Friday, November 11, 2011

Hoe 'n gedig tot stand kom. Enkele vrae oor die rugstring van ’n gedig



Die volgende vrae rondom my gedig "Petidiendroom" is in 'n stadium aan my gestuur deur die webmeester van Versindaba, maar is nooit op daardie forum gepubliseer nie, weens artistieke verskille. Toe ek onlangs weer hierop afkom, het ek gemeen dit mag interessant wees vir liefhebbers van die poësie, & ook vir dié (soos ekself) wat altyd belangstel in skrywers se fabrieksgeheime. Ek het dit geredigeer & plek-plek uitgebrei tot die huidige vorm.

1.     Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

Ek het die gedig gedroom. Dis iets wat nogal dikwels met my gebeur. As die gedig kort genoeg is, sal ek hom sommer in die donker op my selfoon insleutel, anders sal ek die bedlamp aansit & dit neerskryf in ’n moleskin-notaboek wat ek langs die bed hou. Die volgende dag sal ek dan so gou moontlik  daaraan werk, terwyl die droom nog vars is in my geheue.

Hierdie gedig het ek neergeskryf op 25 Februarie 2003. Ek dateer alles. As ek byvoorbeeld met onderbrekings ’n hele dag lank aan ’n gedig gewerk het, of dalk 'n paar uur lank ononderbroke daaraan geskaaf & timmer het, sal ek langs elke verandering die tyd & datum neerskryf, sodat ek indien nodig die chronologie kan rekonstrueer.

Die gedigte wat ek in drome kry, is baie dikwels na aan voltooi omdat hulle meestal kort is, & ek in die droom reeds aan hulle begin werk het. Ek weet nie mooi hoe om dit te verduidelik nie: op een of ander stadium gedurende die droom raak ek bewus van die feit dat ek besig is om te droom. Dit is ’n toestand tussen wakker wees & droom, wat ook "lucid dreaming" genoem word, & mens kan dit leer beheer

Dis dán wat ek aan die gedig ‘werk’ & soveel daarvan probeer memoriseer as wat ek kan voordat ek wakker word. Soms word ek wakker voordat ek dit heeltemal kon memoriseer, & dan’s die gedig dikwels verlore, want dis nie moontlik om in jou wakker toestand die gedig te rekonstrueer nie. Die bekende dilemma van die Person from Porlock, behalwe dat dit in dié geval jysélf is!

Dis baie soos wanneer jy ’n aangename droom het & hoop jy word nie wakker voordat die droom uitgespeel is nie, maar gewoonlik as jy daardie punt bereik het, daardie punt van bewuswording dat jy droom, is dit klaar te laat want dan is wakker word onvermydelik. Mens kan egter met oefening leer om daardie laaste sekondes uit te rek.


2.     Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Hierdie gedig het ek in sy geheel gekry & neergeskryf, ryme & al. Maar ek het aan & af oor 5 jaar telkens na die gedig bly teruggekeer & torring, dan weer gelos omdat ek steeds nie tevrede was nie. Daar is altesaam 8 variante – 6 in 2003, 1 in 2004; in 2007 het ek twee variante van strofe 2 neergeskryf, & die finale vorm is op 28 Augustus 2008 neergeskryf.

Ek het van die begin af ’n probleem gehad met die tweede strofe – ampule is nie die maklikste woord om ’n goeie rymwoord voor te kry nie. Hier is die verskillende permutasies:

      Hy gee my toe ‘n groot ampule –
medikasie met ‘n hoë skedule,

Hy gee vir my ‘n groot ampule –
medisyne met ‘n hoë skedule,

hy gee vir my ‘n groot ampule
– met die gesogte, soet formule –

hy gee vir my ‘n groot ampule
– met die seer begeerde formule –

Hy gee vir my ‘n groot ampule –
medisyne met ‘n hoë skedule,

Hy gee vir my ‘n broos ampule –
die langverwagte / lang gekoesterde formule
ek het sin/my hart in/op die formule
my hart is pal op die formule

In sy hand ’n broos ampule –
die lang gekoesterde formule
die helende formule

Hy gee vir my ʼn slank ampule –
verdowing met ʼn streng skedule,

Hy gee vir my ʼn smal ampule –
verdowing met ʼn streng skedule,

Die eerste weergawe van die gedig, neergeskryf half deur die slaap in die oggendure van 25 Februarie 2003, lees:

Droom

Ek loop my pa na jare raak
& hy probeer weer vriende maak.

Hy gee my toe ‘n groot ampule –
medikasie met ‘n hoë skedule,

& hoop dit sal ons nader bring
as die naald pynloos deur spierweefsel dring.

Ek soek naarstiglik na ‘n plek om te gebruik,
maar vind net plekke wat na uitskot ruik.

En die finale weergawe, om & by 5 jaar later, lees:

Petidiendroom
Never blunt your veins with love, bind them

Ek loop my pa na jare raak
& hy probeer weer vrede maak.

Hy gee vir my ʼn smal ampule –
verdowing met ʼn streng skedule,

& hoop dit sal ons nader bring
soos die naald intiem deur weefsel dring.

Ek soek koorsig na ʼn plek om te gebruik,
maar orals vind ek oë, & plekke wat na oorskot ruik.

Daar is klein maar betekenisvolle wysigings wat ek aangebring het: ek het “vriende” in reël 2 vervang met “vrede” om die struwelings met die vaderfiguur beter oor te dra; “pynloos” in reël 6 is vervang met die meer gelade “intiem”; strofe twee is ’n paar keer herskryf voordat ek uiteindelik in die proewe-stadium die oplossing gekry het – ek werk baie goed onder druk, & bladproewe is vir my baie nuttig as dit kom by die afrond van gedigte.

Toe ek & Francois Smith een sonnige Saterdagoggend in Mouillepunt by 'n tafeltjie die manuskrip sit & redigeer het om al daardie klein jakkalsies uit te roei wat die wingerd verniel (taal- & spelfoute), het hy voorgestel dat ek in die slotreël “uitskot” vervang met “oorskot”, & ek het die voorstel dankbaar aanvaar want ek kon dadelik sien dat dit beter werk omdat dit die assosiasie met die  gestorwe vader versterk het. “Uitskot” was bietjie te voor die hand liggend.

Die Engelse motto was deel van die droom & ek het gou besef dis onvertaalbaar. Ek kan ook nie presies verduidelik wat dit beteken nie, maar ek het geweet dat dit by die vers hoort.


3.     Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van “bloedsweet”?

Soos jy kan aflei uit my antwoorde hierbo is die gedig in sy geheel vir my “gegee”, maar dit was die klein wysigings wat die meeste moeite gegee het. 

Wanneer ek 'n gedig op die konvensionele manier skryf, wag ek gewoonlik totdat ek min of meer die hele gedig in my kop het, totdat ek die ritme daarvan kan voel, voordat ek dit neerskryf. Meermale begin dit redelik chaoties & dan skryf ek absoluut álles neer wat ek in my kop het & moontlik bruikbaar kan wees. Dan begin die skaafwerk, die "bloedsweet". Vir my is dit loshande die plesierigste fase in die skryfproses, om die vers korter, meer kompak te maak. Wanneer  iemand vir my ’n gedig gee om na te kyk, is my eerste stap altyd om te kyk wat ek kan uitgooi.

Soms het ek, sê nou maar, ’n sonnet in gedagte, maar my eerste weergawe kan maklik byvoorbeeld 30-40 reëls of meer hê. Die uitdaging is om van die ekstra reëls ontslae te raak, & dit gee my baie genot. 

Dit gebeur selde dat ek byvoorbeeld met twee reëls of met 'n kerns begin (dit wat Sheila haar "kieme" genoem het) & dit dan laat aangroei tot, sê nou maar, 14 reëls. Sheila Cussons illustreer hierdie werksmetode in haar gedig, "Teesuiker" (Verwikkelde lyn, 1983):

Teesuiker

'n Gedig kom nie altyd soos die wind op nie.
Soms moet dit gehaal, gesoek word,
oopgedink word uit 'n enkele suinige gegewe,
soos die uitpluis, fyn en geduldig,
van 'n digte sykokon of sommer 'n bolletjie wol.
Of daar is die aangroei-metode: as kinders,
toe Ouma vertel het van hoe hulle teesuiker maak,
het ons in flessies versuikerde water, pragtig pienk
gekleur met cochenille, garingdrade laat hang
en dan gewag – en o hoe moeilik wag 'n kind: dit
sou glo dae duur! – tot eindelik die bly resultaat:
elke draad van bo tot onder en dikker as jou vinger
'n pienk kolommetjie hoekige blink kristalle!
Dis nou die “haal”-gedig, die soort wat bereik word
soos Eliot se, deur “expansion and accretion”.
Heelpad-maak is dit nooit: êrens tydens die prosedure
neem misterie oor, kry die ding asof hy beginne
lewe onder jou hand, sy eie loop en arriveer hy
dikwels glad nie waar jy gewil of verwag het nie –
Uitpluis of wag op kristalle, die digter is
die dader nie, hoogstens 'n gunstige omstandigheid,
'n óm-staan letterlik, 'n soort gerigte wag, 'n gunstige
tot begunstigde aandag, of in die geval
van die ander, die wind-plotselinge eersgenoemde,
weinig meer as 'n anus verbaas deur 'n goddelike poep.

Haar metode was een van aanwas, van groei. Myne is eerder een van afflens, skaaf, van wegkap tot watter gestalte dan ook al te voorskyn kom.

Die "bloedsweet" is vir my die lekkerste deel. Ek sit nie by 'n lessenaar & skryf nie, ek is 'n horisontale skrywer. Ek lê op my bed & skryf, & wanneer ek goed op dreef is, lê al my woordeboeke rondom my. Deesdae het ek die WAT, HAT & Pharos se 5-in-1 elektronies op my skootrekenaar & rondsnuffel na ’n woord geskied vinniger maar ook baie meer uitgebreid en met baie gelukkige toevalle.


4.     In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander “onderdeningsprinsipe” toegepas?

In hierdie geval het ek die vers in sy finale vorm gedroom, as 'n distigonvers met die ryme & al, so dit was besluite wat ek in die droomtoestand moes geneem het. Wanneer ek konvensioneel gedigte skryf, dan eksperimenteer ek baie met versvorm – distigon, of drie-reëlige strofes, vier- of 5-reëlig, sonnet, villanelle, ghazal, pantoem, sestina, sillabies of wat ook al. Ek hou aan tot ek 'n vorm kry wat werk  vir wat ek wil sê. Ek is redelik geobsedeerd met vorm, & identifiseer vroeg reeds patrone in die rowwe weergawes van die gedig wat ek dan versterk & uitbrei. Dit is ook hoe ek lees, dis een manier om in 'n gedig in te kom. Skryf & lees, is spieëlprosesse.

Daar sal altyd die een of ander ordeningsprinsipe wees. Poëtiese vorm is vir my ’n soort algebra. Opperman het iewers gesê ’n gedig is soos ’n optelsom, dat jy weet die onderdele wérk saam as die antwoord klop. Nou ja, dis ’n baie spesifieke definisie, vir 'n baie spesifieke soort gedig, die gedig met die "klinkende” slot. Dis nie sonder meer waar vir álle soorte gedigte nie, maar steeds ’n bruikbare beginsel vir beginners om aan te leer. Later kan hulle ’n eie koers inslaan.

Beginners wil altyd wegspring met die moeilikste van digvorme, die vrye vers. Begin met iets waar daar riglyne is totdat jy meer selfvertroue opgebou het. ’n Goeie kwatryn bly ’n dêm moeilike ding om te skryf, & ’n suksesvolle kwatryn doen enige digter eer.

Ek weet gewoonlik wanneer ek die regte vorm gekry het – iets kliek net, dis al hoe ek dit kan beskryf. En die taal glinster. Wanneer ek dit lees, is dit asof die woorde ’n soort glans het. Ek hou nie op skaaf totdat ek daardie glans registreer nie. Dis baie subjektief & ek kan nie verder of  nader omskryf wat ek daarmee bedoel nie.


5.     Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as “klankbord” gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?

Ons gebruik almal maar ons vriende of medeskrywers as klankborde, wie ánders sal só ruimskoots & selfloos van hulle tyd gee? Toe ek op hoërskool was, was André Brink my klankbord, & ook my Afrikaans onderwyseres. Veel láter het ek & Lucas Malan feitlik ál mekaar se gedigte gelees & oor & weer help skaaf, totdat ook dáárdie gelukkige samesyn tot ’n einde gekom het meer as 10 jaar gelede. Hy was 'n goeie vriend, maar uiteindelik het hy hom in kompetisie gewaan met álmal & ek was nie langer bereid om neerhalende opmerkings oor kollegas se werk of oor my eie werk te akkomodeer nie. Die wêreld daarbuite is moeilik genoeg, mens behoort koestering van vriende te kry & vir vriende te gee.

In hierdie stadium sal ek ’n gedig soms vir Joan stuur, of vir Henning Snyman, maar nie álles wat ek skryf nie. En nie spesifiek met die verwagting van terugvoer nie. 

As iemand vir mý ’n gedig sou stuur & pertinent vir kommentaar vra, sal ek moeite doen om dit deur te werk & raad te gee wat konstruktief gebruik kan word. Soms raak ek moerig as ’n goeie voorstel nie opgevolg word nie, maar ek verstaan dit ook op ’n manier: soms is daardie oplossing in mý stem, & wil die digter dit dalk om daardie rede nie gebruik nie: hulle wil hulle eie stem behou, & dis belangriker.

Deesdae met al die skryfskole, webskole, skryfkampe & -kongresse dink ek dat digters hopeloos te véél hulp kry, met die gevolg dat hulle nié ’n eie stem ontwikkel nie, of baie langer neem, of nie weet wát hulle eie stem is nie. Hulle buikspreek dikwels hulle mentors. Opperman se digstudente het baie moeilik & sommiges het nooit van sy invloed losgekom nie.  Dis verál die tweede bundel, los van die hulp van die mentor, waarmee hulle soms sukkel omdat hulle nie hulle eie instink leer vertrou het nie. 

’n Amerikaanse resensent het 'n tyd gelede iewers ten opsigte van die jongste Amerikaanse digkuns gesê dat dit vir hom lyk of die gedigte almal na dieselfde gym toe gegaan het. Kopers is ook (soms ten onregte) huiwerig om iets te koop wat nie volgens die "normale" kreatiewe proses ontstaan het nie, wat uit die skryffabriek kom.

Daar is ’n balans tussen hoeveel hulp jy kry & hoeveel werk jy sélf insit. As jy nie sélf probleme oplos nie, gaan jy nie leer nie, it’s that simple. Mens kan enigeen met genoeg talent help om ’n bundel uit te gee, maar is dit húlle werk? En het hulle die passie & stamina om daarvan 'n loopbaan te maak? Talent is ook verreweg nie die belangrikste komponent nie. Sonder stamina kom daar dikwels niks van die talent nie, of word die talent nie voluit gerealiseer nie.


6.     Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Dit het die eerste keer op 25 Oktober 2003 op Litnet verskyn, met ander woorde redelik vroeg. As ek reg onthou, het Litnet my genader vir ’n bydrae. Dit help soms om ’n vers te publiseer – dit word deel van die afrondingsproses omdat dit jou die nodige afstand gee om swakhede te identifiseer & reg te maak. Ek sal egter nie ’n vers laat publiseer waarmee ek nie op daardie stadium tevrede is nie.


7.     Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Dis ’n moeilike een. Daar is feitelike aspekte wat ek kan identifiseer. Eerstens is daar konflik met my pa wat onopgelos gebly het omdat hy op 34 dood is. Tweedens het ek in daardie tyd toe ek aan die gedig gewerk het myself petidieninspuitings toegedien vir intense migraine waaraan ek sedert skooldae al ly, & ek het gevind dat dit my baie intens laat droom het. Ek dink dis ’n newe-effek van feitlik al die opiate. 

Ek glo dat Sheila Cussons se twee jaar in die hospitaal waartydens sy waarskynlik met hoë dosisse morfien behandel is vir haar brandwonde baie van die gedigte in Die Swart Kombuis vir haar ingegee het. Sy het self by meer as een geleentheid gepraat oor die feit dat sy dikwels gedigte gedroom het. Een so 'n gedig, "Die fret" (Membraan, 1984), het sy in 'n gesprek met my as 'n gedroomde gedig geïdentifiseer:

Die fret

Genoeg, fret: wees vry. Jou nie meer
vasloop in stoephoeke nie, beton of
marmer onder jou pootjies wat moet grawe –
Jy, self, langgelyfde tonnelaar, 
jou stert gebos van hoop teen alle hoop in, 
dapper klein angstige self – Ek het my 
ander verwese selwe gesê ek sien jou soek 
na uitkoms, hulle gemaan om roerloos te sit 
op die treetjies wat afloop na die wye meer, 
opdat jy kan draai en vreesloos vlug 
verby ons die treetjies af: hoe bittermooi 
is jou pels – Kom, en welkom, en vaarwel, 
en red my in die fynbos, die meerduine. 
Tonnel vir my, tonnel: eindelik verloste fret.

Die ander ooglopende voorbeeld sou Eugène Marais wees. Interessante materiaal vir 'n skripsie.

In dié sin is daar seker min “fiksie” in die gedig. Ek het onlangs eers  ontdek dat ek vroeër in ’n verhaal in Vreemder as fiksie verwys het na die feit dat my pa in ’n stadium petidien gebruik het. Toe ek daardie verhaal geskryf het, het die naam petidien vir my niks beteken nie. Ek was trouens heeltemal téén dwelms van enige aard. 

Maar dit moes in my onderbewuste bly steek het, & dis in sigself betekenisvol dat ek soveel jare láter ’n konneksie met my pa sou maak, nie net in die droom nie, maar ook deur die dwelm sélf. Daar is geen toevalle nie. Die ironie is dat ek as kind bewus was van my pa se dwelmgebruik & omdat dit ’n negatiewe impak op ons as kinders & gesin gehad het, het ek hom as ’n swakkeling beskou & verstoot. Net om te ontdek dat ek dekades later ook dáárin sy voorbeeld sou volg.


8.     Is dit ’n narratiewe vers?

Dit vertel ’n storie, maar dit is nie ’n narratiewe vers in die streng sin van die woord nie. Ek skryf grootliks wat as liriese gedigte beskryf kan word. Drome het ’n eie logika, & ’n eie narratiewe struktuur, maar dit is nie altyd moontlik om te “vertaal” nie.


9.     Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Ek huiwer altyd om oor die betekenis van my gedigte te praat, omdat dit lesers se ervaring van ’n gedig beperk. Hulle sien dan nét daardie een betekenis raak omdat hulle die gesag van die digter in dié opsig as absoluut aanvaar. Wie sal dan nou beter weet as die digter self? Die digter is die lááste persoon wat jy moet vra. Hy kan jou vertel van die gedig wat hy wóú skryf. Of dit só op papier beland het, is ’n ander kwessie.

Vir my gaan die gedig oor die ontdekking van ’n konneksie met my pa, & dat hy as’t ware die dwelm vir my aanbied om vergiffenis of absolusie te vra. Dan is daar die skuldgevoel & paranoia wat altyd met dwelmgebruik gepaard gaan. Daarom dat ek ’n plek soek om die dwelm te gebruik, maar telkens net aan die dood herinner word, dat dit onontkombaar is, & dat die dwelm nie enige absolusie bring nie. Maar soos ek sê, dis wat dit vir mý beteken, & ek mag dit heeltemal verkeerd hê. Die feit dat dit ’n droom was, bemoeilik dinge, dan voel dit soms of jy net die punt van die ysberg verstaan (of soos Ina Rousseau sou gesê het, die oortjies van die seekoei). As dit ’n gedig was wat ek op meer konvensionele manier geskryf het, sou ek dalk ’n beter antwoord kon gee.


10.  Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gehad het?

Nee. Toe ek jonger was, in die tyd van my eerste drie bundels of so, het musiek ’n baie belangrike rol gespeel. Ek kan sommige gedigte pertinent aan liedjies verbind, popliedjies meestal, of diskomusiek. Ek is 'n kind van die diskogenerasie, after all. Ek is nie een van daardie digters wat met ’n bottel wyn & Vivaldi sit & skryf nie. Ek skryf selde in stilte – die TV is gewoonlik aan in die agtergrond & ek surf soms terseldertyd op die internet ook terwyl ek skryf. Ek vind dat aandag wat dwaal meer kreatief is.

Ek wil geensins ontken dat musiek in ál die kunste ’n baie definitiewe invloed op die kreatiewe proses het nie, & dat jy die soort vers wat jy skryf kan manipuleer of bevorder deur na die regte soort musiek te luister terwyl jy skryf. Daar is 'n wonderlike sinergie. Ek doen dit net nie meer nie. Ek is meer visueel ingestel.


11.  Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?

My ideale leser is uiteraard iemand wat my verwysingsraamwerk deel, maar dit is nie altyd hoe dit in die praktyk werk nie. Die eerlikste antwoord wat ek kan gee, is dat ék my eie ideale leser is, die énigste leser wat ek tevrede moet stel. 

Skryf is egter ook kommunikasie, & in daardie opsig het ek waarskynlik ’n geidealiseerde leser in my agterkop, maar ek dink nie te veel daaraan nie. Ek skryf die soort gedigte wat ek graag lees by ander digters.


12.  In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Dit verskil net in die oorsprong, die prikkel. Andersins is dit ononderskeibaar van die ander (glo ek).


13.  Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Nee wat. Drome is universeel, & die tema is universeel. Miskien as ek dit verander & Jopie Fourie gebruik in plaas van my pa sou ek kon sê dis Suid-Afrikaans. Maar dit sou sover ek kan sien 'n nuttelose vervalsing  wees. Selfs al neem mens in gedagte dat jy in elk geval in gedigte die waarheid lieg, dat jou eerste lojalitet lê by die gedig en nié by feitelike korrektheid nie.

Toe ek begin skryf het, was daar nie Afrikaanse modelle vir die soort ding wat ek wou skryf nie, & ek het dus aansluiting gevind by die Amerikaanse literêre tradisie, & ek het dit nog steeds nie afgeskud nie.

Ek wens ek kon uit my spesifieke Suid-Afrikaanse gegewe skryf, ons het 'n boeiende geskiedenis & 'n baie komplekse samelewing wat goeie materiaal bied, maar uiteindelik sing elke voëltjie maar soos hy gebek is. 


14.  Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “laat vaar”?

Ek sien Paul Valéry se só misverstane uitspraak agter dié vraag skuil. Ek sal sê ek het die vers so goed geskryf as wat ek dit op daardie stadium kon doen. Maar geen gedig is ooit klaar nie. Toe ek vroeër vir H&R ’n keuse uit my bundels gemaak het, het ek aan heelparty van die gedigte verander. Want ek kan nou sekere probleme & hulle oplossings makliker identifiseer. Maar ek sal nie die strekking van ’n vers, sy boodskap, verander nie, ek sal verander om hom sy sê béter te laat sê.


15.  Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Skrywers is nie soos sangers of akteurs wat onmiddellike & tasbare terugvoer kry nie. Jy kry ’n paar resensies, ’n paar opmerkings van vriende of kollegas & dis dit. Van vriende & kollegas kry jy altyd positiewe terugvoer. Van resensente kry jy soms wat jy verdien, & soms wat húlle verdien. Wat kan mens doen? Ek hang nie my hart aan resensies op nie. Ek het as debutant reeds besluit om uit negatiewe resensies wat bruikbaar is te gebruik & die res te ignoreer, & dis steeds my raad aan álle jong skrywers of beginners. Positiewe resensies is uiteraard lekker om te ontvang & ek waardeer dit wanneer dit my oorkom, maar moenie jou eie "press" begin glo nie. Positiewe resensies is selde leersaam op die manier wat negatiewe resensies is.

Theodore Roethke het altyd vir sy studente gesê elke reël van 'n gedig moet nóg 'n gedig wees. Goeie raad, maar ek is nog báie ver daarvan af. Skryf is ’n eensame besigheid, & tog steeds báie bevredigend. En dis ’n wonderlike toedrag van sake.




Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens”.