Showing posts with label Judasoog. Show all posts
Showing posts with label Judasoog. Show all posts

Saturday, April 23, 2011

Die huwelik van woord & beeld. 5. Vincent Van Gogh

Vincent Van Gogh, Die aartappeleters (1886)

Die aartappeleters
Johann de Lange

Bruin hande skoffel in die skaars olielig

na aartappels in die geel erdeskottel,
warm & skimmelbruin, om skoon te krap,
ontbering gekerf op elke knoetsige gesig,
werkers verwring deur die landskap;

hande wat die wit helftes raakvat,

die koperketeltjie in die lampkring kantel
& die greep van skoffelpik & graaf ken,
skurf van die grond & koue water.

Só verwe hy die skunnige aartappelmense

– selfverminkte een deur God vermink –
& klee in warm kleure elke kurwe
& skilder met deernis dié bruin kring
om ’n geelhouttafel byeengebring.

Uit: Johann de Lange. 2010. Judasoog. Human & Rousseau: Kaapstad.

Thursday, April 21, 2011

Die huwelik van woord & beeld. 3. Eduard Manet

Eduard Manet, Olympia, 1863

Olympia
Johann de Lange

na ’n skildery deur Eduard Manet

Vir wie se verbeelding lê jy
gerangskik, bevrugbare blom,
wawydwakker soos ’n morning glory?
Gekamoefleer met bril, jas
& notaboek, som ek jou naakte
bedekking op: vel, haarfluweel,
die mikjuweel onnodig bedek.
Jou kamerbediende presenteer
− selfbewus oor my teenwoordigheid? −
’n ruiker: die liefdesverklaring
van ’n jong bewonderaar
vir wie jy nou nie veel oë het nie.
Die kat begluur my git. Geel oë.
Sy stert staan jakopregop.

Jou blik het my klaar opgesom
vir wat ek is: geleentheidsvoyeur,
& jy voel gevlei, geamuseer.
Jy lê lig & koel, die sandale
soos bewonderaars aan jou voete,
’n arrogante roos in jou hare
& die hanger om jou hals
’n geskenk. Só lyk jy wêreldwys
& blasé, maar mý mislei jy nié:
vir wie se gerief
lê jy so gerieflik?


Uit: Johann de Lange. 2010. Judasoog. Human & Rousseau: Kaapstad.

Thursday, April 14, 2011

Die huwelik van woord & beeld: 2. Spaanse burgeroorlog, Teruel

Spaanse burgeroorlog, Teruel, 'n man dra 'n gewonde seun. 
Desember 1937 – Februarie 1938

Skerpskutters
Johann de Lange

Spaanse burgeroorlog, Teruel

Die gewonde seun skuil teen die vaderbors,
kyk weg oor die afgesakte skouer
na die smeulende siëstas van sy jeug,
rug gekeer op die snelvuur van die kamera-
man, om sy been ’n bebloede verband.

Teen sy pa se heup die smal perdeskoen
van sý heup, skraal boude ontbloot waar broek
& onderklere ru oopgeskeur is
om die wond, met ’n jong skadu waar hulle keep
om die ongeskonde klein liefdesvont.

Die vader kyk verby sy seun se kop,
die kamera noteer: donker stoppelbaard,
hare kort, baret, halfvol bandelier,
cigarillo in sy mondhoek vasgebyt, frons hy
sonder vrees of haat, sy liefde ’n pantser

teen ons vermetel skending van die kind,
’n skans teen dié intiemer skoot van een
wat deur ’n lens se loop na hulle mik:
al word liefde, soos pyn & dood, hier openbaar,
is ons al klaar ontwapen deur sy blik.

Uit: Johann de Lange. 2010. Judasoog. Human & Rousseau: Kaapstad.

Die huwelik van woord & beeld. 1. Douglas Simonson

Papaya eater, by Douglas Simonson

Papaja-eter
Johann de Lange

na ’n skildery van Douglas Simonson

Met sy klere afgeskil
sit hy kruisbeen terracotta-bruin
op ʼn persblou kussing. Die mes
neffens hom het vaneffe nog

die sagte ding gekloof,
die silwer steel in sy hand
die natswart pitte uitgelepel
& die salmpienk

binnevrug ontbloot.
Tussen jong dye naak, besny
– nóg vrug, nóg vlees –

bied hy hom aan, gestroop
van die jongste smaak,
sy lyf ʼn taai, pesige knoop.

Uit: Johann de Lange. 2010. Judasoog. Human & Rousseau: Kaapstad.