Eduard Manet, Olympia, 1863
Olympia
Johann de Lange
Vir wie se verbeelding lê jy
gerangskik, bevrugbare blom,wawydwakker soos ’n morning glory?
Gekamoefleer met bril, jas
& notaboek, som ek jou naakte
bedekking op: vel, haarfluweel,
die mikjuweel onnodig bedek.
Jou kamerbediende presenteer
− selfbewus oor my teenwoordigheid? −
’n ruiker: die liefdesverklaring
van ’n jong bewonderaar
vir wie jy nou nie veel oë het nie.
Die kat begluur my git. Geel oë.
Sy stert staan jakopregop.
Jou blik het my klaar opgesom
vir wat ek is: geleentheidsvoyeur,& jy voel gevlei, geamuseer.
Jy lê lig & koel, die sandale
soos bewonderaars aan jou voete,
’n arrogante roos in jou hare
& die hanger om jou hals
’n geskenk. Só lyk jy wêreldwys
& blasé, maar mý mislei jy nié:
vir wie se gerief
lê jy so gerieflik?