Showing posts with label Die Burger. Show all posts
Showing posts with label Die Burger. Show all posts

Sunday, September 18, 2016

Onderhoud. Rudolf Stehle - Die muse plak by digter De Lange – en hy kla glad nie


12 Mei 2014

Johann de Lange beleef ’n baie vrugbare tyd. Stil punt van die aarde, sy derde bundel in net soveel jaar, het onlangs verskyn.

Die bundel is jou derde sedert jy in 2011 die Hertzogprys ontvang het. Het dié prys ’n invloed gehad op hoe gereeld jy sedertdien publiseer?
Nee. Net vóór die bundel waarvoor ek die prys gekry het, Die algebra van nood, het ek om en by 14 jaar lank nie gepubliseer nie. Maar ek het wel aanhou skryf en afrond, en ek het ’n geweldige klomp verse bymekaar gehad. Ek was ook in daardie tyd op soek na ’n styl waarin ek nuwe inhoude kon oordra. So, ná Algebra, nadat ek die prys ontvang het, het ek ’n groot aantal verse oorgehad waaruit ek vir die volgende bundels kon put, maar ek het ook met elke bundel nuwe verse bygeskryf.
Ek moet erken ek beleef ’n vrugbare tyd: die stroom nuwe gedigte het selfs nóú, vier jaar later, nie opgehou nie. Die muse plak by my, maar ek kla nie. 

Is die verse in dié bundel almal nuut geskryf?
Die oorgrote meerderheid van die verse is nuut geskryf, maar daar is ook verse wat van vorige fases dateer, verse wat ek ten tyde van die vorige bundels nie bevredigend kon afwerk nie, of wat nog van kiem af moes ontwikkel. Selfs van die verse wat uit ’n vorige fase dateer word herskryf en aangepas om deel te word van ’n betrokke bundel. 

Waarna kan die “stil punt” in die titel van die bundel verwys?
Daar is verskillende moontlikhede, maar die mees voor die hand liggende betekenis is daardie oomblik van insig, van verheldering. Vir my het die poësie ’n epifaniese aard. Die stil punt is die oomblik wanneer waarneming oorgaan in verheldering, of in ’n wending. Vir my is die poësie ’n ars poetica, en handel alle gedigte uiteindelik oor die skryf van gedigte, oor die aard van taal.

Op die voorblad sit jy jou “vennootskap” met die kunstenaar Judith Mason voort. Waarby vind jy in haar werk aanklank?
Ek het groot bewondering vir haar werk, ’n waardering wat teruggaan na my laerskooljare. Ek het onmiddellik aanklank gevind by haar werk sonder om dit te kon verduidelik of selfs, glo ek, te verstaan. Sy is vir my ’n poet’s painter. Sy dink visueel soos ’n digter. Haar werk is vol transformasie, haar styl is metafories, die ooreenskuif van betekenislae.

Die bundel bevat talle nadigtings. Op grond waarvan besluit jy om ’n ander digter na te dig?
Die meeste toespelings op die werk van ander digters in my werk gebeur onbewustelik. Ek lees geweldig wyd, en daar is ook plaaslike digters wie se werk ek jaarliks herlees. Ek glo daaraan om die tradisie te verstaan waarbinne ek werk en daarbinne voort te dig.
In ander gevalle is die gesprek met digters of gedigte bewustelik, soos byvoorbeeld die werk van N.P. van Wyk Louw en Sheila Cussons. Albei digters vir wie se werk en denkwêreld ek groot affiniteit voel.
Die begeerte om op sommige gedigte te “antwoord” is so oud soos die poësie sélf. Ek is ook lief daarvoor om verse te skryf waarin ek met skilderye, foto’s of beelde in woorde omgaan, eweneens deel van oertradisies. 

Sunday, August 11, 2013

Huldeblyk: Wilma Stockenström 80


Wilma Stockenström, 80 (Foto deur Liesl Jobson)

Wilma Stockenström is vandag 80. Gebore 7 Augustus 1933 op Napier, Wes-Kaap.

As dit nie vir die skerp oog van Dirk Opperman was nie, het die Afrikaanse letterkunde & poësieliefhebbers straks nie die ontplooiing van ‘n merkwaardige stem die afgelope 44 jaar meegemaak nie. Want Wilma Stockenström was in die eerste plek aktrise toe sy in 1970 Vir die bysiende leser by Rijger uitgewers gepubliseer het. Die bundel kon maklik vergete geraak het soos so dikwels gebeur met die publikasies van klein uitgewerye. Dirk Opperman het dit egter onder oë gekry & H&R oorreed om die regte & die voorraad van die bundel oor te neem.

Wat volg, het alle verwagtings oortref. In die daaropvolgende dekades skryf sy agt digbundels, vyf romans & etlike dramatekste (waarvan net een gepubliseer is), & wen elke belangrike literêre prys. Saam met Henriëtte Grove is sy die enigste vroueskrywer wat die Hertzog-prys in twee genres ontvang het, in 1977 vir haar digbundel, Van vergetelheid en van glans& in 1991 vir haar roman, Abjater wat so lag.

Ná die verruklike Van vergetelheid en van glans waarmee sy haar reputasie as digter om mee rekening te hou, gevestig het, publiseer sy Monsterverse in 1984, myns insiens ’n bundel wat saam met N.P. van Wyk Louw se Tristia, en Opperman se Komas uit ’n bamboesstok as een van die grootste digbundels in Afrikaans beskou kan word.

Ek noem Van Wyk Louw spesifiek omdat hy saam met Peter Blum die grootste invloed op die poësie van Stockenström gehad het. By beide is die gedig ingebed in die historiese, & word taal voorop gestel. Waar Louw veelal die Europese geskiedenis gemyn het, het Stockenström haar visier van meet af aan op Afrika gerig & onvergeetlike verse soos “By L’Agulhas ’n wandeling”, “Die skedel lag al huil die gesig”, “Glansspreeubekentenis”, “Die eland”, “Kraak die aardbol langs ’n naat”, & “Die komeet besoek die Kaap van verkragting” geskryf.

So wyd is die worp wat sy met haar verse gooi dat dit haas onmoontlik is om in die bestek van hierdie kort huldeblyk vir die leser ’n kortbegrip van die omvang en diepte van haar oeuvre te gee. 

As prosaskrywer het sy haar merk gemaak met Die kremetartekspedisie, 'n meesterlike teks in poëtiese taal wat deur J.M. Coetzee in Engels vertaal is as Expedition to the baobab tree. Die roman is daarna in etlike ander tale vertaal, onder meer in Nederlands, Frans, Hebreeus, Duits, Italiaans & Sweeds. In 1998 ontvang sy die gesogte Grinzane Cavour Prys vir die Italiaanse vertaling.

Benewens verhoogwerk het sy ook in rolprente vir TV en die groot doek opgetree, onder meer Die besoeker (Athol Fugard se drama oor die lewe van Eugène N. Marais) waarvoor sy Rapport-Oscar ontvang het, Verspeelde lente& Promised Land (2002), gebaseer op die roman van Karel Schoeman.

Hoewel Stockenström van meet af aan gedigte geskryf het wat intens gemoeid is met die voorgeskiedenis & geskiedenis van hierdie kontinent, met sy politiek, mites &  folklore, was haar fokus tegelykertyd áltyd die menslike kondisie. 

In die hande van Stockenström is die mens in sy grootsheid en sotterny uitgebeeld. Enersyds as 'n "behaarde buis glorie en smet", as "opgefokte saad", uitgelewer aan 'n onverskillige kosmos, onmenslik teenoor medemens, vol selfbedrog & hubris, immer in die skadu van die altyd teenwoordige dood. Stockenström het 'n unieke idiosinkratiese siening van die dood: sy is opstandig, spottend, ironies, selde nederig.

Die mens is andersyds ook skepper, voortbringer van beskawings wat opglans & vergaan, wat met taal as medium soos die primitiewe rotskunstenaar in "Die eland" met ’n “klein klein handjie” kan uitreik & merkies kan maak, ín teen die ewigheid, woorde om te sê: Ek was hier. Die mens bewus van sy onvolmaaktheid & sterflikheid, sy onmerkwaardigheid, maar ook van die skoonheid van die skepping, & die wonder van eenmaal te kon gewees het, eenmaal deel te kon gehad het aan die Al.

Pas, na 'n stilte van veertien jaar verskyn daar weer ’n digbundel van Stockenström getiteld Hierdie mens& waar die fokus in haar oeuvre vroeër op die menslike kondisie in die breë geval het, verskuif dit met hierdie bundel na die digter, die spreker van die verse, broos, in ’n immer krimpende wêreld, maar steeds opstandig,  & op die trant van "Die skedel lag al huil die gesig" steeds satiries in die aangesig van die naderende dood: 

Nee, my ou suikerpot, my skuimpie, my Lyle’s Golden Syrup,
die lewe is nie net soet nie, die suur kom etsend by,
die bitter is soos heksverdriet, van lag maak dit broek nat,
want die dood is massavermaak en denke ’n mank stut.
Verwag jy skommelsakke gaan heuningsing in die hemel?
Die nag se hande hang langs sy sye, dooie voëls, en die dag,
nee, dié hardloop weg, huilskreeuend soos ’n hondsdolle.
Helikopters stotter deur die wind se gedrae musiek,
sterf weg soos beletseltekens van klank in lug geskryf.
Halflyf hang die struike oor die mure, o so moeg van leun.
Verstaan jy, marsepein, my stokkielekker, my bokdrolletjie?
Dit is doodgaanseisoen en die swaels sit op weggaan se drade. 


[Hoor hierso, 16]

Dit was & is my voorreg om die afgelope 37 jaar nie net die ontwikkeling van ’n merkwaardige skrywerskap mee te kon maak nie, maar ook om Wilma Stockenström as lojale vriend te kan tel, as diereliefhebber, & veelal as mens met deernis vir die slagoffers van die lewe. 

'n Gelukkige, geseënde tagtigste, Wilma, & (uit pure selfsug) mag daar nog vele meer wees.
Die vrug
Wilma Stockenström 

Onbewus van baan, van wenteling,
swel met die aarde se draai
soetjies en seker die vrug

en hang tussen rypheid en val,
lieflike liggaam van verrotting,
sy ewigheid met vrug voleindigend.
Skakels
Mens se grootsheid, sotterny uitgebeeld (Die Burger)
Al 43 jaar ’n merkwaardige skrywerstem (Beeld)
Wilma Stockenström - Poetry International
Wilhelmina Johanna (Wilma) Stockenström, SA author, poet and actress is born | South African History
Sanlam ATKV LitNet Afrikaanse Album. Wilma Stockenström (1933 - )
Wilma Stockenström - Wikipedia (Ndl)
NB Publishers | Our Authors | Wilma Stockenström


Dawid Minnaar lees voor uit Wilma Stockenstrom se 
"Skoelapperheuwel, skoelappervrou" (YouTube)

Poësie

1970: Vir die bysiende leser
1973: Spieël van water
1976: Van vergetelheid en van glans
1984: Monsterverse
1988: Die heengaanrefrein
1994: Aan die Kaap geskryf
1999: Spesmase
2007: Stomme aarde: 'n keur
2007: The wisdom of water (Engelse vertalings deur Johann de Lange)
2013: Hierdie mens

Prosa

1976: Uitdraai
1979: Eers Linkie dan Johanna
1981: Die kremetartekspedisie
1987: Kaapse rekwisiete
1991: Abjater wat so lag

Drama

1971: Dawid die dik dom kat: ’n kindertoneelstuk (versprei deur Dalro, c.1971)
1971: Trippens se patatta (versprei deur Dalro, c.1971)
1978: Laaste middagmaal (geskryf in 1966, gepubliseer in 1978)

Toekennings

1977: die Hertzog Prys vir Poësie vir Van vergetelheid en van glans
1984: die CNA, Louis Luyt en die Ou Mutual Pryse vir Monsterverse
1988: die Grinzanc Cavour Prys vir Spedizione al Baobab (Italiaanse weergawe van Die kremetartekspedisie)
1991: die WA Hofmeyr en Hertzog Pryse vir Abjater wat so lag
2007: Afrikaans Onbeperk prys vir Lewensbydrae tot Afrikaans



(c) Johann de Lange