Showing posts with label C.P. Kavafis. Show all posts
Showing posts with label C.P. Kavafis. Show all posts

Sunday, August 12, 2012

C P. Kavafis - In die vervelige dorpie


Constantine P. Kavafis


In die vervelige dorpie
C P. Kavafis

In die vervelige dorpie waar hy werk –
klerk in ’n tekstielwinkel, baie jonk –
en waar hy die twee of drie maande wat voorlê omwag,
nog twee of drie maande voordat besigheid opdroog
en hy kan vertrek stad toe en hom voluit kan onderdompel
in die aksie, die vermaak;
in die vervelige dorpie waar hy die tyd omwag –
gaan hy vanaand bed toe vol seksuele verlange,
sy jeugdigheid oplaaiend met die lyf se passie,
sy lieflike jeug oorgegee aan ’n delikate intensiteit.
En in sy slaap word hy deur genot besoek;
in sy slaap sien hy en besit hy die gestalte, die vlees wat hy begeer…


[Vertaal deur Johann de Lange]

Friday, May 27, 2011

Constantine P. Kavafis - Ithaka

Ithaka

Ithaka
Constantine P. Kavafis

   vir Eben Venter

As jy vertrek op jou reis na Ithaka
mag jou tog ’n lang een wees,
vol avontuur, vol ontdekkings.
Laistrygoniërs en Siklope,
kwaai Poseidon – vrees hulle nie:
jy sal hulle nooit op jou pad teenkom nie
solank jy jou gedagtes op hoër dinge hou,
solank ’n raar opwinding
jou gees en lyf roer.
Laistrygoniërs en Siklope,
wilde Poseidon – jy sal hulle nie teenkom nie
tensy jy hulle saamdra binne jou gees,
tensy jou gees hulle voor jou oprig.

Hoop dat jou reis ’n lang een mag wees.
Mag daar vele someroggende wees wanneer,
met hoeveel plesier, hoeveel vreugde,
jy hawens binnevaar en vir die eerste keer sien;
mag jy stop by Fenisiese handelstasies
om mooi dinge te koop,
perlemoer en koraal, amber en ebbehout,
sensuele parfuum van elke soort –
soveel sensuele parfuums as wat jy kan kry;
en mag jy vele Egiptiese stede besoek
om volumes kennis op te gaar van hulle geleerdes.

Hou Ithaka altyd in jou gedagtes.
Om te arriveer is waarvoor jy bestem is.
Maar moenie jou haas op jou reis nie.
Nóg beter as dit jare duur,
sodat jy oud is teen die tyd dat jy op die eiland aankom,
ryk met alles wat jy vergaar het op jou weg,
en nie verwag dat Ithaka jou ryk sal maak nie.

Ithaka het jou die wonderlike reis gegee.
Sonder haar sou jy nooit op reis gegaan het nie.
Sy het niks oor om vir jou te gee nie.

En as jy haar arm vind, sal Ithaka jou nie bedrieg het nie.
Wys soos jy geword het, so vol ervaring,
sal jy dan verstaan wat hierdie Ithakas vir jou beteken.

[Translated by Johann de Lange]