Thursday, September 30, 2010

Die Bibliofiele Stockenström

Wilma Stockenström (Foto deur Liesl Jobson)


I

Onlangs was Wilma Stockenström in die nuus met die ontdekking van Skoelapperheuwel, skoelappervrou, ’n verlore gewaande gedig waarin sy met haar gebruiklike ironiese stans na die kreatiewe proses kyk.

Wilma Stockenström, Skoelapperheuwel, skoelappervrou

In die laat 80-erjare het Wilma Stockenström in opdrag van Casper Schmidt ’n gedig geskryf wat deur Judith Mason geïllustreer sou word & in ’n beperkte oplaag sou verskyn. Die boek is gedruk deur die eertydse Broederstroom Press, maar voordat dit gebind kon word, het die hele oplaag in 1988 soek geraak.

Nou, 22 jaar later, is die binnewerk van Skoelapperheuwel, skoelappervrou teruggevind in die kelder van ’n boekbinder in Johannesburg. ’n Weldoener het geld bewillig vir die bind van 30 genommerde eksemplare van dié kunsboek & kunstenaar Judith Mason het onderneem om enige ekstra eksemplare wat dalk mag opduik te vernietig & sodoende die boek se versamelaarswaarde te beskerm. Sy het ook elk van die 30 eksemplare aangevul met ’n unieke stel tekeninge, iets wat die boek nóg aantrekliker sal maak vir aanhangers van haar werk.

Elke boek het ’n verwysing na ’n spesifieke Suid-Afrikaanse skoenlapper, & is in sigself ’n kunsobjek. Dit is met ’n litografiese etsdrukker op 250g Rives BFK papier gedruk, met die hand ingenaai, in natuurlike linne gebind, & van in ’n slippekas voorsien. Die teks self is geset in Visigoth, ’n font wat spesiaal vir die boek ontwerp is in New York deur Arthur Baker in 1988.

Die boek is op Saterdag 4 September 2010 bekend gestel in die AOP Gallery in Johannesburg, waar Dawid Minnaar die gedig ook ’n eerste openbare voorlesing gegee het.

[Casper Schmidt het ’n Engelse vertaling van die gedig gemaak in samewerking met Malcolm Hacksley wat nie deel uitmaak van die huidige uitgawe nie.]


II

Casper was in daardie alreeds besig met 'n Dante Bestiarium, eweneens saam met die kunstenaar Judith Mason. Vir dié boek, wat op handgeskepte papier gedruk & in kalfsleer gebind sou word (as ek nou reg onthou), het Casper ook 'n spesiale font in New York laat ontwerp, iets wat klop met die Visigoth font wat hy gebruik het in Skoelapperheuwel, skoelappervrou. Dit is nie ’n besonder leesbare font nie, maar gee die werk ’n sekere gravitas.

Visigoth

Casper was perfeksionisties & daarom nie maklik om mee saam te werk nie. Hy het ’n visie gehad van hoe beide hierdie boeke moes lyk, & niks sou hom daarvan wegstuur nie. Ek is nie seker wat verkeerd geloop het nie, maar die Dante Bestiarium het nooit verskyn nie & in vergetelheid geraak. Ná sy dood het die boek weer by my opgekom. Ek het destyds ’n eksemplaar daarvan by Judith Mason aan huis in Broederstroom gesien, & geweet dat dit wel in die een of ander vorm moet bestaan.

Dit was sy broer, Wilhelm, wat uiteindelik die binnewerk opgespoor het & 'n klompie kopieë is indertyd gebind & verkoop teen 'n uiters billike prys. Ek glo kopers van daardie boek besit nou iets wat maklik tienvoud in waarde toegeneem het.Daar was ook los velle uit die boek te koop & ek besit ’n paar daarvan. Mason se diere was nog altyd vir my besonders.


III

In Oktober 2002 verskyn ’n bibliofiele uitgawe van drie gedigte deur Wilma Stockenström by In de Bonnefant • Banholt. Uitgewer Hans van Eijk publiseer dié gedigte onder die titel Beenwit in ’n oplaag van 99 genommerde eksemplare op handgeskepte papier.

Aangesien dié gedigte andersins moeilik agterhaalbaar is, druk ek hulle hier onder af vir liefhebbers van Wilma Stockenström se werk:

Somer

Tot rypheit gestowe in vyegeur die somer,
nou streel reën onverwags die ruite
en ’n erdwurm spoel met die slootjie af.

’n Bergie, vlammend van die soetes, hurk
oor sy gedagtes. Se poes, sê hy, vir die vaal
mis van ’n middag, opsommenderwys.

Wat van môre as die berg groen bloos?
Die bergie vee sy mond aan sy mou af.
Bruinwarm die voggies. Beenwit die einde.


Wit towery


Rus op my, skemering. Geur my drome
wit met lente. O, jy kan my met ’n wip
vang so laat jy hierdie aand glimlag.
Stippel nou met bleshoenders vergulde panne.

Gans te ver om iets te beteken hang
soos wit spinnekoppe die sterrestelsels,
maar ek wag nog dat ’n blom van ’n rank
wegfladder en mot, swaar en wit, word.


Sê ek


Waarin hang die heelal?
A, in soetdoringgeur.
En waarin hang die geur?

In homself. Die heelal, h’m?
Die heelal, sê ek, is ’n spikkel
donkerte met korreltjies lig

en alles ruik na soetdoring
nareëns langs Karooriviere.
Daar kom jy dit agter, sê ek.

Thursday, September 23, 2010

Abraham Sutzkever, 'Ariel van die ghetto'

Abraham Sutzkever

Die Jiddisje digter Abraham Sutzkever is gebore in Smorgon, Litaue, ’n klein industriële stad suidoos van Vilna op 15 Julie 1913 & word allerweë beskou as een van die grootste Holocaust digters. Abraham was twee jaar oud toe hy saam met sy gesin & die res van die Jode in Smorgon 24 uur kennis gegee word om die stad te verlaat voordat dit tot op die grond afgebrand is.

Die gesin vlug na Omsk, Siberië, waar hulle vertoef tot sy pa se dood aan hartversaking. Die jong Abraham was sewe jaar oud. Die koue ongenaakbare landskap is een waarna hy dikwels sal terugkeer in sy poësie.

Aan die einde van die Russiese burgeroorlog keer Sutzkever se ma, Reine, met die drie kinders terug na Litaue waar hulle hulle in Vilna vestig, ’n stad wat sedert die Veertiende Eeu ’n toevlug vir migrerende Jode & ’n sentrum vir Joodse & Jiddisje taal- & kultuurstudie is. Die Joodse populasie was 60 000, met ’n verdere 20 000 vlugtelinge uit Pole. In Vilna woon Abraham Herzliah by, ’n tradisionele laerskool waar hy in die Judaïsme onderrig word, & ook die Poolse digkuns bestudeer.

Sutzkever dig reeds van so vroeg as ouderdom dertien in Hebreeus. Later, onder die invloed van die linguis Max Weinreich, begin hy in Jiddisj skryf. Hy publiseer sy eerste gedig in Bin, lyfblad van die jong Joodse Verkenners. Die jong verkenners lê hulle toe op die beskerming van die sekulêre Jiddisje kultuur. ’n Noue vriendskap met Miki Chernikhov stel die jong Abraham bekend aan die werk van die Russiese simboliste & aan skrywers soos Edgar Allen Poe & die Poolse Romantiese digter Cyprian Norwid. Sy ontdekking van poësie & ’n eie stem lei tot intense ervarings soos dié waaroor hy onder meer in sy Ecstasies siklus skryf:

When with eyes shut
I wrote a poem, suddenly
My hand got burned,
And when I started
From that black fire,
The paper breathed
A name like a lily: God.
But my pen, in awe and wonder,
Crossed out the word
And wrote instead
A more familiar word: Man.

Since then, a voice unheard
Haunts me like an unseen bird
That pecks, pecks at my soul's door:
 – Is that what you traded me for?

In 1933 sluit hy aan by die modernistiese Yung Vilne groep (Jong Vilna) met lede soos Joseph Opatoshu, Shmerke Katcherginsky, die skilder Ben-Zion Michtom, Y. Opatoshu, Chiam Grade, Elchonon Vogler, Moshe Levin, Peretz Mirasky, Shimshon Kaban, & Leyzer Volf. Later daardie jaar trek hy na Warskou. Sy eerste bundel Jiddisje gedigte, Lider (Liedere), word in 1937 deur die Jiddisje PEN Vereniging gepubliseer. Dit word in 1940 opgevolg met Valdiks (Van die woud) wat in Litaue verskyn.

Hy trou met Freydke in 1939, ’n dag voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. In September word Pole tussen Duitsland & die Sowjet Unie verdeel. Die Russiese soldate arresteer Joodse leiers & oorhandig Vilna aan die onafhanklike Litaue wat dit herdoop na Vilnius.

Met die Duitse okkupasie op 22 Junie 1941 word 100 000 Jode terstond onteien & die oorblywende 20 000 in die beknopte Vilna ghetto gestop, onder hulle Sutzkever & sy vrou Freydke. Die ghetto strek oor net sewe strate & die lewensomstandighede is haglik. Vir ’n tyd lank skuil Sutzkever in die plafon van sy ma Snipishok se huis. Toe sy vrou hoor dat daar na hom gesoek word & hom gaan haal, vind sy dat hy beswaarlik kan loop. Maar Sutzkever se veggees was onblusbaar & hy sluit kort daarna by die Joodse werkersbrigade aan.

Op 5 September 1941 word hy & twee ander deur die Litauers in hegtenis geneem & gedwing om hulle eie grafte te grawe. Maar in plaas van hulle doodskiet, het hulle landgenote net bokant hulle koppe gemik & agterna gehelp om hulle te versteek. Kort hierna los hy sy ma in ’n wegkruipplek toe hy na ’n ander ghetto moes vlug. Met sy terugkeer was sy weg. Freydke het ook intussen geboorte geskenk in die ghetto hospitaal, ’n daad wat verbode was. Die Duitsers, vind Sutzkever uit, het die baba vergiftig.

Hy sluit aan by ’n groep intellektuele wat elke dag buite die ghetto by die YIVO gebou werk. Sutzkever word deur die Duitsers aangestel om die boeke oor Joodse letterkunde & geskiedenis waarop die Duitsers beslag gelê het, te katalogiseer & die kosbaarstes te verskeep na Frankfurt vir tentoonstelling in ’n beplande Instituut vir die Studie van die Joodse Vraagstuk. Onder die dekmantel van hulle dwangarbeid smokkel Sutzkever & sy vriende wapens & honderde van hierdie boeke die ghetto in waar hulle dit op verskeie plekke begrawe. Onder hierdie skatte was items soos ’n dagboek deur Theodor Herzl & tekeninge van Marc Chagall.

In die ghetto, te midde van gevaar, ontbering & tragedie skryf hy perfekte verse oor noue ontkomings, die moord van sy ma & pasgebore seun, die weerstandsbeweging, gebeure & onvergeetlike karakters wat hy in die ghetto meemaak. Kenneth Libo & Michael Skakun skryf in hulle huldeblyk: “In the midst of tragedy, he continued to write poems of classical meter and perfect rhyme, hurling their beauty against the unspeakable barbarity of the Nazis.”

Tydens hierdie smokkeltogte bekom Sutzkever ’n masjiengeweer. Toe die ghetto opstand ’n aanvang neem, verlaat hy & Freydke & sy vriend Shmerke Katcherginsky die ghetto & sluit aan by die guerrillavegters wat aanvalle loods vanuit die omringende woude. Sutzkever & Katcherginsky word aangestel om die brigade se geskiedenis neer te skryf.


Robyn Stoller Awend (Bullets-Installation)

Vilna se ROM drukpers is beroemd vanweë sy klassieke uitgawes van onder meer die Babiloniese Talmud wat wêreldwyd onder die Joodse diaspora versprei is. In wat ’n perfekte metafoor is vir die relasie tussen poësie & die stryd word die lood van die ROM drukpers deur die rebelle gesmelt om koeëls te maak. Alhoewel dit nie werklik gebeur het nie, skryf Sutzkever ’n onvergeetlike gedig daaroor.

The Lead Plates of the Rom Printers

Like fingers stretched out through the bars in the night
To catch the free light of the air that is shed –
We sneak in the dark to grab up, as in spite,
The Rom printing plates, with old wisdom inbred.
We dreamers now have to be soldiers and fight
And melt into bullets the soul of the lead.

And now, once again we broke open the seal
Of a strangely familiar, a timeless dark cave.
And armored in shadows, with candles concealed,
We poured out the letters – in lead lines engraved.
Thus did, in the Temple, our forefathers wield
The golden menorahs, poured in oil that was saved.

Liquid lead brightly shining in bullets so fine,
Ancient thoughts – in the letters that melted hot.
A line from Babylonia, from Poland a line,
Boiled, flooded together, in the foundry pot.
Jewish valor, hidden in word and in sign,
Must now explode the whole world with a shot!

And he who saw Jewish youth in their prime
Clutching the weapons in ghetto halls –
He saw the last struggle of Yerushalayim,
he heroic fall of those granite walls;
Took in the words, poured in lead, out of time,
And heard in his heart: their ancient voice calls.

Vilna Ghetto, September 12, 1943
Translated from the Yiddish by Barbara & Benjamin Harshav

Dit roep onmiddellik ’n ánder vers by my op, een van ’n digter wat eweneens uit ’n stormagtige geskiedenis sy inspirasie put. Ek verwys natuurlik na die Ierse digter Ciarán Carson se vers “Belfast confetti”.

 Ciarán Carson tuis in Belfast

Belfast Confetti

Suddenly as the riot squad moved in, it was raining exclamation marks,
Nuts, bolts, nails, car keys. A fount of broken type.
And the explosion
Itself – an asterisk on the map. This hyphenated line, a burst of rapid fire ...
I was trying to complete a sentence in my head, but it kept stuttering,
All the alleyways and side-streets blocked with stops and colons.

I know this labyrinth so well – Balaclava, Raglan, Inkerman, Odessa Street –
Why can't I escape? Every move is punctuated.
Crimea Street. Dead end again.
A Saracen, Kremlin-2 mesh. Makrolon face-shields.
Walkie-talkies. What is
My name? Where am I coming from? Where am I
going? A fusillade of question-marks.

Sutzkever se lang gedig oor sy vermoorde eersteling, “Dos keyver-kind” (Die bestorwe kind) word bekroon met ’n literêre prys van die Ghetto Skrywersunie in 1942, & sy gedig “Unter dayne vayse shtern” (Onder die blankheid van jou sterre) word getoonset deur Avreml Brudno, ’n bekende musikant & komponis in die Vilna ghetto.

In Moskou skryf hy ’n prosaverslag van sy ervarings in die Vilna ghetto (Fun vilner geto) & die grootste gedeelte van Geheymshtot (Geheime stad), ’n epiese gedig oor die stryd van 10 Jode om in die rioolpype van Vilna te oorleef. Sy vroeë konfrontasie met ontworteling & onteiening lei tot ’n intense verbintenis met die natuur. Een van die boeke wat regstreeks uit hierdie verbintenis ontstaan het, is Siberia met tekeninge van Marc Chagall.


Abraham Sutzkever & Shmerke Kaczerginski

Hy & sy vrou ontsnap na die Naroch woud op 12 September 1943 saam met 'n eenheid van die Verenigde Patriotvereniging. Daar veg hy saam met mede-digter Shmerke Kaczerginsky teen die besettingstroepe. Wanneer ’n guerrilla-koerier ’n notaboek met gedigte van Sutzkever uitsmokkel, is die waardering vir sy poësie so groot onder die geledere van die Joodse Anti-Fascistiese Beweging dat die Russiese skrywer Ilya Ehrenburg in die winter van 1943 ’n ligte vliegtuig stuur na ’n klein vliegveld naby die Naroch woud om Sutzkever & sy vrou te bevry:

When they finally reached the other partisan brigade, a small plane landed on the ice-covered lake. Sutzkever sat in its opening, with Freydke tied to his knees, and two more partisans were stuck in the rear. The plane veered though the heavy fire of the German front, diving suddenly, and eventually emerging on the Soviet side.

In Moskou word hy as lewende getuie van die verwoesting van die Poolse Jode ook simbool van die Joodse opstand teen Fascisme. Onder sy ghetto-verse is onvergeetlike gedigte soos “Teacher Mira” & “On the Death of Yankev Gershteyn”, of “Under Your White Stars” wat getoonset is & ’n soort ghetto-himne geword het.

Under Your White Stars

Under Your white stars
Stretch to me Your white hand.
My words are tears,
Wanting to rest in Your hand.

See, they twinkle very darkly
In my cellar-beaten view;
And I have no place
How to send them back to You.

And I will, dear God,
Confide in you these of mine
While in me a fire grows
And on fire are my days.

But in cellars and holes
Cries the murderous quiet
I fly higher, over rooftops
And I search: Where are You? Where?

Something strange hunts me
Stairs and courtyards are on chase
I hang as a broken bow-string
And I sing to You this way:

Under Your white stars
Stretch to me Your white hand.
My words are tears,
Wanting to rest in Your hand.

(Uit: Avraham Sutskever & Avrom Brudno, Songs Never Silenced, deur Velvel Pasternak. Vertaling op DigiTrad).

Hy bevriend lede van die Sowjet Jiddisje intelligentia & lewer in Februarie 1946 tydens die Nuremburgverhoor getuienis vir baie van die Russiese Jode, onder meer ook teen Franz Murer, die moordenaar van sy ma & babaseun.

Na die geboorte van ’n dogter, Rina, verhuis die Sutzkevers na Pole. Na ’n kort verblyf in Pole & Parys emigreer hy na Palestina waar hy hom in 1947 in Tel Aviv vestig. Daar stig hy die literêre kwartaalblad Di goldene keyt (Die Goue Ketting). Hy is redakteur van die blad tot & met die sluiting daarvan in 1995.

In die 1970s skryf Sutzkever die reeks Lider fun togbukh (Verse uit ’n dagboek, 1974-1981), wat allerweë as sy grootste werk beskou word. Met sy ineenweef van filosofiese besinning, outobiografie & skerp waarneming word dit ’n moderne psalmboek. Ruth R. Wisse skryf daaroor:

Through formal elegance and masterful rhyming, it conveys his image of an organic universe that reintegrates what history has torn apart, including those murdered in Europe from those who carry their memory.

Sutzkever se naoorlogse poësie is verantwoordelik vir ’n oplewing van Jiddisje skryfwerk in Israel & elders. Benjamin Harshav begin sy Introduction to Sutzkever: Life and Poetry met ’n uitstekende kensketing van Sutzkever se posisie as een van die belangrikste digters van die Twintigste Eeu:

I do not say this lightly. He is not a philosophical poet; there was no sophisticated philosophy in Jewish culture. Nor is he a descriptive poet; the language of Modernism was opposed to description, and the fictional worlds of Sutzkever's poetry are presented through evocation and allusion rather than direct statement. But the language of his poetry—the profound sound orchestration and the metaphorical and mythopoeic imagery—is as dense, unmediated, and suggestive as that in the poetry of Mandelstam or Rilke. And his responses to historical reality are as sharp as any in the verse of Brecht. The paradoxical amalgam of these two extremes of twentieth-century poetry—self-focused poetic language and ideological engagement—is successful in Sutzkever's work because both are presented through the events of the poet's own biography.

’n Besoek aan Suid-Afrika dien as inspirasie vir die poëtiese siklus Helfandn bay nakht (Olifante in die nag; 1955), ’n werk waarin hy beelde uit Afrika kombineer met Europese temas.

In sy vroegste werke reeds transformeer Sutzkever sy jeug as boustof & mite, & ontdek hy sy affiniteit vir die kreatiwiteit van die natuur. Die sentrale tema wat deur die meeste van sy werk loop, is die potensiaal vir hergeboorte wat skuilgaan in verwoeste landskappe & gemeenskappe, & sy geloof dat die slagoffers van die ghetto voortleef in die herinnerings van die oorlewendes. Vanweë sy fokus op die estetiese het Sutzkever dikwels kritiek van sy tydgenote ontlok. Ruth R. Wisse skryf:

Though he was mistrusted by local critics before the war because he seemed not to write with a sense of social urgency, Sutzkever’s insistence on the immutable power of poetry proved invaluable in the ghetto as a means of expressing the transcendent essence of temporal events.

’n Siening waarby Sutzkever aansluit in ’n onderhoud met die New York Times in 1985:

If I didn't write, I wouldn't live. When I was in the Vilna ghetto, I believed, as an observant Jew believes in the Messiah, that as long as I was writing, was able to be a poet, I would have a weapon against death.

In ’n resensie van David G. Roskies se studie Responses to Catastrophe in Modern Jewish Culture skryf Arthur A. Cohen:

As Mr. Roskies's account reaches the Second World War, the literature becomes more painful, the poetry more desperate, the imagery almost scatologically brutal. Jewish poets have spoken about the Holocaust much more effectively than the novelists. In the case of Abraham Sutzkever (born 1913), the greatest poet of the Holocaust, who was also a leader of the Vilna ghetto and a partisan fighter, the achievement proves to be stunning, almost unbearable. ... It would have been enough, he tells us, had Sutzkever been only ‘a symbol of hope and creative power for the powerless Jews of the ghetto,’ but he was much more. As ‘the foremost among Jewish poets’ Sutzkever ‘made the memory of the dead the nexus of his artistic expression.’ In his major prose poem, ‘Green Aquarium,’ Sutzkever accomplishes the transcendence of the dead by proposing the victory of poetry over death, art over destruction, neo-classical form over chaos, and the beauty of what remains in the universe after barbarism has done its terrible work.

Sy verse registreer die trajek van verwoesting na vernuwing gevoelig & woordvas. Mededigter Jacob Glatstein som die mag van Sutzkever se oorlogspoësie as volg op: “A sadistic impulse of fate had ordered the slave of perfection to give form to the bloodiest chaos of all times” (In tokh genumen; 1947).

In 1985 ontvang Sutzkever die Israel Prys vir Jiddisje letterkunde. Sy gedigte is in meer as 30 tale wêreldwyd vertaal, onder meer in Hebreeus deur Nathan Alterman, Avraham Shlonsky & Leah Goldberg, & in Russies deur Boris Pasternak in die 1930s.

Ruth R. Wisse skryf aan die einde van haar resensie van Sutzkever se The Fiddle Rose:

Perhaps more than any other modern Jewish writer, Sutzkever has lived the life of the romantic poet-hero. He was at the center of the Jewish national tragedy in Europe, and in Israel on the eve of Jewish national rebirth. He took great risks in rescuing Jewish cultural treasures from Vilna and was the witness for Jewry at the Nuremberg trials of Nazi war criminals. But he accords the highest value to poetry in the way that the psalmist serves God through song. Without direct use of religious language, his poetry translates the inherited faith of his ancestors into the personal perception of the extraordinary in the ordinary.

Sutzkever het twee dogters, Mira & Rina. Hy sterf op 20 January 2010 in Tel Aviv op die ouderdom van 96.

Digbundels
Lider (Varshe: Bibliotek fun Yidishn pen-klub, 1937)
Valdiks (Vilne: Aroysgegebn fun Yidishen literatn-fareyn un pen-klub, 1940)
Di festung: Lider un poemes (New York: Ikuf, 1945)
Lider fun geto (New York: Ikuf farlag, 1946)
Fun Vilner gheto (Moscow: Melukhefaralg "Der emes", 1946)
Geheymshtot (1948)
Sibir: Po'emah (Jerushalayim: Bosd Byalik, 1952)
Oazis (Tel-Aiviv: Farlag Y. L. Perets, 1960)
'Ir ha-setarim: po'emah (Tel Aviv: 'Am 'oved, 1963)
Poetishe verk (Tel-Aviv: Yoyvl komitet, 1963)
Lider fun yam ha-moves: Fun Vilner Geto, vald,un vander (Tel-Aviv: Farlag Bergen-Belzen, 1968
Firkantike oysyes un moyfsim: Lider un poems, 1964-1967 (Tel-Aviv: Di Goldene Keyt, 1968)
Lider fun togbukh (Tel-Aviv: Farlag di Goldene keyt, 1986)
Tsaytike penemer (Tel-Aviv: Y. L. Perets, 1970)

Vertalings in Engels
Siberia: A Poem (London: Abelard-Schuman, 1961)
Burnt Pears: Ghetto Poems of Abraham Stuzkever, trans. by Seymour Mayne (Ontario: Mosaic Press, 1981)
The Fiddle Rose: Poems 1970-1972, trans. by Ruth Whitman (Detroit: Wayne State University Press, 1990)
A. Sutzkever: Selected Poetry and Prose, trans. by Barbara and Benjamin Harshav (Berkeley: University of California Press, 1991)
Laughter Beneath the Forest: Poems from Old and Recent Manuscripts by Abraham Sutzkever, trans.by Barnett Zumoff (Hoboken, New Jersey: KTAV Publishing, 1996)
Beneath the Trees: Poems (Millwood, New York, 2003)
From Elephants by Night: Poems of Africa (Millwood, New York: Haybarn Press, 2005)

Bronnelys
Arthur A. Cohen. ‘God the implausible kinsman’. New York Times. 17Junie 1984
Beskikbaar by: http://www.nytimes.com/1984/06/17/books/god-the-implausible-kinsman.html?pagewanted=all

Kenneth Libo & Michael Skakun. 2010. “Abraham Sutzkever at 90: Yiddish Poet Extraordinaire”. Center for Jewish History. 21 September 2010
Beskikbaar by: http://www.cjh.org/about/Forward/view_Forward.cfm?Forwardid=15

Douglas Messerli. Abraham Sutzkever. 2010. The PIP (Project for Innovative Poetry) Blog. 10 Mei 2010-09-23B
Beskikbaar by: http://pippoetry.blogspot.com/2010/05/abraham-sutzkever-lithuaniaisrael-1913.html

Abraham Sutzkever (Wikipedia, the free encyclopedia). 1 June 2010 at 11:03
Beskikbaar by: http://en.wikipedia.org/wiki/Abraham_Sutzkever

Ruth R. Wisse. 2010. Sutzkever, Avrom. The YIVO Encyclopedia of Jews in Eastern Europe. 21 September 2010
Beskikbaar by: http://www.yivoencyclopedia.org/article.aspx/Sutzkever_Avrom

Ruth R. Wisse. “The Fiddle Rose by Abraham Sutzkever”. Yiddish Book Center. 8 Desember 2009
Beskikbaar by: http://www.yiddishbookcenter.org/node/262

The Mudcat Café. “Unter dayn vayse shter'n”.
Beskikbaar by: http://mudcat.org/@displaysong.cfm?SongID=7507

Sunday, September 19, 2010

Protea-prys na Breyten Breytenbach


Breyten Breytenbach (Foto: Keke Keukelaar)

Die Proteaprys vir Poësie is op Saterdagaand, 18 September aan Breyten Breytenbach oorhandig tydens die Woordfees op Stellenbosch, dié keer vir sy digbundel oorblyfsel / voice over. Dit is die tweede keer dat Breytenbach hierdie toekenning ontvang. Die vorige keer was in 2008 vir sy digbundel die windvanger.

Dit is die sesde keer dat hierdie prys oorhandig word. Vorige wenners van die prys is Charl-Pierre Naudé, Gilbert Gibson, Antjie Krog & Loftus Marais.

Breytenbach het hom reeds in die verlede sterk uitgespreek teen die toekenning van poësiepryse. Vanjaar het hy ’n stap verder gegaan & sy prysgeld geskenk vir die stigting van ‘n fonds vir die aanmoediging van jong digters.

Breytenbach het van die geleentheid gebruik gemaak om hom uit te spreek teen die beoogde sensuurhof & ander vergrype wat deur die voorgestelde mediawetgewing in die hand gewerk sal word.

Sy “bedankings”-toespraak is by die geleentheid deur sy uitgewer Alida Potgieter voorgelees:

“Dames en here, ek is bly om by monde van Alida Potgieter hier in Calvinia by julle te mag wees. Sy was so gaaf om bereid te wees om wat ek te sê het vir julle voor te lees. Ek wil hê dit moet duidelik wees dat dit my woorde is, nie Alida s’n nie, ook die sydelingse opmerkings. (Dis natuurlik lafhartig van my om my onhebbelikheid in ’n ander se mond te lê.)

My dank aan Nicol Stassen, my mede-digters Louis Esterhuizen en Marlise Joubert, en die ander Proteaanse mense vir hierdie gebaar. Omdat dit van julle kom en omdat ek nog altyd respek en bewondering gehad het vir julle werk en veral vir wat julle met Versindaba vir die poësie doen, waardeer ek dit van harte Dis grootliks die rede waarom ek die prys aanvaar. Tog wil ek byvoeg – as ek my metafore mag mix – dat ek hoop julle lepelstele lank genoeg is om nie julle tonge te hoef verbrand of verpand nie, noudat julle by wyse van spreke vlooie onder ’n groter karos geword het. Ek terg maar. Ek weet julle sal julle onafhanklikheid behou en julle bergkoninkryk sal gedy soos Lesotho destyds toe Mosjesj sy brief vir koningin Victoria geskryf het.

Dankie vir die prys. Maar op die gevaar af dat dit mag lyk asof ek in die sop spoeg wil ek nietemin beswaar aanteken. Dis nou in die algemeen. Ek het dit al by geleentheid gestel dat die toekenning van literêre pryse ’n onding is. Mens kan mos nie na gedigte en digters kyk asof hulle in wedywering is en op so ’n manier ’n valse en oppervlakkige waardestelsel bevorder nie! Reklame, die mark, die dwingelandy van die spektakel wat die soeklig verplaas na die skrywer liewers as om dit op die gedeelde skryfwerk te hou – dis tog nie álles nie. Veel beter – dit het ek ook al voorheen bepleit – dat ander maniere gevind word om jong digters aan te moedig.

Kan mens dan nie ’n Fonds stig wat jonger genote en genieters ’n mate van finansiële onafhanklikheid sal bied nie, al is dit ook slegs vir die tydjie benodig om ’n bundel klaar te skrywe of ’n reis te onderneem? Gedigte skryf is ’n futiele aktiwiteit en op uitsondering na, soos in my geval, byna geheel en al sonder noemenswaardige geldelike beloning. Die vertaal van verse is nog meer ondankbaar en nog minder lonend. Dis hoekom ek glo jonger digters en vertalers behoort stelselmatige ondersteuning kry. En dat die steun uit ons eie geledere moet kom, nié van die staat nie. Die Suid-Afrikaanse staat (ek gaan weer my beelde meng) is die ANC se melkkoei, oftewel ’n vark wat almal nog uit huis en haard gaan vreet. Soos hulle voorgangers, het die huidige bestel geen aanvoeling vir die noodsaaklikheid vir ’n gemeenskap van kreatiwiteit wat grense bevraagteken en verstel nie: hulp uit daardie oord sal daarom altyd mondjiesmaat, voorwaardelik en partydig wees.

Ek argumenteer natuurlik nou nie dat ouer siele soos ek nie ook oor die weg gehelp moet word nie. Dis goed dat ons digters en skrywers wat as ware skimmel in die tuig geword het erkenning kry vir ons werk, al is dit by wyse van genadebrood – maar seer sekerlik nie pryse of beurse nie. Hoekom nie liewers ’n ryperd of ’n bungalow’tjie by die see of ’n geborgde bord kos een keer per dag by die Da Gama restaurant in die Kaap nie? Om ouer digters te wil beloon asof hulle nog vars werk lewer is in elk geval ’n teenstrydigheid. Mens kan mos nie groot drome skryf met ’n stywe lyf en ’n slap tong nie. Poësie is vir die drif en die alwetendheid en die skeppingsdrang van die jongeres (of dan dié, soos Yeats, wat te oud geword het om te onthou hy is nie meer jonk nie) – voordat die herhaalde veldslae van verloor en van twyfel jou lei na besinning se slagpale waar jy al mompelende jou woorde aftel soos bidsnoerkrale op soek na sin.

Sien, dis hoekom ek vir Nicol-hulle wil vra om hierdie toekenning van vanaand te stort in ’n fonds vir die aanmoediging van jonger digters. Indien so-iets reeds bestaan binne Versindaba se bestek, soveel te beter. So nié, wil ek julle in alle eerbied versoek om die bedrag eenkant te hou en ander instansies te vra om by te dra tot ’n steunfonds wat soos julle goed dink behartig kan word. Met die hoop dat julle die implikasies van daardie mooi woordjie behartig (be-hart-ig) in gedagte sal hou.

Indien ek nog ’n bietjie meer gebruik mag maak van die geleentheid, wil ek twee verdere sake aanroer. Die een, wat aktueel geword het, is dié van die beoogde Sensuurhof en die Stalinistiese wetgewing wat dit moontlik gaan maak vir alle sogenaamde Intelligensie-agente, en ander diewe en trogvrate ook, om hulle onbekwaamheid en gekonkel onder ’n kombers van geheimhouding en intimidasie weg te steek. Ek hoop almal van ons sal aanhou om hierdie beplande beheer van die Partystaat oor inligting wat deursigtig en vry bekombaar behoort te wees, hand en tand te beveg. Ons behoort ten minste te kan weet hoe en deur wie ons verneuk word. En moet tog nie dat ons op sleeptou geneem word met holle argumente van ‘kultuur’ of ‘meerderheid’ of ‘die volk’ nie…

Die tweede kwessie is Palestina. Mag ek glo dat die lot van onderdrukte gemeenskappe ons altyd na aan die hart sal lê? Ek is daarvan oortuig dat die besetting van Palestina, die besteling van die Palestiniërs se grond en huise en olyfbome en geld, en hulle daaglikse vernedering, dié groot internasionale morele uitdaging van ons tydvak is – soos die Holocaust of die oorloë in Viëtnam of Apartheid in vroeër jare. Ek glo dat ons as skrywersvolk alles wat ons kan behoort te doen om ’n toevlugsoord te bied vir Palestynse skrywers en kunstenaars.

Die bundeltjie wat vanaand aandag gekry het is hoeka, soos julle seker weet, ’n voortgesette gesprek met die persoon en die werk van die Palestynse digter, Magmoed Darwiesj – by wyse van ’n soort tweespraak. Mag dit julle belangstelling prikkel om na sy gedigte te gaan kyk. Ek weet daar is van sy boeke beskikbaar in die Protea Boekwinkel.

Vergun my om af te sluit met die gedeeltelike aanhaling van opmerkings wat Magmoed Darwiesj gemaak het in Ramallah by geleentheid van die besoek van ’n aantal skrywers. Ek was bevoorreg om deel te kon wees van die groep. “Wat is die plek van poësie in ons barbaarse tye?” het hy gevra. “Poësie is kwesbaar ten spyte van haar metaforiese steuning op die krag van sy en die fermheid van heuning. Broos, want die werk om die siel te verander en die hart groter te maak is langsaam en onsigbaar. Soos met die weerklank van ’n donker droom kan sy nie wegkom van haar beeld as die dogter van eensaamheid en die buitenste kant nie, al bind sy ook die intieme en die universele. Dit sal digters nie loon om daardie eensaamheid te ontken nie, nóg moet hulle dit verheerlik ; hulle moet liewers aanhou om ewige reisigers te wees tussen die binne en die buite. Dis aan hulle oorgelaat om die drag vrae oor die nut van poësie ligter te maak. Dis hulle wat die vreesbevangendheid van hulle kuns behoort te hernieu deur ’n nog groter skeppende angs – want hulle sal nooit vrygeskeld word van die poëtiese oopbloei nie .”

En hiermee volstaan ek. Met groete vir julle almal, met dank vir die mooi dinge waarmee julle besig is, en met spesiale dank aan my uitgewer wat by wyse van spreke die ekstra myl moes loop om vanaand namens my hier te praat.”

Breyten Breytenbach,
New York, September 2010