Showing posts with label N.P. van Wyk Louw. Show all posts
Showing posts with label N.P. van Wyk Louw. Show all posts

Saturday, June 16, 2012

Peter Blum – Die kranksinnige

Peter Blum


Peter Blum se Drie Uiterstes-siklus (“Man wat blind word”, “Man wat doof word” & “Man wat mal word”) is oorbekend aan generasies skoolkinders & studente. Dis egter verál “Man wat mal word” met sy ondeurdringbare taalgebruik waarna ek bly terugkeer. 

Man wat mal word

Onbepeilboor die dag, maar die bewoespyn dààr 
dat al-lis beslote is en slags ék oop 
vir enige skerf nael, skermloos teen die oog 
wat drin die werwel noulet, fynynig vaam

tort in die klier. War-om? Alluin ’n kwik haat 
het hierdie verstrooide pynpuin in kontrole 
nog somgehou. Waarvuur? Maar tussen gus knook 
en wrig het die endtwoord in duisdelike taal

eindelig hoopgebron: Wie só uitgedeel 
aan die al is, het die al in hom begryp – 
en dit ís liefde: kán dus in die greep

van één drong woord kraal wat alle enkelheid 
ophef, mág met kloktong die warreld vry, móét preek 
wat voldoen om juble te vrymaak: WOKNAKWYF!

Ek kan nie help om, elke keer wat ek die vers lees, die “sound and fury” onderbreek deur oomblikke van helderheid te probeer ontsyfer nie. Verskillende aanslae (onder meer die etimologiese, kontaminasie, portmanteau-woorde, toutologieë, anagramme & nuutskeppinge) lewer moontlike lesings op, maar ’n totale ontsyfering bly my ontwyk. Uiteindelik stuit die begrip teen WOKNAKWYF. Blum is by uitnemendheid die digter van nuutskeppinge, iets wat hom sou laat bots met gevestigde figure. In meer as een opsig was Blum Afrikaans se eerste ikonoklas.

Reeds met sy debuut, Steenbok tot poolsee, het hy nie altyd saamgestem met voorstelle wat die keurder, D. J. Opperman, gemaak het nie. In ’n brief aan sy uitgewer laat hy hom skerp oor die keursverslag uit: “Woorde soos “onwegbaar” en “Antarktiek” het tot dusver nie bestaan nie; maar van nou af bestaan hulle wel.”

Maar Blum was selde in sy gedigte dwars sommer net om dwars te wees. Hy het deeglik gewerk & diep nagedink oor die betekenis van woorde. Sy kennis van, & natuurlike aanleg vir tale het hom ideaal hiervoor toegerus. Wanneer Opperman dus beswaar aanteken teen die gebruik van “dool” in die vers “Rooinekke op Hermanus” is Blum  gereed met ’n verdediging van sy keuse:

“’n Woord soos “dool” klink miskien digterlik, maar ek het dit opsetlik gebruik om ’n verskil van “dwaal” aan te dui. ’n Dwaalspoor veronderstel immers ’n regte spoor, maar vir oertydse nomades bestaan daar geen ander leefwyse as om rond te trek nie, d.w.s. om te dool. Ek dool so deur die wêreld, meneer, maar ek is nie in ’n dwaal nie. My woordgebruik kan ek oor die algemeen verdedig.”

By tye is hy bereid om toe te gee wanneer dit nie wesentlik die betekenis van die vers raak nie, maar meer om konvensie gaan: “Ek is ook gewillig om die koppeltekens in woorde soos “bed-toe” deur te haal, maar dis darem nie my skuld dat die Akademie spellings uitgee soos Dior modes uitgee nie.”

Sommige dinge verander nooit, mnr. Blum, sou ek hom vandag gelyk kon gee.

Selfs N. P. van Wyk Louw se entoesiastiese radiopraatjie oor Steenbok tot poolsee het Blum dwars in die krop gesteek, & in ’n brief aan Louw skryf hy onder meer: “Hoewel ek dus u gulheid waardeer wat my ’n plekkie langs u en Opperman wil inruim, moet ek u vra om nie teleurgestel te wees as ek nie daar opdaag nie.”

Hy erken dat sy “idees beuk teen die nou as beperk aangevoelde Dietse woordeskat en sintaksis. Waar ek in my eersteling bekoor het met ritme en beeldspraak sal ek miskien in my tweede selfs my gunners afsit met pynlike pogings om te nuanseer en te presteer.”

Sy eksperimentele drif om die uitdrukkingsvermoë van Afrikaans te verruim & al fyner betekenisnuanses te skep, lei dan ook dat hy in Enklaves van die lig die spel op die spits dryf, iets wat hom in botsing met sy vriend & mentor D. J. Opperman sou bring. 

J. du P. Scholtz was die keurder & hy het voorbehoude gehad wat betref die gebruik van neologismes & vermeende Germanismes in die gedigte, voorbehoudes wat D.J. Opperman gedeel het. Beide was van die opinie dat die bundel nie op dieselfde hoë standaard van die debuut was nie, & sommige verse ook “gevaarlike” stof bevat het. Hulle hoofbeswaar was egter teen Blum se “opsetlike gebruik van woorde wat geen Afrikaans is nie of nie die betekenis of funksie het wat hy in ’n bepaalde verband klaarblyklik daaraan gee nie." 

Opperman het later aan Blum geskryf & hom probeer oortuig om verder aan die bundel te werk & nog nuwe verse by te skryf. Opperman was van mening dat Blum dit aan sy talent verskuldig was om 'n sterker bundel te lewer. Koos Human was bereid om die manuskrip ook aan Van Wyk Louw vir keuring voor te lê, maar Blum het hom vererg & die manuskrip aan Balkema voorgelê.

Nie dat dinge by Balkema enigsins vlotter verloop het nie. Blum het gemeen dat Balkema se sloerdery net een ding kon beteken: dat die manuskrip weer afgekeur gaan word, & in sy paranoia het hy selfs gemeen dat Opperman iets daarmee te doene gehad het: “Die volksheld-vark Opperman moes natuurlik geweet het.”

Balkema het onderneem om die bundel te druk maar het eweneens probleme gehad met Blum se neologismes. Blum was bereid om twintig van die woorde te vervang, “mits u ophou om teen die res te vit”, 'n aanbod wat Balkema uiteindelik aanvaar het.

Dat Blum ’n moeilike mens was om oor die weg mee te kom blyk duidelik uit onder meer sy briewe wat in 2008 deur Hemel & See Boeke  gepubliseer is. Dit is ook duidelik dat Blum se intellek & gees veels te ruim was vir die benouende literêre klimaat waarin hy hom bevind het. Afrikaans was nie sy moedertaal nie, maar hy het dit sy eie gemaak & verryk met ’n ruim Europese ingesteldheid & belesenheid. Ek twyfel of ons letterkunde sedertdien weer ’n digter-intellektueel van sy kaliber opgelewer het. Hy het met twee bundels vermag wat die meeste digters ’n leeftyd sal neem, & sy invloed is oor ’n wye spektrum in die poësie aantoonbaar.

Dit sê ook al iets dat beide Opperman & Louw soveel waardering & respek gehad het vir die werk van ’n jong digter. ’n Debuut soos Steenbok tot poolsee kom maar min oor mens se pad. Eers weer in 1970 met Sheila Cussons se Plektrum was daar ’n debuut wat tot dieselfde mate volwasse & afgerond was.

In die Maart 1955 uitgawe van Tydskrif vir Letterkunde publiseer Blum ’n gedig getiteld “Die kranksinnige”. Die gedig is nooit in sy bundels opgeneem nie, & dit wil lyk of dit dalk ’n voorstudie of voor-loper kan wees vir “Man wat mal word” wat hy later in die Drie Uiterstes-siklus gepubliseer het, hoewel hy in “Man wat mal word” radikaal ’n ander koers ingeslaan het & as’t ware van binneaf-uit geskryf het, uit die oogpunt van die kranksinnige, in stede van die buiteblik wat die vroeër vers gee.

Die kranksinnige

“Interessante geval, dié,” sê die psigiater
en wys hom aan, “hy dink hy is ’n heilige:
dikwels sit hy die ander aan die skater,
maar laat hom daardeur nie kwel nie. Hy is veilige
geselskap. Sy klomp maats is almal kwater.
Doodvreedsaam – jy sal sien.” Half-medelydend,
half-spottend spreek hy die sielsieke aan:
“goeiedag, Rabboni, nog tevrede?”
            Swygend
kyk dié terug asof hy niks verstaan,
maar voel dat iets van hom verwag word.
            Vleiend
glimlag die dokter.
            Asof van sy groot pligte
skielik bewus – met twee uitgestrekte
vingers (verbasend vaardig) – in ’n ligte
gebaar van sy hand – só – skets hy ’n korrekte
kruis oor hulle wetenskaplike gesigte.

Die tragedie van Blum se lewe & talent word mooi teen die einde van Wat het geword van Peter Blum? deur J.C. Kannemeyer saamgevat:

Van watter hoek af ’n mens die saak ook al beskou, was die laaste dertig jaar van Peter Blum se lewe ’n leë, sinlose bestaan. Die skeppende impuls wat juis in die "klein taal ten volle kon ontplooi, het opgehou om te bestaan of was nie sterk genoeg om in die wêreldtaal Engels vir hom ’n pad oop te skryf nie. Uiteindelik was daar niks, of dan slegs die via negativa wat hy in die Drie Uiterstes-siklus in Enklaves van die lig so pragtig verwoord het: die klaarkom met min woorde omdat daar geen vertroudes meer oor was nie, ’n lewe in ’n bevrore tyd met ’n durende duisternis en ’n onpeilbare dag waartydens die mens deur die bewoespyn in die verskriklike ellende gedompel word. Alles het ineengestort, ook - en veral - die vermoë om in die greep / van één drong woord (te) kraal wat alle enkelheid / ophef. Die digterlike woestyndood wat Opperman in sy opstel Kuns is boos in Wiggelstok  so insiggewend as die groot vrees van die skeppende kunstenaar  beskryf, het in die Afrikaanse letterkunde nog nooit ’n afskuweliker gestalte aangeneem as in die Peter Blum van 1960 tot en met sy dood nie. (155-56)

Oor tyd & afstand bly koggel hy: WOKNAKWYF!


Johann de Lange

Bronne
Erika Terblanche. 2011. "Peter Blum (1925 - 1990)". ATKV Skrywersalbum
J.C. Kannemeyer. 1993. Wat het geword van Peter Blum? Tafelberg Uitgewers
Peter Blum. 2008. Briewe van Peter Blum. Ingelei deur J. C. Kannemeyer. Hemel & See Boeke.
Peter Blum. 1955. “Die kranksinnige”. Tydskrif vir Letterkunde, Maart 1955.

Saturday, February 4, 2012

N. P. van Wyk Louw - XXVIII. Aprilis

Leslie Caron as the dancer, Jane Avril.


XXVIII

Aprilis
N. P. van Wyk Louw

Jane Avril dances in Paris
scarlet lips, girdle pitch:
underneath like a smile
the thighs in braided muscle twitch

– “We” must (Cézanne insisted):
in shrill, sterile and sunlit-language glow
fix the soul (apparently) of “Old Masters”
and find “mind” and “wisdom” somehow –

those beautiful steel rods in black
shoot cleanly like an engine-arm blow
in sectors, minimal, and round in quartered
circles: shin and toe.



[Translated by Johann de Lange]

Saturday, January 7, 2012

N. P. van Wyk Louw - XXVI. She’ll never come. Do not listen.

N. P. van Wyk Louw


XXVI

She’ll never come. Do not listen.
Do not wait. Do not anticipate.
Let go of the waiting. Learn not to wait.
Learn not to listen. Let go.

N. P. van Wyk Louw, Tristia

[Translated by Johann de Lange]

Monday, January 2, 2012

N. P. van Wyk Louw - XIX. Northern June

N. P. van Wyk Louw

XIX

Northern June

I thought that for one whole day
I hadn’t strayed to think
of you: the float of the world would not,
could not, would not, sink:

now the merle sings four-in-the-morning
where I wait above the city
in a while the crow wil come
and announce the day.

N. P. van Wyk Louw, Tristia

[Translated by Johann de Lange]

Sunday, January 1, 2012

N. P. van Wyk Louw - V. Whoever said goodnight must be good

N. P. van Wyk Louw

V

Whoever said goodnight must be good
to those to whom goodnight was said;
for the evenings are there for loving
and the day is hard, and daybreak is mournful,
mostly: we are not earth, which is pure.
Our labours do not bring joy into our hearts;
We are still a world unfinished.

N. P. van Wyk Louw, Tristia

[Translated by Johann de Lange]

Sunday, January 30, 2011

Handlangers. ’n Blog vir die linkerhand

Slapende sater Bouchardon (Louvre)

Draadtrek, riemruk, tos, mielie-rol, of deesdae: wanking, edging, sounding, nutting, jerking off, spreading the baby batter, facials, bukake, cream pies, & self-snacking – elke streek het sy eie streke. Om Opperman effens aan te pas: die plek & die spelers mag wissel, maar die spel word in die tyd herhaal. Om die waarheid te sê, is riemruk ouer as die oudste van beroepe. Sedert Adam dit ontdek het (soos gesimboliseer deur die slang), het seuns & dogters, ma’s & pa’s, Ooms & Tannies, Oumas & Oupas, nonne & priesters, selfs bobbejane & dolfyne, nog nooit opgehou om na dié solitêre plesier terug te keer nie, ongestuit deur die huwelik of enige selibatêre voornemens.

Freud het heelwat gedoen om dit te probeer bevry van die vuur-&-swael retoriek, & voor te hou as natuurlike variasie in menslike seksuele gedrag. Dit is egter vandag nog steeds in sekere sosiaal-religieuse kontekste ’n sonde, & frases soos selfbevlekking, verspilling op barre grond, of geykte waninterpretasies van bybeltekste gedy steeds. To swallow, or not to swallow?

Ek onthou my eerste keer met 'n neef asof dit gister was, daardie gevoel van plesier & angs. Gelukkig herstel mens op daardie ouderdom baie gou & ’n tweede & derde keer het gevolg (oor & weer dié keer, want dis een van daardie rare vreugdes wat nóg lekkerder is om te gee as om te kry), net om weer daardie gevoel van beheer verloor, daardie “heer-, heer-, heerlike” oomblik, weer & weer te ervaar. Aaah, die volume, die afstand, die gradiënt, die instant reload van die jeug!

Dit behoort niemand te verras om in die letterkunde vele tekste te kry gewy aan die tema nie (ook in die sin van wyding): gedigte, kortverhale, selfs ’n roman soos Portnoy’s complaint – wat ’n plesierige leeservaring was dié nie, des te meer so omdat ek dit gelees het in ’n tyd toe die boek sélf ook verbode was & baie moeilik bekombaar (pun intended). En dan kom die ander kunsvorme ook nog by. Foto’s, sketse, skilderye, beeldhouwerk. En vele studies. Te veel om te onthou. Maar dis elke jongman se plig om hom weldeeglik van dié tradisie te vergewis & seker te maak dat hy goed daarin onderlê word.

Die volgende gedig deur Charles Ortleb het ek vertaal & in Wat sag is vergaan opgeneem. Dit gee ’n aweregse blik op die erotiek tussen seuns & die sluimerende geweld, die “militerotics” waarna hy in ’n ander vers verwys:

Party seuns
Charles Ortleb

Wanneer party seuns
jou vra om te dans
kan jy sien hoe onskuldig
hulle trille in hulle broeke hang.
Swengelend, soos hulle sê,
en dit roep op: perde, stalle, drank, hooi.

Party seuns knoop hulle hemde oop
en die skoonheid maak seer;
party seuns trek selfs uit
in oorvol kamers met Dylan aan.

Party seuns is boos.
Hulle lok ander seuns in diepsinnige bekentenisse in.
Hulle stort saam,
hulle eet saam blomme
en noem mekaar ramme.

Party seuns, weer, gaan vir seks soos ape en monsters en hulle pa's.
Hulle kry skrikwekkende ereksies.
Smegma-poele versamel langs hulle beddens.
Gebruikte kondome hoop op op hulle agtersitplekke
en dooie luise val uit hulle lendene
in kolle vaselien.

Die vleis van ruwe stegies hang in hulle onderklere.
Die soort vleis wat jy pluk uit die broeke van rampokkers.
Die vleis in sy Amerikaanse sap wat lê in Jeeps en B42's.
Ek bedoel die vleis
van alle soldate wat die hel uit die hemel uit sal bombardeer,
die vleis
van al daardie hoerskool-kadette
wat in die skemer masturbeer asof hulle ‘n 747 land.

Ek konsentreer hier uiteraard op die manlike variant omdat ek van die vroulike bedrywigheid net tweedehandse (ai, kyk net hoe is selfs die táál vol daarvan) kennis dra. Vrouens besondig hulle glo minder daaraan, maar ek betwyfel dit sterk – nie as ek luister na vriendinne nie. Die manlike variant is vir my net mooier omdat dit oop & bloot is, trots, selfs heroïes; terwyl masturbasie deur vroue & meisies ’n inwendige, meer diskrete, geheimsinniger aktiwiteit is. En dan is die manlike orgasme ook een van die mooiste dinge om te aanskou, iets waarvan ek nooit genoeg sal kan sien nie. Dit kan gul wees, energiek, of suinig, met ’n boog uitgeslinger, of soos ’n jampot wat oorkook. Dit is vir my die begin van álle beweging, ’n big bang in die kleine.

Ek is nie ’n size queen wanneer dit kom by die grootte van die voël nie (hoewel ’n groot voël iets primordiaals uitstraal), maar wanneer dit kom by cumshots, soos dit in die bedryf bekend staan (komskote in Afrikaans, of sponk?) dan is my leuse immer: the more the merrier. En dan moet dit ook skokwit wees & diktaai, & oordadig gul met daardie skerp reuk van vadoeke wat pas uit die bleik gehang word om droog te word. Niks van daardie dun, waterige offers nie.

Die een wat méér & verder & hoër skiet as die res, is die een wat my oog sal vang & like it or not, ook die meeste aandag sal trek by die plekke waar sulke plesiere in die ope bedryf kan word. Daar is shooters, & dan is daar super shooters of drenchers (bless them) wat op webwerwe soos xtube liefdevolle cumpilations maak van hulle eie of ander se cumshots met dramatiese soundtracks.

Daar is die waaghalse wat wank in hysbakke, busse, treine, huurmotors, hotelbalkonne, sypaadjies, openbare toilette, piskrippe of bankies in openbare parke, langs snelweë, of terwyl hulle bestuur. Daar is geen einde aan die smorgasbord van outoerotiek nie, & elke ou het sy eie manier van doen, ’n tegniek wat nommerpas is nét vir hom. Ek wil my verstout om te sê as dit by draadtrek kom, kan ek – sonder om die grense van my ingebore beskeidenheid te oorskry – sê dat ek meer daarvan weet as die gemiddelde man, gay of str8. Ek het darem in my leeftyd so 'n goeie klompie manne uitgehelp.

Wat my by hierdie mymery uitgebring het, is ’n gedig deur Andries Samuel, in sy skitterende, pas verskene debuut, wanpraktyk, & dit lui so:

styf

met my hande vryf ek my piel
op en af pluk ek dit aanhoudend
ek trek my draad –
ek trek dit uit en volg dit ín
ek pak my piel beet
soos ’n probleem
al skommelend
probeer dit uitkom

ek dink ek tos net lekker
maar angs groei uit my
soos ’n pielstyf –
ek gryp dit soos ’n dwaas
rem dit in plesier
al pols dit van verdriet
tap ek myself leeg
die bietjie ek wat nog oor is
spuit ek weg oor onvrugbare lappe

my handlangerende hande
my onpaar minnaars

Wat Andries se gedig besonders maak, is dat dit nie sonder meer net nóg ’n draadtrekgedig is nie, maar uitgroei tot beswering van eensaamheid & verdriet, ’n onvrugbare, onoplosbare probleem wat al “handlangerende” op die lappe kom.

’n Ander gedig wat baie bekend is in Afrikaans & weldeeglik gekanoniseer is, is Leon Strydom se voortreflike “John Williams, De Doelen”, ’n vers oor dié legendariese kitaarspeler waar die handbewegings van kitaarspel & die falliese aard van die instrument sélf ontgin word.

John Williams, De Doelen
Leon Strydom

naar welke verten mag hij zijn getogen

met madonnahande speel hy met die kind
snaarstyf tussen sy bene
hy aai die kind hy paai die kind
hy vryf die winde uit die kind

kwingkwang kwingkwang kwater
hier kom die krappie
hy soek water
kielie kielie kielie

en die kind vind dit mooi
hy ontdooi
hy kraai van plesier
hy tierelier
uit duime suig hy drome
hy lispel hy speel met sy tone

en o hy gee hart en hand
aan die kind wat vra om sy hand
hy streel die nek
warm druk hy op elke plek
onkel bonkel riebietjie stonkel
onkel bonkel knor
onker bonkel riebietjie konkel
onkel bonkel knor
maar die kind is vol draadwerk
hy pruttel en pruil
hy is sterk en onwennig
hy skop styf soos ’n stok
en hy huil

toe kwint hy hom
hy gee hom op sy bas
hy onthou hoe dit was
onkel bonkel riebietjie konkel
onkel bonkel onkel
god hy aai hom
en hy paai hom
hy streel die nek
die warmte van elke plek
dit lyk of hy gaan praat
goeie god hy trek sy draad

amo amas amat
daar kom die leraar met die lat
amamus amatis amant
my god my god dit brand

toe aan sy eie lewe
slaan hy die hand
en kyk waar hul hul ook begewe
die een hand ken die ander hand
hul voer die kind
hul dra die kind
hul skrik ligtelik
as hy hul op die vingers tik
handhandig en vingeralleen
onderleg hul hom in die taal van gebaar
lei hul hom in in
die kuns van lag liefhê en ween
en het kind ligt al te kijken maar
en tuurt in een denkbeginnen

In Afrikaans is draadtrekgedigte dunnerig op die grond, maar daar is genoeg, & dalk maak ek hulle bymekaar vir ’n volgende blog (enige voorstelle welkom). Dikwels moet mens gaan grawe tussen ongepubliseerde materiaal, want daar is nog steeds die opvatting dat erotiese skryfwerk iets van ’n abberasie is, ’n skuldige tydverdryf, iets wat nie ernstig bedoel is nie, net vir eie plesier, of vir dié van ’n handvol uitgesoekte vriende, soos byvoorbeeld Auden se bekende “The platonic blow”.

Ek ervaar al hierdie vooroordeel my hele skryfloopbaan, maar gelukkig is dit iets waaroor ek my nog nooit verknies het nie. Ek beskou nie my erotiese skryfwerk as minder, of minder belangrik as énigiets anders wat ek geskryf het nie. Nét van vriende verwag ek onvoorwaardelike aanvaarding, & ek hoop dat ek dit ook op my beurt géé. Van ander lesers & letterkundiges verwag ek nie dieselfde nie, & die áfmaak van die erotiese in artikels of resensies het my nog nooit ’n oomblik se slaap laat verloor nie.

As ek my gedagtes bietjie laat gaan, dan kom daar ’n paar verse by my op. Ek herinner my die volgende kortetjie deur Koos Prinsloo (in die trant van Ronnie Belcher) & hoop dat ek hom reg onthou:

Hy slat hom lat hy hyl,
ja, hy slat hom lat hy hyl,
maar al wat in sy hand oorbly,
is melkwit honnekwyl.

Of die volgende deur ’n mededigter wat vir die ander span speel – alhoewel as dit by riemruk kom, is ons almal in dieselfde span – & sélf ’n goeie corpus verse aan die lyflike toegewy het, ek verwys natuurlik na Daniel Hugo:

’n Lucifer in die lende

wat is veiliger as hierdie vuurhoutjie
wat byna dadelik vrek?
die trilling van gevaar
sit in jou vingers as jy hom trek

na ’n paar probeerslae
is daar ’n vlam
wat spetter, skiet en dan
blus met die reuk van swael

inderdaad: in jou hand
het jy die land
se veiligste vuurhoutjie

(1995: 41)

Daardie nat vonk stig inderdaad landswyd & dag & nag & op die onmoontlikste plekke sy brand & brandinge, soos die volgende koshuisherinnering van die uwe. En watter wonderlike geleenthede is seunskoshuise, oorslapery, of daardie wonderlike kerk- & voortrekkerkampe nie vir hande om onderling & -langs besig te raak nie!

Kamermaat

Ek’t hom spits-oog afgeloer
waar hy in die skemer woel,
skuldig soos die eerste mens

– want ons aarde het afgekoel.

Op die koshuisbed boktoon gestrek
het hy met wakker hand die koue
sintel weer tot kool wou wek.

Hoe het ons aarde nie afgekoel nie.

Van toe af wag ek al dat hy
oor die melkweg wat ons skei
die nat vonk weer laat spring

oor ons afgekoelde aarde.

(1991: 42)

In Nagsweet (1991), geskryf na ’n besoek aan New York waardeur ek vir altyd getransformeer is & waardeur ek baie van my Calvinistiese ballas ontslae kon raak, skryf ek uitvoerig oor my seksuele ervarings: die cruising, verkieslik op gevaarlike plekke (ek dink hier aan die opmerking van ’n bekende moffie wat op ’n keer gesê het hy weet nie hóéveel huwelike hy al in openbare toilette gered het nie!), & die leuen van heteroseksualiteit (elke moffie sal jou ’n hele paar stories kan vertel van str8 encounters, & str8 ouens, as hulle die bôls iewers vandaan kan haal, sou ’n hele paar van hulle éie kon vertel).

Ek het ook nog nooit soloseks gesien as ’n laaste uitweg vir wanneer mens nie die “real thing” op die lyf kan loop nie. Draadtrek is ’n unieke seksuele aktiwiteit met sy eie bevrediging, & álle mans, of hulle nou getroud, of in ’n verhouding is, maak nog steeds tyd vir daardie plesiertjie. En soos Woody Allen gesê het, dis ten minste seks met iemand waarvan jy hou, & dat jy nie altyd jou beste hoef te lyk nie.

Ent

Uit die haarblom van jou lyf
kom die stamper stu-orent:
tot barstens toe gereed gevryf
om my teen winter in te ent.

(1990: 41)

Surfer

Hy ry die kruin so lank hy kan.
Aangeleun teen die wind se kolf,
gebruinde bene styf gespan,
is hy die skuimpie op my golf.

(1991: 31)

As jong snotkop is ek betower deur die volgende vers deur N.P. van Wyk Louw, & alhoewel ek dit nie heeltemal kon verbaliseer nie, het ek instinktief aangevoel dat daar in Louw se vers met die vuur in die vingers van die brandstigter, & die brand wat uiteindelik “straal” kan word & “wit-goed” kan maak, iéts onheilig & plesierigs aan die gang is:

LXXV. Piromaan
N.P. van Wyk Louw

die vuur sit in my vingers
in die haartjies op my hand
en dans op elke vingernael
om los te kom, brand
te kan dra en straal te kan word
en óp te klim en áls wat hy
saam kan sleep, wit-goed te maak
tót hy sy eie maat kan vry

(1981: 281)

Dit het aanleiding gegee dat ek in Snel grys fantoom (1986) ’n antwoord geskryf het op Louw se vers waarin ek ’n persoonlike herinnering verbind het met die bekende assosiasie tussen brandstigting & masturbasie:

Piromaan
vir N.P. van Wyk Louw

In sy vingerpunte jeuk die
vuur, in sy senupunte die sug
na lig, om ’n vuur-
(houtjie te trek) teen papier,
tussen vingerpunte te vat
& vryf totdat die stokkie uit-
bars in vuur, wit spring
uit sy hand se donker nis
& gretig reik na gras & riet,
hout & mied, pisvlammetjie eers
& later siedend onversadigbaar.
Sy donker hand se nis. Kinders mag
nie speel met vuur, dié ont-
hou hy goed, dit lei
na bednatmaak, na lieg
& slae met die draadhanger
vroegoggend as die maan nog
’n stomp gekoude vingernael
in die koue lug hang:
die hitte wat ’n hete hand
om sy sitvlak vou, afvloei & tintel
tot in die wortel van sy geslag,
die sonderlinge vuur.
Dié onthou hy goed, pen in die hand,
die onheilige plesier
& die groot lus om te pie.
Hy trek sy draad & stort sy vuur.

(1986: 9)

In sy pragtige debuut, Hamburgers en hotdogs (1979), skryf E.W.S. Hammond in kort & bedrieglik eenvoudige gedigte oor die liefde & die lyf. Dit doen hy soms as die jaloerse minnaar wat wil hê wat hy nie kan kry nie, of soms speels ander uitvlugte vind vir sy frustrasie:

Herfs

Ek lê op my rug
en kyk na wolke
in ’n Maggie Laubser-lug.

Ek lê
op my bed en
rook ’n sigaret.

Ek luister na
Tino Rossie en speel
met met trossie.

(1979 :6)

In ’n vers soos die “Hengelaar” (1979: 17) gebeur iets soortgelyks wanneer hy vol hoop “sy lyn / met die sinker ver” ingooi, net om te eindig met iets “glibberigs in sy hand”.

Maar die lyf bly nie altyd jonk nie, & die kragte taan. Die ouer Hammond, wat toe al gevorderde diabetes gehad het, kon in Doodsteek van ’n diabeet (1995) ontluisterend skryf nie net oor die liggaamlike aftakeling & afvrot nie (in een vers skryf hy oor die verlies van sy voorvel vanweë die siekte), maar ook die wegkrimp van die fallus & die seksuele in sy bestaan, soos in die volgende vers:

Slak

Jy lê opgerol
in ’n skulphuis met
’n blink slymvlies.
    Skulphuis
    slymsluis
kom uit jou huis uit.

Jy slym uit na my
tot my voelers
om jou lyf gly.
    Skulphuis
    slymsluis
bly by my huis.

Jy rol terug
tot ’n opgerolde skulphuis
met ’n slymstreep
in my vuis.

(1995: 34)

In ’n sin voltooi die digter die kringloop & word draadtrek, wanneer die lyf & die verbeelding dit nog toelaat, wat dit ook in die jeug so moeiteloos kon doen: ’n vertroosting in die ouderdom.

Hoewel nie ’n draadtrekgedig nie, is Barend Toerien se gedig “Voël” uit Parte speel, ’n pragtige, parmantige portret van die hoofspeler in hierdie lyflike tydverdryf. Die liefdesverhouding van ’n man/seun met sy voël is sy eerste liefdesverhouding, & dis ook die enigste een wat ’n leeftyd lank hou:

Voël

Van kleins af altyd opstandig
met ’n kop van jou eie
het jy jou gang gegaan,
my laat bloos tot agter my ore
toe Juffrou my in onvoldoende kortbroek
onverwags vra om op te staan.

Eienaardige appendant, oor jou aard
help dit nie om na te dink nie;
jy’s oorgenoeg befreud, onbeskaamlike
onbetaamlike agterstevoor stert;
dog vir soveel (gedeelde) ekstase sê ek: dankie.
vleeslus word alleen gestil deur die liggaamlike,

al was jou rondtastinge, keer op keer
nooit alleenlik na die lyflike:
daardie tergende wolkskadu Liefde
het jy sonder ophou na gebéúr
en jou kop aanhou bly stamp, rou en disnis;
en met wie en waar is nobody’s business.

(1991: 21)

’n Herinnering bly my by. ’n Saterdagoggend in die Tuine. Ek & Sheila Cussons het ontbyt gehad & agterna al geselsende terug gestap na St. Martini Gardens, die woonstelblok regoorkant die kompanjiestuin waar sy toe gebly het. Dit was lank gelede, vroeë Negentigerjare. Ons het by ’n vywer stil gaan staan sodat haar been ’n ruskans kon kry & gekyk na die visse wat uit die groen water boontoe kom vir kos. Ek kan nie onthou waaroor ons gesels het nie, & hoe die gesprek spesifiek daardie rigting ingeslaan het nie, maar skielik het sy opgekyk na my, die son effens in haar oë sodat sy hulle moes skreef. “Het mans beheer oor hulle ereksies?” het sy gevra, “of gebeur dit onwillekeurig?” Ek was onkant gevang, maar gewoond aan haar ratse brein.
“If only,” het ek laggend geantwoord, “nee, daardie ding het ’n kop van sy eie.” Wat haar laat lag het.

“Ek weet nie wat al die fuss is oor pornografie,” sê sy na ’n ruk, toe ons verby die Sterrewag & naby die hek was. “Jy weet, ek het op ’n keer pornotydskrifte onder my seuns se matrasse gekry – hulle was nog jonk – maar ek het dit net so terug gesit & niks daaroor gesê nie. Mettertyd het hulle dit sélf uitgegooi.”
“Boys will be boys,” het ek geantwoord. “Bless them.”


Bronne

Johann de Lange. 1986. Snel grys fantoom, Human & Rousseau: Kaapstad
Johann de Lange. 1990. Wordende naak, Human & Rousseau: Kaapstad
Johann de Lange. 1991. Nagsweet, Taurus uitgewers
Johann de Lange. 1995. Wat sag is vergaan, Human & Rousseau: Kaapstad
E.W.S. Hammond. 1980. Hamburgers en hotdogs. Tafelberg Uitgewers
E.W.S. Hammond. 1995. Doodsteek van ’n diabeet. Tafelberg Uitgewers
Daniel Hugo. 1995. Monikkewerk, Tafelberg Uitgewers
N.P. van Wyk Louw. 1981. Versamelde gedigte, Human & Rousseau/Tafelberg
Andries Samuel. 2011. wanpraktyk, Human & Rousseau: Kaapstad
Leon Strydom. 1973. Geleentheidsverse, Human & Rousseau: Kaapstad
Barend Toerien. 1991. Parte speel, Human & Rousseau: Kaapstad

Tuesday, March 16, 2010

Hoe om (soos iemand anders) te skryf. Oor vakmanskap & die skryf van gedigte. - Deel 1





Each memorable verse of a true poet has two or three times the written content.
Alfred de Musset, Le Poète déchu, 1839

Die skryf van dié tipe artikel is selde sonder slaggate: dit is onvermydelik voorskriftelik & as sodanig druis dit in teen álles wat ek in verband met poësie geleer het; dis beperkend, kan patroniserend klink, & laat nie genoeg speelruimte vir die individuele talent nie. En dan is dit ook noodgedwonge vereenvoudigend van iets so kompleks as die skryf van ’n gedig. Daar is geen reëls in die poësie nie. Wys my ’n reël & ek wys jou ’n gedig wat dit vindingryk oortree. Ek storm nietemin in waar engele huiwer om voet neer te sit, want ek glo dat niks op aarde werklike talent kan onderkry nie.

Wat hier volg, is indrukke & gevolgtrekkings wat ek deur die jare versamel het uit my eie bemoeienis met die medium, uit so wyd as moontlik poësie lees, uit my deelname aan skryfwerkswinkels (aan beide kante van die lessenaar), & uit my rol as keurder vir uitgewers. Dan is daar ook die folio’s wat soms op die vreemdste plekke in my hand gestop word, dik intimiderende koeverte wat in my posbus beland, of deesdae e-posse met aanhegsels. Skryf is nié – soos baie meen – die tydverdryf van sensitiewe siele nie: die skeppingsdrang is ’n universele, byna instinktiewe impuls – & onverwoesbaar daarby.


I. Die vereiste van vakmanskap
A poet is, before anything else, a person who is passionately in love with language.
 – W. H. Auden

Gedigte is die resultaat van 1% inspirasie & 99% perspirasie. ’n Dictum waarmee alle skrywers bekend is. Daarbenewens moet jy ook jou medium, jou vák ken. Vakmanskap is nodig om daardie eerste impuls deur te sien. Waar dit ontbreek, misluk die beste idees.

Hoewel gedigte meer dikwels deur die een of ander kreatiewe inval of idee van die digter ingegee word, kan die jong skrywer gerus in die oog hou dat gedigte uit woorde & nie uit idees bestaan nie. Cesare Pavese het geskryf: “When writing poetry, it is not inspiration that produces bright ideas, but the bright idea that kindles the fire of inspiration.” Dit is wanneer die digter oor die nodige vakmanskap beskik om iéts van die “bright idea” te máák, dat skryf werklik ’n geïnspireerde aktiwiteit word. Oftewel: chance favours the prepared mind.

Alhoewel dit deesdae die mode is om Engels in Afrikaanse gedigte te gebruik, & dit in bedrewe hande hoogs funksioneel kan wees, wil ek die jong digter aanraai om baie spaarsamig met hierdie modegier om te gaan. Gedagtig aan Auden se uitspraak hierbo, is ’n digter iemand wat in die allereerste plek lief is vir sy taal. Die versoeking om te gryp na kitsklaar frases in Engels is meer dikwels as nié die resultaat van luiheid.

Deel van die plesier van skryf is júis daardie soek na die regte woord of beeld. Onlangs het Loftus Marais se gedig rondom kersfees in die spervuur beland vanweë sy gebruik van Engels in die teks. Ek vermoed dit was sy bedoeling om met die Engelse cliché’s kommentaar te lewer op die banaliteit, die ontluistering van kersfees. En hoewel mens seker ’n argument daarvoor sou kon uitmaak, kan ek nie help om te wonder of daar dan nie Afrikaanse cliché’s rondom kersfees is nie, & of die digter nie met ’n bietjie ekstra werk daarby sou uitgekom het nie.

Ek wil beklemtoon dat ek nie onnodig puristies wil wees hieroor nie, maar ek glo wél dat 'n digter respek vir sy medium moet hê. Ek gebruik sélf by geleentheid Engels, maar net wanneer ek voel dat ek nie ’n bevredigende Afrikaanse eweknie vir die begrip kan vind nie, of wanneer ek na ’n Engelse teks of konsep wil verwys. Besluit maar self. Hier is die gedig:

Studie met krismisboom en kat
Kersfees 2009

die swart kat jessy (pragtig so dragtig)
is uitgestrek langs ’n krismisboom
van goedkoop plastiek:
oh nativity for the 21st century

eers dink jy niks kan méér verskil nie:
die kalm feit van ’n ronde kat
en die cross-dressing boom
se metafisika van kitsch

om gelyk te kyk na die ritme van die kat se asem
én die ritme van die elektriese liggies
is ’n visuele weergawe
van om “she sells sea shells on the sea shore” te sê

die pels (fyn soos ystervylsels
in magnetiese patrone) teenoor die kleurvolle boom
wat terselfdertyd homself
én ’n kindertekening van homself is.

maar jessy staan nou op, en strek die feather boa van haarself lank uit
en stal haar gaap ook uit
stadig, op haar pote, die ene vampira
vain en versadig . . .

ja daai conception was alles behalwe immaculate
sy’s effe lam, haar maag ’n soort gewas
terwyl g’n wind my evergreen boompie ooit hiér sal kan aantas of om-
waai nie

teenstellings self: die hopie helder donkerte
van die kat wat weer gaan lê
en die boom ’n flashing arrow
wat histeries wys na niks

'tis the season van sterre en pompoms
en al die dinge wat mens “netelig” kan noem
ja hemelboom en heksekat
is eintlik ewe grillerig
om aan te vat.

Antjie Krog se verdediging van die gebruik van Engels in haar gedigte (& sy doen dit meestal funksioneel & verantwoord) was die kondonering waarop ’n hele skool jonger digters gewag het wat dit nou onnadenkend & onkrities gebruik. Dit herinner nogal aan die gebruik van klein letters in die Sestiger-sewentigerjare, waarskynlik in navolging van die Amerikaanse digter e.e. cummings se idiosinkratiese poësie.

Cummings het egter al so vroeg as 1923 met tipografie begin eksperimenteer, & sy tipografiese manewales het heelwat in gemeen met die taalgebruik tipies van skisofrenie. Hier ter plaatse was die leestekenloosheid in bittermin van die gevalle werklik onontbeerlik funksioneel. Daar is nog steeds digters wat dit gebruik, maar daar is bittermin digters wat dit uitsluitlik gebruik. Dit sal altyd deel uitmaak van die skrywer se tegniese arsenaal. Een van die digters wat dit m.i. werklik betekenisvol & betekenis-sképpend gebruik, & weer nuut gemaak het, is T.T. Cloete.

Terug na perspirasie. Talent alléén is nie voldoende nie. Die voornemende digter moet deursettingsvermoë hê & ’n dik vel. Moet nie ontmoedig word deur gemene opmerkings in skryfklasse, kritiese keurverslae of die plaag afsêbriewe waarmee jou aanvanklike pogings begroet word nie. Bou ’n stewige verwysingsraamwerk op deur soveel & so wýd as moontlik te lees. Jy kan nóóit te veel lees nie. Wanneer jy van ’n gedig hou, probeer verstaan wát presies dit is waarvan jy hou in die gedig, & stel vas hoe die digter die effek bereik.

’n Jong digter (& met jonk bedoel ek beginners van enige ouderdom) behoort, soos Antjie Krog by geleentheid voorgestel het, ten minste Groot verseboek heeltemal deur te werk voordat hy of sy weer ’n hand aan ’n gedig waag. Dis belangrik vir ’n digter om te weet wat reeds in sy taal gedoen is.

Baie jong digters begin verkeerdelik met die vrye vers, vermoedelik omdat dit téén die gevestigde orde inbeweeg & die rebelse nuk van die jeug bevredig. Maar dié versvorm is baie moeiliker om baas te raak as wat dit op die oog af mag lyk. Die vrye vers is alleen vry in die sin dat elke gedig sy eie vorm skep, ’n vorm wat as ’t ware al skrywende & organies saam met die gedig ontstaan. Dit is vry in die sin dat dit nie ’n vaste vorm as struktuur gebruik nie, soos in die geval van die sonnet, villanelle of sestina nie. Geen gedig, hoe “vry” ook al, is sonder vorm nie. Daar bestaan nie iets soos ’n “vormlose gedig” nie – dis ’n oksimoron. Dis veel eerder ’n geval van presies hóé vorm in verskillende soorte poësie gedefinieer word. Die register hier is so wyd as die Heer se genade & regverdig ’n hele aparte artikel.

Ek beveel altyd aan dat beginnerskrywers ’n tyd lank vaste vorms beoefen. Die ervaring & dissipline wat hierdeur opgedoen word, sal die digter in latere skryfwerk goed te staan kom. Vorm stuur ’n gedig ook soms in verrassende rigtings, & op vondse af wat die digter andersins nie sou maak nie. Struktuur is nie ’n struikelblok nie, verre daarvan: struktuur bevry.


II. Drie stadia in die totstandkomingsproses

Die skryf van ’n gedig kan rofweg in drie stadia verdeel word: 1) die versamel van rou materiaal, 2) seleksie, 3) ordening & afronding. Hierdie drie stappe is net bedoel as hulpmiddel, & nie as onbuigbare “wette” nie. Die jong digter sal, soos hy groei, weldra agterkom dat die verskillende stadia nie so maklik te skei is nie, & dat hulle deurmekaar loop, oorvleuel.

Ek wil hierdie drie stadia aan die hand van Elisabeth Eybers se sonnet “Muse” (Kruis of munt, 1973) illustreer:

Die doel van sy gedrag word nou en dan
waarneembaar; uit die rommel en afbraak
van elke dag wat hy deursif herwin
hy stukkies glas en splinters kwarts en tin
om ’n flikkerende mosaïek te maak
met urelange martelende getuur,
’n kop wat klop en oë soos klodders vuur.
O hierdie hardepad – geen sterfling kan
by sy verstand die selfbedagte taak,
die langsaam blootlê, kies en konstrueer
volvoer, was daar nie iewers ’n oerplan
wat sy geheue nog steeds hipnotiseer,
wat hy nie meer uit sy breinkronkels ban...
Die staat versorg intussen sy gesin.

Hoewel Eybers hier sterk klem lê op die harde werk wat in die skeppingsproses ingaan, erken sy die rol van die oorspronklike inspirasie wat tot die skryf van die gedig aanleiding gegee het: die “oerplan / wat sy geheue nog steeds hipnotiseer”.

Die frase “die langsaam blootlê, kies & konstrueer” ondervang presies die drie stappe van die skryfproses: die boustof vergader, die seleksie, & die uiteindelike ordening & afronding.

1. Die rou materiaal is die eerste weergawe op papier & is uiters selde perfek. Soms word ’n digter begenadig & skryf ’n gedig in een sitting uit, perfek sonder om ’n woord te wysig. Maar hierdie oomblikke is nie genoeg om ’n loopbaan van te maak nie.

Die Amerikaanse digteres Sylvia Plath skryf in haar pragtige vers “Black Rook in Rainy Weather” oor hierdie verhelderende oomblikke:

Miracles occur.
If you care to call those spasmodic
Tricks of radiance
Miracles. The wait's begun again,
The long wait for the angel,

For that rare, random descent.

Met die eerste weergawe is daar altyd ruimte vir verbetering. Die digter kan hiér so uitgebreid & woordryk wees as wat hy wil, & alles invoeg wat enigsins bruikbaar mag wees vir die gedig. Eybers stel dit só:

                  uit die rommel en afbraak
van elke dag wat hy deursif herwin
hy stukkies glas en splinters kwarts en tin

Hierdie “rommel en afbraak” maak die rou materiaal uit vir die gedig. Die woorde “rommel” & “afbraak” is interessant omdat dit verwys na ruwe materiaal, na dit wat afgebreek, uitmekaar gehaal, weggegooi is. Dié woordkeuse is eweneens belangrik omdat die skeppingsproses onder meer die bymekaarbring van hierdie disparate elemente in ’n nuwe verband behels. Maar meer daaroor láter.

In hierdie stadium is daar waarskynlik nog geen patroon nie, of net vaagweg; daar is nog min samehang. Die resultaat van “die langsaam blootlê” is net los “stukkies glas en splinters kwarts en tin”. Let op die verskeidenheid (die “amount and diversity of materials integrated” waarvan Wellek & Warren praat) aan boustof vir die gedig, of dan die “mosaïek”: glas, kwarts (wat in ’n wye verskeidenheid kleure voorkom), tin. Glas & tin (alreeds kultuurprodukte, alreeds verfyn uit growwer boustof), kwarts (steeds in natuurlike vorm). Sou dit verkeerd wees om in dié boustowwe ’n toespeling te sien op Van Wyk Louw se “gevormde” & “ongevormde”?

2. Vervolgens selekteer (“kies”) die digter uit die rou materiaal nét dit wat nodig is vir die gedig. Die aanvanklike “deursif (en) herwin” maak nou plek vir ’n meer doelgerigte aktiwiteit. Eybers verwys hier na die “urelange martelende getuur”, die skryf van die gedig word ’n soort selfopgelegde strafarbeid (“hardepad”). Die “verstand” kom nou in die spel, & die digter se aktiwiteit word as “die selfbedagte taak” beskryf. Die digter selekteer uit wat hy versamel het. ’n Herkenbare “vorm” mag in hierdie stadium begin duidelik word. Wat nie bruikbaar is nie, word uitgegooi, selfs al is dit van jou mooiste reëls of beelde.

3. Dit bring ons by die laaste stap, naamlik ordening: die “konstrueer” waarvan Eybers praat. Die digter fokus nou sy aandag om ’n patroon te ontdek of te skep in die geselekteerde materiaal, die “oerplan”.

Nou is die tyd om te besluit watter vorm die gedig gaan aanneem (dikwels is dit nie die digter nie, maar die materiaal sélf wat in ’n spesifieke rigting dwing). Gaan dit ’n vrye vers wees, of gaan die digter dit ’n tradisionele vorm gee soos ’n sonnet of ’n villanelle? Die digter besluit oor metrum, rym (sou hy op rym besluit, dan ’n rymskema wat iets bydra tot die tema & nie maar net versiering is nie). Hy identifiseer progressies waarvan hy dalk nie in stap 1 bewus was nie, maar waarop hy nou wil voortbou of wil versterk. Daar word voorts gekyk na ander klankpatrone, na strofe-indelings, na waar reëls afgekap word, of die metafore klop. Enige stoplappe, gewoonlik die gevolg van die dwang van rym of metrum.

Sodra die materiaal gesnoei & georden is, is dit tyd om aandag te gee aan die finale afronding. Die digter bekyk & beluister elke woord in die gedig. Pas die woorde bymekaar, of is daar woorde wat uit die toon val? Elke woord word opgetel & teen die lig gehou, omgedraai & ingeskat na karaat. Hoewel ek skepties is oor die idee van die onvervangbare woord, glo ek die digter moet probeer om so ná as dêmmit daaraan te kom.

Laastens, maar uiters belangrik: lees die gedig hardop vir jouself voor. Wat jy voor jou het, kan weliswaar die “flikkerende mosaïek” wees waarvan Eybers praat, maar ’n voorlesing sal enige verskuilde swakhede wat betref klank, ritme, of toon onmiddellik uitwys. Gedigte het nie net ’n skrifbeeld nie, maar ook ’n klankbeeld. Ánders as met kinders, moet hulle nie net gesien word nie, maar ook gehoor word.

Bibliografie

Eybers, Elisabeth. 1973. Kruis of munt. Kaapstad : Human & Rousseau.


(C) Johann de Lange, 2010