Saturday, January 12, 2013

Tadeusz Rózewicz - Twee verse

Tadeusz Rózewicz


Proewe
Tadeusz Rózewicz

Die dood sal nie ’n enkele
versreël korrigeer nie
sy is nie ’n proefleser nie
sy is nie ’n simpatieke
redakteur nie

’n swak metafoor is tydloos

’n slordige digter wat dood is
is ’n slordige dooie digter

’n vervelige ou verveel ook nadoods
’n sot hou aan met sy sotlike geklets
van anderkant die graf

[Vertaal deur Johann de Lange na die vertaling van Adam Czerniawski]

***


By al my ander verpligtinge
Tadeusz Rózewicz

By al my ander verpligtinge
almal dringend
het ek vergeet hoe
noodsaaklik dit is
om ook te sterwe

heel ligsinnig
het ek hierdie verpligting verwaarloos
of ek het dit vervul
maar net oppervlakkig

beginnende more
gaan dinge verander
ek sal toegewyd begin sterf
wys optimisties
sonder om ’n oomblik te verkwis

[Vertaal deur Johann de Lange na die vertaling van Magnus J. Krynski & Robert A. Maguire]