Jean-François Millet, Die wanner (c.1847-1848)
Die wanner
Johann de Lange
na 'n swart-en-wit afdruk van Millet
In die donker voue van 'n growwe broek
rol en span sy boude, sy bene maak sekel
van inspanning
en in sy breë hande rem
die swaargelaaide mandjie
waarmee hy skommelend klein kringe maak
halfbewus van sy geslag agter die broeksflap,
donker en stomp en brutaal,
sodat die koring goudbruin uitsak op die vloer
en 'n fyn poeier in die sonlig draal
en die geur van grond opstuif in sy neus.
Met sy heupe dans hy die mandjie om
en om, sy lyf sterk gebrei,
wit hemp oop oor sy bors,
sy gesig berustend-geduldig,
sy gedagtes versluier deur die stof.
In inspanning is hy heeltemal tuis.
En wanneer hy klaar het en die mandjie
laat sak, tintel sy heupe van tamheid
en hy ruik na koring en sweet;
dan stap hy buitentoe onder die breë lug in,
en in sy stap is daar die ritme
van sekelswaai en wan en houtsaag.
Sy voete lig-wiegend proef die aarde
met elke tree. Hy stap in 'n landskap
wat hy soos 'n skemerende baadjie dra.
Uit: Johann de Lange. 1986. Snel grys fantoom. Human & Rousseau: Kaapstad.