Frank Báez
Die Marilyn
Monroe van Santo Domingo
Frank Báez
Ek is die Marilyn Monroe van Santo Domingo.
Ek is ses voet vier.
Twee duim meer as ek hoëhakke dra.
Ek het ’n moesie op my boud.
Ek gaan uit met digters van die tagtigs.
Ek gaan uit met nutsmanne, sekuriteitswagte,
modelle, ingenieurs, visuele kunstenaars,
gewigoptellers, advokate, wit ouens,
kantoorwerkers, sportmanne, karskoonmakers.
Ek is ’n bekende gesig by die bingo saal,
die vrou wat Leaves
of grass in haar sakboek sit
en verlore raak in die ruimte.
Die vrou wat koffie drink by bushaltes,
die man-eter, die luislangin, die mega-digter,
die vrou wat huil wanneer die fliek eindig
en niemand omarm haar nie.
Ek is ’n menstruerende monster,
die vrou wat in die dansplekke sit en drink,
wat dronk raak en die hoere
vies maak en hulle minirompe brand
met sigarette as hulle verbyloop.
Die vrou wat Anthony Ríos wou ontvoer.
Die vrou wat haar bene inspuit met hormone.
Ek is la Cicciolina.
Ek is Tiresias.
Die vrou wat kaalgat skryf.
Daardie grootgeboude vrou wat
vermenigvuldig word in hotelspieëls
wanneer hulle haar doggy-style naai.
Die vrou wat in die agterste bank sit
in die kerk met ’n blou oog.
Mejuffrou Boca Chica negentien-vier-en-negentig.
Daardie vrou wat rook op die promenade
en kyk na die skepe met al hulle ligte aan.
Die tweede semester verpleegstudent.
Die wit meisie wat ambulanse bestuur, stadsbusse,
passasierstrokke, karavaantreilers.
Ek is die MARILYN MONROE VAN SANTO DOMINGO.
Ek is die MARILYN MONROE VAN SANTO DOMINGO.
Nee, nee, daai ding is steeds daar.
Ek het dit nie afgekap nie.
Ek het nie die geld gehad om dit te doen nie.
So, op 'n dag besluit ek om voorlesings te doen
om geld bymekaar te maak vir die operasie.
Ek het al my digtervriende gebel.
Ek onthou hoe hulle ’n mandjie omgestuur het
net soos hulle doen met Nagmaal
en daar staan ek op die verhoog
die prrrrragtige Marilyn Monroe van Santo Domingo
en ek lees my gedigte dankbaar vir die applous.
Dankie digtervriende.
Dankie Mnr. Minister van Kultuur.
Baie, baie dankie.
’n Bende het my agtervolg met klippe.
Hulle het my gestenig in die Mella. Hulle het my gestenig
by die motorwassery in San Isidro,
ook dié in Los Mameyes, die Charles en Villa Mella.
Agter Quisqueya stadion.
Hulle het my geslaan, verneder, op my geskree.
Hulle het my goed opgemoker.
Hulle het op my gestapel een vir een.
Ek het myself verloor.
Ek is nie langer daar nie.
Ek herhaal: Ek het myself verloor
en weet nie hoe om myself te vind nie.
Ek gaan na die vier windrigtings en soek na myself
in ’n optog met al die vrouens wat ek was
en dié wat ek nog sal wees en dié wat ek nie kan wees nie.
Ek slaap in hospitaalbeddens,
gastehuise, motelle, parke.
Ek vat storte. Baie storte.
Die kleursel stroom teen my gesig af
en oor my grimering.
Ek voel asof ek uitmekaarval
en stukke van my hou aan val een vir een
en vat die stortwater saam met hulle
die water hou aan val en vat my saam met dit
in die drein af.
Hier is ek agterop ’n Setenta
motorfiets.
Ek dans met drie mans op ’n patio.
Loop met een hoëhak morsaf.
Masseer Italiaanse toeriste.
Sit op my tas by ’n kruising
en probeer om te ryloop.
Twee ouens in ’n Toyota hou stil
Die een wat bestuur vra my
Hey white girl where you goin’ babe
En ek sê ek gaan LA toe
al die pad af LA toe
jy weet, Los Alcarrizos.
Hulle los my dertien kilometers verderaan.
Ek loop na die anderkant van die pad
en hulle hang rond en hou my dop
tot aan dié kant ’n Leche Rica
melklorrie stilhou
en ek inklim.
(Hier open ek ’n parentese om jou aan te raai
om te gaan vir ’n VIGS toets.
Ek laat doen een elke jaar.
Hulle gee jou die uitslag na ’n week op die langste.
’n Honderd en tagtig pesos naby die UASD.)
Ek gaan saam met geskeide mans, wewenaars, ateïste, priesters,
kunskritici,
psigiaters, eks-selfmoordenaars, salsaliefhebbers, skopfietsryers,
Haïtiane, Protestantse pastore, narre, die ongeneeslike siekes,
skiso’s, platsak boksers.
Ek word wakker in Puerto Plata.
Ek het visioene in Azua.
Ek sien die Pous ’n salsa dans.
Ek sien sneeuhutte in Haina en Tres Brazos.
Eskimo’s in familiewinkels. Pikkewyne in Mao.
St. Augustinius met wimpers soos Charityn.
VVV’s wat senators en kongreslede ontvoer.
Daar is ’n land in die wêreld reg op die pad van die son.
Daar’s in die wêreld ’n regte land op die pad van die son.
Daar’s die son se regte pad reg in ’n land in die wêreld.
Daar’s die son se pad in die regte wêreld reg in ’n land.
Ek reis na New York met ’n vals paspoort.
MARILYN MONROE wat weer langs Fifth Avenue loop.
MARILYN MONROE MET ‘N BAARD DRIE DAE OUD.
Ek het brekfis by Tiffany’s.
Ek drink sjampanje in limosines.
Ek vlug vir my lewe in Corona.
Ek speel trekklavier op ’n straathoek.
Ek baklei in Soho.
Ek huil voor die Hudson.
Ek gee ’n voorlesing by die Nuyorican Café.
Rymelaars, digters, en rappers
gooi ruikers met blomme na my.
Ek gee handtekeninge.
Ek strooi soene oraloor.
Skielik bars die deure wyd-oop.
Die INS ouens boei my hande.
Hulle stamp my en intussen
boe die gehoor hulle en gooi bottels.
Skote word gehoor.
Hulle deporteer my.
Ek is die Marilyn Monroe van Santo Domingo.
Ek laat my onthaar oraloor.
Poeier myself. Doen my grimering.
Trek ’n pelsjas aan
reg vir my volgende voorlesing.
Ek is die MARILYN MONROE VAN SANTO DOMINGO.
Ek is die MARILYN MONROE VAN SANTO DOMINGO.
Ek is die MARILYN MONROE VAN SANTO DOMINGO.
Wat kan ’n meisie nou doen?
[Vertaling deur Johann de Lange]