Showing posts with label Miroslav Holub. Show all posts
Showing posts with label Miroslav Holub. Show all posts

Tuesday, August 23, 2011

Die vlieg - Miroslav Holub






Die vlieg
Miroslav Holub

Sy’t op 'n wilgertak gesit
en kyk
na 'n deel van die stryd van Crecy,
die geskreeu,
die gesnak,
die gekreun,
die vertrap en die neertuimel.

Gedurende die veertiende aanslag
van die Franse Kavallerie
het sy gepaar
met 'n manlike bruinoog-vlieg
van Vadincourt.

Sy het haar pootjies saamgevryf
terwyl sy op 'n ontweide perd
sit en mediteer het
oor die onsterflikheid van vlieë.

Met verligting het sy geland
op die blou tong
van die Hertog van Clervaux.

Toe die stilte neergedaal het
en die fluistering van verval
sagkens om die lyke gedraal het

en slegs
'n paar arms en bene
nog trillend gesidder het onder die bome

het sy haar eiers begin lê
op die enkele oog
van Johann Uhr,
die Koninklike Wapensmid.

En dis hoe
sy gevreet is deur 'n windswael
op vlug
van die vure by Estrées.

[Vertaling deur Johann de Lange]

Saturday, July 23, 2011

Miroslav Holub - Die onderrig van die Meester


Miroslav Holub

Die onderrig van die Meester
Miroslav Holub

Hy het gepraat
en die klere van die boetelinge
het swanger op die grond geval.

Dit was die Keisersnee van denke,
fluweelpoppe is gebore, jubelend.
Dit was ’n profiel van Alleman,
geknip uit swart papier.
Liewenheersbesies het onder ons vingernaels uitgekruip.
Trompette is gehoor op die mure van Jerigo.
Ons gene het gesis.

Dit was groots, terwyl hy gepraat het.
Dis net dat ek nie kan onthou
waaroor hy gepraat het nie.

(na die vertaling van David Young & Miroslav Holub)