Saturday, June 16, 2012

Peter Blum – Die kranksinnige

Peter Blum


Peter Blum se Drie Uiterstes-siklus (“Man wat blind word”, “Man wat doof word” & “Man wat mal word”) is oorbekend aan generasies skoolkinders & studente. Dis egter verál “Man wat mal word” met sy ondeurdringbare taalgebruik waarna ek bly terugkeer. 

Man wat mal word

Onbepeilboor die dag, maar die bewoespyn dààr 
dat al-lis beslote is en slags ék oop 
vir enige skerf nael, skermloos teen die oog 
wat drin die werwel noulet, fynynig vaam

tort in die klier. War-om? Alluin ’n kwik haat 
het hierdie verstrooide pynpuin in kontrole 
nog somgehou. Waarvuur? Maar tussen gus knook 
en wrig het die endtwoord in duisdelike taal

eindelig hoopgebron: Wie só uitgedeel 
aan die al is, het die al in hom begryp – 
en dit ís liefde: kán dus in die greep

van één drong woord kraal wat alle enkelheid 
ophef, mág met kloktong die warreld vry, móét preek 
wat voldoen om juble te vrymaak: WOKNAKWYF!

Ek kan nie help om, elke keer wat ek die vers lees, die “sound and fury” onderbreek deur oomblikke van helderheid te probeer ontsyfer nie. Verskillende aanslae (onder meer die etimologiese, kontaminasie, portmanteau-woorde, toutologieë, anagramme & nuutskeppinge) lewer moontlike lesings op, maar ’n totale ontsyfering bly my ontwyk. Uiteindelik stuit die begrip teen WOKNAKWYF. Blum is by uitnemendheid die digter van nuutskeppinge, iets wat hom sou laat bots met gevestigde figure. In meer as een opsig was Blum Afrikaans se eerste ikonoklas.

Reeds met sy debuut, Steenbok tot poolsee, het hy nie altyd saamgestem met voorstelle wat die keurder, D. J. Opperman, gemaak het nie. In ’n brief aan sy uitgewer laat hy hom skerp oor die keursverslag uit: “Woorde soos “onwegbaar” en “Antarktiek” het tot dusver nie bestaan nie; maar van nou af bestaan hulle wel.”

Maar Blum was selde in sy gedigte dwars sommer net om dwars te wees. Hy het deeglik gewerk & diep nagedink oor die betekenis van woorde. Sy kennis van, & natuurlike aanleg vir tale het hom ideaal hiervoor toegerus. Wanneer Opperman dus beswaar aanteken teen die gebruik van “dool” in die vers “Rooinekke op Hermanus” is Blum  gereed met ’n verdediging van sy keuse:

“’n Woord soos “dool” klink miskien digterlik, maar ek het dit opsetlik gebruik om ’n verskil van “dwaal” aan te dui. ’n Dwaalspoor veronderstel immers ’n regte spoor, maar vir oertydse nomades bestaan daar geen ander leefwyse as om rond te trek nie, d.w.s. om te dool. Ek dool so deur die wêreld, meneer, maar ek is nie in ’n dwaal nie. My woordgebruik kan ek oor die algemeen verdedig.”

By tye is hy bereid om toe te gee wanneer dit nie wesentlik die betekenis van die vers raak nie, maar meer om konvensie gaan: “Ek is ook gewillig om die koppeltekens in woorde soos “bed-toe” deur te haal, maar dis darem nie my skuld dat die Akademie spellings uitgee soos Dior modes uitgee nie.”

Sommige dinge verander nooit, mnr. Blum, sou ek hom vandag gelyk kon gee.

Selfs N. P. van Wyk Louw se entoesiastiese radiopraatjie oor Steenbok tot poolsee het Blum dwars in die krop gesteek, & in ’n brief aan Louw skryf hy onder meer: “Hoewel ek dus u gulheid waardeer wat my ’n plekkie langs u en Opperman wil inruim, moet ek u vra om nie teleurgestel te wees as ek nie daar opdaag nie.”

Hy erken dat sy “idees beuk teen die nou as beperk aangevoelde Dietse woordeskat en sintaksis. Waar ek in my eersteling bekoor het met ritme en beeldspraak sal ek miskien in my tweede selfs my gunners afsit met pynlike pogings om te nuanseer en te presteer.”

Sy eksperimentele drif om die uitdrukkingsvermoë van Afrikaans te verruim & al fyner betekenisnuanses te skep, lei dan ook dat hy in Enklaves van die lig die spel op die spits dryf, iets wat hom in botsing met sy vriend & mentor D. J. Opperman sou bring. 

J. du P. Scholtz was die keurder & hy het voorbehoude gehad wat betref die gebruik van neologismes & vermeende Germanismes in die gedigte, voorbehoudes wat D.J. Opperman gedeel het. Beide was van die opinie dat die bundel nie op dieselfde hoë standaard van die debuut was nie, & sommige verse ook “gevaarlike” stof bevat het. Hulle hoofbeswaar was egter teen Blum se “opsetlike gebruik van woorde wat geen Afrikaans is nie of nie die betekenis of funksie het wat hy in ’n bepaalde verband klaarblyklik daaraan gee nie." 

Opperman het later aan Blum geskryf & hom probeer oortuig om verder aan die bundel te werk & nog nuwe verse by te skryf. Opperman was van mening dat Blum dit aan sy talent verskuldig was om 'n sterker bundel te lewer. Koos Human was bereid om die manuskrip ook aan Van Wyk Louw vir keuring voor te lê, maar Blum het hom vererg & die manuskrip aan Balkema voorgelê.

Nie dat dinge by Balkema enigsins vlotter verloop het nie. Blum het gemeen dat Balkema se sloerdery net een ding kon beteken: dat die manuskrip weer afgekeur gaan word, & in sy paranoia het hy selfs gemeen dat Opperman iets daarmee te doene gehad het: “Die volksheld-vark Opperman moes natuurlik geweet het.”

Balkema het onderneem om die bundel te druk maar het eweneens probleme gehad met Blum se neologismes. Blum was bereid om twintig van die woorde te vervang, “mits u ophou om teen die res te vit”, 'n aanbod wat Balkema uiteindelik aanvaar het.

Dat Blum ’n moeilike mens was om oor die weg mee te kom blyk duidelik uit onder meer sy briewe wat in 2008 deur Hemel & See Boeke  gepubliseer is. Dit is ook duidelik dat Blum se intellek & gees veels te ruim was vir die benouende literêre klimaat waarin hy hom bevind het. Afrikaans was nie sy moedertaal nie, maar hy het dit sy eie gemaak & verryk met ’n ruim Europese ingesteldheid & belesenheid. Ek twyfel of ons letterkunde sedertdien weer ’n digter-intellektueel van sy kaliber opgelewer het. Hy het met twee bundels vermag wat die meeste digters ’n leeftyd sal neem, & sy invloed is oor ’n wye spektrum in die poësie aantoonbaar.

Dit sê ook al iets dat beide Opperman & Louw soveel waardering & respek gehad het vir die werk van ’n jong digter. ’n Debuut soos Steenbok tot poolsee kom maar min oor mens se pad. Eers weer in 1970 met Sheila Cussons se Plektrum was daar ’n debuut wat tot dieselfde mate volwasse & afgerond was.

In die Maart 1955 uitgawe van Tydskrif vir Letterkunde publiseer Blum ’n gedig getiteld “Die kranksinnige”. Die gedig is nooit in sy bundels opgeneem nie, & dit wil lyk of dit dalk ’n voorstudie of voor-loper kan wees vir “Man wat mal word” wat hy later in die Drie Uiterstes-siklus gepubliseer het, hoewel hy in “Man wat mal word” radikaal ’n ander koers ingeslaan het & as’t ware van binneaf-uit geskryf het, uit die oogpunt van die kranksinnige, in stede van die buiteblik wat die vroeër vers gee.

Die kranksinnige

“Interessante geval, dié,” sê die psigiater
en wys hom aan, “hy dink hy is ’n heilige:
dikwels sit hy die ander aan die skater,
maar laat hom daardeur nie kwel nie. Hy is veilige
geselskap. Sy klomp maats is almal kwater.
Doodvreedsaam – jy sal sien.” Half-medelydend,
half-spottend spreek hy die sielsieke aan:
“goeiedag, Rabboni, nog tevrede?”
            Swygend
kyk dié terug asof hy niks verstaan,
maar voel dat iets van hom verwag word.
            Vleiend
glimlag die dokter.
            Asof van sy groot pligte
skielik bewus – met twee uitgestrekte
vingers (verbasend vaardig) – in ’n ligte
gebaar van sy hand – só – skets hy ’n korrekte
kruis oor hulle wetenskaplike gesigte.

Die tragedie van Blum se lewe & talent word mooi teen die einde van Wat het geword van Peter Blum? deur J.C. Kannemeyer saamgevat:

Van watter hoek af ’n mens die saak ook al beskou, was die laaste dertig jaar van Peter Blum se lewe ’n leë, sinlose bestaan. Die skeppende impuls wat juis in die "klein taal ten volle kon ontplooi, het opgehou om te bestaan of was nie sterk genoeg om in die wêreldtaal Engels vir hom ’n pad oop te skryf nie. Uiteindelik was daar niks, of dan slegs die via negativa wat hy in die Drie Uiterstes-siklus in Enklaves van die lig so pragtig verwoord het: die klaarkom met min woorde omdat daar geen vertroudes meer oor was nie, ’n lewe in ’n bevrore tyd met ’n durende duisternis en ’n onpeilbare dag waartydens die mens deur die bewoespyn in die verskriklike ellende gedompel word. Alles het ineengestort, ook - en veral - die vermoë om in die greep / van één drong woord (te) kraal wat alle enkelheid / ophef. Die digterlike woestyndood wat Opperman in sy opstel Kuns is boos in Wiggelstok  so insiggewend as die groot vrees van die skeppende kunstenaar  beskryf, het in die Afrikaanse letterkunde nog nooit ’n afskuweliker gestalte aangeneem as in die Peter Blum van 1960 tot en met sy dood nie. (155-56)

Oor tyd & afstand bly koggel hy: WOKNAKWYF!


Johann de Lange

Bronne
Erika Terblanche. 2011. "Peter Blum (1925 - 1990)". ATKV Skrywersalbum
J.C. Kannemeyer. 1993. Wat het geword van Peter Blum? Tafelberg Uitgewers
Peter Blum. 2008. Briewe van Peter Blum. Ingelei deur J. C. Kannemeyer. Hemel & See Boeke.
Peter Blum. 1955. “Die kranksinnige”. Tydskrif vir Letterkunde, Maart 1955.