Showing posts with label Gerrit Brand. Show all posts
Showing posts with label Gerrit Brand. Show all posts

Thursday, March 3, 2011

Die Groot Sáámraping - Dag 4


Ten spyte van die protes uit alle oorde het dit vandag, met nog een dag oor voor die sluitingsdatum van aansoeke vir die pos van Über-redakteur, duidelik ingesink dat Media24 nie van besluit gaan verander nie. Ek dink trouens met die aankondiging van hulle planne was dit eintlik al 'n fait accompli. Hierdie skuif is nie 'n dag oud nie.

Ek wil saam met Breyten beklemtoon dat ons in ons soeke na ‘n oplossing nie die oorspronklike woede moet verloor nie, of die teiken waarteen dit gerig is nie. Die hovaardige & dikwels minagtende houding jeens Afrikaanse skrywers is iets wat nie net gedwee aanvaar behoort te word nie. Skrywers is die brood & botter van die bedryf, & verdien beter van dié wat geld & mag uit hulle handearbeid verkry het.

Daarom, hoe radikaal dit ook al met die eerste oogopslag klink, dink ek Gerrit se oproep tot ‘n resensie-boikot verdien besinning. Dis nie asof enige resensent (altans nie dié wat ek ken) ‘n bestaan daaruit maak of daarvan ryk word nie. Dis sakgeld, of betaal vir ‘n ekstra ietsie hier & daar. Die fooie is pateties, & báie resensente doen dit uiteindelik vir ‘n goeie saak.

Wel, die bestuurders van daardie Goeie Saak het nou vir skrywers & resensente die middelvinger gegee. Moenie daardie Vinger uit die oog verloor nie. Dit is dieselfde Vinger, of dan ‘n reïnkarnasie daarvan, wat ons in die ou dae van P.W. Botha gekry het.

Wat anders is dit as die gedrag van 'n bedryf in krisis. Kopergetalle neem af, ten spyte van die vervlakking & opdis van sensasionele snert. Hulle weet hulle dae is getel & hulle is besig om die skip te verlaat. Dit is belangrik dat ons vollédig, & so gou doenlik heeltemal na die elektroniese media beweeg. Báie van ons lesers is reeds daar. Knip daardie naelstring. Media24 is in elk geval besig om dit vír ons te doen.


Ns.

Wanneer ek kyk deur die name wat betrokke is by hierdie debat dan is daar 'n klompie name wat ek mis. Kan ons aanneem dat die aansoeke vir die pos van Über-redakteur uit hierdie groepie kom?


Sien ook:
Louis Esterhuizen - Dag 4: Hoe nou verder? [Versindaba]
Andries Visagie - ’n Veelheid van stemme is nodig [Litnet]
Johan Swarts - Boeke-besluit is geen katastrofe[Litnet]
Johan Swarts - Dood van die griffelaars (gedagtes oor die amalgamasie van Afrikaanse boekeblaaie)

Sunday, February 27, 2011

Die Groot Sáámraping

Breyten Breytenbach by die bekendstelling 
van die beginsel van stof  [Foto: Stefan Möhl]

Media24 se aankondiging van hulle voorneme om 'n enkele boekeredakteur aan te stel (verkieslik uit eie geledere) wat in beheer sal wees van die boekeblaaie van Die Burger, Beeld, Volksblad, & By, het groot ontevredenheid in skrywersgeledere veroorsaak.

Dit is eintlik maar deel van die groter inflasie wat op die oomblik binne die Afrikaanse letterkunde & leefwêreld aan die gang is. Wanneer dit kom by oorhaastige besluite ten opsigte van boekeblaaie & literêre tydskrifte, kan hierdie tendens so ver terug gevoer word as die ontydige & onnodige keelafsny van Standpunte, die toemaak van Boeke-Insig & meer onlangs die besuiniging by Rapport toe die posisie van boekeredakteur effektief gevries is. Die boekeblad word sedertdien deur 'n personeellid, Anastasia de Vries, behartig.

Ek kry vanoggend per e-pos 'n skrywe van Breyten Breytenbach waar hy hom uitlaat teen die voorgenome besluit van Media24, & vra dat skrywers, lesers & belangstellendes wat die gevare van só 'n besluit insien, hulle stemme moet dik maak & 'n petisie onderteken:

Kollega’s, mede-skrywers (mede-sterwendes), uitgewers en ingewers, resensente, boekmense,

Soos julle weet adverteer Media24 tans die pos van Nasionale Boekeredakteur oorkoepelend vir Die Burger, Beeld, Volksblad, By met “voorkeur aan kandidate uit die aangewese groepe”, wat dit ook mag beteken. Die bedoeling is om een persoon te hê wat dan die kitaar gaan slaan vir al die boekeblaaie. Die rede vir die sentralisering en afskaling is seker ekonomies, maar ek dink dis ’n dom rede. Lees asseblief die aangehegte protesskrif (sien heel onder - JdL) en kyk of julle daarmee saamstem. Indien wel, onderteken dit en laat ons dit dan aanstuur vir die Afrikaanse koerante so spoedig moontlik. (“Dis beter om die yster te slaan vir alarm voordat dit gebruik word om jou mee te dônner” – Kongfoe.)
[. . .]
Mens het begrip vir diegene wat vir Media24 werk en voel julle wil liewer nie op dié manier stem maak nie. Maar alhoewel dit nie so belangrik is as die aangekondigde wegraping nie is dit nogtans ’n ontstellende ‘hoër saak’. Miskien kan julle dan dink aan ander maniere om julle besware te lug?

Ek het ’n mankolieke adreslys en hierdie is nie Tunisië nie. Miskien kan julle vanaf julle webwerwe en duine die protes ook onder ander se aandag bring om dit so verteenwoordigend moontlik te maak.

Met groete,
Breyten Breytenbach

As jy saam met ander eendersdenkendes wil beswaar aanteken, sny-&-plak gewoon die onderstaande protesskrif en stuur dit na aansoeke@rapport.co.za vóór 4 Maart 2011. Litnet sluit aan by die protesveldtog in die vorm van 'n mini-seminaar. Die ideale geleentheid om ook jou eie opinie te laat hoor.


Protesskrif

As mense betrokke by die skryfwêreld wil ons ten sterkste beswaar maak teen die inisiatief van Media24 om die regulering van resensies in die Afrikaanse koerante toe te vertrou aan ’n enkele Nasionale Boekeredakteur. Vir die literatuur is ’n neiging na hegemonie of ortodoksie in meningvorming altyd ’n verstarring. Op ’n tydstip waar daar juis behoefte is aan die verryking van die literêre wêreld en die bevordering van diversiteit in opinies en uitdrukkingsvorme, sal dit ’n kwade dag wees wanneer die koördinering van mening en mag in die hande gegee word van één über literêre redakteur of raadgewer.

Litnet
Breyten Breytenbach - Die dwaasheid van die base
Charl-Pierre Naudé - Waarom een boekeredakteur verkeerd is
Joan Hambidge - Boekskandaal
Gerrit Brand - 'n Doelbewuste strategie van “afdomming”
Tim du Plessis - ’n Verruiming eerder as verskraling
Charles Malan - ’n Superredakteur vir superbesluite by Media24?
Kerneels Breytenbach - Diversiteit van resensies is van allergrootste belang
Marga Collings - Resensies in die dagblaaie is ’n voedingsaar tot die diskoers
Eloise Wessels, Charles Malan, Gerrit Brand - Verruiming of verskraling?


Versindaba
Nee vir ‘n Nasionale Boekeredakteur


Sien ook:
Die Heupvuur-debat rondom Crito & resensies op Litnet.
Plan om één boekeredakteur aan te stel gekritiseerProtes teen aanstelling van een Nasionale Boekredakteur vir Media24-publikasies

Chris Thurman - Crrritics and writers - the latest instalment
Irma du Plessis - Die verlies van ontdek wie ons nog kan word