Showing posts with label Loftus Marais. Show all posts
Showing posts with label Loftus Marais. Show all posts

Saturday, February 4, 2012

Loftus Marais - Self-portrait on stainless contemporary surfaces


M. C. Escher, The Gallery

Self-portrait on stainless contemporary surfaces
Loftus Marais

the city renders me into my own objective correlative
the surfaces compel me to reflection
renders me deaf, I only stare, I stare at myself:
I’m functional on toasters, microwave ovens
kettles of stainless steel
I’m framed by the portholes of washing machines
at times even in the mysterious glint of door knobs
and the darkness mirrored off switched-off tv screens
I’m epic in panoramic sliding doors
my face wobbles across sedan windows
I’m selling myself to myself in shop windows
always amongst narcissi in front of the flower shop
I multiply by myself through the geometry of the city
I flash schizophrenic in swing doors, I look at
low-angle shots of myself on marble floors of lobbies
the city will echo faintly, but show me my facets
in every shade of unlyrical grey

[Translated by Johann de Lange]

Loftus Marais - Soul

Julie Newmar, Peignoir 1962. (c) Vintage Vogue


Soul
Loftus Marais

why does everyone assume the soul lives inside?  
hidden like your skeleton, only smaller
like a gland or a jewel
or a sip of clear sky held in forever…

for me it’s more like a kind of peignoir
liquid, satiny and radiant
worn while I’m combing my hair
my drag dress, my sacred night gown
I wear while piously pacing the room
like a young gloria swanson…

it is never stained
but sometimes it gets dry-cleaned (just in case)
after a Sunday brunch in my spring garden:
low-fat milk, organic honey, apples
on a table set as if for a wedding 

at night in my home: my soul draped
over a chair or the knob of a locked door
behind which I commit all kinds of sin
without soul and giggling
all body

[Translated by Johann de Lange]

Saturday, May 21, 2011

Arende & vlieë

Skoenbekooievaar

Daar was ’n tyd, om & by 1998, toe die gebrek aan debute my baie gekwel het. Poësie het voortdurende infusie van nuwe bloed nodig. Sedertdien het die situasie verbeter & het ’n hele klompie sterk stemme gedebuteer. Maar ek is steeds gekwel, soos trouens ook Antjie Krog, oor die gebrek aan jóng debute.

Daar is sekere belewings wat jy nét reg aan kan laat geskied terwýl jy nog jonk is. Jy kan steeds daaroor skryf as jy ouer is, maar nooit weer op die manier waaarop jy dit sou gedoen het as jongmens nie. Die jongmens se belewenis as digter is baie skraal verteenwoordig. Ons het laas met Krog (Dogter van Jefta, 1972), Annesu de Vos (Gebed van ’n groen perske en ander verse, 1980) & Theunis Engelbrecht ('n Gedig is so onskuldig soos 'n eier, 1982) wérklike jong gebute gehad. Jasper van Zyl (Die lewe tussen pikkewyne, 2011) is die eerste jong digter in ’n lang tyd, maar hy is ook al op universiteit (hoewel 'n groot deel van sy verse reeds op skool geskryf is).

Ek praat van wérklik jong digters, digters wat nog op skool is. Daar is 'n groot behoefte aan poësie wat die  huidige generasie se ervarings verwoord. Daar ís talent, ongetwyfeld, maar is uitgewers nog bereid om sulke jong digters 'n kans te gee? (Ek ignoreer nie hiermee die uiters belangrike werk wat die Nuwe stemme-reeks in dié verband doen nie, maar teen die tyd dat van dié digters met solobundels debuteer, is hulle al op universiteit, of selfs ouer, & is daardie spesifieke soort spontaneïteit uit hulle uit geworkshop)*.

In die plek daarvan het ons ’n generasie digters wat hulle nie volledig tot die letterkunde kan verbind nie, wat nie die toewyding kán of wíl gee wat enige kunsvorm van die kunstenaar eis nie; ’n generasie van Jack-of-all-trades – hulle skryf ’n bietjie, hulle maak bietjie musiek, hulle skilder 'n bietjie, hulle doen ’n bietjie pottery, hulle blog. Skryf is net nog een van die dinge wat hulle doen, dis nie die belángrikste ding wat hulle doen nie. Die gevolg is dat hulle nie één van die dinge wérklik goed doen nie. Dit blyk nie net uit hulle werk nie, maar ook uit hulle gebrekkige kennis van & belangstelling in die tradisie waartéén hulle so uitvaar. Dit word bittermin skrywers gegun om meer as een genre te bemeester & góéd te doen, & nóg minder om ook ánder kunsvorms suksesvol te bedryf.

Ek is van 'n generasie wat nie kunstenaars ernstig kan opneem vir wie hulle skryfwerk nie ’n alleroorheersende passie is nie, wat nie kan sê (& dit bedoel): ek skryf omdat ek nie anders kán nie. Daar is welkome uitsonderings wat my hoop gee, digters soos Loftus Marais, Carina Stander, Martina Klopper, Melt Myburgh, Andries Samuel, Fourie Botha (pas gedebuteer by Queillerie met  Donkerkamer), etc. Sukses as skrywer het meer te doen met deursettingsvermoë as met talent. Jy moet skryf méér as enigiets anders begeer. En jy moet vrede kan maak met die opofferings wat deel is van dié soort toewyding.

Onder die huidige generasie digters is daar 'n paar wat ek tentpredikers wil noem, die Billy Grahams van die poësie met hulle gevolg in die vleuels & agter die skerms. Ons het poësiesaamtrekke waar al die aspirante & sikofante een vir een op die verhoog die mikrofoon vasvat, uit die kreatiewe rolstoel orentkom & sê: “Ek kan dig!” En die gehoor gló.... merendeels. Die feit dat jy kan voorlees, beteken nog lank nie dat jy kan dig nie. En kan die applous eg wees?

Maar o my siel, daar’s ryke stof: hierdie tentpredikers is gereed om met die geringste aanmoediging & die karigste van rekwisiete ’n tent op te slaan & teen ’n stewige fooi te workshop dat die ink spat. En vir die sikofante is die eerste gebod: jy moet gló. In jouself, in die poësie, & verál in mý, want kyk, ek het dit gemáák, ek is bekroon, ek word gevra om oorsee voor te lees, ek kan skryf op aanvraag, béter as enige poet laureate. Ja, dis ’n generasie wat weet hoe om die tegnologie te gebruik om hulleself te bemark &’n faux kultus om hulleself te skep & aan die gang te hou. ’n Generasie star fuckers, want sonder die assosiasie of ‘vriendskap’ dan met groot name, sal dit vir party maar moeilik gaan om ernstig opgeneem te word.

En soos ons almal weet: as só 'n beweging eers momentum gekry het, as die tentprediker eers homsélf & sy boodskap gló, is daar geen keer nie. En dat Marais sy eie publisiteit glo, dat al die akkolades & onderhoude rondom skrywer-wees reguit na sy kop toe gegaan het, lei daartoe dat hy 'n uitspraak soos die volgende oor Ginsberg se ikoniese gedig "Howl" kan maak: “Dit klink nou vir my na ’n oorskatte, mistifiserende voetnoot tot Walt Whitman en ’n idealiserende beskrywing van pretensieuse daggarokers wat vrot verse skryf terwyl hulle op ander se nekke lê.” (’n Roerende chaos) Laat ons eerder nie nader kyk na die nekke waarop sommige digters deesdae lê terwyl vroulief werk nie.

Dis dié soort opgeblasenheid wat daartoe lei dat hy die werk van ander skrywers wie se bydrae & opoffering hy nie kan begín begryp nie, kan afkraak in die rubrieke waarmee hy die kollig op homself probeer hou, want publisiteit is suurstof vir dié tipe digter. Mens raak báie maklik ’n voetnoot, meneer Marais. Makliker as wat jy dink. Wat jy skryf oor Sinclair Beiles is tragies, maar dis ook ’n cautionary tale vir die res van ons.

As die tentprediker eers sy eie publisiteit glo, voel hy dit gee hom die reg om ’n tradisie (eenvoudigheidshalwe die kanon genoem) te kritiseer wat hy nie naastenby goed genoeg ken nie. En waarom dáár stop? Vat die grotes aan. Maak halfgebakte, ongetoetste uitsprake oor Allen Ginsberg, sonder dat jy sy werk ken (laat staan nog die Amerikaanse tradisie), sy relasie tot Whitman & Pound, sy voortdigting op Blake.

Ek verwys natuurlik hier na Danie Marais wat Allen Ginsberg se “Howl” ’n “onverkwiklike mengsel van selfverheerliking en selfbejammering” noem. ’n Gedig wat wêreldwyd op bykans elke letterkunde sy merk gelaat het. Ons moet Danie Marais bedank dat hy die skille van ons oë laat val het, want Ginsberg het dekades lank die hele literêre bedryf geflous. Die invloed wat van “Howl” uitgegaan het, nie net poëties nie, maar polities & in die musiekbedryf, is alles net oëverblindery & Marais is die enigste een wat die ware toedrag van sake ken.

Marais gebruik waarskynlik die uitspraak van Harold Bloom wat tereg groot waardering het vir Walt Whitman om Ginsberg tot voetnoot af te maak. Dis so half sy styl. Hy gaan gewoonlik op loop met die een of ander boek wat hy sopas gelees het, gryp ’n kontroversiële uitspraak van die skrywer aan wat hy dan verder aanvul met tweede- & derdehandse/-rangse uitsprake wat hy op die internet versamel. As jy ’n stok soek om iemand mee te slaan, & ek bedoel nou énigiemand, tot die Pous sélf, dan sal jy ’n hele bosvol stokke op die internet kry.

Maar Bloom sélf beklemtoon oor en oor dat 'n subjektiewe leser is. Hy is ’n baie stimulerende & invloedryke denker, maar sy uitsprake is nie die alfa & omega van kritiek nie, iets wat hy die éérste sal wees om te erken (of miskien ook nié, gesien die omvang van sy ego). En dan is sy eie sienings ook nooit staties nie, & evolueer van boek na boek. Bloom se uitspraak oor Ginsberg is beslis nie die laaste woord wat daar te spreke is oor Ginsberg nie, & ook nie een waaroor daar wêreldwyd konsensus is nie. Die verantwoordelike leser moet na die Ginsberg kritiek in die breë kyk om aan Bloom se uitspraak die regte gewig te gee,

Wat Ginsberg van die poësie vergéét het toe hy "Howl" geskryf het, het Marais nie meer genoeg jare oor om te leer nie. As hy maar één gedig só suksesvol & onthoubaar kan skryf, sal ernstige poësielesers dalk van hom notisie neem.

***

In dieselfde trant is die rubriek (Boegbeeld vir nuwe styl) van Charl-Pierre Naudé waarin hy hom uitlaat oor ’n sg. fascistiese ingesteldheid wat glo gespreek het uit die digter T.T. Cloete se optrede tydens ’n huldigingseremonie op Stellenbosch met die onlangse Woordfees. Terwyl Naudé nie daar was nie. Maar die geleentheid om ’n weerlose, bejaarde digter se huldiging te besoedel op grond van tweedehandse, subjektiewe uitsprake kon hy nie weerstaan nie.

Aangesien hy nie sélf teenwoordig was nie, moes hy hom eerder van enige uitsprake daar rondom weerhou het. Of ten minste uitsprake rondom T.T. Cloete, vir wie die funksie ’n hoogtepunt in ’n lang loopbaan as lettterkundige & digterlike vernuwer moes wees. In stede daarvan word allerlei aannames & uitsprake gemaak op grond van subjektiewe uitlatings van “’n Belgiese skryfster met ’n internasionaal politieke profiel” (ai, word ons nog steeds beïndruk deur die blote feit dat iemand van die buiteland is?) oor Cloete se fascisme, oor die gemiddelde ouderdom van feesgangers etc. Dit alles terwyl hy nie sélf daar was nie.

Om ’n persoon, énige persoon, wie se geboortedatum hom of haar binne 'n bepaalde tydsgewrig plaas, van fascisme te beskuldig, is opportunisties & kwaadwillig. En Naudé se ingooi van ’n ongesubstansieerde literêre uitspraak deur “’n jong (vroulike) Afrikaanse skrywer/uitgewer” oor Cloete se jongste bundel, bewys heel duidelik sy kwaadwillige bedoelings met die rubriek. As mense uitsprake wil maak oor openbare figure - al is dit tweedehands - moet hulle ten minste die balls hê om dit nie anoniem te doen nie.

Maar dit is die styl van die jonger kritiek. Die ‘grotes’ word geteiken net omdat hulle groot is. En ook nie almal nie, net die weerloses. Want dit is gewoonlik lafaards wat dit doen. Feit is dat Cloete die grootse vernuwer in die Afrikaanse poësie is sedert Breytenbach, dat hy ’n geweldige invloed op die poëtiese landskap & individuele digters uitgeoefen het, & onthou sal word lank nadat poëtastertjies van Naudé se kaliber in ’n hoogsverdienstelike & reikhalsend-langverwagte vergetelheid verdwyn het. Jy kan ’n digter aanval, maar jy kan nie sy bydrae & sy invloed ongedaan maak nie.

Oor die geopineerdheid van die naamlose Belgiër wil ek my nie eens uitlaat nie. Die Belgiërs & Nederlanders het meer dikwels dan nié opinies oor letterlik álles, & is áltyd reg. Méér nog, het die rég om oor alles & almal ’n opinie te hê, ongeag of dit ’n ingeligte opinie is of nie. Dit is trouens geen belemmering as hulle nie ’n snars verstaan van die verwikkelde konteks waarbinne ons ons bevind nie. Solank die kake net kan beweeg & die vuur vir ’n oomblik gesteel kan word.

Die feit dat daar selde reaksie op Marais of Naudé se stukke is (ek dink hier aan die “howlers” wat Marais kwytgeraak het in sy stuk oor Pessoa ), moet hulle nie verwar met konsensus nie, behalwe nou van hulle entourages. Die meeste lesers & letterkundiges wat van beter weet, beskou hulle nie as belangrik genoeg om in debat mee te tree nie. Hoe gaan die ou gesegde nou weer? Arende vang nie vlieë nie.

*
Met verwysing na die onderhoud met die gebroeders Marais op Litnet:

Oor wie wysheid om in ’n openbare forum wildvreemdes te probeer leer skryf, wil ek nie te veel sê nie. Ek herinner my ’n uitspraak wat die Amerikaanse digter Ted Kooser (Poet Laureate, 2004-2006) in sy handleiding The Poetry Home Repair Manual gemaak het. Benewens kritiek oor die jongste tendense in die poësie (“literary journals chock full of poems that are little more than anecdotes made to look like poems… tricked out in lines of verse. It's not unusual to find a volume of poems that consists of …fifty or sixty minute narratives.”), skryf hy iets meer relevant tot die kultuur van werkswinkels & skryfskole: “The industrial revolution did not reach imaginative writing until recently, and today black clouds of soot belch from the smokestacks over the creative writing schools. Poems gets manufactured and piled on the loading docks where many of them rot for lack of transport. Wouldn’t we all be better off if there wasn’t such an emphasis on productivity?”

Hy maak verder ook ’n belangrike onderskeid tussen being a poet & writing poetry: “There are, in a sense, two poets, the one alone writing a poem and the one in the black turtleneck and beret, trying to look sexy.”

Ek laat dit aan die leser oor om te besluit watter beskrywing by watter Marais pas. En ter illustrasie haal hy ’n vroeë vers van hom aan:

A poet reading

Once you were young along a river, tree to tree,
with sleek black wings and red shoulders.
You sang for yourself but all of them listened to you.


Now you’re an old blue heron with yellow eyes
and a gray neck tough as a snake.
You open your book on its spine, a split fish,
and pick over the difficult ribs,
turning your better eye down to the work
of eating your words as you go.


“At the beginning, too often it’s the idea of being a poet that matters most. It’s those sexy black wings and red shoulders. It’s the attention you want, as the poem says, ‘all of them listening to you’. And then you grow old and, if you are lucky, grow wise.”

Waaroor ek wel die een & ander wil sê, is ’n opmerking wat ek in die Tagtigerjare gemaak het oor vriendskappe tussen skrywers. Loftus Marais het onmiddellik gesnap dat dit meer moedswil as wysheid was.

Ek verstaan alte goed dat daar wél jaloesie tussen skrywers bestaan, maar wanneer daardie skrywers ook vriende is, is daar nie plek vir jaloesie nie. Elkeen doen sy eie ding & ondersteun mekaar deur daardie kalahari’s wit papier, deur die nageboortedepressies & die (meestal) nuttige euwel van resensies. Ander skrywers is dikwels jou eerste lesers & jou eerste bron van hulp.

Natuurlik lees ek bykans elke dag ’n gedig of ’n reël wat ek wens ék het geskryf, maar meestal is die ervaring een van plesier, die soort plesier wat mens ervaar as jy iets kosbaars reg onder jou neus ontdek. Ek is nie afgunstig op vriende se sukses nie, & ek kompeteer nie met vriende nie. Ek glo trouens nie skrywers behoort met mekaar te kompeteer nie, net met hulleself. Om egter te verwag dat ek my sal verheug in die sukses van my vyande, is te veel gevra. Daaroor voel ek, om Gore Vidal ietwat aan te pas: “Whenever an enemy succeeds, a little something in me dies.”


Johann de Lange

Tuesday, March 16, 2010

Hoe om (soos iemand anders) te skryf. Oor vakmanskap & die skryf van gedigte. - Deel 1





Each memorable verse of a true poet has two or three times the written content.
Alfred de Musset, Le Poète déchu, 1839

Die skryf van dié tipe artikel is selde sonder slaggate: dit is onvermydelik voorskriftelik & as sodanig druis dit in teen álles wat ek in verband met poësie geleer het; dis beperkend, kan patroniserend klink, & laat nie genoeg speelruimte vir die individuele talent nie. En dan is dit ook noodgedwonge vereenvoudigend van iets so kompleks as die skryf van ’n gedig. Daar is geen reëls in die poësie nie. Wys my ’n reël & ek wys jou ’n gedig wat dit vindingryk oortree. Ek storm nietemin in waar engele huiwer om voet neer te sit, want ek glo dat niks op aarde werklike talent kan onderkry nie.

Wat hier volg, is indrukke & gevolgtrekkings wat ek deur die jare versamel het uit my eie bemoeienis met die medium, uit so wyd as moontlik poësie lees, uit my deelname aan skryfwerkswinkels (aan beide kante van die lessenaar), & uit my rol as keurder vir uitgewers. Dan is daar ook die folio’s wat soms op die vreemdste plekke in my hand gestop word, dik intimiderende koeverte wat in my posbus beland, of deesdae e-posse met aanhegsels. Skryf is nié – soos baie meen – die tydverdryf van sensitiewe siele nie: die skeppingsdrang is ’n universele, byna instinktiewe impuls – & onverwoesbaar daarby.


I. Die vereiste van vakmanskap
A poet is, before anything else, a person who is passionately in love with language.
 – W. H. Auden

Gedigte is die resultaat van 1% inspirasie & 99% perspirasie. ’n Dictum waarmee alle skrywers bekend is. Daarbenewens moet jy ook jou medium, jou vák ken. Vakmanskap is nodig om daardie eerste impuls deur te sien. Waar dit ontbreek, misluk die beste idees.

Hoewel gedigte meer dikwels deur die een of ander kreatiewe inval of idee van die digter ingegee word, kan die jong skrywer gerus in die oog hou dat gedigte uit woorde & nie uit idees bestaan nie. Cesare Pavese het geskryf: “When writing poetry, it is not inspiration that produces bright ideas, but the bright idea that kindles the fire of inspiration.” Dit is wanneer die digter oor die nodige vakmanskap beskik om iéts van die “bright idea” te máák, dat skryf werklik ’n geïnspireerde aktiwiteit word. Oftewel: chance favours the prepared mind.

Alhoewel dit deesdae die mode is om Engels in Afrikaanse gedigte te gebruik, & dit in bedrewe hande hoogs funksioneel kan wees, wil ek die jong digter aanraai om baie spaarsamig met hierdie modegier om te gaan. Gedagtig aan Auden se uitspraak hierbo, is ’n digter iemand wat in die allereerste plek lief is vir sy taal. Die versoeking om te gryp na kitsklaar frases in Engels is meer dikwels as nié die resultaat van luiheid.

Deel van die plesier van skryf is júis daardie soek na die regte woord of beeld. Onlangs het Loftus Marais se gedig rondom kersfees in die spervuur beland vanweë sy gebruik van Engels in die teks. Ek vermoed dit was sy bedoeling om met die Engelse cliché’s kommentaar te lewer op die banaliteit, die ontluistering van kersfees. En hoewel mens seker ’n argument daarvoor sou kon uitmaak, kan ek nie help om te wonder of daar dan nie Afrikaanse cliché’s rondom kersfees is nie, & of die digter nie met ’n bietjie ekstra werk daarby sou uitgekom het nie.

Ek wil beklemtoon dat ek nie onnodig puristies wil wees hieroor nie, maar ek glo wél dat 'n digter respek vir sy medium moet hê. Ek gebruik sélf by geleentheid Engels, maar net wanneer ek voel dat ek nie ’n bevredigende Afrikaanse eweknie vir die begrip kan vind nie, of wanneer ek na ’n Engelse teks of konsep wil verwys. Besluit maar self. Hier is die gedig:

Studie met krismisboom en kat
Kersfees 2009

die swart kat jessy (pragtig so dragtig)
is uitgestrek langs ’n krismisboom
van goedkoop plastiek:
oh nativity for the 21st century

eers dink jy niks kan méér verskil nie:
die kalm feit van ’n ronde kat
en die cross-dressing boom
se metafisika van kitsch

om gelyk te kyk na die ritme van die kat se asem
én die ritme van die elektriese liggies
is ’n visuele weergawe
van om “she sells sea shells on the sea shore” te sê

die pels (fyn soos ystervylsels
in magnetiese patrone) teenoor die kleurvolle boom
wat terselfdertyd homself
én ’n kindertekening van homself is.

maar jessy staan nou op, en strek die feather boa van haarself lank uit
en stal haar gaap ook uit
stadig, op haar pote, die ene vampira
vain en versadig . . .

ja daai conception was alles behalwe immaculate
sy’s effe lam, haar maag ’n soort gewas
terwyl g’n wind my evergreen boompie ooit hiér sal kan aantas of om-
waai nie

teenstellings self: die hopie helder donkerte
van die kat wat weer gaan lê
en die boom ’n flashing arrow
wat histeries wys na niks

'tis the season van sterre en pompoms
en al die dinge wat mens “netelig” kan noem
ja hemelboom en heksekat
is eintlik ewe grillerig
om aan te vat.

Antjie Krog se verdediging van die gebruik van Engels in haar gedigte (& sy doen dit meestal funksioneel & verantwoord) was die kondonering waarop ’n hele skool jonger digters gewag het wat dit nou onnadenkend & onkrities gebruik. Dit herinner nogal aan die gebruik van klein letters in die Sestiger-sewentigerjare, waarskynlik in navolging van die Amerikaanse digter e.e. cummings se idiosinkratiese poësie.

Cummings het egter al so vroeg as 1923 met tipografie begin eksperimenteer, & sy tipografiese manewales het heelwat in gemeen met die taalgebruik tipies van skisofrenie. Hier ter plaatse was die leestekenloosheid in bittermin van die gevalle werklik onontbeerlik funksioneel. Daar is nog steeds digters wat dit gebruik, maar daar is bittermin digters wat dit uitsluitlik gebruik. Dit sal altyd deel uitmaak van die skrywer se tegniese arsenaal. Een van die digters wat dit m.i. werklik betekenisvol & betekenis-sképpend gebruik, & weer nuut gemaak het, is T.T. Cloete.

Terug na perspirasie. Talent alléén is nie voldoende nie. Die voornemende digter moet deursettingsvermoë hê & ’n dik vel. Moet nie ontmoedig word deur gemene opmerkings in skryfklasse, kritiese keurverslae of die plaag afsêbriewe waarmee jou aanvanklike pogings begroet word nie. Bou ’n stewige verwysingsraamwerk op deur soveel & so wýd as moontlik te lees. Jy kan nóóit te veel lees nie. Wanneer jy van ’n gedig hou, probeer verstaan wát presies dit is waarvan jy hou in die gedig, & stel vas hoe die digter die effek bereik.

’n Jong digter (& met jonk bedoel ek beginners van enige ouderdom) behoort, soos Antjie Krog by geleentheid voorgestel het, ten minste Groot verseboek heeltemal deur te werk voordat hy of sy weer ’n hand aan ’n gedig waag. Dis belangrik vir ’n digter om te weet wat reeds in sy taal gedoen is.

Baie jong digters begin verkeerdelik met die vrye vers, vermoedelik omdat dit téén die gevestigde orde inbeweeg & die rebelse nuk van die jeug bevredig. Maar dié versvorm is baie moeiliker om baas te raak as wat dit op die oog af mag lyk. Die vrye vers is alleen vry in die sin dat elke gedig sy eie vorm skep, ’n vorm wat as ’t ware al skrywende & organies saam met die gedig ontstaan. Dit is vry in die sin dat dit nie ’n vaste vorm as struktuur gebruik nie, soos in die geval van die sonnet, villanelle of sestina nie. Geen gedig, hoe “vry” ook al, is sonder vorm nie. Daar bestaan nie iets soos ’n “vormlose gedig” nie – dis ’n oksimoron. Dis veel eerder ’n geval van presies hóé vorm in verskillende soorte poësie gedefinieer word. Die register hier is so wyd as die Heer se genade & regverdig ’n hele aparte artikel.

Ek beveel altyd aan dat beginnerskrywers ’n tyd lank vaste vorms beoefen. Die ervaring & dissipline wat hierdeur opgedoen word, sal die digter in latere skryfwerk goed te staan kom. Vorm stuur ’n gedig ook soms in verrassende rigtings, & op vondse af wat die digter andersins nie sou maak nie. Struktuur is nie ’n struikelblok nie, verre daarvan: struktuur bevry.


II. Drie stadia in die totstandkomingsproses

Die skryf van ’n gedig kan rofweg in drie stadia verdeel word: 1) die versamel van rou materiaal, 2) seleksie, 3) ordening & afronding. Hierdie drie stappe is net bedoel as hulpmiddel, & nie as onbuigbare “wette” nie. Die jong digter sal, soos hy groei, weldra agterkom dat die verskillende stadia nie so maklik te skei is nie, & dat hulle deurmekaar loop, oorvleuel.

Ek wil hierdie drie stadia aan die hand van Elisabeth Eybers se sonnet “Muse” (Kruis of munt, 1973) illustreer:

Die doel van sy gedrag word nou en dan
waarneembaar; uit die rommel en afbraak
van elke dag wat hy deursif herwin
hy stukkies glas en splinters kwarts en tin
om ’n flikkerende mosaïek te maak
met urelange martelende getuur,
’n kop wat klop en oë soos klodders vuur.
O hierdie hardepad – geen sterfling kan
by sy verstand die selfbedagte taak,
die langsaam blootlê, kies en konstrueer
volvoer, was daar nie iewers ’n oerplan
wat sy geheue nog steeds hipnotiseer,
wat hy nie meer uit sy breinkronkels ban...
Die staat versorg intussen sy gesin.

Hoewel Eybers hier sterk klem lê op die harde werk wat in die skeppingsproses ingaan, erken sy die rol van die oorspronklike inspirasie wat tot die skryf van die gedig aanleiding gegee het: die “oerplan / wat sy geheue nog steeds hipnotiseer”.

Die frase “die langsaam blootlê, kies & konstrueer” ondervang presies die drie stappe van die skryfproses: die boustof vergader, die seleksie, & die uiteindelike ordening & afronding.

1. Die rou materiaal is die eerste weergawe op papier & is uiters selde perfek. Soms word ’n digter begenadig & skryf ’n gedig in een sitting uit, perfek sonder om ’n woord te wysig. Maar hierdie oomblikke is nie genoeg om ’n loopbaan van te maak nie.

Die Amerikaanse digteres Sylvia Plath skryf in haar pragtige vers “Black Rook in Rainy Weather” oor hierdie verhelderende oomblikke:

Miracles occur.
If you care to call those spasmodic
Tricks of radiance
Miracles. The wait's begun again,
The long wait for the angel,

For that rare, random descent.

Met die eerste weergawe is daar altyd ruimte vir verbetering. Die digter kan hiér so uitgebreid & woordryk wees as wat hy wil, & alles invoeg wat enigsins bruikbaar mag wees vir die gedig. Eybers stel dit só:

                  uit die rommel en afbraak
van elke dag wat hy deursif herwin
hy stukkies glas en splinters kwarts en tin

Hierdie “rommel en afbraak” maak die rou materiaal uit vir die gedig. Die woorde “rommel” & “afbraak” is interessant omdat dit verwys na ruwe materiaal, na dit wat afgebreek, uitmekaar gehaal, weggegooi is. Dié woordkeuse is eweneens belangrik omdat die skeppingsproses onder meer die bymekaarbring van hierdie disparate elemente in ’n nuwe verband behels. Maar meer daaroor láter.

In hierdie stadium is daar waarskynlik nog geen patroon nie, of net vaagweg; daar is nog min samehang. Die resultaat van “die langsaam blootlê” is net los “stukkies glas en splinters kwarts en tin”. Let op die verskeidenheid (die “amount and diversity of materials integrated” waarvan Wellek & Warren praat) aan boustof vir die gedig, of dan die “mosaïek”: glas, kwarts (wat in ’n wye verskeidenheid kleure voorkom), tin. Glas & tin (alreeds kultuurprodukte, alreeds verfyn uit growwer boustof), kwarts (steeds in natuurlike vorm). Sou dit verkeerd wees om in dié boustowwe ’n toespeling te sien op Van Wyk Louw se “gevormde” & “ongevormde”?

2. Vervolgens selekteer (“kies”) die digter uit die rou materiaal nét dit wat nodig is vir die gedig. Die aanvanklike “deursif (en) herwin” maak nou plek vir ’n meer doelgerigte aktiwiteit. Eybers verwys hier na die “urelange martelende getuur”, die skryf van die gedig word ’n soort selfopgelegde strafarbeid (“hardepad”). Die “verstand” kom nou in die spel, & die digter se aktiwiteit word as “die selfbedagte taak” beskryf. Die digter selekteer uit wat hy versamel het. ’n Herkenbare “vorm” mag in hierdie stadium begin duidelik word. Wat nie bruikbaar is nie, word uitgegooi, selfs al is dit van jou mooiste reëls of beelde.

3. Dit bring ons by die laaste stap, naamlik ordening: die “konstrueer” waarvan Eybers praat. Die digter fokus nou sy aandag om ’n patroon te ontdek of te skep in die geselekteerde materiaal, die “oerplan”.

Nou is die tyd om te besluit watter vorm die gedig gaan aanneem (dikwels is dit nie die digter nie, maar die materiaal sélf wat in ’n spesifieke rigting dwing). Gaan dit ’n vrye vers wees, of gaan die digter dit ’n tradisionele vorm gee soos ’n sonnet of ’n villanelle? Die digter besluit oor metrum, rym (sou hy op rym besluit, dan ’n rymskema wat iets bydra tot die tema & nie maar net versiering is nie). Hy identifiseer progressies waarvan hy dalk nie in stap 1 bewus was nie, maar waarop hy nou wil voortbou of wil versterk. Daar word voorts gekyk na ander klankpatrone, na strofe-indelings, na waar reëls afgekap word, of die metafore klop. Enige stoplappe, gewoonlik die gevolg van die dwang van rym of metrum.

Sodra die materiaal gesnoei & georden is, is dit tyd om aandag te gee aan die finale afronding. Die digter bekyk & beluister elke woord in die gedig. Pas die woorde bymekaar, of is daar woorde wat uit die toon val? Elke woord word opgetel & teen die lig gehou, omgedraai & ingeskat na karaat. Hoewel ek skepties is oor die idee van die onvervangbare woord, glo ek die digter moet probeer om so ná as dêmmit daaraan te kom.

Laastens, maar uiters belangrik: lees die gedig hardop vir jouself voor. Wat jy voor jou het, kan weliswaar die “flikkerende mosaïek” wees waarvan Eybers praat, maar ’n voorlesing sal enige verskuilde swakhede wat betref klank, ritme, of toon onmiddellik uitwys. Gedigte het nie net ’n skrifbeeld nie, maar ook ’n klankbeeld. Ánders as met kinders, moet hulle nie net gesien word nie, maar ook gehoor word.

Bibliografie

Eybers, Elisabeth. 1973. Kruis of munt. Kaapstad : Human & Rousseau.


(C) Johann de Lange, 2010