Monday, May 30, 2011

Die huwelik van woord & beeld. 20. Jackson Pollock (Joan Hambidge)

Jackson Pollock, oftewel Jack the Dripper, in sySprings, NY ateljee.

Jack the Dripper
Joan Hambidge

   vir Sheila Cussons

Jy had die vermoë
om die lewe te ignoreer ontken
verken eerder die kontoere hoeke
van jou onderbewussyn    skiet dit oop en uit
in ’n dolle jazz op ’n groter-as-lewensgroot doek
bloedvate en senuwees van jou brein

Jy leef in hierdie doek
stap en werk (selfs jou skoene word vol verf)
drup-drup skiet dit uit    onverwags    die rustelose moedelose
Jack the Dripper
in verf wat boonop alles verder vergrys
die senustelsel snaarstyf moeg ontbloot.

In ’n Oldsmobile convertible (glo verruil vir 2 swart-en-wit Pollocks)
skiet teen muur
en dood
spat rooi teen die motorruit


Uit: Joan Hambidge. 1985. Hartskrif. Human & Rousseau: Kaapstad.