Showing posts with label Seamus Heaney. Show all posts
Showing posts with label Seamus Heaney. Show all posts

Thursday, January 10, 2013

Seamus Heaney - Die muishond


Die muishond
Seamus Heaney

Orent, gestreep en gedamasseer soos die altaargewaad
by 'n dodemis, paradeer die muishond se stert
die muishond. Nag na nag
het ek haar verwag soos 'n besoeker.

Die yskas het runnikend stil geraak.
My lessenaarlamp se lig was sagter anderkant die veranda.
Klein lemoene het gegloei aan die lemoenboom.
Ek het gespanne begin raak soos 'n voyeur.

Na elf jaar het ek weer liefdesbriewe
begin skryf, die woord ‘gade’ geopper
soos 'n bewaarde kuip, asof die slank vokaal
muteer het in die nag-aarde en lug

van Kalifornië. Die lieflike, nuttelose
geur van bloekoms het jou afwesigheid uitgespel.
Die nasmaak van 'n mondvol wyn
was soos om jou in te adem van 'n koue kussing.

En daar was sy, die aandagtige en verleidelike,
ordinêre, misterieuse muishond,
gemitologiseer, gedemitologiseer,
snuiwend aan die planke vyf voet van my af.

Ek het dit alles weer onthou laasnag, geroer
deur die roetstuiwing van jou naggoedjies teen slapenstyd,
jou kop-onderstebo, agterstewe na bo soektog in die onderste laai
na die swart nagrok met die diep halslyn.

[Vertaal deur Johann de Lange]

Sunday, December 2, 2012

Seamus Heaney - Twee verse

Seamus Heaney

Wildepruimjenewer 
Seamus Heaney

Die klare jenewerweer
verdonker tot winter.
Sy hewel jenewer by die wildepruim
en seël die glasfles.

Toe ek dit oopskroef
ruik ek die verstoorde
vrank stilte van ’n struik
opstuif deur die spens.

Toe ek dit skink
het dit ’n skerpheid
en vlam op
soos Betelgeuse.

Ek klink ’n glas op jou
in rook-omfloerste, blouswart
geboende wildepruime, bitter
en betroubaar.

***

Moeder van die bruidegom
Seamus Heaney

Wat sy onthou
is sy glinsterende rug
in die bad, sy klein stewels
in die kring stewels by haar voete.

Hande in haar leë skoot,
hoor sy 'n dogter verwelkom word.
Dis asof hy geskop het met die oplig
en geglip het uit haar seperige greep.

Daar was 'n tyd toe seep
die trouring af kon laat glip
wat nou vir goed ingebed is 
in haar klappende hand.

[Vertaal deur Johann de Lange]