Monday, October 1, 2012

Die huwelik van woord & beeld. 24. Paul Gauguin (Lucas Malan)

Paul Gauguin - Nevermore



Nevermore
Lucas Malan

Paul Gauguin, 1897

Toe ons geslaap het, saam,
soos ‘n tweeling verbind
deur die web van ‘n laken-
membraan toe was ons één
in die blou gebied van ‘n droom
op sagte kussings versink
met ‘n vlamreën van lelies
daar buite want ons was nog ver
van verraad en vergissing –

Soos groot gladde vrugte, verwant
aan die vlesige blomme gedruk
op klawergroen doeke, bestand
teen verderf was ons twee beskut
in beswymende lig en die loom
van ons dommeldomein – geen woord
kon dit verstoor nie, nóg ‘n mens
of die slag van grypende branders
was naby ons – ons wat enig was.

Het ons twee toe gedink, nagte lank
benat deur sweet en liggaamsvog
soos melk – het ons besef die palms,
ook die maagdelip van orgidee
moet tog verwelk – het ék geweet
hoe eensaam Hagar was toe sy
die eerste nag alleen moes slaap
op die toornige kussing deurstraal
met die weerlig van afguns en smaad?