitgedop word op homself. Soos Dicey in die ander essays demonstreer het, is die werklikheid, nes die waarheid, nie eenvoudig nie. En soms vreemder as fiksie.

Die suksesvolle essayskrywer slaag daarin om die leser te betrek deur iets van sy eie persoonlikheid en stem in die vertelling oor te dra. Dicey se styl word gevoed deur sy wye belangstellingsveld, sy oog vir detail, vir ironieë en die absurde, sy onteenseglike taalvermoë, sy ratse intelligensie en sy vermoë om disparate dinge bymekaar te bring op só ’n wyse dat daar nuwe insigte uit na vore kom. Dicey is ewe tuis in die pastorale sowel as die digitale, in die karnavaleske sowel as die pynlik persoonlike.

Sy essays is ’n geleentheid om die vrye spel, die vlugvoetigheid van die skrywer se gedagtewêreld en verbeelding te beleef. Die essays in hierdie boek kon maklik ondraaglik donker gewees het, maar Dicey weet hoe om sy narratiewe met die “brewwe ligmomente” van humor te verlig.

Ek dink nie dit sou verkeerd wees om om Dicey te vergelyk met Hunter S. Thompson nie. Maar met ‘n unieke Afrika kinkel.


(Hierdie resensie het eerste verskyn in Beeld, & word herhaal met vergunning.)

Sunday, March 27, 2016

André Pretorius - Italiaanse intermezzi (2016)



André Pretorius - Italiaanse intermezzi. Naledi, 2016. ISBN 97809238316254. Prys: R225.

Resensie: Johann de Lange

Ek is deur en deur ’n leunstoelreisiger, en vir ’n leunstoelreisiger is ’n reisskrywer die toergids. En van ’n toergids vra ’n mens net één ding: dat hy jou nie verveel of tussen jou en die plekke en dinge wat jy besoek, sal kom nie.

Die verskyning van Italiaanse intermezzi laat my hoop dat daar ’n herlewing mag wees van die reisskets wat so ’n gewilde en geliefde genre was met skrywers soos André Brink, Hennie Aucamp, Elsa Joubert, Uys Krige en Ernst van Heerden, om net ’n paar te noem – ’n genre wat reeds teen die 1980’s aan die uitsterf was.

Aucamp se In lande ver vandaan (2001), sy reisjoernaal deur Tibet en ­Nepal, was ’n welkome herontmoeting.

Maar die verskyning van As almal ver is: Suid-Afrikaners skryf huis toe, saamgestel deur Danie Marais in 2009, het ’n verrassende verskuiwing van perspektief gebring. Pleks van gewone reissketse is As almal ver is ’n versameling stemme van ons eie diaspora, die ekspats wat met nostalgie briewe terugskryf huis toe.

Pretorius is ’n gesoute reisiger. Hy skop af met sy reis hoog op by die stewel se dy, en van daar af sigsag hy al met die kuit langs af tot by die hak.

Italiaanse intermezzi is die produk van talle besoeke aan Italië wat begin het in 1992 as arm student. Hy is ’n fyn waarnemer en wanneer hy oor ’n stad of streek skryf, lig hy dit toe met sy uitgebreide kennis van die filosofie, geskiedenis, kuns, kos, geografie en opera.

Sy interessante aanhalings uit ander tekste verdiep en verryk die leeservaring en wys ook die leser heen na ander boeke wat die lees sal beloon.

Naas Henry James se klassieke Italian Hours, wat leer dat waarneming nooit net beskrywing is nie maar ook insig, is Pretorius ook ’n liefhebber van Peter Blum, en belig soos die vuurhoutjieverkoper die geskiedenis se “brewwe ligmomente” aan die hand van aanhalings uit Blum se verse, en verhelder Blum se verknogtheid aan die Europese, en ook sy ryk belesenheid. Die skets oor Triëst is veral interessant omdat Blum (moedswillig) voorgegee het hy is in Triëst gebore.

Een van my gunstelingreissketse in die boek is dié oor Venesië, ’n stad wat ook vir Blum in sy vers “Stad op die water” laat tob het:

Hoe sal die unieke
eeue-ryke steengeworde droom
beskerm word teen ons uitbundiges,
voortvarendes – teen besoedeling en
stoom?

Hy volg eweneens die roete van die vlugtende jong Uys Krige (beskryf deur Krige self in The Way Out: Italian Intermezzo), en vind nog mense wat Krige met deernis en warmte onthou.

Of hy volg die selfvernietigende vlugtog van die skilder Caravaggio van Milaan na Napels tot by Porto Ercole aan die Toskaanse kus waar hy dood op ’n strand aangetref is. Met biografiese inligting oor Caravaggio so skraps, gaan staan Preto­rius stil by sentrale skilderye van Caravaggio, en kyk diep en aandagtig, want dis in sy werk wat sy eintlike biografie opgeteken staan. Hy haal ook Blum se pragtige vers oor “Die roeping van Mattheus” aan.

Die eerste vereiste vir ’n reisskrywer is dat hy ’n entoesiasme en ’n liefde moet hê vir sy onderwerp en dit kan oordra aan die leser.

Pretorius het nie altyd die vermoë om ’n landskap of karakter in ’n enkele sin raak te vat soos ’n Aucamp of Brink nie, en soms oorwoeker die groot hoeveelheid inligting wat hy byhaal die vloei van die reis en die teks, maar ek vit nou net.

Sy liefde vir Italië is aansteeklik. En reis – behoorlik reis – beteken dat jy óók en verál by sommige plekke of dinge stilstaan en jou daarin verdiep.

Pretorius is ’n reisiger met ’n verfynde sensibiliteit en belesenheid, en is wyd belese binne die reisgenre self.

Die sketse in Italiaanse intermezzi is nie tradisionele reissketse soos ons dit vroeër geken het nie. Hulle is meer: eerder essays as reissketse, en hulle laat jou die wêreld om jou heeltemal vergeet.

Johann de Lange is ’n vertaler, digter en kortverhaalskrywer. Hy is in 2011 met die Hertzogprys vir poësie bekroon.

(Hierdie resensie het eerste verskyn in Rapport, & word herhaal met vergunning.)