Showing posts with label Caravaggio. Show all posts
Showing posts with label Caravaggio. Show all posts

Monday, March 21, 2016

Peter Blum - Die roeping van Mattheus

Die roeping van St. Mattheus © Caravaggio, ca. 1600

Die roeping van Mattheus

Caravaggio

Hoekom juis hy? Daar is so baie ander
wat hul skoonmaak, aspris vir 'n openbaring,
deur mildheid en 'n kuise lewenswandel
(soos, sê maar, binne-egtelike paring)
– maar hy het hom nog altyd goed verskans
agter sy neuk-maar-op filosofie,
en sy hardvogtige ingaring
van tolgeld vir die staat se tesourie.
Het hul hul nie misgis nie, dié twee mans,
ruig-bebaard, aangetrek soos ‘n takhaar?
Hy sit betrap en verleë op sy stoel
terwyl die groen seuns vraend opkyk: Wie?
Maar twyfel word verdryf deur dié gebaar –
dis hy, net hy, wat die vreemdeling bedoel.

En daardie lig, daardie vreeslike lig!
Soos ‘n asgaai steek dit in hom en tril:
hy wou dit nie hê nie! hy het hom mos verbêre,
domgehou, in sy kantoor, sy verfoeide bedryf,
sy wyn, sy wywe, sy losbandige lag –
hy was juis besig om taksgeld te tel,
en waar munt blink, is dié glans meestal vér!
Te laat nou – hy is ingehaal.
                                                Maar sy sterk lyf
soek alreeds die teenoorgestelde krag
(van een wat wakker word, téén en mét die dag)
vir opbeur, opstaan en gaan in daardie lig
wat op sy donker kop druk soos ‘n groot gewig.

Peter Blum
(Uit: Steenbok tot Poolsee, Tafelberg: 1955/1981


Wednesday, July 24, 2013

Johann de Lange - Fetish



Die voet in jou mond
kon geskilder gewees het
deur Caravaggio
of El Greco –
die voet van ’n heilige
of gekruisigde,
elke skrander toon
& sening lenig-
end, die vel
’n perkamentgeel.
Die voetbrug rus
in ’n harige oksel,
’n wynrooi tepel op-
geprik. Jou kop
is agteroor ge-
gooi in adorasie,
jou oë versluier
met ’n apokriewe begeerte,
litanie van ’n honger
wat soos skadu arm-
holte, voet & mond verteer.


(c) Johann de Lange, 2012/2013

Friday, November 16, 2012

Hans Warren - ’n Aandjie by Kardinaal Del Monte

Caravaggio - Die musikante


’n Aandjie by Kardinaal Del Monte
Hans Warren

(To the Italians it is) ‘a pleasant pastime, making songs, and singing
Sonets of the beauty and pleasure of their Bardassi, or buggered boyes’.
William Lithgrow: Rare Adventures and Painefull Peregrinations, 1632

Die hoerjonges van Caravaggio
maak musiek; hulle kyk geil en
laat hulle klere, só met los strikke,
langs mollige skouers en knieë afgly.
Die bardassi maak ’n fraai stillewe
van die vyf sintuie, ’n vleugie vanitas,
naas fluit en flonkerende rose
waarin soms ’n akkedissie skuil,
’n akkedissie wat kan byt.
Hulle het altyd, as uitnodiging,
’n viool wat gereed lê en ’n strykstok
vir wie dalk met hulle musiek wil maak,
en ook al hou hulle hul swak monde
half-verlangend en vogtig oop,
is hulle oud, berekend en vol wrok.

[Vertaal deur Johann de Lange]