Monday, May 23, 2011

Die huwelik van woord & beeld. 11. Robert Mapplethorpe

Robert Mapplethorpe, Self-portrait

Robert Mapplethorpe
Johann de Lange

   vir Hennie Aucamp

Jou laaste selfportret
is een wat striem:
’n last sitting as’t ware,
boeiend soos die wit
kalla-lelie, honger na kennis,
wat besorgd buig oor sy skaduwee,
bewus van sy dood,
sy einde intiem.

                       Jou gesig
’n opaal skyf sweef
weg in die volstrekte swart
agtergrond, alreeds
besig om los te raak
terwyl jy dit beleef.

Gevang in raam na raam
die anonieme lywe, private orgies
openbaar gemaak;
Dionusos-&-sy-wywe;
fallusse geamputeerd
soos besnyde blomme,
of aangebied as offervrugte;

jou koplose portrette, self-
portret as duiwel met die sweep
in jou harige agterent
soos ’n stert, in leerkamaste,
die dekor van ’n skaduwêreld laastelik
as dekadente glans opgedis: jou oë gluur
terwyl jou mond glimlag.

Ten slotte verstil jou foto’s,
verstrak tot marmertorso’s & -portrette:
Apollo wat ingekeerd droom,
of Mercurius, jou laaste reisgenoot,
die androgiene trekke
stralend wit soos vergeestelikte
vlees: die perfekte dooies
só gelaai met lewe.

                        Die skedel
op die kierie (eens ornament,
nou om jou te steun)
gaan jou reeds vooruit.
Net jou hand klou nog groot
& verbete aan jou dood.

Uit: Johann de Lange. 1993. Vleiswond. Human & Rousseau: Kaapstad.