Brasiliaanse Landskap (deur Elizabeth Bishop) (c). Alice Helen Methfessel
Die kuns van afstand doen
Elizabeth Bishop
Die kuns van afstand doen bemeester mens gou;
soveel dinge blyk in elk geval bestem om te verdwyn
dat hul verlies geen rede is vir berou.
Verloor iets elke dag. Aanvaar as jy nie kan onthou
waar die huissleutels is, die uur verkwis in die tuin.
Die kuns van afstand doen bemeester mens gou.
Oefen om gróter te verloor, & gouer;
plekke, & name, & die plek waarheen jy haarfyn
beplan het om te reis. Niks is rede vir berou.
My ma se horlosie’t ek verloor. En kyk! my laaste, nou,
of tweede laaste, van drie geliefde huise het verdwyn.
Die kuns van afstand doen bemeester mens gou;
Ek het twee stede verloor, lieflikes. En, gróter nog, in oënskou,
wêrelde wat myne was, twee riviere, ’n domein.
Ek mis dit als, maar dis nog geen rede vir berou.
– Selfs om jou te verloor (die speelse stem, ’n gebaar wat nou
nog by my bly) sou nie ’n leun wees. Dit skyn
die kuns van afstand doen bemeester mens gou,
al lyk dit (Skryf dit!) al lyk dit na geen rede vir berou.
[Vertaal deur Johann de Lange]