Showing posts with label André P. Brink. Show all posts
Showing posts with label André P. Brink. Show all posts

Sunday, March 27, 2011

Die Hertzogprys vir poësie 2011

Omslagontwerp: Christiaan Diedericks

Die toekenning van die Hertzogprys vir poësie aan Die algebra van nood is 'n onverwagse & baie plesierige hoofstuk in die storie van 'n bundel waarvan die ontvangs groot verdeeldheid gebring het onder resensente. Van lesers was daar 'n gulhartiger ontvangs & getroue volgelinge van my werk het ruimskoots vir die "slings and arrows" vergoed met ruimhartige reaksies.

My uitgewer & goeie vriendin Alida Potgieter (wat sedert Vreemder as fiksie deur vuur geloop het vir my & heeltemal skokvas geraak het in die proses) het baklei vir 'n omslag wat baie gevrees het lesers sou vervreem. Dit bly vir my nog een van die mooiste omslae van enige van my boeke. Dit het my vir die eerste keer aan die werk van Christiaan Diedericks bekendgestel, & ek het sedertdien 'n ywerige versamelaar van sy werk geword.

Daar het 13 jaar verloop tussen die publikasie van my laaste digbundel, Wat sag is vergaan, in 1995 & Die algebra van nood in 2009. In dié dertien jaar het ek nie op my hande gesit nie. Ek het aanhou skryf maar die behoefte om te publiseer, was nie meer daar nie. Op 'n stadium het ek H&R genader oor die moontlikheid van 'n keusebundel aangesien al my bundels uit druk was & ek dikwels deur lesers & universiteite genader is rondom die beskikbaarheid & gebruik van my werk. H&R was baie geesdriftig, mits ek so 20-30 nuwe verse het om by te voeg as aansporing vir voornemende kopers.

Ek het omtrent 200 gedigte in my vriend prof. Henning Snyman se hande gestop & gevra dat hy my help om 20 gangbares te kry waaraan ek dalk kan werk sodat hulle by die keusebundel gevoeg kan word. Dit was hy wat H&R gekontak het & gesê het daar is 'n bundel iewers tussen al daardie gedigte & dat die keusebundel vir eers kan wag. Ek was maar langtand vir die idee, want die gedigte was te veel & wydlopend vir my om 'n bundel te visualiseer & dit sou beteken dat ek die lang & moeilike pad sou moes loop van kies, orden & slyp, van gestalte gee aan 'n bundel. Maar toe ek eers begin het, toe ek eers 'n seleksie gemaak & die verskillende afdelings aangelê het, het daardie ou energie ingeskop & die plesier van worstel met 'n manuskrip het oorgeneem. Ek het báie hard, maar báie lekker gewerk aan die bundel.

Henning het kort-kort 'n nuwe weergawe van die manuskrip gekry, & ook vriendin Joan het insette gelewer. Toe ek klaar was, het ek besef daar bly een stap oor: ek het sedert my debuut dikwels die manuskripte van my bundels vir André Brink ter insae gestuur omdat ek groot waardering & respek het vir hom as poësieleser. Sy reaksie op die manuskrip van Die algebra van nood het onmiddellik ál my vrese & onsekerheid besweer. In 'n e-pos aan my skryf hy:

Beste Johann

Nie ‘n “bespreking” nie! Net ‘n dankiesê. Vir wat, dink ek al meer, waarskynlik die beste is wat jy nog geskryf het. Jisses, dis mooi! Die soek na heiligheid en skoon-heid, die visenteer van skaduwees, die verkenningstogte deur die dood, die altyd bewus bly van verganklikheid, die deernis met mens-wees, die in-dig na die pit toe – tot in die kleinste verse, soos die groot “Rembrandt”, die odes en palinodes, die her-dink en óór-dink en deur-dink van vroeër digters… Dit alles is ‘n fees van herkenning, en tegelyk van nuwe kennismaking. ‘n Enkele keer was daar ‘n vragie:  iets hinderlik oorbodigs omtrent die frase “eensame isolasie”? Jou gebruik. ‘n paar keer, van “fonkel” eerder as “vonkel”?

Nie vir ‘n oomblik hoef jy bekommerd te wees oor trefsekerheid nie. Dis ‘n glansende bundel dié. En daarom, regtig, net DANKIE. (My enigste werklike jammerte is dat ek dit nie vroeër kon gesien het om in te sluit in die nuwe Verseboek wat nou by die drukker is nie. Maar uiteindelik maak dit seker ook nie saak nie: hy kan rustig en gloeiend wag op die volgende.

Daarom hoop ek jy sal vergewe dat dit nie ‘n deurdagte besinning is dié soos wat jy ongetwyfeld verdien nie. Maar die dankie kom diep uit die hart uit. Ek kan nie wag om dit in my hande te hou nie. Hoop dis binnekort!

Baie hartlike wense,

André

Dié bekroning is die eerste keer sedert 1937 met I.D. du Plessis se bekroning vir Vreemde liefde dat die Hertzogprys vir poësie aan 'n gay bundel/digter toegeken word. Ek neem die prys eweneens in ontvangs namens die generasie van Tagtig wat, met die uitsondering van Etienne van Heerden, tot dusver grootliks verwaarloos & oor die hoof gesien is.

Johann de Lange
Kaapstad, 27 Maart 2011


Lees ook:
Susan Cilliers - De Lange kry Hertzogprys
Joan Hambidge - Van rand tot kanon [Die Burger]
Joan Hambidge - Suiwerheid van intense paradoks [Beeld]
Hertzogprys-fokus Johann de Lange [LitNet]
Aankondiging Akademiepryse 2011 [Die Afrikaanse Taalraad]
Johann de Lange wen 2011 Hertzogprys vir Poësie [Versindaba]
Hertzogpryswenner vir poësie is …[De Kat]
De Lange wen Hertzogprys [Volksblad]
Akademie vereer skrywers [Die Burger]

Sunday, April 4, 2010

Die transformasie van Tant Emily




Pieter Paul Rubens, "Venus voor 'n spieël" (1614-15)

In Die swart kombuis raak mens & gode dikwels met mekaar gemoeid; dis 'n wêreld waarin engele heel luiters maneuvreer, & waarin die mens hom speels in die gode verlustig (& andersom).

Vir André P. Brink staan die bundel in die teken van transfigurasie: “En as alles naatloos voeg – of: as dit as so ’n ondeelbare geheel belééf word in die mistieke ekstase van die brandende heilige – dan is verwisseling van gedaante ook aan die orde. Dan word dit selfs gegéwe, selfs voorwaarde. Terwyl alles uiteindelik juis wortel in die aardse ...lê die avontuur van die heiligheid daarin dat ’n voortdurende transfigurasie plaasvind. ...Maar ook waar dit nie eksplisiet genoem word nie, word prosesse van transfigurasie voortdurend in die bundel voltrek: ...in die siening van ’n Boertante as “die immer-somerse godin” (“Tant Emily van Oom Naas”)..” (Tweede Voorlopige Rapport, 115)

Die transformasie van hierdie boeretante, “Tant Emily”, tot “immer-somerse godin”, is een waarby ek 'n oomblik wil stilstaan. Die oënskynlik losse versbou verbloem 'n hegte struktuur waarbinne die transformasie van Tant Emily na Tant Em na uiteindelik net Em/M, baie subtiel voltrek word.

Tant Emily van Oom Naas

Tant Emily van Oom Naas
was 'n Juno van 'n vrou:
Rubens kon haar geskilder het –
Sy was wat mens sou mollig noem
maar statig, regop, lank,
en blakend pienk en met 'n goue kop
en altyd in “die ander tyd”:
“Dokter het gesê”, en “toe sê dok vir my”,
Tant Em was byna onbeskaamd gesond.
En elke kind was 'n seun met wye blóú oë,
ook die enetjie wat in 'n visdam verdrink het.
“Ag jong, dit lyk my dat ek sommer vanself so raak”;
sy was dus gou getroos vir die enetjie wat dood is.
“Ag Taffy,” vir my ma, “kyk tog die dahlia,
net soos 'n mooi vrou wat uit haar bad uitklim.”
Oom Naas was maer en goedig en het sy Em verwen
en sonder klagte haar diëte saamgeëet –
hy was die sterweling, die uitgekosene,
en sy die immer-somerse godin.

(Uit: Die swart kombuis, 16)

Die sleutel tot die gedig word reeds in die eerste twee reëls gegee:

Tant Emily van Oom Naas
was 'n Juno van 'n vrou

Juno is die Romeinse vorm van Hera, die godin van die huwelik & van vrugbaarheid. Sy was in haar Romeinse inkarnasie ook godin van vroue, & daar word beweer dat sy die mooiste van al die godinne was, selfs mooier as Afrodite. Die gestalte van Hera figureer weer later in Die swart kombuis, in “Kombuis van Hera”, Cussons se eie speursprokie.

Juno was ook die dogter van Saturnus, suster-&-vrou van Jupiter – vir die gode is bloedskande geen beletseling nie, & die beskermvrou van huwelik. Junie (die maand wat na haar vernoem is) word beskou as die gunstigste maand om in af te haak.

Juno het haar wél effens bo die manewales & kaperjolle van haar eggenoot-&-broer gehou. Haar skoonheid was meer afwerend as uitnodigend. Haar skoonheid & deugde is besing deur skrywers soos Pausanius, Plutarchus & Martialis. In kontras met ander gode & godinne is Juno nooit naak uit- of afgebeeld nie, maar gekleed (haar lyf net vir haar man alleen).

Pieter Paul Rubens, "Ixion, bedrieg deur Juno" (1615)

Die uitsondering hier is Rubens se skildery Ixion wat in die Louvre hang, wat twee Juno’s uitbeeld, een die ware Juno & die ander ’n replika wat Jupiter uit wolke geskep het om Ixion te toets (Artibus et Historiae, 119).

Rubens's study of the antique and of the new sciences manifests itself in this huge celebratory work which uses the story of Jupiter's love for Io and the jealousy of his wife Juno as an allegory of the cosmos and demonstrates his colour theory.

Rubens's painting represents the concluding scene from the story of Io. The giant Argus of the hundred eyes, whom Juno set to watch over Io, was murdered by Mercury. In memory of Argus Juno took his eyes and set them in the tail of her peacock.” (Pieter Paul Rubens: Early Mythological Paintings by Rubens)

Wanneer die spreker sê "Rubens kon haar geskilder het" word hierdie aardse Juno verbind met 'n skilder wie se naam sinoniem geword het met malse vrouefigure: "Rubenesk" het kortbegrip geword vir die wulpse, malse vrouefigure met hulle gloeiende, stralende velkleur wat Pieter Paul Rubens een van die beroemdste Vlaams-Europese barokskilders gemaak het.


Pieter Paul Rubens, “Juno & Argus” (1611)

Nóg 'n Rubens-skildery waarin Juno figureer, is "Juno & Argus" (1611), een van sy beroemde mitologiese skilderye & ’n besondere grusame toneel van onthoofding. Sy mitologiese skilderye is ryk aan kleur & beweging, vol sensualiteit, dikwels gekoppel aan brutaliteit. Hy was meesterlik in sy kombinasie van ’n realistiese aanslag met mitologiese & klassieke temas.

Maar wanneer ék aan Tant Em dink, dan sien ek eerder 'n figuur soos dié in Rubens se "Venus voor 'n spieël" met haar malse lyf, haar gloeiende vel & ligroos getinte boude & wange.

Tant Em deel dan ook baie van die kenmerke van Rubens se vroue: sy is “wat mens sou mollig noem”, sy is “blakend pienk & met 'n goue kop”. “Blakend” suggereer onder meer dat Cussons Tant Emily “in haar aardsheid as 'n gloeiende (blakende – letterlik: brandende), getransformeerde wese” sien (Gilfillan, 49). Synde godin van die vrugbaarheid is sy ook altyd in “die ander tyd”, 'n transfigurasie wat deur die gebruik van aanhalingstekens “die gesuggereerde Victoriaanse preutsheid, ironies weerspreek.” (Gilfillan, 49).

Tant Em is “onbeskaamd gesond”, & haar besoeke aan die dokter dien net om haar gesondheid & vrugbaarheid te bevestig. Daar word niks gesê oor Oom Naas se band met die kinders nie. Tant Em beweer dat sy “sommer vanself” verwagtend raak, sónder Oom Naas se hulp.

Oom Naas word dan ’n Josef-figuur teenoor haar Maria van die Onbevlekte Ontvangenis. Maria is immers deur die Heilige Gees bevrug & Josef is in 'n droom deur 'n engel opdrag gegee om hom met die verwagtende Maria in Nasaret te gaan vestig (sou Oom Naas se naam 'n toespeling wees op Nasaret?). Josef is dus deur God gekies as man vir Maria & vader vir haar kind (hy is die “uitgekosene”). Gilfillan merk trouens op dat “elke kind () 'n hemelskind” was (my kursivering).

Tant Emily se vrugbaarheid is van so aard sy is “gou troos vir die enetjie” wat “in ’n visdam verdrink het” (my kursivering). “Enetjie” sowel as die onbepaalde “’n” suggereer dat Tant Emily nie die kind se naam kan onthou nie, & ook nie in presies wátter visdam hy/sy verdrink het nie. Tant Emily het nie tyd vir trane nie, haar fokus is op haar skoonheid & haar diëte, op haar voorkoms.

Oom Naas, daarenteen, is “maer en goedig” teenoor Tant Em se “mollig” & effense onverskilligheid. Tant Em kom altyd eerste, dit word alreeds in die titel & die eerste reël van die gedig oorgedra: “Tant Emily van Oom Naas”. Selfs die Em (M) waartoe haar naam transformeer, kom voor die N van syne in die alfabet. Hy is die “uitgekosene”, m.a.w. die een uit haar vryers wat Tant Emily gekiés het, waarskynlik oor sy selfloosheid & gelate gedienstigheid. Hulle huwelik die toonbeeld van liefde & trou. Hy 'n “sterweling, die uitgekosene” & “sy Em” die onsterflike “immer-somerse godin”.

Oom Naas is soos Josef 'n sint as dit kom by sy toewyding aan Em/M. Waar Tant Emily drie direkte spreekbeurte kry, hoor ons niks van Oom Naas se kant nie, wat aansluit by die feit dat daar net skrapse inligting oor Josef beskikbaar is & dat hy nêrens in die Evangelies self praat nie.

Vir haar nugtere, tawwe vriendin Taffy beskryf Tant Em die dahlia as “'n mooi vrou wat uit haar bad uit klim”, 'n verwysing waarmee die spreker 'n verband trek tussen Tant Em & Venus, godin van die liefde. Ook in haar beskrywing van die dahlia “net soos ’n mooi vrou wat uit haar bad uitklim”, is daar ’n identifikasie met die skoonheid van die blom.

Tant Emily se transformasie, ook weerspieël in die transformasie van haar naam – van Tant Emily, tot Tant Em, tot net Em – is hiermee voltrek. Maar Em het ook “die tekenwaarde van 'n ander M, dié van Maria, heilige der vroue” (Gilfillan: 50), & dit beteken dat Oom Naas die tekenwaarde van Josef aanneem. Maria/Tant Em is ten slotte die gestalte wat hemel & aarde in haar verenig.

Bibliografie

André P. Brink. 1980. Tweede voorlopige rapport. Kaapstad: Human & Rousseau.

Sheila Cussons. 1983. Verwikkelde lyn. Kaapstad: Tafelberg.

Aneta Georgievska-Shine. “On Juno and Her Semblance in Rubens' ‘Ixion’”. Artibus et Historiae, Vol. 23, No. 46 (2002), pp. 119-126.

F. R. Gilfillan. 1984. Geel grammofoon: perspektiewe op die werk van Sheila Cussons. Kaapstad: Tafelberg.

Pieter Paul Rubens: Early Mythological Paintings by Rubens. Beskikbaar by:
http://www.moodbook.com/history/baroque/rubens-early-mythological-paintings.html#juno-and-argus


Peter Paul Rubens. Wikipedia, the free encyclopedia. Beskikbaar by: http://en.wikipedia.org/wiki/Peter_Paul_Rubens

Saint Joseph. Wikipedia, the free encyclopedia. Beskikbaar by: http://en.wikipedia.org/wiki/Saint_Joseph

(C) Johann de Lange, 2010

Sunday, March 28, 2010

Uit hierdie Valkenburg



Ingrid Jonker, foto in rooi

Pres. Nelson Mandela het tydens sy eerste opening van die Parlement op 24 Mei 1994 ’n gedig van Ingrid Jonker aangehaal, & daarmee opnuut die aandag op dié enigmatiese digter & persoonlikheid gevestig. Sy was “’n Afrikanervrou wat ’n spesifieke ervaring transendeer het & ’n Suid-Afrikaner geword het, ’n Afrikaan & ’n wêreldburger”, het hy gesê. “Sy was beide digter & Suid-Afrikaner. Sy was beide Afrikaner & Afrikaan. Sy was beide kunstenaar & méns. Te midde van wanhoop het sy hoop gevier. Gekonfronteer met die dood, het sy die skoonheid van die lewe bevestig.”

Wie wás Ingrid Jonker, die Afrikaanse digter & Afrikanerdogter wat pres. Nelson Mandela só ontroer het met haar gedig “Die kind”? ’n Gedig wat kultusstatus in Afrikaans & ook in die buiteland geniet.

In die vroeë oggendure van 19 Julie 1965, ’n jaar ná haar terugkeer uit Europa, depressief as gevolg van die einde van verhoudings met Jack Cope & André Brink, sonder geld & met haar roem alreeds aan die verdof, het Ingrid Jonker in Drieankerbaai verdrink. Hoewel die romantiese weergawe dit wil hê dat sy die see ingestap het, het sy waarskynlik eerder onder die invloed van drank & pille op die sand aan die slaap geraak “in wier en gras”, & is later deur die gety weggedra & weer teruggegee. Dit is die deel van haar verhaal waarvan die meeste mense iets weet. Maar daar is veel meer.

Sy is in die lente van 1933, op 19 September in Douglas, ’n dorpie naby Kimberley, gebore. Haar pa, Abraham Jonker, was ’n jong skrywer & ambisieuse politikus, & haar ma, Beatrice Cilliers, ’n lid van ’n gesiene Hugenotefamilie. Die gesin het verbrokkel, & op driejarige ouderdom het Ingrid saam met haar ma & ouer suster, Anna, na Durbanville, buite Kaapstad, verhuis waar hulle by haar oupa & ouma ingewoon het. Ná haar oupa se dood het hulle in armoede geleef, onderhou slegs deur haar ouma se ouderdomspensioen & ’n karige toelaag van haar pa wat intussen weer getroud is.

Op Somerset-Wes, Strand & Gordonsbaai het hulle ’n byna nomadiese bestaan gevoer, geteister deur armoede & ontbering. Ná die dood van hul ma & ouma het dié twee in ’n kinderhuis beland, & later by hulle pa ingewoon. Ingrid se ouma was ’n sterk, vormende invloed in haar lewe. Sy was ’n afstammeling van ’n ou Hugenote familie, hardkoppig & deugdelik, maar met min trek vir hulle stugge godsdiens. Sy het haar meer aangetrokke tot die eenvoudige, openhartige kleurlinggemeenskap gevoel.

Elke Sondag het Ingrid haar ouma deur die sand & struike rondom Valsbaai vergesel wanneer sy gaan preek & Sondagskool hou. Tydens dié informele dienste is Ingrid se herskrywings van die hallelujaliedere voorgelees & gesing. Haar eerste gedigte het reeds op sesjarige ouderdom in skoolblaaie & later Die Jongspan verskyn. As skooldogter aan die Wynbergse Hoër Meisieskool, ’n skool met Engels as voertaal, het die jong Ingrid Jonker steeds gedigte geskryf. Sy het later onder die invloed van die gedigte van N.P. van Wyk Louw & D.J. Opperman gekom, & op sestienjarige ouderdom het sy haar eerste manuskrip, getiteld Na die somer, aan ’n uitgewer voorgelê. Hoewel dit afgekeur is, het die verse die aandag van die keurder, D.J. Opperman, getrek & in die volgende jare word hy ’n soort mentor-figuur wat haar aanmoedig & help.

Ses jaar later, in 1956, het haar debuut, Ontvlugting verskyn, ’n dun bundel van 25 verse wat nie veel aandag getrek het nie, hoewel skrywers soos Jan Rabie & Uys Krige onmiddellik haar potensiaal raakgesien het.


Ingrid & Simone

Sy is in 1957 met die digter Pieter Venter getroud & die paartjie het Johannesburg toe verhuis. Aan die einde van daardie jaar is haar enigste kind gebore, ’n dogter wat sy Simone gedoop het.Die huwelik het na drie jaar verbrokkel & Ingrid het met Simone alleen teruggetrek na Kaapstad.

In daardie tyd het sy verhoudings gehad met beide Jack Cope & André Brink, & een van hierdie verhoudings het in ’n swangerskap & uiteindelik aborsie geëindig. Die stres van die aborsie gekoppel met die konflik met haar pa & vrees dat sy straks dieselfde geestesongesteldheid as haar ma kon ontwikkel, het ongetwyfeld daartoe bygedra dat sy haarself in 1961 by Valkenburg ingeboek het, dieselfde inrigting waar haar ma jare vantevore oorlede is.

Haar tweede bundel, Rook en oker, verskyn in 1963 te midde van reaksies wat gewissel het van vyandigheid tot stilswye. Die poëtiese krag & oorspronklikheid van die gedigte kon egter nie geïgnoreer word nie. Dis ’n intens erotiese bundel waarin, volgens John Kannemeyer, “gesoek word na ’n verlore geliefde, in so ’n mate dat die verhouding tussen die ek en die afwesige jy tot enigste werklikheid verhef en die omringende wêreld en mense tot illusie gereduseer word”.

In 1964 word Rook en oker bekroon met die Afrikaanse Pers-Boekhandel prys, & Ingrid het besluit om die prysgeld van £1000 tesame met ’n toelaag van Anglo American Corporation te gebruik om oorsee te gaan. Sy vertrek op die Union Castle na London met die bedoeling om ’n tyd lank daar te bly. Maar Jack beëindig kort daarna sy verhouding met haar, per brief, & Ingrid se fragiele gemoed het heen & weer tussen uiterstes beweeg. Vandag sou sy straks as bipolêr gediagnoseer & behandel kon word, maar in die Sestigerjare was daar nie vir haar uitkoms nie.

Ook die reis na Parys & Barcelona in die geselskap van André Brink het nie verloop soos sy gehoop het nie, & hy het haar meegedeel dat hy besluit het om nié sy vrou vir haar te verlaat nie. Ingrid het in ’n diep depressie verval & is uiteindelik deur André Brink na ’n Paryse hospitaal geneem.

Ná haar terugkeer het sy aan ’n vriend geskryf dat sy uitgeskryf is & nie beter as Rook en oker kan doen nie. Maar die gedigte wat sy geskryf het in die periode tussen haar terugkeer & haar dood ’n jaar later is ongetwyfeld van haar beste ooit, gedigte wat getuig van ’n buitengewone taalaanvoeling, tegniese vaardigheid, metaforiese vermoë & ’n onmiskenbare eie stempel.


Die Sharpeville-slagting

’n Koerantberig oor ’n baba wat in sy ma se arms deur die kop geskiet is tydens die onluste van 1960, het ’n geweldige indruk op die gemoed van Ingrid Jonker gemaak. Sy sê hieroor in ’n onderhoud: “I saw the mother as every mother in the world. I saw her as myself. I saw Simone as the baby. I could not sleep. I thought of what the child might have been had he been allowed to live. I thought what could be reached, what could be gained by death? The child wanted no part in the circumstances in which our country is grasped. He only wanted to play in the sun at Nyanga”.

Uit die persoonlike van dié insident ontstaan die universele gedig, tegelyk ’n aanklag & ’n kreet, & sekerlik een van Ingrid Jonker se bekendste gedigte: "Die kind", vertaal in meer as nege tale, onder meer Engels, Nederlands, Duits, Pools, Frans, Zoeloe & Hindi. En dit is hieruit dat pres. Mandela meer as dertig jaar later aanhaal:

Die kind wat dood geskiet is deur soldate by Nyanga

Die kind is nie dood nie
die kind lig sy vuiste teen sy moeder
wat Afrika skreeu skreeu die geur van vryheid en heide
in die lokasies van die omsingelde hart

Die kind lig sy vuiste teen sy vader
in die optog van die generasies
wat Afrika skreeu skreeu die geur
van geregtigheid en bloed
in die strate van sy gewapende trots

Die kind is nie dood nie
nòg by Langa nòg by Nyanga
nòg by Orlando nòg by Sharpville
nòg by die polisiestasie in Philippi
waar hy lê met ‘n koeël deur sy kop

Die kind is die skaduwee van die soldate
op wag met gewere sarasene en knuppels
die kind is teenwoordig by alle vergaderings en wetgewings
die kind loer deur die vensters van huise en in die harte van moeders
die kind wat net wou speel in die son by Nyanga is orals
die kind wat ‘n man geword het trek deur die ganse Afrika
die kind wat ‘n reus geword het reis deur die hele wêreld

Sonder ‘n pas

Maart 1960

’n Gedig wat tegelykertyd ’n profesie was, & in vervulling gegaan het; die gestalte van die onskuldige kind groei uit tot dié van ’n reus wat “reis deur die hele wêreld”.

Hier volg vertalings in Engels, Nederlands & Duits:

The child who was shot dead by soldiers at Nyanga

The child is not dead
The child lifts his fists against his mother
Who shouts Afrika ! shouts the breath
Of freedom and the veld
In the locations of the cordoned heart

The child lifts his fists against his father
in the march of the generations
who shouts Afrika ! shout the breath
of righteousness and blood
in the streets of his embattled pride

The child is not dead
not at Langa nor at Nyanga
not at Orlando nor at Sharpeville
nor at the police station at Philippi
where he lies with a bullet through his brain

The child is the dark shadow of the soldiers
on guard with rifles Saracens and batons
the child is present at all assemblies and law-givings
the child peers through the windows of houses and into the hearts of mothers
this child who just wanted to play in the sun at Nyanga is everywhere
the child grown to a man treks through all Africa
the child grown into a giant journeys through the whole world

Without a pass

Translation from the original Afrikaans by Jack Cope

***

Het kind dat doodgeschoten is door soldaten bij Nyanga

Het kind is niet dood
het kind heft zijn vuisten naar zijn moeder
die Afrika schreeuwt de geur schreeuwt
van vrijheid en heide
in de townships van het omsingelde hart

het kind heft zijn vuisten naar zijn vader
in de optocht van de generaties
die Afrika schreeuwen de geur schreeuwen
van gerechtigheid en bloed
in de straten van zijn gewapende trots

Het kind is niet dood
noch bij Langa noch bij Nyanga
noch bij het politiebureau van Philippi
waar het ligt met een kogel door zijn hoofd

Het kind is de schaduw van de soldaten
op wacht met geweren pantserwagens en knuppels
het kind is aanwezigbij alle vergaderingen en wetgevingen
het kind loert door de vensters van huizen en in de harten van moeders
het kind dat alleen maar wilde spelen in de zon bij Nyanga is overal
het kind dat een man is geworden trekt door heel Afrika
het kind dat een reus is geworden trekt door de gehele wereld

Zonder pas

(Uit Ik herhaal je, die biografie deur Henk van Woerden, Podium Uitgewers, 2000. Die vertaling is deur Gerrit Komrij)

***

Das Kind das erschossen wurde von Soldaten in Nyanga

Das Kind ist nicht tot, nein
Das Kind hebt die Fäuste gegen deine Mutter
Die Afrika schreit, schreit der Geruch
Von Freiheit und Heide
In den Ghettos des umzingelten Herzens

Das Kind hebt die Fäusste gegen seinen Vater
In dem Zug der Generationen
Der Afrika schreit, schreit der Geruch
Von Gerechtigkeit und Blut
In den Straßen seines bewaffneten Stolzes

Das Kind ist nicht tot, nein
Weder in Langa noch in Nyanga
Noch in Orlando noch in Sharpeville
Noch auf der Polizeistation in Philippi
Wo es liegt mit einer Kugel durch den Kopf

Das ist der Schatten der Soldaten
Auf Wache mit Gewehren Sarazenenpanzern und Knüppeln
Das Kind ist da in allen Versammlungen und beim Beschluß über Gesetze
Das Kind schaut durch die Fenster der Häuser und in die Herzen der Mütter
Das Kind das jetzt in der Sonne bei Nyanga spielt ist überall
Das Kind das zum Mensch geworden ist zieht durch ganz Afrika
Das Kind das zum Riesen geworden ist reist durch die ganze Welt

Ohne Pass.

In sy opstel skryf Uys Krige: “Die kind is geen politieke, maar ’n menslike protes teen wit geweld sowel as swart geweld.” En dit is dus in ’n sekere sin nie vreemd dat pres. Mandela juis uit hierdie gedig van Ingrid aangehaal het nie: Sy was, in ’n tyd toe dit nog nie mode was nie, volledig ’n inwoner van Afrika. Sosiale onreg van enige aard was vir haar ’n persoonlike affront. In ’n artikel in Drum sê sy: “I have never been conscious of racial feelings. I have seen people simply as people. I think it has been an advantage to my development as a writer and as a human being.”

Daar word vertel dat sy eenmaal tussenbeide getree het om te keer dat ’n gekleurde passasier uit ’n bus gesit word, deur die kondukteur se arm vas te gryp. Gegrief deur haar inmenging het hy hom losgeruk & haar gevloek. Sy het al haar krag saamgebol & hom geklap. In die worsteling wat daarop gevolg het, het sy op die vloer beland & van die ander passasiers het haar opgehelp.

Haar politieke uitlatings was vir haar pa ’n groot verleentheid & het ’n verdere wig ingedryf tussen hulle. N.P. van Wyk Louw skryf na haar dood: “Ek vra my af of ek al ooit iemand ontmoet het wat só van die begin af alles teen haar gehad het, iemand wat so ’n swaar lewetjie moes deurmaak. En dan tog iemand wat só relatief vrolik binne daardie swaar omstandighede kon lewe”.

In ’n huldigingsbundel wat ná haar dood verskyn, Oggendlied, verskyn die volgende huldigingsgedig deur Wilma Stockenström, die enigste soortgelyke gedig deur Stockenström na my wete:

By die selfmoord van jong skrywers
Ter nagedagtenis van Ingrid Jonker en Nat Nakasa

Want wanneer hulle sterf
is daar nie formasievlugte nodig nie
gillende spreeus begelei hulle en die makaber meeue
hoef daar nie 'n kanonwa gesleep te word nie
gedigte dra hulle
sketse vertel klein intieme besonderhede
lank na die laaste berig oor die ontslape politikus

Maar wanneer hulle te jonk sterf
– afgeskeurde tak van 'n stralende perskeboom –
is dit 'n arm wat afgeruk word
drup die bloed op ons ontbyttafel
koes die huise, krimp die godspaleise ineen
waai 'n bitter rook oor die land uit eindelose spelonke.

Bibliography

Ontvlugting, Culemborg, Kaapstad, 1956
Rook en oker, Afrikaanse Pers, Johannesburg, 1963
Kantelson, Afrikaanse Pers, Johannesburg, 1966
'n Seun na my hart; 'n drama in een bedryf, Johannesburg, 1968, Dalro
Versamelde Werke, Perskor, Johannesburg, 1975
Collected Works, vertaal deur Jack Cope & William Plomer, Kaapstad: Human & Rousseau, 2001
Black Butterflies, vertaal deur Antjie Krog & André Brink, Kaapstad: Human & Rousseau, 2007

(C) Johann de Lange, 2010