Friday, May 6, 2011

Namaste, Yoshi. In memoriam († 25.12.2002 - 12.04.2011)

Yoshi


Wanneer ’n geliefde sterf, is die verlies iets wat nooit weggaan nie. Dis iets waarmee jy leer saamleef; ’n soort volgehoue ontroosbaarheid.

Yoshi III
Johann de Lange

   Seeing is bereaving.
   Judith Goldman


Lenige voor- & agterpote,
die ribbekas, skouerblaaie,
jou darteldraf ligvoets
stertorent, áls is van die fyn
rugstring
gesuspendeer,
terwyl jy vórentoe luister, ore gespits,
jou blou oë luisterstil,
fyn neusvleuels wat tril-
lend die buurtnuus uitsnuffel.
In jou nek klop ’n slag-aar
ritmies, so delikaat geveer
dat ek die bloed van hart-
kamer na hartkamer kan volg.



Brahman
Johann de Lange

   vir Yoshi

Om goddelik te wil wees
soos jy, suiwer net gees,
moet ek my glo kwytskeld
van wat my nog hiér hou:

begeerte, honger, ego, geld,
ook verknog-wees-aan-jou.
Hierdie dinge ketting my vas
aan die karma-wiel.

Eers as ek aflê
áls wat ménslik aan my is,
kan ek verlig & veerlig weet

ons is suiwer siel,
& sien ek jou daagliks
stralend langs my kniel.



Afskryf

Verlies het geen massa, gaan ongeag nooit tot niet,
ontspring ontsaglik, ontplooi ontroosbaar in die tyd,
kan sny soos diamant, of sag afgee soos grafiet,
& vergeet is die gedrae etsnaald van verdriet.

No comments:

Post a Comment