Gedigte



Blaarmaan

Hulle het in die luiperdnag ontmoet:
twee beblaarde visioene.
Die gesnaarde omhelsing
het vibreer soos oë vrees,
en ek, getuie van dié donkerspel,
was ‘n oomblik saam alleen gewees.

(Uit: Akwarelle van die dors, 1982)


Olympia

Vir wie se verbeelding lê jy
gerangskik, bevrugbare blom,
wawydwakker soos ’n morning glory?
Gekamoefleer met bril, jas
& notaboek, som ek jou naakte
bedekking op: vel, haarfluweel,
die mikjuweel onnodig bedek.
Jou kamerbediende presenteer
− selfbewus oor my teenwoordigheid? −
’n ruiker: die liefdesverklaring
van ’n jong bewonderaar
vir wie jy nou nie veel oë het nie.
Die kat begluur my git. Geel oë.
Sy stert staan jakopregop.

Jou blik het my klaar opgesom
vir wat ek is: geleentheidsvoyeur,
& jy voel gevlei, geamuseer.
Jy lê lig & koel, die sandale
soos bewonderaars aan jou voete,
’n arrogante roos in jou hare
& die hanger om jou hals
’n geskenk. Só lyk jy wêreldwys
& blasé, maar mý mislei jy nié:
vir wie se gerief
lê jy so gerieflik?

(Uit: Akwarelle van die dors, 1982)


Aardlief

Eendag word ek wel weer joune, oerbeminde:
word my hande & my oë jóú hande & jóú oë,
gee ek die handvol geleende stof aan jou terug,
ou selfsugtig, word ek joune van kop tot tone.

(Uit: Akwarelle van die dors, 1982)

***

Ontvlugting

Fyn kantwerk van bokbaaivygies langs die see.
Die vygieranke van Somersetstrand
kon jou dun enkels nie terughou nie
daardie nag toe jy uitgestap het
na jou dood soos ’n kind na ’n donker kamer,
toe jy die water naweldiep ingewaad het
soos ’n slaapwandelaar in ’n droom.
Daardie nag: het jy toe geweet
dat daar ’n einde kom aan die groot geel by
die dag, het jy onthou dat jy eenmaal,
een hoogsomertyd, vlasblond & gelukkig was?
Daardie nag het jy na binne geskree
& die meeue het gesterf van jou kreet.
Daardie nag het jy jou jonglyf
vir die laaste keer weggegee,
argeloos, aan die grootste minnaar
van almal: aan die krulkopsee.
En die windwit branderskuim
het jou dye skoongewas
van die bloed van die vermoorde kind,
die bloed van die verontregtes,
die nageboorte van jou volk.
In die Bergrivier & die dam by Firwoods
het jy twee keer byna verdrink, meisie-vrou;
die derde keer is skeepsreg.
Voordat jy finaal ondergegaan het,
slaapswaar & vir ewig jonk,
het die water & die wind saamgesweer
& jou skraal skouers
twee meeuwit vlerke vir die vlug
uit hierdie Valkenburg gegee.

(Uit: Waterwoestyn, 1984)


Vakansie by die see

Die seuns swenk & weef vir oulaas
swierig met die branderkamme langs,
dieper in trek die vissersbote
hulle nette op & keer hawewaarts
met ’n rillend-silwer sardientjievangs.
Die brons baaiers keer warm & lui
met bruin enkels & seeskoon
blonde voetsole oor die wit sand
na die hotelle terug om voor ete
te gaan stort:

                   & uit die waternette
maak die maan haar los
& hang –
’n deurskyndruppel vuur
bo die kwik-onrustige water.

(Uit: Waterwoestyn, 1984)

***

Pa
Whether you are pretty or not, I outlive you,
bend down my strange face to yours and forgive you.
- Anne Sexton

Ander miskien nie maar ek onthou
dat jy ’n bouer was
met groot hande wat steen
op steen kon pas,
so sekuur was in wat jy doen
& tog tuis alles kon verbrou.

Maar ek vergewe jou.

Die hart hou sy eie almanak.
Stene kon jy beter as woorde vat:
skielik was daar ’n wolkekrabber,
’n padkafeetjie langs die pad;
jy kon lugkastele bou, na cowboy-flieks gaan kyk,
of vuurhoutjiepatrone op my Bybel plak.

Maar ek vergewe jou.

Ander aande het jy mandrax gedrink
& vroeg gaan slaap, moeg,
die woonstel onherbergsaam gemaak
met jou hortende asem. Die kroeg,
enklave waar jy kon ophou kwel,
het sy grys vergetelheid geskink.

Maar ek vergewe jou.

Ek het soveel van jou liefde verwag,
asof dit sement was
wat ons almal bymekaar moes hou.
Ons kon nooit juis waterpas
oor sake sien nie:
ek was haaks & jy was veels te sag.

Maar ek vergewe jou.

Hoe gaan ek daardie trotse onbegrip
ooit weer agterhaal, die gebroke huis weer heel?
My dapper swye verbreek ek nou,
& mag dié onvolkome stene my nie faal.
Onbeholpe cowboy van my jeug,
jou naam bly leef in klip.

Ander miskien nie maar ek onthou.

† 17 April 1936 - 16 Mei 1975

(Uit: Snel grys fantoom, 1986)


Oor blomme & bomme

Oor blomme het ek dikwels gedig, meneer,
blomme & stiltes & spieëlings.
Ek is verwyt omdat elke blom
nie ’n motorbom was nie
(blomme klink soos bomme
& bomme lyk soos blomme),
& elke snoeiskêr
nie ’n mes teen die wit
keel van ’n lelie.
Daar is beweer: ek het nie deel
aan die lewe nie. Mag wees, mag wees.
Tóg. Blomme & stillewes & spieëls:
is als nie uiteindelik ’n spel
met verhoudings nie? Blomme besweer:
die engele het Mefistofeles met blomme
gebombardeer. Bomme & stillê & skerwe.
Kon ek deel word van ’n ander se pyn
wat nie langer pyn is nie,
maar gewoonte & wanhoop & lot,
sou ek dalk eerder geleer het
poësie is ’n bloeiwyse, niks meer.

Poësie is ’n bloeiwyse, meneer.

(Uit: Snel grys fantoom, 1986)


Dood van James Dean (1931-1955)
fata morgana

Die silwer beseerde metaal
bloei oor die teer. Romp oop-
geruk. Roggel hortend
deur die oopgeskeurde gorrel.
Nek geknak Ribbes gekraak.
In die silwerende skemer
was hy ’n snel grys fantoom,
die eggo van ’n klank.
Nooit weer sal hy heel-
temal so geheel & al
afwesig wees nie.
Dood is ’n harde ding
om te verstaan: ’n skielike
obstruksie waarom sy chroom-
sagtheid buig, ’n muur
waarteen hy tromp-
op frommel & vou
soos ’n pakkie sigarette.
Dit was 5.45 toe die Dood hom
verbysteek met die son
wat ondergaan in sy oë,
& “crazy mixed-up kids” op soek
na die droom staar steeds na die wrak
op die flikkerende silwerdoek.

(Uit: Snel grys fantoom, 1986)

***

Wordende naak

1

Gevonnis sit jy stil & tuur
– herinnering se wit-&-swart –
by ’n tafeltjie, twee glase bier
voor jou, alles helder & apart,
geen skuim wat oor ’n glasrand stort,
een sagte Nederlandse dag:
sou jy op iemand sit & wag?

Regs van jou ’n skraal man uitgevat
asof vir ’n bruilof in ’n blink
swaelstertpak, swart hare plat-
gekam. Een bier bly ongedrink.
Terwyl die son al hoër sink
– ’n vaal swaard bo die sloom kanaal –
paar vuil duiwe bo ’n katedraal.

Balling van ’n somerland immer
bewus van die bibberende pool
– ’n Stalingrad wat vyandig glimmer –
in afstand doen reeds vroeg geskool.
Ligtende iepe ’n nerf op die horison.
Die stoele se windverbleikte verf
is deur die skilferende son bederf

maar jy sou heelhuids nog opstaan,
jou van daardie middag losmaak
& deur ’n paar ervarings gaan:
gedigte skryf, ’n man versaak,
’n sterfte of twee deurmaak,
’n vuurproef in ’n vreemde land.
’n Spook het Emily Brönte gebrand?

Was dit die moeite werd, of nie?
Sou jy dit anders nóú beplan,
of wag jy soos in ’n kiekie
op die grys gestalte van ’n man
wat wel sou opdaag as hy kon,
maar neergepen tot spookgesig
loop in elke slaaplose gedig?


2

Halflyf na die kamera gedraai
glimlag jy swartogig, uitdagend,
die stoel teen jou waai,
een hand half ingedagte
onder jou hare ingesteek,
son wat in jou brons glas sak.
Die ander staan onaangeraak.

Die dag het omgeswaai, tref jou
uit ’n ander hoek. ’n Skadu val lankuit
oor die gruis. Dis koeler nou.
Die man sit by sy eerste bruid;
& jy sit smeulend waar jy sit
hierdie verminderende uur wat yk,
vermink, maar bly, & nooit sal wyk.

(Uit: Wordende naak, 1990)


Skerpskutters
Spaanse burgeroorlog, Teruel

Die gewonde seun skuil teen die vaderbors,
kyk weg oor die afgesakte skouer
na die smeulende siëstas van sy jeug,
rug gekeer op die snelvuur van die kamera-
man, om sy been ’n bebloede verband.

Teen sy pa se heup die smal perdeskoen
van sý heup, skraal boude ontbloot waar broek
& onderklere ru oopgeskeur is
om die wond, met ’n jong skadu waar hulle keep
om die ongeskonde klein liefdesvont.

Die vader kyk verby sy seun se kop,
die kamera noteer: donker stoppelbaard,
hare kort, baret, halfvol bandelier,
cigarillo in sy mondhoek vasgebyt, frons hy
sonder vrees of haat, sy liefde ’n pantser

teen ons vermetel skending van die kind,
’n skans teen dié intiemer skoot van een
wat deur ’n lens se loop na hulle mik:
al word liefde, soos pyn & dood, hier openbaar,
is ons al klaar ontwapen deur sy blik.

(Uit: Wordende naak, 1990)


Op die huis

Op júlle die laaste drankie
want al my gedigte is leuens
as ek die pa’s nie bedank
nie vir sulke gewillige seuns!

(Uit: Wordende naak, 1990)


S

Die kind vra & ek gaan pluk
die appel waar hy hang.
Onder my mes draai die skil:
eers oureool, dan slang.

(Uit: Wordende naak, 1990)

***

Calvin Klein

Volmaak & tydloos
die blok blou lug
– mediterreens blou –
die bolyf & bene
bruin teen die wit
van ’n suil die kort-
geknipte donker hare
die skoon nek agter-
oor gekantel
die sagte onderbroek
stralend wit
die vingerpunte
ligweg op bobene
van warm marmer
opgerig hoog bo
die ronkende verkeer
van Times Square –

om die waarheid te sê:
nog méér volmaak as dít
is die fyn litteken
regs onderkant sy naeltjie
in die kwesbare nerf

: reeds dáár
begin hy stadig sterf

(Uit: Nagsweet, 1991)


Orpheus dismembered

En as jy gaan, as alles
tot stilstand kom:
wat word dán van my?
Sonder jou
harde borskas,
jou steil rug,
die wit sneeu
op jou arms,
jou boude wat vuismaak
as jy loop,
jou groen oë –
hoe hou ek dit?
En jou heupe, tuin
van dorings & rose:
hoe vind ek ooit weer
my pad daaruit terug?
Hoe sprokkel ek
jou weer bymekaar,
hoe breek ek
die leuenspreuk
van jou lag?

(Uit: Nagsweet, 1991)


Twee matrose wat pis
na ’n akwarel van Charles Demuth

swaar penis-houdende matrose
selfs swaarder as dié teen die mure
van Pompeji pissende
met soet engelagtige gesigte
mikkend met sterk gewrigte
twee helder vloeiende figure
lopende water of bogende vuur
donkerblou uniforms
teen die bruin-van-die-muur
deursigtige spieëlings
van die middaguur
waarvan hulle deel is
bruisend-pissende matrose
dat soveel water dat twee
watermans soveel vuur kan hou
– die koue as van Pompeji
getuig van wat was –
dat hulle as’t ware pis
op smeulende ruïnes
’n nat vlam is op dié papier

(Uit: Nagsweet, 1991)


Halfyster

Wie jou sien, Anton, sien twee in een:
’n man van voor, van agter ’n seun.
Jy speel die seun tot sulke pret bereid,
verder is jy viriel, ontrou, & straight.

(Uit: Nagsweet, 1991)


Seduksie

“Party sê ek’s groot, jy weet, geháng,”
hy trek tevrede aan sy skyf –
“as jy wil sien, maak hom eers styf.”
Ek merk die melkbaard op sy wang.

(Uit: Nagsweet, 1991)

***

Portret van myself by ’n loergat
na Mutsuo Takahashi

Here, wanneer sal dit gebeur?
Hoe lank nog voor u besoek?
Ek kniel hier op die smadelike vloer, wagtend;
voor my prente van gevlerkte engele & heiliges.
In die middel van die muur & versier
met heilige inskripsies in silwer & goud
’n loergat: u stralende besoek –
het die tyd daarvoor nog nie gekom nie?

O dán sal ek voor u kniel,
koorsig my lippe oopmaak, droog & gebars van dors,
soos daardie skrikwekkende profeet gesê het,
& my mond vul met u.

U gewyde gulp sal gul oorvloei,
reën in my oopgesperde oë, my mond,
oor my kortgeskeerde kop met jong gryshare.

In u weergalose medelye sal ek, soos een verkrag,
my oë toemaak asof ek ly, & snak. . .
Wanneer sal dit gebeur? Hoe lank nog voor u kom?

Met dié woorde het die gesig soos ’n wynsak
waaruit die wyn gelek het in plooie teruggesak.
Met dié openbaring skaars verby,
nog knielend voor die toilet,

die muur bedek met banale graffiti,
het van die ander kant deur die loergat
in die middel van die muur
’n droë oog vurig teruggegluur.

(Uit: Vleiswond, 1993)


Kat
vir lna Rousseau

Die digter tel my kat op:
sy aai hom, paai hom;
sy maak van hom gedig:
’n “swart luiperd”, ’n “orgidee”.
Sy lig hom onder die pote op:
Kyk, só lyk hy na “’n kosbare
tafeltjie”; die pote
wat so spanningloos hang,
word “twee linte, of vier sokkies”.
Hy word omgedraai,
die tepeltjies “soos knopies
van ’n dubbelborsjassie”.
Sy onthou ander katte:
een was dol oor slaap:
opgekrul in ’n son-
kolletjie op die mat, geknoop
soos ’n stywe vlegsel,
of opgerol, ’n tulbandjie.

My kat spring ongeërg
van haar skoot af
(praat oor ander katte
veel hy nie) & strek hom
eers voor- dan agterpote
“nes ’n bruin toffie” uit.
Hy kry terstond
’n naam:
“Gunar Johannsen”
Johann s’n, sien?).
Hy stap stertorent
voor ons verby,
& toe ek hand uitsteek
om hom te streel,
blits sy oë geel
& hy sis ’n geluid
soos papier wat skeur.

(Uit: Vleiswond, 1993)


Sondagmiddagsonnet

Die kraangrys voëls stap krysend
vlerke-agter-die-rug
al met die grensdraad langs & terug.

Oorkant die grysgroen water
begin die digter blare-muur
waaragter ander spesies daglank tier.

Bome met kaal aswit stamme
reik soos vingers uit die grond.
’n Vliegtuig kloof die koue front.

Die blare verkleur al kol-kol
vir die herfs, die trekvoëls maak wys
gereed vir die snerpende reis.

Net ons in ons motors, oë op mekaar,
bly afgesluit & ongepaar.

(Uit: Vleiswond, 1993)

***

Kaai

die ruite sweet einders wasem
vaal dis asof alles vlakker asem-
haal deur die bottelnek
van die seebog prut ’n treiler traag

die dek stink & taai die vangs glasoog stil
robbe dryf swart & glad
soos stompe in die olierige water
te lui vir liemaak of dompel

: die gety draai stadig & loom
op haar ander sy haar vuil borste
styg & val waar sy slaap

in die middagbries & soel droom
van Circe se brons matrose
met hulle snoete nat in haar lies

(Uit: Wat sag is vergaan, 1995)


Coke & sodomie

Ons is die post-vigs generasie.
Ons naai nie met kondome nie,
ons suip & glo aan bigamie
& leef vir coke & sodomie.

Gee ons cocktails in die môre,
cocaine vir ’n High Ball;
’n Kamikaze, Velvet Hammer,
of ’n Slow screw against the wall.

Gee ons Charlie Manson,
Jack the Ripper, Jeffrey Dahmer.
Gee ons liefde elke nag
in die donker galgekamer.

Gee ons onbeperkte seks:
Dionusos & Oedipus Rex.
Christus as ’n rent boy,
die Madonna as ’n heks.

Deesdae het ons threesomes:
ek & jy & ou Sluipdood
saam op die hemelbed,
kom almal finaal onder skoot.

Ons pêlle chop nog kort-kort af;
die virus draf ons stilweg kaf.
Maar ons is nie sonder drome nie:
gee ons coke & sodomie.

(Uit: Wat sag is vergaan, 1995)


Jeffrey Dahmer

So gruwelik
het ek jou lief,
ek steel jou
soos ’n dief:

uit liefde wou ek jou
opvreet: ’n reet
uit jou boarm sout
met jou doodsweet.

Ek wou iets van jou
bly behou, verhoed
dat jy my ook verlaat;
deel maak van my bloed.

Maar jou vrees was
walglik soet.

(Uit: Wat sag is vergaan, 1995)

***

Groen

Woord waarin ek sluimer
omgroen my. Die treurmoerbei
is ’n bruilofsfees

van groen strikdasse.
Die slak slaap nog dig
teen die skurwe bas

& onder die struike
tarentaal
skaduwees veerlig.

(Uit: Die algebra van nood, 2009)


Jong danser op ecstasy

Jou naakte bolyf wat glim van sweet
sal selfs die passielose gode nooit vergeet;
die blink klinknaelgordel om jou heup
is ’n melkweg wat wentel vonkend ver
& jou naeltjie die kroes geboorte van ’n ster.

(Uit: Die algebra van nood, 2009)


In hierdie nanag
vir Eugene

In hierdie nanag waar niemand praat
& net die leeslamp op die lessenaar
oor uitgeholde wange gloei, waar woorde
uitbloei soos by ’n selfmoord

of soos stilte rimpelloos poel –
in hierdie nanag, ontroosbaar, wag ’n pen
bo ’n folio wit papier, ’n naald
wat huiwer bo ’n skugter aar.

Die nag trek stywer
soos ’n toerniket. Die naald-
punt van my pen soek & vind
sy aar, & die eerste polsings van ’n vers.

(Uit: Die algebra van nood, 2009)


Als oor liefde
Grabatum generis neutri, ut Bibaculus: nam meo grabato.

Als oor liefde staan geskilder of geskryf
op mure, van Pompeji tot Graaff se poel.
Priapus hef sy weegskaal: die wynrooi lyf
het na eeue se koudlei soos lawa verstyf.

(Uit: Die algebra van nood, 2009)


Laatnag & jy slaap

Laatnag & jy slaap met arms uit-
geslinger & een been opgetrek
– ’n piramide. Agter jou grys oë
versamel jy drome & reise
& far off lonely thoughts.
Naweke vertrek jy ronkend
uit die buurt & skoert
saam met bikers op soek
na onbegaanbare paaie,
& koers by ’n wynrooi son
met eensame kop-
ligte na vergesigte
& bed-&-wasbak-
oornagplekke,
na gemeensaamheid, na bier
& saamsweet om ’n vuur
& dalk later, dop in die hand,
voor ’n pistrog dooierus neem.

(Uit: Die algebra van nood, 2009)

(C) Johann de Lange, 2010